Baie stede regoor die wêreld is van tyd tot tyd die middelpunt van gewelddadige konflikte. Die stad Jerusalem – veral die Tempelberg – is egter keer op keer die middelpunt van die wêreld se aandag. Dit is geen verrassing vir enigeen wat bekend is met Bybelse profesieë nie. Dosyne profesieë toon aan dat die stad Jerusalem die nuushooftrekke sal oorheers net voor Jesus Christus se Wederkoms en die einde van hierdie tydvak.

Oorheers, verdeel, verwoes

Oënskynlik eindelose politieke onderhandelings is die afgelope jare geloods in die najaging van vrede in die Midde-Ooste. Desnieteenstaande het elke poging misluk, net soos die Bybel dit voorspel! God het die profeet Sagaria meer as 2,500 jaar gelede geïnspireer om te skryf: “En in dié dag maak Ek Jerusalem tot ’n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seermaak” (Sagaria 12:3). Vir bykans ’n eeu het Jerusalem hierdie profesie vervul. Brittanje, Israel en die Verenigde State het almal probeer – en gefaal – om vrede na hierdie veelbewoë stad en sy omstreke te bring. Nou wil die Europeërs, die Russe, die Verenigde Nasies en selfs die Vatikaan probeer om hierdie eeue-oue probleem op te los. Volgens Bybelse profesieë sal almal wat probeer, faal – tot Christus se Wederkoms!

Sagaria het ’n ander eindtydse profesie opgeteken. “Kyk, daar kom ’n dag vir die Here; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem! Want Ek salal die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie” (Sagaria 14:1-2). Dit wil voorkom asof hierdie profesie op die punt staan om vervul te word. Jerusalem was in die sewende eeu v.C. deur die Babiloniërs verwoes, en in 70 n.C. deur die Romeine. Later het die Arabiere, en daarna die Ottomaanse Turke die stad beheer. Die geprofeteerde eindtydse verowering en vernietiging sal egter aan die hand van “al die nasies” gebeur. In vorige beleëringe was die hele stad verower en vernietig maar in die laaste dae sal slegs die helfte van die stad verower word. Dit mag heel moontlik die Joodse helfte wees, indien die ander helfte – Oos-Jerusalem – die erkende hoofstad van ’n volle Palestynse staat word, soos die President van die Palestynse Owerheid, Mahmoud Abbas, voorgestel het.

Abbas, soos die meeste Palestyne, wil hê dat die Arabies-oorheersde Oos- Jerusalem – wat Israel in die 1967 Midde-Oosterse oorlog ingeneem en geannekseer het ten spyte van internasionale teenkanting – die amptelik erkende hoofstad van ’n Palestynse staat moet wees in die Israel-besette Wes-Bank en Gaza. Die Israelse Eerste Minister, Ehud Olmert, het probeer om te fokus op minder aanvegbare geskilpunte in sy onderhandelings met Palestynse leiers. ’n Woordvoerder vir Olmert se party skryf: “Die geskilpunt oor Jerusalem is baie sensitief en in hierdie opsig is dit verkieslik om te begin met geskilpunte waar daar ’n kans bestaan om tot ’n vergelyk te kom, eerder as om te begin met geskilpunte waar die meningsverskille uit die staanspoor groot is”. Onderhandelings oor die status van Jerusalem kan egter nie onbepaald vermy word nie. Namate daardie onderhandelings vorder, sal dit meer en meer duidelik word dat toestande in Jerusalem besig is om so te ontwikkel dat dit die vervulling van sleutel-profesieë in die Bybel in die nabye toekoms moontlik sal maak.

Jeremia het nog een van God se profetiese waarskuwing aan die mense van Jerusalem opgeteken: “En Ek sal hulle ’n skrikbeeld maak vir al die koninkryke van die aarde” (Jeremia 15:4). Jerusalem was gedurende verskillende tye oorheers deur individuele nasies, maar nog nooit deur al die koninkryke van die aarde saam nie. Indien die Verenigde Nasies se waarnemers en vredemakers egter tot die prentjie toetree, sal hierdie profesie op ’n merkwaardige wyse vervul word. Die Bybel openbaar ook dat Jerusalem se toekomstige verwoesting skielik aan die hand van ’n menigte van nasies sal kom (Jeremia 6:26; 15:8; Jesaja 29:5; 30:13). Die afgelope dekades se ontwikkeling in hoë-tegnologiese oorlogvoering en die haat teen Israel wat deur die Arabiese nasies en hulle meelopers aangeblaas word, vermeerder die onheilspellende toepaslikheid tot hierdie profesie.

Jerusalem vertrap

Jesus Christus openbaar selfs ’n groter betekenis aan hierdie Ou-Testamentiese profesieë. Toe Jesus se dissipels Hom vra: “... wat is die teken van u [Weder]koms en van die voleinding van die wêreld?” (Mattheüs 24:3), het Hy hulle aangesê om op die uitkyk te wees vir een besondere ontwikkeling met betrekking tot Jerusalem: “En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is” (Lukas 21:20). Christus gaan voort om te openbaar: “... hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Lukas 21:24). Die Bybel dui aan dat hierdie eindtydse heidense oorheersing van Jerusalem vir 42 maande – drie-en-’n halwe jaar (lees Openbaring 11:2) sal duur. Sedert 1948 het die Verenigde Nasies se agenda die voorneme ingesluit om die administrasie van Jerusalem onder internasionale beheer te plaas. Hierdie idee verkry deesdae al hoe meer geloofwaardigheid en variasies daarvan is al selfs deur pouse en diplomate van die Verenigde State voorgestel. Dit, tesame met talle ander eindtydse profesieë, behoort ons bedag te maak op dieware betekenis van die tye waarin ons leef (lees Mattheus 16:3; 24:32-34)!

Die Tempelberg is vir drie groot gelowe die middelpunt van geestelike belangrikheid in Jerusalem. Hoewel dit eertyds die terrein van Salomo se tempel en van die Herodiaanse tempel gedurende Jesus se menslike leeftyd was, word Jode tans verbied om op die Tempelberg te aanbid! Dit word nou deur Islam se Rotskoepel of Moskee van Omar, beset. Die Tempelberg is al “die mees plofbare plek op die hele aarde” genoem. Bybelse profesieë dui aan dat noemenswaardige dinge op die Tempelberg gaan gebeur net voor Jesus Christus se Wederkoms. Hierdie gebeure sal ’n waarskuwing wees – vir diegene met oë om te sien – dat die einde van hierdie huidige tydvak nou naby is!

Bybelse profesieë beskryf twee prominente indiwidue wat in die eindtyd die wêreldtoneel gaan betree (Lees Openbaring 20:10). Een is ’n magtige en oorredende politieke figuur wat die Dier genoem word (lees Openbaring 13:1-10; 17:12-13). Die ander een is ’n hoogs invloedryke geestelike figuur bekend as die vals profeet of man van sonde (lees Openbaring 13:11-18; 2 Thessalonicense 2). Die Bybel openbaar dat hulle hul aandag gaan toespits op Jerusalem – en op die Tempelberg in die besonder. Hierdie twee Satan-geïnspireerde leiers sal twee afsonderlike gebeure orkestreer wat by herhaling in die Skrif genoem word. Hulle sal veroorsaak dat die daaglikse offerandes gestaak word, en hulle sal die tempelheiligdom ontheilig (lees Daniël 8:11-12; 9:27; 11:31; 12:11). Hierdie twee afsonderlike gebeure sal plaasvind net voor Christus se Wederkoms (Mattheüs 24:15; Markus 13:14). Voor die daaglikse offerandes gestaak kan word, moet dit egter eers begin! En voor ’n heiligdom ontheilig kan word, moet dit eers gevestig word! Hierdie twee gebeurtenisse sal ook uiters betekenisvol wees.

Vervulling onderweg?

Merkwaardig soos dit vandag vir die wêreldlike verstand mag lyk, word daar in Jerusalem goed vordering gemaak met planne wat kan lei tot die vervulling van hierdie antieke profesieë. Joodse geleerdes het reeds vanaf 1967 die ligging van vorige tempels op die Tempelberg bestudeer, priesters uitgesoek en opgelei en die gerei voorberei om die daaglikse offerandes wat voorheen in die tempel uitgevoer was, weer in te stel. Al wat benodig word, is ’n plek om die heiligdom op te rig en toestemming om met die offerandes te begin – wat die Bybel aandui sal gebeur net voor die einde van hierdie tydvak!

Daniël skryf van ’n toekomstige leier wat bedrieglik met die Joodse volk ’n verbond sal sluit (Daniël 11:31-32) – ’n verbond wat lyk of dit die hervatting van offerandes en die oprigting van ’n heiligdom insluit (Daniël 9:26-27), moontlik in ruil vir die afstaan van Oos-Jerusalem aan die Palestyne. Hierdie ooreenkoms sal egter skielik na drie jaar verbreek word (ibid.) – waarskynlik in ’n poging om godsdienstige eenvormigheid af te dwing. Die herboude heiligdom sal dan op een of ander manier ontheilig word (ibid.). Antiochus Epiphanes se optrede in 168 v.C. kan as ’n prototipe van eindtydse gebeure gesien word. Antiochus het probeer om die Joodse geloof uit te roei deur ’n heidense afgod in die tempel te plaas en varkbloed op die altaar te offer. Die Skrif beskryf dat die toekomstige vals profeet soortgelyk gaan optree. Hy word beskryf as iemand wat aktief Bybelse godsdiens teenstaan en dat “hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thessalonicense 2:4). Hierdie bedrywighede, wat lankal voorspel is, sal in Jerusalem plaasvind net voor Christus se Wederkoms. Miljoene mense, onbewus van die ware betekenis van hierdie dinge, sal mislei word. Hierdie misleiding sal egter tot ’n einde kom, Jerusalem sal bevry word en vrede sal uiteindelik gevestig word wanneer Jesus Christus terugkeer om God se koninkryk te vestig (Sagaria 12:7-9; 14:3-11).

U kan verhoed dat u mislei word deur hierdie gewigtige gebeure indien u verstaan wat die Bybel duidelik openbaar aangaande die eindtyd. Bestudeer u Bybel, hou wêreldgebeure dop, vra ons gratis boekie, Die Dier van Openbaring: Mite, beeldspraak of werklikheid? aan, indien u dit nie alreeds gedoen het nie – en hou aan om Die Wêreld van Môre te lees, waarin u sal sien hoe profesieë gestalte aanneem!