Hoe meer u van die skepping weet, hoe meer sal u die hand van die Skepper daarin sien en begin om die God van die Bybel van nader te leer ken.

Is dit moontlik dat u Hom waarlik kan ken?

Tydens Paulus se bediening in Griekeland en Macedonië het hy na die groot stad Athene gereis. Terwyl hy daar was, het hy hierdie opmerking oor die “godsdienstige” atmosfeer van die samelewing gemaak: “Atheners, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is. Want terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook ’n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan ’n onbekende God. Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle” (Handelinge 17:22-23).

Waarvan het Paulus gepraat? Op Mars se Heuwel – ook bekend as die Areopagus [regbank] – is ’n tempel gevind wat nie aan een van die groot Atheense gode soos Zeus of Athena gewy is nie, maar eerder aan “die Onbekende God”. Die Atheense godsdiens het die idee dat daar ander gode wat onbekend aan die Grieke was ingesluit, maar hulle het probeer om selfs die onbekende gode te paai en hulle guns te wen.

In die antieke wêreld is algemeen geglo dat daar baie gode was – gode wat oor verskeie dele van die hemele heers, soos die son of die maan. Sommige mense het gedink gode is meer plaaslik en dat hulle net mag gehad het binne ’n spesifieke land. Sommige mense het aan “die Onbekende God” gedink as ’n plaasvervanger vir enige en alle gode wat nie aan die aanbidder bekend was nie. Ander het dit weer gesien as ’n spesifieke, maar ongeïdentifiseerde wese buite die Griekse panteon [eretempel].

Wat ’n kontras is dit nie met die Bybel se weergawe nie! Die Bybel verkondig dat die God van Israel die enigste God is en dat Hy die Skepper is – die Een wat oor alles hier op aarde en in die hemel daarbo regeer.

Ken u dus die Onbekende God – die een wat Paulus op Mars se Heuwel verkondig het?

Is u seker?
Baie godsdienste maak daarop aanspraak dat die Bybel hulle gids is. Hulle verteenwoordig egter dikwels heeltemal botsende en selfs teenstrydige idees. Kan ons dus die Bybel vertrou as die bron van beslissende waarheid? Oorweeg vir ’n oomblik die wetenskaplike alternatief. ’n Groot deel van die moderne wetenskap aanvaar dit as ’n feit dat die wêreld sonder God is. Die heelal is ’n groot en komplekse plek, maar wetenskaplikes probeer dit verduidelik en misken dat ’n Skepper nodig is. Selfs die meeste wetenskaplikes glo vandag dat daar geen ewigheid van materie is nie en dat ons heelal ongeveer 14 miljard jaar gelede tydens ’n “oerknal” ontstaan het. Die Kanadese wetenskaplike joernalis en skrywer, Bob McDonald verduidelik dit so:

“Volgens die Oerknal-teorie is die heelal gebore uit ’n ondenkbare warm sop van energie, met drukkings so hoog dat niks met massa daarin kon bestaan nie. Selfs kwarke, die kleinste deeltjies sover bekend, sou tot suiwer energie saamgepers gewees het ... Iewers in die proses het energie in materie verander. Dit is verander in kwarke, protone, elektrone, atome, molekules, deeltjies, planete en uiteindelik die mens wat probeer om die hele ding te ontrafel. Indien die heelal nie hierdie interessante klein knoppies ontwikkel het nie, sou ons nie hier gewees het nie” (It’s not a ‘god’ particleCBC News, 16 Desember 2011).

Volgens baie wetenskaplikes het energie op die een of ander manier in materie verander en materie het in die mens verander. Waar het al daardie energie dan vandaan gekom? Wat was die oorsprong daarvan? Die wetenskap het geen verduideliking daarvoor nie. Die wetenskap weet nog minder hoe en waarom energie, wat skynbaar nog van alle tye af teenwoordig was, tot op die punt van die oerknal gekom het.

Wanneer ons na onsself kyk, sien ons die wonder van ontwerp. Die menslike liggaam en verstand toon bewyse van intelligente ingenieurswerk, funksionering en beplanning. Dieselfde geld vir alle lewende dinge: Of ons nou na voëls, insekte, reptiele, visse, of soogdiere kyk, ons sien skoonheid, ontwerp en doel. Ons sien ook op hierdie planeet ’n ekosisteem wat in harmonie saamwerk om die bestaan van alle vorms van lewe moontlik te maak.

Is dit regtig so moeilik om die Hand van Intelligensie in al hierdie dinge raak te sien? Paulus het aan die Atheners bevestig dat daar ’n God agter dit alles is. “Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee” (Handelinge 17:24-25).

Is lewe so eenvoudig?

Het u al ooit gewonder waarom wetenskaplikes nie in staat is om selfs die eenvoudigste vorme van lewe te dupliseer nie? Dink daaraan. Ons word wysgemaak dat verskeie nie-lewende chemikalieë toevallig op een of ander wyse bymekaar gekom het om ’n soort oer-sop te vorm om op so ’n wyse ineen te skakel, dat dit lewe voortgebring het. Is dit egter so eenvoudig? Indien dit wel so is, waarom is wetenskaplikes nie in staat om hierdie proses te herhaal nie? Hulle weet tog uiteraard uit watter chemikalieë lewe bestaan.

Kom ons veronderstel dat hulle al die regte chemikalieë bymekaar kan voeg en dit op net die regte manier kan verbind, naastenby soos om ’n ingewikkelde legkaart te bou en veronderstel dat hulle dit alles vir ’n paar oomblikke bymekaar kan hou. Ten einde ’n lewende sel te kan skep, sal dit vir hulle nodig wees om hierdie wonderbaarlike legkaart in ’n gespesialiseerde soort sak of membraan toe te draai om dit alles bymekaar te hou. Dit word soms uitgebeeld as ’n borrel, iets wat ons in ’n poel water sal raakloop. Jammer my vriende, maar ons sal hierdie borrel moet bars. Daar is niks eenvoudigs omtrent die membraan wat ’n sel omhul nie en die idee dat dit per toeval kon gebeur, is effens beledigend vir ons intelligensie. Dink daaroor na. Vir hierdie sel om te oorleef, sal die DNA gedetailleerde instruksies moet bevat oor hoe om hierdie beskermende sellulêre wand te maak. Wat het dus eerste gekom? Die sellulêre wand wat die DNA en al die ander strukture van die sel bymekaar hou, of die DNA wat instruksies gee oor hoe om die sellulêre wand te bou?

Selfs al sou dit alles op die een of ander manier net kon gebeur het, sonder enige intelligente toesig, sou ons lewe gehad het? Die antwoord is: Nee. U kan al die dele van die organisme in presies die regte formaat hê, maar u het nog steeds nie lewe nie, totdat iets daaraan lewe gee. Wetenskaplike skrywers bespiegel dikwels dat ’n vonk (dalk ’n weerligstraal) ons legkaart skielik lewendig geskok het. Tot dusver was die mens, met al sy intelligensie, egter nog nooit in staat om die legkaart van die begin af saam te stel nie, nog minder om dit lewendig te skok. Trouens, ons vind dit moeilik om lewe terug te gee aan organismes wat eens lewendig was. Soms, wanneer iemand ophou asemhaal, is ons in staat om hom weer by te bring, maar tensy die hart weer vinnig begin klop en die longe weer vinnig begin pomp is daar snelle agteruitgang van die selle en gaan enige hoop tot niet om die lewe te herstel.

In ’n biologie-kursus wat ek geneem het, het ons professor eendag verduidelik hoe wetenskaplikes verskeie chemikalieë gemeng en eenvoudige aminosure verkry het – die boustene van proteïene wat die boustene van lewe is. Hy het nie verduidelik dat hulle net die korrekte chemikalieë baie versigtig in ’n baie streng gekontroleerde omgewing gemeng het nie, ook nie die feit dat ons dit nêrens in die natuur so sien gebeur nie. Daarna het hy egter oor die eerste eensellige lewe begin praat. Ek vra toe: “Hoe het u te werk gegaan om van ’n paar aminosure tot ’n baie ingewikkelde, ten volle ontwikkelde en funksionerende sel te kom?” Sy verrassende antwoord was: “Dit is die grootste gaping in evolusie, maar omdat ons hier is, weet ons die gaping is oorbrug”.

Natuurlik betwis ons nie die feit dat ons bestaan nie, maar wel die manier waarop ons ontstaan het. Hy het ’n teorie, wat hy moes erken ’n groot probleem bevat, sonder twyfel as ’n feit voorgestel. Tensy evolusie die eerste sel kan verduidelik (wat dit nie kan nie), hoe kan dit moontlik ’n verklaring hê vir al die oorblywende wonders van die lewe?

Daar is ’n bron!

Paulus, sowel as die Bybel, maak aanspraak daarop dat daar wel ’n alternatiewe verduideliking is. Daar is ’n Intelligensie aan die werk wat die heelal geskep en lewe gegee het. Dit is die God wat die Atheners nie geken het nie. Daardie Intelligensie het bowendien ’n plan vir die mens: “... want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy [na]geslag” (Handelinge 17:28).

Nageslag? Ons behoort vir ’n oomblik hieroor na te dink. Waarom het Hy die mens na Sy beeld en Sy gelykenis geskape? Wat is God se doel daarmee?

’n Suiwer materialistiese siening, ook naturalisme genoem, maak daarop aanspraak dat daar ’n tyd was toe slegs energie bestaan het. Waar dit vandaan kom weet niemand nie, maar hulle sê, op die een of ander manier en met verloop van tyd, het energie so gekonsentreerd op een plek geraak (niemand weet hoe of waarom nie) dat dit uitgebars het in ’n oerknal en op ’n manier verander het van energie na materie. Hierdie materie is rondgeslinger en so is sterre, planete en ’n magdom ander hemelliggame en stelsels gevorm. Op een van hierdie planete het nie-lewende chemikalieë op een of ander manier bymekaar gekom om ’n oordadige legkaart te vorm. Dit het geen lewe gehad nie, maar voordat dit kon verweer, is dit aan die lewe geskok deur ’n onbekende soort vonk – ’n baie klein vonkie, omdat ons enkelsellige kreatuurtjie-in-wording uiters klein was.

Daarna het hierdie baie eensame enkelsellige organisme op die een of ander manier besef dit het kos nodig en waar om dit dan van nie-lewende materie te vind. Dit het geweet hoe om kos te verteer en dit het lank genoeg oorleef om op die een of ander manier te reproduseer, hoewel niemand weet hoe die kreatuurtjie geweet het hoe dit gedoen moes word en hoe dit geleer het om dit te doen nie. Dit is net gedoen, want toe die legkaart toevallig voltooi is, het dit al die nodige DNA-kodes en -strukture gehad! Met die verloop van miljoene jare het dit uiteindelik al die vorms van lewe voortgebring wat ons vandag sien.

Die alternatief tot blinde toeval wat so ’n eindproduk kan voortbring is super-naturalisme; met ander woorde, God. Die God wat Paulus en die Bybel verkondig, het die mens na Sy beeld en gelykenis gemaak. Waarom?

Koning Dawid het hierdie vraag gevra: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het – wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom ’n weinig minder gemaak as ’n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel” (Psalm 8:4-7).

Dit was van die begin af God se bedoeling met die mens (Genesis 1:26). Waarom is die mens egter gemaak om te heers? Die apostel Paulus beantwoord koning Dawid se vraag: “Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie” (Hebreërs 2:8).

Vandag sien ons dat ’n groot deel van planeet Aarde inderdaad onderworpe is aan die mens. Mense het wilde diere mak gemaak om te gebruik as lasdiere, troeteldiere en selfs as voedsel. Dit is nogtans duidelik dat die mens se huidige heerskappy baie beperk is en nie verder strek as ’n paar baie eenvoudige aspekte van fisiese lewe op ons planeet nie. Uiteindelik weet ons dat ons fisiese wesens is wat bestem is om te sterf. Waarom het God ons dus in hierdie unieke heersersposisie geplaas? Die Bybel beantwoord hierdie vraag.

“Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. Want julle het nie ontvang ’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word” (Romeine 8:14-17). Verder ook: “Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige” (2 Korinthiërs 6:18).

Dink na oor wat u pas gelees het: Ons word beskryf as kinders van God, erfgename van God en mede-erfgename met Christus, seuns en dogters; en God is ons Vader. Kan ons nie begin insien waarom ons na die beeld en gelykenis van God gemaak is nie? Terwyl ons probeer om God te verlaag tot ons beeld, volgens die versinsels van ons harte, is Hy besig om ons na Sy gelykenis te maak!

Hierdie proses bring mee dat ons ons Vader se weë leer en Sy ware karakter ontwikkel sodat ons in harmonie met Hom kan leef tot in ewigheid. Soms bring hierdie karakterontwikkeling pyn en lyding mee. Dit is jammer, maar soms is dit die enigste manier waardeur ’n liefdevolle Skepper ons aandag kan verkry. “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie” (Romeine 8:18).

Wat is hierdie heerlikheid wat in ons geopenbaar sal word? Wat moontlik kan ons so opgewonde maak dat ons meer wil leer en die Skepper wil aanbid? Dit is die feit dat ons uitsien na ’n toekomstige tyd wanneer ons in ’n harmonieuse gesinsverwantskap met Hom sal wees: “Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe – nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het – in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam” (Romeine 8:19-23).

Die groot ontwerp

Indien ons die produk van blinde toeval is, mag dit sin maak om vir vandag te leef en te vergeet van die toekoms. Indien God werklik is, behoort u so te leef dat u ’n toekoms in die huisgesin van God sal hê. Mense is nie geskape as blote diere om sonder hoop te leef en te sterf nie. Ons is anders! Geloof, hoop en doelbewuste beplanning vir die toekoms is deel van wat ons anders maak. Romeine 8 sê aan ons dat Christus slegs die eersgeborene van baie broers en susters is: “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Romeine 8:29, 32).

Dit is die plan van die “onbekende God” wat Paulus aan die filosowe van Athene verkondig het – die God wat vandag nog steeds in die grootste deel van die wêreld onbekend is.