Die 2016 Kanadese sensus het die aandag gevestig op die dramatiese veranderings wat op daardie stadium besig was om in Kanadese huishoudings plaas te vind. Vorige sensusverslae het toe alreeds getoon dat die “kerngesin” – een vader, een moeder en twee of meer kinders – besig was om vervang te word deur ’n verskeidenheid van sogenaamde alternatiewe. Die werklike verrassing in die 2016-sensus was die gesinstruktuur wat die algemeenste in Kanada voorgekom het:
“Vir die eerste keer in die land se geskiedenis het die aantal enkelpersoonhuishoudings alle ander tipes van lewenssituasies oortref. Dit het die vorige jaar meer as 28,2 persent van alle huishoudings behels – meer as die persentasie paartjies met kinders, paartjies sonder kinders, enkelouergesinne, meervoudige gesinshuishoudings en alle ander kombinasies van mense wat saamwoon” (“Census 2016: More Canadians than ever are living alone,” The Globe and Mail, 2 Augustus 2017).
Sedert 2016 kies meer volwassenes alternatiewe soos om by hulle ouers te woon, alleen te bly of ongetroud saam met kamermaats te woon. “Terwyl meer as twee derdes (68 persent) van mense in 1981, tussen die ouderdomme van 25 en 29 egpare was, was dit die geval vir net minder as twee-vyfdes (39 persent) van mense in hierdie ouderdomsgroep in 2021” (“How and Why there are So Many Singles in Canada,” PsychologyToday.com, 10 Junie 2023).
Vanaf 2021 woon 15 persent van die bevolkingsgroep van ouderdomme 15 jaar en ouer op hulle eie – ’n totaal van 4,4 miljoen mense in vergelyking met 1,7 miljoen mense in 1982 (“Living Solo,” Statistics Canada, StatCan.gc.ca, 29 September 2022). ’n Mens moet die vraag vra waarom so baie mense verkies om “alleen te gaan woon” eerder as om hulle lewe saam met ’n huweliksmaat te ervaar. Daar is baie redes vir hierdie toename, maar die realiteit van ’n openbare verandering oor die mening van die huwelik kan nie geïgnoreer word nie.
’n Opname wat deur die meningspeiler Angus Reid gedoen is, het getoon dat 53 persent van die Kanadese saamstem met die stelling: “’n Huwelik is eenvoudig nie nodig nie”. Hierdie oortuiging word gehuldig deur 60 persent van mans tussen die ouderdomme van 18-34. Dit behoort dan ook geen verrassing te wees dat hierdie verandering in houding teenoor die huwelik, ook ’n verandering in houding teenoor godsdiens weerspieël nie. Onder getroude Kanadese tussen die ouderdomme van 18-34 was minder as die helfte van hulle in ’n godsdienstige seremonie getroud, met 53 persent wat eerder ’n burgerlike seremonie verkies het. (“Ek doen nie: Vier uit tien Kanadese volwassenes het nog nooit getrou nie en is nie seker of hulle wil nie,” AngusReid.org, 7 Mei 2018).
Dalende geboortesyfers
In die meeste Westerse nasies het veranderende openbare gesindhede wat betref huwelike, kinderopvoeding en die gesin in die algemeen, blywende gevolge. Kanada is nie die enigste land wat skerp afnames in die aantal tradisionele gesinne waarneem nie. Een van die ooglopende nadelige gevolge van minder paartjies en minder huwelike is dat Kanada ’n sorgwekkende neiging van minder babas in die gesig staar.
Die MacDonald-Laurier Institute, ’n dinkskrum vir openbare beleid wat in Ottawa geleë is, voeg ’n kommerwekkende getal by hierdie bevindings. Kanada se geboortesyfers het van 1,6 in 2016 tot 1,3 in 2022 gedaal (“Canada’s Family Erosion,” MLI, MacDonaldLaurier.ca, 7 Mei 2024). ’n Daling van 0,3 klink dalk nie betekenisvol nie, maar dit neem ’n baie klein getal en maak dit nog kleiner. Dit is bekend dat ’n geboortesyfer van 2,1 babas per vrou van 15-49 die maatstaf is om ’n bevolking te handhaaf. Tans is Kanada se geboortesyfer slegs twee-derdes van wat nodig is om sy bevolking te handhaaf – en die geboortesyfer se koers van 1,3 verteenwoordig ’n byna 20 persent afname in slegs ses jaar.
In 2021 het Statistics Canada sommige van die probleme beskryf wat met hierdie daling in geboortesyfers geassosieer word: “Indien die land se geboortesyfer in die komende jare verder afneem, kan Kanada aansluit by die lande met die ‘laagste lae’ geboortesyfers (1,3 of minder kinders per vrou) – ’n situasie wat verband hou met vinnige veroudering van die bevolking en verhoogde spanningsvlakke in die arbeidsmark, openbare gesondheidsorg en pensioenstelsel” (“Fewer babies born as Canada’s fertility rate hits a record-low in 2020,” StatCan.gc.ca, 16 Mei 2022).
Terwyl die besluit om in die huwelik te tree en kinders te hê ’n baie persoonlike besluit is en daar baie wettige redes is waarom ’n mens kan kies om enkellopend te bly, het die algehele neiging van minder Kanadese wat die huwelik verkies en minder Kanadese wat verkies om kinders te hê ’n impak op die samelewing. MacLean se tydskrif het die werklikheid beklemtoon:
Die huwelik is dalk net nie meer so belangrik soos wat dit voorheen vir jong paartjies was nie. Dit is egter baie belangrik vir die gemeenskap in die algemeen. Getroude paartjies is ’n grondslag van die ekonomie. Hulle verdien, spaar en bestee meer as wat hulle ongetroude eweknieë doen. Hulle is gelukkiger. Baie bewyse toon dat stabiele gesinne met twee ouers goed is vir kinders. Kinders wat binne-in ’n getroude gesin grootword, is baie meer geneig om sukses op skool te behaal, werk te kry en probleme later in hulle lewe te vermy as dié wat in ander situasies grootgemaak word, hoe liefdevol ook al (“You can’t mandate marriage, even if it’s good for society,” Macleans.ca, 11 Oktober 2011).
Ons volle potensiaal
Buiten MacLean se verslae en statistieke wat verskaf is deur Statistics Canada of die Angus Reid Institute, is die realiteit wat vir ons nodig is om te verstaan – reg van die begin van die skepping af – dat mans en vroue geskep is om hulle volle potensiaal binne ’n gesinstruktuur te bereik.
Die tweede hoofstuk van Génesis bevat die bekende verslag van God wat Adam se rib gebruik het om Eva te skep. Die taalgebruik maak dit duidelik dat Adam na geselskap verlang het. “... maar vir die mens het hy geen hulp gevind wat by hom pas nie” (Génesis 2:20).
Adam se reaksie was een van pure opgewondenheid toe God vir Eva na hom gebring het: “Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal manin genoem word, want sy is uit die man geneem” (Génesis 2:23). Hy kon dalk selfs die groter belangrikheid van hulle verhouding besef – die skepping van die eerste menslike gesin.
Hoeveel waarde het God aan die gesin geheg? Hy het dit goed geag om te verseker dat twee van die Tien Gebooie, wat die mees basiese en fundamentele uitdrukkings van Goddelike moraliteit is, daarop gerig is om die gesinseenheid in stand te hou. Die vyfde Gebod lees: “Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee” en die sewende Gebod verklaar bondig: “Jy mag nie egbreek nie” (Exodus 20:12, 14).
Moontlik het u nie die voorreg gehad om met ’n positiewe ouerlike voorbeeld groot te word nie en is u nie heeltemal seker hoe dit is nie. Indien wel, het u liefdevolle Skepper u nie sonder hulp gelaat nie. Die Bybel bevat ’n magdom inligting wat beginsels beskryf wat u kan help om ’n beter vader, moeder, broer, suster, man, vrou, seun of dogter te wees en dit kan u help om uself vir ’n toekomstige gesin voor te berei.
Gedurende die afgelope paar dekades is daar ’n aanval geloods op die gesinseenheid. Alhoewel baie mense hulleself in minder gunstige situasies buite hulle beheer bevind, maak familie saak. Dit is die grondslag van die samelewing en die grondslag van suksesvolle gemeenskappe. ’n Gesonde gesin is – en was nog altyd – die beste omgewing waarin kinders grootgemaak kan word om toekomstige geslagte te vorm.
Dit is ’n sleutel tot begrip om die lewensbelangrike rol van die gesin te verstaan van die lewenswyse wat God in die Bybel openbaar. Die twee ondersteun mekaar op diepgaande wyses en die gesinseenheid leer ons ook baie oor God se volledige plan. Indien u belangstel om meer oor hierdie belangrike verband te wete te kom, kan u u eie gratis eksemplare van Wat is die doel van die lewe? en Suksesvolle Ouerskap volgens God se riglyne, bestel van die streekkantoor naaste aan u (gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif) of u kan dit aanlyn lees by wvm.co.za.


