Vraag: Deuteronómium 18:18 maak melding van ’n naamlose profeet wat deur God gebruik sou word om Sy boodskap te verkondig. Sommige Moslems beweer dat dit na Mohammed verwys terwyl ander mense beweer dat dit op Joseph Smith of selfs verskeie hedendaagse Christelike leiers dui. Baie Jode glo dit is ’n verwysing na Elía of Jeremia. Hoe moet ons hierdie vers verstaan?
Antwoord: Dit is nie net bloot ’n profesie van Jesus Christus nie – dit is ook ’n waarskuwing teen predikers wat valslik beweer dat húlle profete is:
“’n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel. En die man wat nie luister na my woorde wat Hy in my Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis. Maar die profeet wat so vermetel is om ’n woord in my Naam te spreek wat Ek hom nie beveel het om te spreek nie, of wat in die naam van ander gode spreek, dié profeet moet sterwe. En as jy in jou hart sê: Hoe sal ons die woord weet wat die Here nie gespreek het nie? – as die profeet in die Naam van die Here spreek, en wat hy gesê het, nie gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat die Here nie gespreek het nie; deur vermetelheid het die profeet dit gespreek; jy mag vir hom nie bang wees nie” (Deuteronómium 18:18-22).
Hierdie gedeelte beskryf ’n profeet wat net soos Moses sou wees, wat soortgelyke eienskappe en ’n Goddelike sending deel. Die Nuwe Testament demonstreer duidelik dat Jesus Christus die profeet is na wie daar in Deuteronómium 18 verwys word; niemand anders kan aan die vereistes vir die vervulling van hierdie profesie voldoen nie.
Moses en Jesus is gebore tydens tye van onderdrukking. Moses is gebore tydens die Israeliete se slawerny in Egipte en Jesus, tydens die Romeinse besetting van Israel. Farao het beveel dat Hebreeuse babas tydens hulle kleuterdae vermoor word, terwyl koning Herodes bevel gegee het dat die babas in Betlehem kort na Jesus se geboorte vermoor word. Moses het die Israeliete uit fisiese slawerny uit Egipte gelei, terwyl Jesus Sy ware dissipels uit die geestelike gevangenskap van sonde lei. Groot getalle mense is gevoed tydens die bedienings van beide Moses en Jesus.
Moses sowel as Jesus het fundamentele openbarings onder Goddelike gesag ontvang en ook gelewer; Moses het die Wet van God ontvang wat die grondslag vir die Ou Testament gelê het, terwyl Jesus die leerstellings tot stand gebring het wat die grondslag van die Nuwe Testament vorm. Jesus het gesê: “Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ’n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek. En Ek weet dat sy gebod die ewige lewe is. Wat Ek dan spreek – net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek” (Johannes 12:49-50). Dit bevestig dat Jesus die woorde gespreek het wat deur God aan Hom gegee is en in die profesie van Deuteronómium 18 vervul is.
Nuwe Testamentiese getuienisse
Die Nuwe Testament verskaf verdere bewyse dat Jesus die vervulling van hierdie profesie is. In Handelinge 3:20-23 praat die apostel Petrus met die skare nadat hy ’n kreupel man genees het en haal Moses se profesie aan, wat Jesus duidelik identifiseer as die profeet waarvan Moses gepraat het. Net so getuig Stéfanus ook in sy laaste preek, voordat hy gemartel is, dat Jesus die profeet is wat deur Moses genoem word (Handelinge 7).
Die oortuigendste bewys kom van Jesus Self, wat die volgende gesê het:
“Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal beskuldig nie. Daar is een wat julle beskuldig – Moses op wie julle gehoop het. Maar as julle Moses geglo het, sou julle My glo, want hy het van My geskrywe. En as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?” (Johannes 5:45-47).
Jesus bevestig reguit dat Moses oor Hom geskryf het, wat verder aandui dat Hy die vervulling is van die profesie van Deuteronómium 18.
Die Skrif toon onomwonde dat Jesus Christus die profeet is waarvan daar in Deuteronómium 18 gepraat word. Nie Mohammed of Joseph Smith – of enige hedendaagse aanspraakmakers – vervul hierdie profesie nie. Net Jesus Christus voldoen aan al die vereistes wat beskryf word en Hy alleen is die profeet soos Moses wat ’n fundamentele openbaring van God tot stand gebring het.


