Wat lê in die nabye toekoms voor vir die eens welvarende Westerse lande wat die wêreld vir die afgelope vyf eeue oorheers het? Waarom is die invloed van die Verenigde State oor die wêreld besig om af te neem? Waarom is dit vir die eens magtige Brittanje nodig om te worstel om verenig te bly? Wat het geword van die roem van Frankryk? Waarom het immigrasie die beeld van Kanada verander? Waarom word die nasies van Australië en Nieu-Seeland uitgedaag deur opkomende Asiatiese magte? Waarom word Westerse nasies wat eens voorbeelde van vryheid, voorspoed en sedelikheid was deur groeiende interne twis en dalende aansien op die wêreldtoneel geteister? Min mense besef nou dat die Westerse ondergang lank gelede reeds in Bybelse profesieë voorspel is en vandag besig is om gestalte aan te neem!

Profetiese beloftes en waarskuwings

Die meeste mense van vandag, met inbegrip van Bybelse en akademiese geleerdes, begryp nie dat die moderne Westerse nasies wat hierbo genoem word, inderdaad in die Bybelse profesieë genoem word nie. Daarom weet baie min mense waarom hierdie nasies in die moeilikheid is en wat hulle toekoms inhou. In die Skrif is opgeteken dat God ’n reeks beloftes aan Abraham, Isak en Jakob gemaak het – dat hulle nageslag sou vermeerder en regoor die wêreld sou versprei om ’n seën vir ander volke te wees.

Omdat Abraham gehoorsaam was, is aan die afstammelinge van die twaalf stamme van Israel belowe dat hulle op die beste plekke van die aarde sou woon en uiteindelik die poorte van hulle vyande in besit sou neem. Die nageslag van Josef se seuns, Manasse en Efraim, sou volgens profesie uiteindelik elkeen ’n groot nasie en ’n groot menigte van nasies word. Uit die geskiedenis leer ons dat spesifieke nasies van die Westerse wêreld werklik hierdie antieke beloftes vervul het.

Die Bybel maak ook die rede bekend waarom God aan Abraham en sy nageslag hierdie beloftes gegee het. Tydens die Israeliete se vlug uit Egipte, het God ’n verbond met hulle gesluit en aan hulle Sy Wette gegee sodat hulle ’n model-nasie en ’n lig vir die wêreld kon word (Deuteronomium 4). God het hulle nogtans teen ongehoorsaamheid gewaarsku: “Maar as julle nie na My luister [nie] ... en as julle my insettinge verwerp ... En Ek sal julle trotse mag verbreek” (Levitikus 26:14-19). God het voorspel dat ongehoorsaamheid uitterende siektes, droogte en [vyandige] invalle oor hulle sou bring; “... julle haters sal oor julle heers” (vers 17).

Moses het die Israeliete later gewaarsku dat indien hulle hulle van God sou distansieer, hulle in die skuld sou wees by buitelandse nasies, dat vreemdelinge onder hulle sou opstaan en na vore kom en dat die Israeliete “die stert” sou word en uiteindelik in ballingskap weggevoer sou word (Deuteronomium 28:15-46). Terwyl Moses in die verre toekoms ingekyk het, het hy aan die kinders van Israel gesê dat “onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom”, omdat “julle ná my dood gewis verderflik sal handel, en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het” (Deuteronomium 31:29). Talle profesieë waarsku dat die ondergang van die Israelitiese nasies “skielik” sal kom (Deuteronomium 7:4; Jesaja 30:12-14).

Die meeste Bybelkenners erken dat baie Ou Testamentiese profesieë tweeledig is, met ’n aanvanklike vervulling in die antieke wêreld en die uiteindelike vervulling teen die einde van die tyd. In die geskiedenis sien ons dat antieke Israel en Juda hulle van God gedistansieer het en slawe van Assirië en Babilonië geword het. Huidiglik distansieer die moderne afstammelinge van die Israeliete hulle ook van God en is op pad na ’n soortgelyke lot!

Moderne werklikhede

Die geskiedenis vermeld dat die godsdienstige leiers van Brittanje, Holland en ander noordwestelike Europese nasies ’n groot rol gespeel het in die verspreiding van kennis van die Bybel na verafgeleë dele van die wêreld. Ons sien ook dat Amerika op die Bybelse beginsels en Judeo-Christelike oortuigings en morele waardes gegrond is.

Gedurende die laaste 50 jaar het hierdie Bybelse waardes onder aanhoudende aanvalle gekom in ons toenemend wêreldlike kultuur. Vandag word die teorie van evolusie (skepping sonder ’n Skepper) as ’n feit verkondig. Gebed, die Bybel en die Tien Gebooie is uit skole verban, terwyl onderwysers en liberale teoloë die idee dat seks buite die huwelik nie sonde is nie en dat homoseksualiteit en dieselfde-geslag huwelike aanvaarbaar en normaal is, bevorder. Wêreldse geskiedkundiges beweer ook dat die “seëninge” wat die Israelitiese nasies van die Weste geniet het, nie van God gekom het nie, maar bloot ’n kwessie van “geluk” deur op die regte tyd op die regte plek te wees. Vir baie mense in die moderne Westerse samelewings is God eenvoudig nie in die prentjie nie en Sy Wette is nie meer toepaslik nie.

Verbind die kolletjies?

Vandag probeer baie min mense “die kolletjies verbind” tussen die wegbeweeg van God af en die dalende invloed en groeiende probleme van ons moderne Westerse nasies. Sommige mense laat nogtans waarskuwings opklink wat antieke Bybelse profesieë laat weerklink! Meer as 25 jaar gelede het die bekende teoloog, Carl Henry, die verband tussen die verwerping van Judeo-Christelike morele waardes en die stygende koers van egskeiding, tienerswangerskappe, saamwoon-pare, die gebruik van dwelms en selfmoord raakgesien. Hy het opgemerk dat die “Amerikaanse samelewing, soos nog nooit vantevore nie, binnegedring word deur uitheemse godsdienstige invloede wat die Weste eens op ’n tyd sonder om te aarsel heidens sou genoem het”, wat ons voortslinger na ’n “kulturele Armageddon” (Twilight of a Great Civilization, bll. 174-175). Vandag is hierdie selfde neigings selfs nog meer sigbaar, nie net in Amerika nie, maar regoor die Westerse, sogenaamde “Christelike” wêreld.

Byna ’n dekade later dokumenteer regter Robert Bork die gevaarlike rigting waarin hierdie selfde maatskaplike tendense neig in sy boek, Slouching Towards Gomorra: Modern Liberalism and American Decline. Die Amerikaanse wetgewende liggaam het regter Bork se nominasie tot die VS Hooggeregshof verwerp, omdat die konserwatiewe waardes wat hy voorgestaan het, uit pas is met die liberale, anti-Christelike neigings wat besig is om in Amerika te ontwikkel.

Eweneens wys die navorser Jim Nelson Black in sy boek, When Nations Die, op die parallelle tussen die neigings in Amerika en die sigbare simptome van agteruitgang tydens die ondergang van Antieke Rome, Carthago en ander historiese ryke: Die toename van wetteloosheid, verlies aan ekonomiese dissipline, verswakking van kulturele fondamente, toenemende materialisme, verval van die godsdienstige geloof, toename in immoraliteit en die devaluering van ’n menslike lewe, wat alles vandag in die Westerse wêreld plaasvind.

Ongeveer in dieselfde tyd skryf Harvard se professor, Samuel Huntington, in sy boek The Clash of Civilizations, dat die tyd van Westerse oorheersing tot ’n “einde” kom en “die verdwyning van die Weste” weerspieël “’n beskawing wat agteruitgaan” (bll. 81-91). Meer onlangs het die skrywer en presidensiële adviseur, Patrick Buchanan, opgemerk: “Die Amerika waarin ons grootgeword het, is verlore. Die eenheid en gemeenskaplike doel wat ons gehad het toe ons saam trou kon sweer aan ’n vlag wat gestaan het vir ‘een nasie onder God, onverdeeld’ is verlore ... Amerika het verbrokkel ... Wat ons eens verenig het, is besig om te verval. Dit is die waarheid omtrent die Westerse beskawing” (Suicide of a Superpower: Will America Survive to 2025?, bll. 6-7).

Die ekonomiese geskiedkundige en Harvard-professor, Niall Ferguson, het in 2010 gewaarsku teen die “skielike ineenstorting” van Amerika se “ryk”, wat te wyte is aan die land se stygende skuld en dat dit “binne die volgende vyf jaar” kon gebeur (AspenDailyNews.com, “Historian warns of sudden collaps of American “empire”” 6 Julie2010).

Bybelprofesieë het lank gelede reeds die ondergang van die Israelitiese nasies van die Westerse wêreld aan die einde van hierdie tydperk voorspel, omdat hulle hulle sou distansieer van God en die lesse wat hulle uit die geskiedenis kon leer, vergeet. Daardie antieke profesieë is nou besig om gestalte aan te neem in die gebeure wat ons vandag aanskou!