Vraag: Indien God almagtig is, waarom laat Hy Satan toe om die “god van hierdie wêreld” te wees (2 Korinthiërs 4:4)?

Antwoord: Die Skrif maak dit duidelik dat die duiwel – Satan –tans in beheer is van die planeet Aarde. Selfs Jesus Christus Self het kort voor Sy arrestasie en kruisiging, Satan se gesag erken: “Ek sal nie veel meer met julle spreek nie; want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie” (Johannes 14:30).

Hoe oefen die duiwel sy heerskappy uit? Hy beïnvloed wêreldgebeure deur sy bose idees in die denke van mense te plaas, baie soos ’n televisie-sender sy sein in die lug uitsaai om opgevang te word in mense se huise. Hierdie vergelyking kan ons help verstaan waarom die Bybel van Satan praat as “die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander” (Efesiërs 2:2-3).

Was daar nog altyd ’n Satan? Nee! God het ’n magtige en beeldskone aartsengel genaamd Lucifer, geskape wat – saam met Mígael en Gabriël – gedien het by God se troon in die hemel. Waarom het hierdie Lucifer (Latyns vir “ligbringer” of “môrester”) geval en Satan (Hebreeus vir “aanklaer” of “teenstander”) geword? U kan hieroor lees in Esegiël 28:12-19 en Lukas 10:18.

Lucifer en ’n derde van die engele (Openbaring 12:3-4) het in opstand gekom teen hul Skepper en was neergewerp van God se teenwoordigheid (verse 7-9). Lucifer en sy engele was klaarblyklik die taak opgedra om die aarde voor te berei vir sy deel in God se plan vir die mensdom. Ongelukkig met die rol wat God aan hom opgedra het, het hierdie magtige aartsengel ’n onsuksesvolle opstand gelei teen God die Vader en die Woord (Lukas 10:18; Jesaja 14-15).

Satan het gefaal in sy opstand, maar hy het in die amp wat God aan hom gegee het aangebly waar hy, ironies genoeg, steeds gebruik word in God se plan. U sien, mense spandeer 6,000 jaar lank hul lewens volgens hulle eie manier, beïnvloed deur Satan se gees van selfsugtigheid en boosheid. Hulle is besig om met hul eie bloed, sweet en trane die geskiedenis te skryf van hoe dit is om in ongehoorsaamheid aan God se weg te leef.

Die Woord – Jesus Christus – het ’n bietjie meer as 2,000 jaar gelede na die aarde gekom as ’n mens. Deur Sy lewe volmaak te leef – totaal gevul deur die Heilige Gees – het Hy gedemonstreer dat, met God se hulp, mense in gehoorsaamheid aan God kan leef en Satan se lewenswyse kan verwerp (Galasiërs 2:20).

Dit is deur Jesus Christus dat Satan se heerskappy op die aarde binnekort sal eindig. Dit is waarom die duiwel slegs die “god van hierdie wêreld” of “hierdie tydperk”, genoem word. Daar kom spoedig ’n tydperk wanneer Jesus Christus Satan sal vervang as heerser oor hierdie wêreld. Ons noem daardie tydperk die “Millennium” of die “Duisendjarige Vrederyk”. Jesus Christus, wat na hierdie aarde gekom het as ’n mens en ’n volmaakte, sondelose lewe geleef het, sal weer kom as Koning en sal Satan sy heerskappy ontneem.

Wat kan ons doen om die bose uitwerking van Satan se heerskappy te ontkom, aangesien die Millennium nog nie hier is nie? Diegene wat Jesus Christus se offer aanvaar kan, deur die krag van die Heilige Gees, nou reeds onder die gesag van God se regering kom en die krag ontvang om Satan se invloed in hul lewens te weerstaan. “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!” (Jakobus 4:7-8).

God is besig om te kyk wie Jesus Christus gehoorsaam en wie hul oorgegee het aan boosheid. “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?” (1 Petrus 4:17-18).

Wanneer die Vredevors terugkeer om Sy regering oor die nasies te vestig, sal Satan se heerskappy eindig. “Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word” (Johannes 12:31). Mag God daardie dag bespoedig!