’n Groot deel van moderne onderwys is geskoei op ateïstiese of selfs anti-God beginsels. In die toekomstige Millennium sal God se manier ’n algehele omwenteling in onderwys teweegbring. U kan egter nou God se ware waardes van onderwys ervaar!


Noudat die Tien Gebooie en gebed verbied word in baie Amerikaanse klaskamers, wat neem hul plek in? Selfs terwyl die nasie se eerste en mees toonaangewende universiteite in die naam van Christelikheid gestig is, ignoreer die meeste van vandag se opvoeders die grondslag van waarheid – God se Woord. Studente word geleer dat daar geen volstrekte waardes is nie en dat daar geen fundamentele gesag is nie, behalwe die eie ek. In plaas daarvan dat hulle God se ewige Wet geleer word, leer hulle van humanisme en materialisme.

Hoe het ons onderwysstelsels hul klem verskuif? Baie universiteite wat gestig was om uit die Bybel onderrig te gee en God se morele Wet hoog te hou, het teen die 1960s, toevlugsoorde vir nihilisme en anti-God sentimente geword. Hulle het in die negentiende eeu begin om die strukture en later die ideale van die Duitse universiteite en filosowe aan te neem.

Van die belangrikste onder hierdie filosowe was Friedrich Nietzsche, wie se filosofie nie slegs ateïsties was nie, maar ook sterk anti-God. Hy het geskryf: “God is dood; maar gedagtig aan die weë van die mens, mag daar nog vir duisende jare grotte wees waarin sy skaduwee vertoon sal word. En ons – ons moet sy skaduwee ook nog oorwin” (The Gay Science, Nietzsche, 1882, seksie 108). Nietzsche is nou dood, maar sy filosofie leef tot vandag toe voort in anti-God denke. Gedurende die opskudding van die 1960s het dit selfs uit filosofiese boeke oorgewaai tot in die koerantopskrifte, toe die gerespekteerde tydskrif TIME op sy 8 April 1966 buiteblad vra: “Is God dood?”

Baie intellektuele van die agtiende en negentiende eeue het met reg opgemerk dat Christelikheid die spoor van sy apostoliese oorsprong byster geraak het en die gebruike van die heidense gemeenskap om hulle aanvaar het. In plaas van om egter moderne onderwys op ’n ware Christelike grondslag te herbou, het baie intellektualiste probeer om daardie grondslag heeltemal te vernietig! Hulle verwerp een soort vals godsdiens en die valse onderwys daarvan, maar verkies om dit te vervang met goddelose onderwys eerder as met goddelike onderwys.

Die ware grondslag van onderwys

Die Christelikheid wat deur Jesus Christus en die Apostels geleer en uitgeleef is, het ’n voorbeeld vir alle tye gestel. Daardie voorbeeld sluit die navolging van God se geestelike Wette in – die Tien Gebooie – en die lewenswyse van liefde wat deur Jesus Christus onderrig is, Hy wat aan Sy volgelinge gesê het: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:31-32).

Beteken dit dat die aarde se twee miljard belydende Christene almal oor die waarheid beskik? Het dit hulle vry gemaak? Dit is jammer, maar die grootste deel van die wêreld verkeer nog in duisternis en onkunde; hele kulture, volke en nasies is verblind deur vals onderwys. Dus, hoe raar is ware onderwys – en ware kennis?

Ons lees ’n skokkende stelling in die boek van Openbaring: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9).

Hierdie groot gevalle engel wat Satan en duiwel genoem word, mislei nie slegs ’n paar mense nie, maar die oorgrote meerderheid. Om eenvoudig deel te wees van die een-derde van die mensdom wat hulself “Christelik” noem, is geen waarborg dat ’n mens nie mislei is nie!

Wat is egter hierdie waarheid waaroor Satan die hele wêreld mislei? Natuurlik is daar wetenskaplike waarhede wat getoets en nagegaan kan word. Die wetenskap kan, tot in ’n mate, die “wat” en “hoe” van natuurlike wette beskryf, maar kan nie die waarom van ons bestaan verduidelik nie! Dié soort waarhede val buite die bestek van die natuurlike wette en kan slegs verduidelik word deur die Een wat daardie wette geskep het. Dus, wat sê die Skepper oor die waarheid? Die nag voor Sy kruisiging toe Jesus tot Sy Vader gebid het, het Hy vir Sy dissipels gebid: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Johannes 17:17).

Ja, God se Woord is waarheid! U behoort aan uself te bewys dat die Bybel die openbaring van die Skepper-God is. Die apostel Paulus het geskryf: “Die hele Skrif is deur God ingegee [of geïnspireer]” (2 Timotheüs 3:16). Die Griekse woord wat hier as “ingegee” of geïnspireer vertaal is, is theopneustos en beteken letterlik “goddelik uitgeasem”. DieNew International Version vertaal dit inderdaad as: “All Scripture is God-breathed”. Wanneer Paulus dit geskryf het, was die boeke wat ons tans die “Ou Testament” noem, die enigste gekanoniseerde “Skrif”, nogtans verkies baie Christene om die duidelike leringe van die Ou Testament te ignoreer ten gunste van die geskrifte in die Nuwe Testament. Die Nuwe Testament leer ons egter anders. Die hele Skrif is deur God uitgeasem!

Hoe leer ’n mens?

Ware onderwys moet gebaseer wees op die waarheid wat God in Sy Woord openbaar. Hoeveel administrateurs, professore en studente aan universiteite weet egter wat die ware doel en betekenis van lewe is? Die meeste aanvaar die konsep van evolusie, dat die mens slegs ’n dier is.

Is dit egter waar? Of is daar miskien iets wat onderskeid maak tussen dierlike brein en menslike verstand? Wetenskaplikes weet dat die menslike brein, vir sy gewig, baie meer “funksioneel” is as die brein van enige ander spesie. ’n Paar wetenskaplikes het tot die gevolgtrekking gekom dat hierdie kapasiteit slegs verduidelik kan word deur die teenwoordigheid van ’n geestelike komponent. Hierdie wetenskaplike gevolgtrekking, hoewel nie algemeen aanvaar nie, stem ooreen met wat in die Skrif openbaar word. Die apostel Paulus het geskryf: “Want wie van die mense weet wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is?” (1 Korinthiërs 2:11).

Hierdie gees waarvan Paulus skryf, is nie die Heilige Gees nie, nog minder is dit ’n “onsterflike siel”. Dit is ’n geestelike essensie, gekombineer met die fisiese brein, wat mense ver bo diere bemagtig (Job 32:8). Hierdie begrip harmoniseer die wetenskap met die Skrif en verduidelik ’n aspek van die menslike verstand wat ’n verborgenheid bly vir die meeste opvoeders en “kundiges”. Sir John Maddox, emeritus redakteur van Nature, het in ’n klassieke artikel in die tydskrif TIME geskryf: “Hoe die brein dit regkry om te dink, is ’n strikvraag met ’n millenniale tydskaal. Alle diere beskik oor ’n brein sodat hulle kan rondbeweeg. Seine van die sintuie – oë, ore, neusgate of vel, wat die geval ook al mag wees – stuur boodskappe na die rugmurg, wat dan die ledemate dienooreenkomstig beweeg. Die dinkproses behels die oorweging van alternatiewe reaksies, waarvan baie nie reeds ervaar is nie, maar slegs verbeel word. Die vermoë om bewus te kan wees van wat in die kop aangaan, is ’n ekstra raaisel. ’n Eeu van nou af sal elektroniese winkels (of webtuistes) allerhande soorte foefies adverteer wat sommige werkinge van die menslike brein sal kan namaak, maar neuro-wetenskaplikes sal nog steeds worstel om die dinkmasjien in ons almal se koppe te begryp” (“Thinking”, 29 Maart 1999, bl. 206).

Maddox, ’n wêreldbekende fisikus, het voorspel dat selfs ’n eeu van nou af, die legkaart van die menslike dinkproses nie opgelos sal wees nie. Met ’n begrip van die Skrif kan ons sien dat onderwys wat slegs gebaseer is op materiële en fisiese kennis, betreurenswaardig tekortskiet. Wanneer ’n onderwysstelsel die bestaan van God en van gees verwerp, dan verwerp dit die uiteindelike realiteit en uiteindelike waarheid!

Die mensdom se mislukte onderwysstelsel

Indien ons moderne onderwysstelsel nie al die antwoorde gee waarna ons soek nie, behoort ons ten minste beïndruk te wees met die stelsel self? Universiteite kan sekerlik suksesvol onderrig gee in sommige velde van materiële kennis. Wat gebeur egter wanneer hierdie instellings afgesny is van die waardes wat hul op koers behoort te hou?

Wat gaan aan in die moderne Universiteite? Lees hier wat een ongelukkige akademikus skryf: “Die gemiddelde Amerikaner hou vol om te dink die lesingsaal is die middelpunt van ’n Universiteit se aktiwiteite. Omdat dit goeie betrekkinge met die publiek (sowel as met die wetgewers) bewerk, moedig universiteite se administrateurs hierdie denkbeeldige idees aan. Tussen hulself weet hul egter hoe teenstrydig en absoluut onakuraat hulle is. ’n Visekanselier van ’n “Big Ten” Universiteit was gevra om die missie van sy skool te beskryf en het vyf verskillende gebiede van verantwoordelikheid gelys: Ekonomiese ontwikkeling, diens aan die staat, skepping van nuwe kennis en opleiding van studente vir ’n graad. Dan uiteindelik, heel laaste, onderwys” (Profscam, Sykes, bl. 29).

Die moderne Universiteit het afgedwaal van sy oorsprong. Dit verklein nie slegs die onderrig van waardes nie, dit verklein die waarde van onderrig. Daar is sekerlik waarde in navorsing en in ekonomiese ontwikkeling en openbare diens. Ware onderwys, soos die Skrif dit voorhou, gaan egter verder as die voortbring van kennis: Dit moet onderrig gee in die geestelike waardes waarsonder al die ander werk na ondergang lei!

Kan iemand ooit volledig opgelei wees sonder om die verskil tussen reg en verkeerd te ken? Die apostel Paulus het daardie slim mense wat die waarheid en die werklikheid van God verwerp het, kragtig veroordeel: “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword” (Romeine 1:18-22).

Reg deur die Bybel is veroordeling van anti-God onderwys baie sterk: “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade; daar is niemand wat goed doen nie. Die Here het uit die hemel neergesien op die mensekinders, om te sien of daar iemand verstandig is, wat na God vra. Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen, ook nie een nie. Het al die werkers van ongeregtigheid dan geen kennis nie, die wat my volk opeet asof hulle brood eet? Hulle roep die Here nie aan nie” (Psalm 14:1-4).

God wil graag heilige, regverdige karakter in Sy mense ontwikkel. God wil hê dat Sy mense moet groei in die soort goddelike kennis wat hulle sal lei om “die Here aan te roep”, om toe te gee aan Sy Heilige Gees en om goed te doen (verwys ook na Mattheüs 4:4; Lukas 4:4). Deur bestudering van God se Woord en om Bybelse kennis toe te pas in alles wat ons dink, sê en doen, kan ons begin om die trefkrag van Jesus se stelling te verstaan, toe Hy gesê het: “Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10).

Hoe eien ons egter oorvloedige lewe? Die Grieke het gesoek na wysheid en die Jode na wondertekens van God se mag. Die apostel Paulus het verduidelik dat die Seun van God albei hierdie elemente beliggaam, ver bo die beperkings van sterflike mense: “... want die Jode vra ’n teken en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ’n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke; maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God. Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense” (1 Korinthiërs 1:22-25).

Inderdaad, baie min van diegene wat die wêreld “wys” en “edel” noem – die rykes, magtiges en wyses – word deur God geroep. “Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam ... sodat geen vlees voor Hom sou roem nie” (1 Korinthiërs 1:26-27, 29).

Dit is hoeveel God ydelheid haat! Diegene wat dink hulle is so wys dat hulle “voor Hom ... roem”, is nie diegene wat God sal roep nie. God sal eerder Sy waarheid gee aan “dwase” Christene indien hulle ’n berouvolle, nederige en leerbare gees het! Dit is soos die apostel Paulus geskryf het: “Laat niemand homself mislei nie: as iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word; want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God; want daar is geskrywe: Hy wat die wyse mense in hulle listigheid vang” (1 Korinthiërs 3:18-19).

God: Die grootste Leermeester

Ware onderwys moet gebaseer wees op die waarheid van God. Al die ander grondslae is slegs ydelheid. Slegs ’n Christen met die gewilligheid om van die groot Leermeester te leer en om Sy voorbeeld te volg, sal ’n behoorlike grondslag kan bou om ware kennis te ontvang. Jesus Christus het Sy studente geleer: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheüs 19:17), en daarna het Hy ’n paar van die Tien Gebooie opgenoem.

Waarom is die Tien Gebooie die grondslag van ware onderwys? Omdat hulle so duidelik aan ons sê wat reg is en wat verkeerd is! Hulle openbaar die weg van vrede en voorspoed wat God vir die hele mensdom beoog. Wat gebeur met diegene wat God se duidelike wette ignoreer? Soos die apostel Paulus geskryf het: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai” (Galasiërs 6:7-8).

Antieke Koning Dawid het geskryf van die onderwys wat afkomstig is van ’n vaste grondslag: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig. Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing. Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar u bevele. Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u woord kan bewaar. Ek het van u verordeninge nie afgewyk nie, want Ú het my geleer” (Psalm 119:97-102).

God het Koning Dawid geleer en God wil al Sy mense leer. Wanneer u eers begin met die toepassing van die geestelike wette van God soos wat dit in die Bybel geleer word en soos dit deur Jesus Christus vervul is in die Bergpredikasie, kan u groter begrip en ware kennis verkry. Ons lees immers in Psalm 111:10: “Die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid;almal wat dit beoefen, het ’n goeie verstand”.

Namate u daarna streef om Hom te gehoorsaam, sal God aan u, deur die Heilige Gees, geestelike kennis openbaar. Paulus gaan voort om die verskil tussen die kennis van ’n bekeerde Christen en dié van ’n onbekeerde persoon te beskryf: “Want wie van die mense weet wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het” (1 Korinthiërs 2:11-12).

Net soos ’n dierlike brein nie die “dinge van ’n mens “ kan verstaan nie, netso kan die vleeslike, natuurlike verstand nie die “dinge van God” verstaan nie. Paulus verduidelik verder: “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” (1 Korinthiërs 2:14). Geestelike waarheid word geestelik onderskei; dit kan nie deur die natuurlike menslike intellek, sonder die gawe van God se Heilige Gees, verkry word nie (Handelinge 2:38).

Omdat dit ware onderwys verwerp het, ken ons moderne wêreld nie die weg na ware vrede nie. Christene kan egter weet wat die waarheid is en kan uitsien na ’n tyd wat nou vinnig nader kom, wanneer alle nasies uiteindelik studente sal word van die Groot Leermeester. Hoe sal die onderwys van môre daar uitsien? Die Skrif gee die volgende bemoedigende beskrywing: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:2-4).

So ’n vrede kan slegs na hierdie wêreld kom deur ware onderwys, in die toekomstige Koninkryk van God. U kan egter nou vrede hê in u eie lewe. ’n Omwenteling in onderwys sal spoedig vir die hele wêreld kom, maar u kan dieselfde in u eie lewe hê deur die Bybel te bestudeer – die beginpunt van waarheid. Soos Jesus Christus gesê het: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Johannes 14:6). Daardie waarheid sal u lewe vir ewig verander!