Baie mense weet dat die alombekende Kersfeesvierings ’n heidense oorsprong het – die oorsprong wat ook glad nie weggesteek is nie. Trouens, wanneer die Kersgety elke jaar aanbreek, sien ons gewoonlik artikels of nie-amptelike aanlyn-plasings wat verduidelik waar hierdie tradisies vandaan kom. Indien u al ’n rukkie ’n Wêreld van Môre-intekenaar is, onthou u waarskynlik die artikel van mnr. Wallace Smith in die Desember 2022-uitgawe: “Is Kersfees ’n heidense vakansiedag?” Indien u ’n nuwe intekenaar is, kan u dit steeds aanlyn lees by wvm.co.za.

Dit is dalk nie ’n skok vir u dat daar Christene is wat kies om nie Kersfees te hou nie. U is heel moontlik een van hulle. U het miskien tot daardie besluit gekom deur u persoonlike studie – dalk het die heidense oorsprong van Kersfees u twee keer laat dink om dit te vier. Indien wel, is u nie die enigste een nie.

Die oorgrote meerderheid mense in Westerse nasies vier steeds Kersfees. Volgens Gallup-opnames vier 93 persent van Amerikaners Kersfees op een of ander manier, hetsy godsdienstig of sekulêr – ’n syfer wat al dekades lank min of meer konsekwent is (“What persentage of Americans Celebrate Christmas?,” News.Gallup.com, Desember 23, 2019). Selfs in Groot-Brittanje vier 93 persent van mense die Kersseisoen en in Kanada doen 92 persent dit (“Christmas and New Year’s Survey amongst 1,000 British people reveals habits,” Statista.com, 18 Desember 2019; “In Canada, Christmas traditions change as fewer people see religion as the reason for the season,” AngusReid.org, 19 Desember 2019).

Baie van hierdie feesgangers weet dat die oorsprong van Kersfees glad nie Christelik is nie. U weet waarskynlik ook. Indien u nie seker is nie, soek dit op in feitlik enige ensiklopedie of toepaslike aanlynartikel. Hier is byvoorbeeld ’n aanhaling uit die aanlyn Encyclopædia Britannica: “In antieke Rome was 25 Desember ’n viering van die onoorwonne son, wat die terugkeer van langer dae aangedui het. Dit het gevolg op Saturnalia, ’n fees waar mense baie geëet het en geskenke uitgeruil het. Die kerk in Rome het in die 4de eeu tydens die bewind van Konstantyn, Kersfees op 25 Desember begin vier” (“Does Christmas have pagan roots?” Britannica.com, 6 Desember 2020).

Soos die Britannica aandui, was die feestelikhede en die uitruil van geskenke op 25 Desember van die baie heidense gebruike wat onder die Romeinse Ryk waargeneem is. Hierdie datum is eers in die vierde eeu aangeneem deur wat die hoofstroom “Christelike” kerk geword het – honderde jare na Christus se bediening.

25 Desember is die dag waarop Christene die geboorte van Jesus Christus vier hoewel die datum sélf en verskeie van die gebruike wat ons met Kersfees assosieer eintlik ontstaan het uit heidense tradisies wat die wintersonstilstand vier. “Kersfees gaan regtig daaroor om u innerlike heiden na vore te bring”, het die geskiedskrywer Kenneth C. Davis. aan “CBS This Morning” gesê. Volgens Davis is Kersfees reeds in die vierde eeu gevier, wat daarop dui dat dit byna niks met Jesus Christus te doen gehad het nie (“The unexpected origins of popular Christmas traditions,” CBSNews.com, 25 Desember 2018, beklemtoning bygevoeg).

Hierdie is merkwaardige aanhalings, maar weereens verbaas dit u waarskynlik nie, veral indien u ’n gereelde leser van hierdie tydskrif is. Selfs al lees u dit nie gereeld nie, het u waarskynlik reeds elders artikels en video’s gesien wat die heidense oorsprong van die Kersfeestradisies verduidelik. Hierdie feite word nie geheim gehou nie.

Die meeste mense is nie verbaas wat betref die oorsprong van Kersfees nie. Vir die meeste van hulle is die groter vraag: Waarom maak dit saak? Behoort enigiemand selfs om te gee waar Kersfeestradisies vandaan kom? Gaan die belangrike kwessie nie daaroor om Christus te eer nie en is die ander besonderhede nie van minder belang nie?

 

Maklike rasionaliserings

Die meeste mense wat die oorsprong van Kersfees ken, rasionaliseer vir hulleself waarom hulle dit steeds behoort te hou. “Wel, dit is nie regtig ’n godsdienstige viering nie”, sal u dalk hoor. “Dit is net ’n prettige, ontspanne sosiale geleentheid om saam met vriende en familie te geniet”. Dit is wat baie mense glo. In ’n opname van 2017 is bevind dat terwyl 82 persent van die Amerikaners beplan het om op Kersdag saam met familie of vriende bymekaar te kom, slegs 46 persent die dag eerder as ’n godsdienstige vakansiedag in plaas van ’n kulturele viering beskou het (“Americans Say Religious Aspects of Christmas Are Declining,” PewResearch. org, 12 Desember 2017). Dit was ’n daling van 5 persent van net vier jaar tevore, toe ’n geringe meerderheid gesê het dat hulle Kersfees meer as ’n godsdienstige vakansiedag beskou het. Die neiging is dat meer en meer mense Kersfees as hoofsaaklik – of geheel en al – ’n sosiale en sekulêre viering sien.

Aan die ander kant, is baie van diegene wat godsdienstig is, deeglik bewus daarvan dat die oorsprong van Kersfees heidens is, maar oortuig hulleself dat dit nie ’n probleem is nie; met die argument: Solank ek dit vir Christus doen, is dit reg.

Is dit wérklik belangrik? Maak hierdie redenasie selfs sin? Soos een Britse webwerf ons herinner, “Kersfees maak geen sin nie ... die basiese feite van die jaarlikse ritueel blyk net logika en betekenis teë te gaan. Wat het helder verligte bome en mistel te doen met die geboorte van ’n profeet in Bethlehem, duisende jare gelede? Wat het ’n jolige, deftige man in ’n rooi en wit gewaad met Christenskap te doen? Wat is die betekenis agter die Yule-stomp? ... Baie mense het ’n algemene idee oor die manier waarop ou heidense tradisies en vierings van Kersfees ingeweef is soos ons dit vandag ken” (“The Pagan Roots of Christmas,” History.co.uk).

Inderdaad, báie mense weet regtig dat die oorsprong van Kersfees heidens is – maar hulle vier dit in elk geval. Wat van u? Wat staan u te doen in verband met Kersfees?

Kom ons deel daardie vraag in twee ander fundamentele vrae op om dit makliker te beantwoord – die eerste is: Keur God dit goed om leuens aan kinders te vertel?

 

Die leuens in verband met Kersfees

Almal weet dat Kersvader nie régtig op Oukersaand deur skoorstene afklim nie – almal, dit wil sê, behalwe miljoene kinders. Thalia Goldstein, mede-professor in toegepaste ontwikkeling-sielkunde aan die George Mason Universiteit, in Fairfax, Virginia, merk op dat ongeveer 85 persent van Amerikaanse 5-jariges glo dat Kersvader werklik bestaan. Sy skryf: “Kinders begin in Kersvader glo wanneer hulle tussen 3 en 4 jaar oud is”. “Hulle is absoluut oortuig daarvan wanneer hulle tussen ongeveer 4 en 8 jaar oud is. Op 8-jarige ouderdom begin ons om die afname in geloof te sien, wanneer kinders die realiteit van Kersvader begin verstaan” (“How many kids still believe in Santa?,” CNN.com, 19 Desember 2017).

Wat is die situasie wat betref kinders buite die Verenigde State? Volgens ’n internasionale opname, onder leiding van professor Chris Boyle aan die Universiteit van Exeter in die VK, “was die gemiddelde ouderdom wanneer kinders opgehou het om in Vader Kersfees te glo, agt jaar. ’n Derde van diegene wat ondervra is, het ook gemeld dat hulle ontsteld was toe hulle ontdek het dat Kersvader nie werklik bestaan nie, terwyl 15% van hierdie kinders gevoel het dat hulle deur hulle ouers om die bos gelei is en 10% van hulle was kwaad. Ongeveer ’n derde (30%) het ook gesê dat hulle vertroue in volwassenes negatief beïnvloed was deur hulle geloof in Kersvader” (“Here’s what age most kids stop believing in Santa,” The Sunday Times, 6 Desember 2020).

Kersvader is egter nie die enigste mite nie. Daar is geen werklike bewyse dat Christus op 25 Desember gebore is nie. Trouens, in Lukas 2:8 is dit aangeteken dat die herders in die veld was ten tye van Sy geboorte – wat nooit in die reënerige en koue wintermaande kon gewees het nie.

Wat van die Kersverhaal van die drie konings uit die ooste wat die baba Jesus wat in die krip lê, besoek? Dit word nêrens in die Bybel beskryf nie – ten minste nié volgens die manier waarop die gewilde storie vertel word nie. Die Skrif noem hulle wyse manne, nié konings nie en openbaar nie hoeveel van hulle daar was nie. Daar word selfs genoem: “En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind” (Matthéüs 2:11). In dié konteks sien ons dat Jesus ten minste ’n jaar oud was toe die wyse manne Hom ontmoet het – Hy was beslis nié op daardie stadium in ’n krip nie.

Die baie Kersfeestradisies is deurspek met foute en blatante leuens. Die Skrif sê vir ons dat God nie leuens kan vertel nie (Titus 1:2). Indien u oop is vir oortuiging, vra uself af: Sou God werklik so ’n fiktiewe tradisie goedkeur? Sou Hy toelaat dat miljoene ouers aan hulle kinders blatante leuens en verdraaide mites oor Sy Seun vertel?

Hou in gedagte dat die apostel Johannes vir ons sê: “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees. Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en die gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood” (Openbaring 21:7-8).

Wie staan dus op vir die waarheid en waarsku ouers om die leuens van Kersfees te beëindig? Byna niemand nie. In plaas daarvan het ons “kundiges” soos die sielkunde-professor Candice Mills, wat dit so verduidelik: “Ouers behoort in gedagte te hou dat die meeste mense, wanneer hulle oor hulle kinderjare nadink, besluit dat hulle Kersvader saam met hulle eie kinders wil vier – trouens ongeveer 87 persent tot 95 persent. Hulle het iets van waarde met betrekking tot die ervaring gevind en wil dit oordra”. Mills glo dat kinders daarby baat vind om sélf die waarheid te ontdek dat Kersvader fiktief is (Universiteit van Texas by Dallas News Center, 6 Desember 2023).

Mills is een van baie geleerdes wat glo dat wanneer kinders uitvind dat die mense rondom hulle oor Kersvader leuens verkondig het, “hulle reaksies oor die algemeen redelik positief is” en dat “hulle verstaan dat selfs ouers vreugde uit die Kersvader-mite kry”. Vanuit hierdie perspektief is die Kersvader-mite net een van vele, aangesien geloof in verskeie ander mites en valshede “nie noodwendig verdwyn wanneer ons grootword nie” (“Don’t Stop Believing,” Psychology Today, 6 Desember 2021).

Wag en dink vir ’n oomblik. Het iemand al ooit vir u leuens vertel? Hoe het u gevoel? Het dit u vermoë om te vertrou beïnvloed toe u uitvind? Al was dit vir ’n sogenaamde “goeie rede”, het dit u versigtig gemaak toe die leuenaar die volgende keer iets aan u vertel? Indien leuens vir ons as volwassenes op so ’n wyse beïnvloed, dink ons régtig dat dit nie ons kinders raak nie?

Ek hoop u kan insien dat dit goed is om vir u kinders die waarheid te leer en om opreg te wees. Wat is die basis van waarheid? God se Woord is die waarheid (Johannes 17:17) In teenstelling hiermee het Jesus ’n kragtige gees van leuens by die Fariseërs oopgevlek: “Julle het die duiwel as vader,” het Hy gesê, “en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ’n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan” (Johannes 8:44).

Satan die duiwel is die vader van leuens en ons behoort niks met hom te doen te hê nie. Dit beteken om nie deel te neem aan énige tradisies wat op leuens gebaseer is nie – dit maak nie saak hoe edel ons dit laat lyk nie. Die apostel Paulus het ’n skerp teenstelling getref tussen diegene wat die waarheid volg en die wat dit nie doen nie en gesê dat “die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, ... wat die waarheid van God verruil het vir die leuen” (Romeine 1:18, 25).

Ons kan ten gunste van die waarheid óf ten gunste van die leuen wees. Ons streef daarna om volgens God se weg van waarheid te leef deur Sy Gees te volg en gelykvormig te word aan Sy geregtigheid óf ons kan die weg van die leuen leef deur dwalings en valshede te volg wat dikwels voorgedoen word as vreugdevolle tradisies en vakansiedae. Ons moet besluit of ons waarheid of dwaling aan ons kinders wil oordra.

Laat die Skrif vir homself praat – nêrens in die Bybel sal u vind dat God vir u sê om iets bedriegliks, oneerlik te doen of om dwaling te ondersteun nie. Dit behoort aan ons te verduidelik wat ons te doen staan in verband met Kersfees.

 

God besluit hoe ons Hom aanbid

Laat ons nou oorgaan na ons tweede fundamentele vraag: Sê God ooit dat ons ’n heidense vakansiedag kan hou indien ons dit tot eer van Christus onderhou? Sommige mense maak die bewering dat hulle steeds Kersfees vier ondanks die ooglopende heidense dwaling. Is hulle korrek? Is Kersfees aanvaarbaar solank ons dit gebruik “om Christus te eer”?

Ons vind ’n paar kragtige beginsels in die Bybel wat aan ons die leiding gee wat ons nodig het. Een daarvan vind ons in die geskiedenis van antieke Israel, wat duisende jare gelede deur God uit Egiptiese slawerny gelei is. Voordat die Israeliete in die Beloofde Land ingegaan het, het God hulle ernstig gewaarsku en gesê om nie Sy aanbidding te besoedel met die aanbiddingspraktyke van die nasies rondom hulle nie. God het gesê: “... neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die Here jou God nie” (Deuteronómium 12:30-31).

Let op dat die beginsel nie net is: Moenie afgode aanbid nie – dit is, moenie die ware God aanbid met valse praktyke nie. Dit is ’n belangrike punt! Ongelukkig is dit presiés wat in die geskiedenis van die hoofstroom “Christelikheid” gebeur het: Aanbidding van Christus was vermeng met heidense tradisies. Die skrywer Stephen Nissenbaum merk op: “Dit was eers in die vierde eeu dat die kerk amptelik besluit het om Kersfees op 25 Desember te vier. Hierdie datum was nie om godsdienstige redes gekies nie, maar bloot omdat dit toevallig die begin van die wintersonstilstand was, ’n gebeurtenis wat lank voor die koms van die Christendom gevier was” (The Battle for Christmas, 1996, bl.4). Die vroeë Christene het tussen mense gewoon wat dae soos die wintersonstilstand gevier het. Met verloop van tyd was daar geweldige groepsdruk vir Christene om by die heidene aan te pas – wat die meeste mense gedoen het, in plaas daarvan om van heidene te verwag om aan die standaard van die Bybel te voldoen.

Nissenbaum gaan voort: “Die Puriteine was korrek toe hulle daarop gewys het – hulle het dit dikwels gedoen – dat Kersfees niks anders was as ’n heidense fees wat met ’n Christelike lagie vernis bedek is nie”. Hy verwys dan na die Puriteinse prediker Increase Mather, wat in die vroeë dae van koloniale Amerika geleef het en “in 1687 akkuraat opgemerk het dat die vroeë Christene wat die geboorte van Christus op 25 Desember vir die eerste keer gevier het, dit nie gedoen het omdat hulle gedink het dat Christus in daardie maand gebore was nie, maar omdat die heidense Saturnalia op daardie tydstip in Rome gehou was en hulle bereid was om daardie heidense feesdae te verander na Christelike feesdae” (bladsy 4).

Nee, Kersfees was nie op 25 Desember vasgestel om die geboorte van Christus te herdenk nie. Daar is eerder op hierdie datum besluit om onderhouers van Saturnalia te akkommodeer en hulle makliker in die kerk in te bring – presies die teenoorgestelde van God se eie instruksies in Deuteronómium. Die groeiende hoofstroom kerk moes ’n manier vind om die tradisies van die heidene rondom hulle te hanteer en het gekies om dit te akkommodeer. Inderdaad, “die meeste van die Christelike sendelinge wat na Sentraal- en Wes-Europa getrek het toe die Romeinse Ryk verbrokkel het, het die raad van [pous] Gregorius die Grote gevolg. Hy het in 597 geskryf dat hulle nie moet probeer om heidense gebruike ‘te vinnig’ uit te skakel nie, maar hulle aan te pas ‘tot lof van God’” (The Pageantry of Christmas, 1963, bl. 10).

Dit is die rede waarom ons vandag die vreemde mengsel van heidense rituele en lippediens aan Christus gedurende Kersfees sien. Is dit wat God wou hê? Let op Sy duidelike opdrag:

“Hoor die woord wat die Here oor julle gespreek het, o huis van Israel! So sê die Here: Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, en skrik nie vir die tekens van die hemel, omdat die heidene daarvoor skrik nie. Want die insettinge van die volke is nietigheid; want ’n boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van ’n ambagsman met die byl. Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hamers, dat dit nie waggel nie. Soos ’n voëlverskrikker in ’n komkommertuin is hulle: hulle kan nie praat nie; ja, hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie. Wees nie bevrees vir hulle nie, want hulle kan geen kwaad doen nie, maar daar is ook geen goeddoen by hulle nie” (Jeremia 10:1-5).

Hierdie merkwaardige ooreenkomste met Kersfeesgebruike is baie duidelik. Deur Jeremia het God spesifiek vir antieke Israel gesê om nie te leer hoe om Hom te aanbid deur te kyk hoe die nasies rondom hulle aanbid nie. In die “Christelike era” is dit egter presies wat so baie mense gedoen het – hulle het die aanbidding van Christus getransformeer deur dit te laat saamsmelt met die aanbidding van Saturnus, Mithra en ander.

Sommige mense sal die Skrif aanhaal om te beweer dat dit aanvaarbaar is om enige dag te hou, wat ’n mens wil, met inbegrip van Kersfees solank dit tot eer van Christus is: “Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees. Hy wie die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here; en hy wat die dag nie waarneem nie, neem dit nie waar nie tot eer van die Here” (Romeine 14:5-6).

Beteken dit regtig dat ons enige dag kan hou indien ons dit in Christus se naam noem? Ons het sopas gelees wat God dink oor die vermenging van heidense gebruike met Sy leringe en Hy hou nie daarvan nie. Maak dit dan sin dat ons uit hierdie een Skrifgedeelte in Romeine kan aflei dat ons net enige dag wat ons wil kan neem en dit heilige tyd kan maak om God te eer?

Glad nie. Wat Paulus in Romeine 14 aangespreek het, was hoe mense soms by tradisies hou waardeur hulle sekere dae anders as ander behandel. Hy het spesifiek gepraat oor twee verskillende kwessies wat omstrede geraak het: Die vermyding van vleis wat moontlik uit heidense tempels gekom het en die hou van spesifieke vasdae wat nie in die Skrif beveel is nie. Die Jode het baie tradisionele vasdae gehad en het nog steeds. Romeine 14 het niks te doen met of ons heidense gebruike moet aanneem en dit Christelik moet noem nie.

God bepaal wat heilige tyd is. Hy bepaal watter dae ons hou om Hom te eer. Jesus het gesê Hy is die “Here óók van die Sabbat” (Lukas 6:5). Ons kan nie ons Here oorheers deur Sy weeklikse en jaarlikse dae van aanbidding te verander nie.

Jesus het ook gesê: “Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid” (Johannes 4:23). Soos dit deur die Bybel gedefinieer word, is die waarheid God se standaard – nie menslike tradisies of gebruike nie. Wanneer ons eer aan God betoon, moet ons dit op Sy manier doen en dit sluit die dae in waarop Hy wil hê dat ons Hom moet eer.

 

Die beter weg

Wat behoort ons dus te doen in verband met Kersfees? Ons behoort God se aanbod van iets beters te aanvaar. Ons hoef nie tevrede te wees met ’n fees gevul met heidense tradisies nie. Ons kan anders wees. In Levítikus 23 gee God ’n uiteensetting van Sy jaarlikse Feeste, wat ons van Hom en Sy reddingsplan leer: Pasga, die Dae van Ongesuurde Brode, die Pinksterdag, die Fees van Trompette, die Versoendag, die Huttefees en die Laaste Groot Dag.

Paulus het die Evangelieboodskap hoofsaaklik na ’n heidense wêreld geneem en die broers en susters met wie hy gewerk het en aan wie hy geskryf het, het uit heidense volke gekom. Baie mense in die Romeinse wêreld van die eerste eeu het die Saturnalia behou en Mithra en ander valse gode aanbid. Hulle moes hierdie praktyke laat vaar om deel te word van die liggaam van Christus, die Kerk van God en Paulus moes hulle aanmoedig om nie terug te val in hulle ou gebruike nie.

Let op wat hy aan die gemeente in Kolosse skryf: “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ’n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ’n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus” (Kolossense 2:16-17). Let op die woord “is” in vers 17. Alhoewel die meeste Engelse vertalings dié woord insluit, kom dit nie in die oorspronklike Grieks voor nie. Vertalers het dit bygevoeg weens hulle leerstellige vooroordele. Wat die vers eintlik sê, is dat die liggaam van Christus – Sy Kerk, nie die wêreld om ons nie – ons vierings behoort te beoordeel. Daardie vierings behoort nie heidense vakansiedae in te sluit nie. (Vir verdere verduideliking, versoek ’n gratis eksemplaar van Wet of genade: Watter een is dit? van die streekkantoor naaste aan u, waarvan die lys op bladsy 2 van hierdie tydskrif verskyn of lees dit aanlyn by wvm.co.za.

U moenie toelaat dat die wêreld u oordeel omdat u u rug draai op Kersfees nie – omdat u die tradisies van die mens vervang met die weë van God nie. Moenie ontmoedig wees nie. U vriende en familie hou dalk nie daarvan nie, maar God soek diegene wat bereid is om Hom te volg, maak nie saak wát nie.

Kersfees lei ons nie na die waarheid nie. In plaas daarvan verdoesel

 dit die waarheid. Dit is nie genoeg om te weet wat die oorsprong van Kersfees is nie – ons moet optree volgens wat ons weet. Dit beteken om die waarheid te volg en dit is wat ons moet doen in verband met Kersfees.