Biljoene mense word elke jaar vasgevang in Kersfeesvierings, maar verstaan hulle werklik die waarheid aangaande Christus se geboorte? Die antwoord is reg in die bladsye van u Bybel!


Teen die einde van die jaar begin bedrywige kopers en feesgangers hul aandag toespits op die jaarlikse Kersfeesvierings. Hoe dikwels staan hulle egter ’n oomblik stil om te vra:Waarom?

Wat het die versiering van ’n boom, die opmaak van die huis met liggies, kerskouse, dennetakke en vlieënde rendiere, die ophang van ’n maretak en die kinders te neem om na “Vader Krismis” te gaan kyk, met die geboorte van Jesus Christus – die veronderstelde “rede” vir die kersseisoen – te doen? Waarom het die gelui van slee-klokkies en die sing van Kersliedere oor “vrede op aarde, in die mense ’n welbehae” so ’n hol klank wanneer koerantopskrifte berig van toenemend gewelddadige misdade, internasionale terrorisme, verspreidende droogtes en hongersnode, voortsettende oorloë en die verval van morele waardes? Waarom handhaaf sogenaamde Christelike nasies antichristelike gewoontes wat die lewe ’n eindelose rondte kortstondig aangename, maar grootliks betekenislose, sosiale aktiwiteite maak?

Hoewel toonaangewende geleerdes en historici oor die algemeen die feit erken, het die gemiddelde belydende Christen geen idee dat die gebruike rondom Kersfees oorspronklik niks met Christus te doen gehad het nie!

Selfs die wydverspreide idee dat Jesus op 25 Desember gebore sou wees, is ’n bekende versinsel! In teenstelling met die algemene tradisie, is Jesus moontlik in die herfs van die noordelike halfrond gebore, omdat, volgens die Bybel, die skape nog in die oop velde was (Lukas 2:8) – ’n situasie wat nie in Desember kon gebeur nie. Jesus was ook ses maande jonger as Johannes die Doper (Lukas 1:24-25), wie verwek was teen die einde van Junie (nadat sy vader die agtste beurt van Abia in die tempel gedien het – sien Lukas 1:5; 1 Kronieke 24:1-19). Josephus, die Joodse historikus, verduidelik dat die 24 beurte van die priesters om vir ’n week lank, twee maal per jaar in die tempel diens te doen, in die maand Nissan (ongeveer April) begin het. Johannes, wat in Junie verwek was, sou in die volgende Maartmaand, gebore moes wees, wat beteken dat Jesus, wat ses maande jonger was, in September gebore moes wees – nie op 25 Desember nie!

Dus, waarom herdenk mense die geboorte van Jesus Christus op 25 Desember – hoewel die Skrif nêrens daardie datum aangee nie en ook nie eens op een plek aandui dat Christene Christus se geboortedag behoort te vier nie? Die tyd van die wintersonstilstand is in laat Desember, een van die belangrikste feesgetye in die antieke wêreld. Historici merk op: “... die geboorte van baie van die son-redders en sterwende gode was daardie tyd van die jaar gevier, gewoonlik op 25 Desember” en dat “Kersfees ’n wonderlike samesmelting is van baie godsdienstige tradisies, antiek en modern, heidens, Zoroastries, Joods, Mithraies en Christelik” (The Pagan Book of Days, bll. 132-133). Moderne Kersfees is ’n sameflansing van verskeie einde-van-die-jaar feeste wat in heidense Rome gevier was. Die Saturnalia (17-21 Desember), was ’n tyd van “buitensporige dekadensie” wanneer slawe en eienaars vir ’n paar dae plekke omgeruil het. Dit was ’n tyd van joligheid waar die algemene groet “bona Saturnalia” was. Daarna het Sigillaria gevolg – die fees van poppe – op die 22ste, wanneer geskenke gekoop en aan kinders gegee was. Die Brumalia (25 Desember) was die viering van die “Geboortedag van die Onoorwonne Son, wanneer die dae weer begin langer word na die sonstilstand” (Christmas and Christmas Lore, Crippen, bl. 7). Hierdie was tye van feesviering, brassery en losbandigheid. Die Egiptenare het ook die hergeboorte van die son in die vorm van ’n suigeling gevier, duisende jare voor die Romeine (verwys na The Golden Bough, St. Martin se uitgawe, bll. 471-472).

In teenstelling daarmee het die vroeëre Christelike Kerk, solank as wat die lering van die Apostels ongeskonde gebly het, nie die geboortedag van Christus gevier nie. In werklikheid het die kerklike geleerde, Origen, so laat as 245 n.C. “die blote gedagte om Christus se geboortedag te vier, as sondig verwerp” (Encyclopaedia Britannica, 11de uitgawe). Nogtans, in die vierde eeu, in ’n poging om bekeerlinge te werf, het “die kerk in Rome uitdruklik die verjaarsdag van die Here op 25 Desember vasgestel” (Crippen, bl. 6). Die keuse van die wintersonstilstand en die geboortedag van die songod was opsetlik. Nuwe “bekeerlinge” kon voortgaan om hulle gewilde heidense gebruike ongestoord te volg – maar net onder ’n nuwe “Christelike” naam! Mense volg deesdae nog steeds dieselfde versinde gebruik – grootliks onbewus van wat agter die “Christelike” fasade skuil.

Het u egter al ooit gewonder of daar meer in die lewe steek as dit? Het heidense gebruike wat deur hoofstroom Christelikheid aangeneem is, meer betekenisvolle Bybelse gebruike vervang?

Die Verskuilde Dimensie

Dit mag u verras, maar die Bybel skets ’n spesifieke reeks feeste of feesdae wat God se mense beveel word om te onderhou. Terwyl baie mense geleer is dat hierdie feeste Ou-Testamentiese gebruike is wat nie meer van toepassing op Christene is nie, kan niks verder van die waarheid af wees nie. Die feeste wat in die Skrif beskryf word (verwys na Levitikus 23 en Deuteronomium 16) is van besondere belang en propvol betekenis. Hulle skets in hooftrekke God se plan van redding vir die hele mensdom en openbaar die belangrikste stappe of gebeurtenisse van daardie plan. Die volgorde van die feestye openbaar die ware doel van menslike lewe! Daardie doel is opwindend, inspirerend – en verootmoedigend – dit word egter oorskadu deur heidense vakansiedagtradisies wat belydende Christelike kerke geabsorbeer het! Kerkdienste – verpligte byeenkomste – op elkeen van die Heilige Dae hersien die betekenis van die feeste. Lees wat historikus W. D. Davies geskryf het oor die vroeëre Christelike gebruike:

“Oraloor, maar veral in die Ooste van die Romeinse Ryk, was daar Joodse Christene wie se uitwaartse lewenswyse nie merkbaar verskil het van dié van die Jode nie. Hulle het dit as vanselfsprekend aanvaar dat die evangelie ’n voortsetting is [van die godsdiens van Moses]; vir hulle het die Nuwe Verbond, wat Jesus ingestel het tydens die Laaste Avondmaal saam met Sy dissipels ... nie beteken dat die verbond wat ingestel was tussen God en Israel tot niet was nie. Hulle het nog steeds die feeste van Pasga, Pinkster en die Huttefees onderhou; hulle het ook voortgegaan met die besnydenis, die weeklikse Sabbat onderhou en die Mosaïse voedselwette gevolg”. [Judeo-christianisme, “Paul and Jewish Christianity”, 1972, bl. 72, aangehaal deur Samuele Bacchiocchi, From Sabbath to Sunday, bl. 151].

Historikus Edward Gibbon het ’n soortgelyke opmerking gemaak: “Die eerste vyftien biskoppe te Jerusalem was almal besnede Jode, en die gemeente waaroor hulle gesag gevoer het, het die wet van Moses met die leerstelling van Christus verenig. Dit was natuurlik dat die primitiewe tradisie van ’n kerk wat slegs veertig dae na die afsterwe van Christus gestig was en wat vir net soveel jaar regeer was onder die direkte toesig van Sy apostel, aanvaar sou word as die maatstaf van ortodoksie. Die afgeleë kerke het hul dikwels beroep op die gesag van hul eerbiedwaardige Ouer” (The Decline and Fall of the Roman Empire, hoofstuk 15, afdeling 1, bl. 389).

Wat is hierdie volgorde van Bybel-geordende feestye? Die jaarlikse volgorde begin in Maart-April, met die Pasga, gevolg deur die Dae van Ongesuurde Brood. Die Pasga is ’n jaarlikse herinnering aan ons behoefte aan ’n Redder en vergifnis van sonde. Die Pasga-lam wat in die Ou Testament geoffer was (Exodus 12:3-6), was ’n voorafskaduwingvan die koms van Jesus Christus wat sou sterf vir die sondes van die mensdom (Johannes 3:16). Selfs nadat Jesus die simboliek van die geofferde lam vervul het (Jesaja 53:7, Johannes 1:29), het die Apostels en die vroeëre Kerk die Nuwe-Testamentiese Pasga onderhou (Lukas 22:14-16; 1 Korinthiërs 11:23-26) as ’n jaarlikse herdenking van Christus se offer. Tydens die sewedaagse Dae van Ongesuurde Brood was rysmiddels uit die huise verwyder en sodoende die les oorgedra dat, om God te kan gehoorsaam, moet ons sonde (gesimboliseer deur rysmiddels) uit ons lewens sit. Dit is waaroor Christelike groei – berou tot bekering, verandering, groei en oorwinning – alles gaan. Die Apostels en die vroeëre Kerk het die Dae van Ongesuurde Brood onderhou om die betekenis van daardie dae in stand te hou (Handelinge 2:38; 20:6; 1 Korinthiërs 5:7-8).

Die volgende Nuwe-Testamentiese Kerkfees, Pinkster, val in laat Mei of vroeg Junie en herdenk die uitstorting van die Heilige Gees op die dissipels (Handelinge 2). Die Pinksterfees (“pinkster” kom van die Griekse begrip “tel 50”) word ook die Fees van die Oes of die Eerstelinge genoem, omdat dit aan die begin van die someroes val. Hierdie oes was klein en beeld God se plan uit om in hierdie huidige tydperk, slegs ’n klein groepie mense tot redding te roep (Mattheüs 13:10-17; Johannes 6:44-66; 1 Korinthiërs 1:26-28), voordat Hy met die hele mensdom begin werk. Die jaarlikse onderhouding van Pinkster is ’n voortdurende herinnering daaraan dat God ’n spesiale doel het met diegene wat as eerstelinge geroep word (Openbaring 14:1-5) en van die spesiale begrip wat verkry word by ontvangs van en voeding deur die Heilige Gees (Johannes 14:15-16, 26; 16:13; 2 Timotheüs 1:6-7).

Hierdie eerste drie jaarlikse feeste beeld gebeure uit wat reeds plaasgevind het in God se plan van redding. Jesus se dood en opstanding vervul die betekenis van die Pasga byna 2 000 jaar gelede, derhalwe offer ons nie meer ’n lam nie – maar ons gaan voort om die Pasga volgens Sy opdrag te onderhou, as ’n herinnering aan daardie belangrike gebeurtenis (Lukas 22:19). Die Dae van Ongesuurde Brood beeld die voortdurende proses van Christene uit om sonde uit ons lewens te sit. Die gebeure van Pinkster – die uitstorting van die Heilige Gees en die begin van die Nuwe-Testamentiese Kerk – het die Christen era in 31 n.C. ingelui.

Die volgende vier feeste in God se volgorde is nog profeties van aard en beeld belangrike gebeurtenisse uit wat nog moet gebeur! Wanneer ons hierdie feeste onderhou kan ons die toekoms beter verstaan en kan ons hoop hê. Hierdie feeste skets die oorblywende stappe wat die toppunt sal bereik van God se plan van redding vir die hele mensdom – ’n plan wat deur valse, mensgemaakte vakansies soos Kersfees, grootliks verberg is vir die wêreld.

Openbaarmaking van die Toekoms

Die Fees van Basuine beeld ’n naderende gebeurtenis uit wat die gang van die menslike geskiedenis vir altyd sal verander – die wederkoms van Jesus Christus. Bybelse profesieë verbind die wederkoms van Jesus Christus met die blaas van die sewende basuin (Openbaring 11:15). Basuine of trompette was gebruik om aankondigings te maak, feeste aan te dui en om alarm te maak tydens oorloë (Numeri 10:1-10). Rampspoedige gebeure sal Christus se wederkoms voorafgaan (Mattheüs 24; Openbaring 6; 8; 9). Jesus sal terugkeer na ’n planeet wat verskeur sal wees deur oorlog en rampspoed, om die mensdom van algehele selfvernietiging te red (Mattheüs 24:3-7, 21-22). Hy sal die menslike weermagte oorwin wat teenstand sal bied teen Sy wederkoms (Openbaring 19:11-19). Met Sy wederkoms sal die heiliges (die “eerste vrugte”) onsterflikheid ontvang (1 Korinthiërs 15:51-54) en saam met Christus op hierdie aarde regeer (Daniël 7:26-27; Openbaring 5:10). Die jaarlikse onderhouding van die Fees van Basuine herinner ons aan hierdie ongelooflike gebeure. Dit gee aan ons ware hoop in ’n wêreld gevul met slegte nuus.

Die Versoendag beeld die feit uit dat Satan – die eintlike opstoker van die euwels en probleme in hierdie wêreld – met Christus se wederkoms vir ’n duisend jaar gebind sal word (Openbaring 20:1-2). Hierdie toekomstige gebeurtenis was reeds voorspel in die Ou-Testamentiese onderhouding van hierdie fees, toe die priesters ’n bok wat die sondes van Israel op hom gedra het, die wildernis ingestuur het. Hoewel die Ou Afrikaanse Vertaling van die Bybel – soos baie Engelse vertalings – na hierdie bok verwys as die “sondebok [scapegoat]”, wat daarop sinspeel dat dit onskuldig sou wees, gee die Nuwe Vertaling dit korrek aan as die “sondofferbok”. Joodse tradisie identifiseer hierdie bok met reg as simbolies vir die leier van gevalle engele – Satan (Levitikus 16:8-10). Die ander bok wat in hierdie seremonie gebruik was en wat geoffer was vir die volk, dui op Jesus Christus se offer. God se opdrag dat ons moet vas op die Versoendag, leer ons die noodsaaklikheid van verootmoediging en herinner ons daaraan dat ons een moet word met God (verwys na Levitikus 23:27; Psalm 35:13; Johannes 17:11).

Die huttefees beeld die toekomstige Koninkryk van God op hierdie aarde uit. Hierdie sewedaagse fees bied ’n jaarlikse voorsmakie van die duisendjarige heerskappy van Jesus Christus en die heiliges (Openbaring 20:4-6). Gedurende hierdie tydperk, wat ook die “Millennium” genoem word, sal die regering van God vrede en geregtigheid na hierdie aarde bring en alle dinge weer herstel (Jesaja 9:6-7; Handelinge 3:19-21). Dit sal ’n tyd wees van eensgesindheid (Jesaja 11:6-9), gesondheid en oorvloed (Jesaja 35; Amos 9:13). Die regering van God sal die wette van God vanuit Jerusalem aan die hele wêreld verkondig (Jesaja 2:2-4). Anders as in ons huidige tyd, waar slegs ’n paar mense die kennis van God se Weg ontvang het, sal almal gedurende die Millennium geleer word om God te gehoorsaam en om die wonderlike seëninge te geniet wat as gevolg daarvan ervaar sal word!

Die Laaste Groot Dag is die laaste fees op God se jaarlikse kalender. Dit beeld die tyd uit van die Groot Wit Troon Oordeel wat deur die apostel Johannes beskryf word in Openbaring 20:11-12, wanneer die Heilige Gees beskikbaar sal wees vir almal wie se denke nog nooit voorheen geopen was vir God se Weg nie (Johannes 7:37-39; Esegiël 36:24-27). Hulle sal opgewek word en sal hul eerste geleentheid kry om Jesus Christus te aanvaar en om Hom te gehoorsaam deur die krag van die inwonende Heilige Gees. Ja, die boodskap van die Laaste Groot Dag is dat almal wat gesterf het sonder om die evangelie te hoor, nie verlore is nie! Hulle brand nie nou in die hel nie. Hulle wag in die graf vir hierdie grootse opstanding. Diegene wat dan sal kies om te leef volgens God se Weg, sal onsterflikheid ontvang, maar dié wat God se Weg verwerp, sal verbrand word in die poel van vuur (Openbaring 20:14-15).

Waarskuwings en hoop

“Dit klink interessant”, mag u dalk dink, “maar wat maak dit saak as ek Kersfees vier in plaas van daardie Ou-Testamentiese feeste?” U mag dink u “het Jesus lief” en dat u Jesus eer deur Sy geboorte te vier. “Ek ‘doop’ slegs daardie ou heidense gebruike deur hulle aan die Here aan te bied”, mag u dink. Wel, wat sê die Bybel oor so ’n benadering?

God het aan die nasie van Israel gesê om Sy gebooie te gehoorsaam en om hulle nie te verander nie (Deuteronomium 4:1-2). Deur Moses het God die Israeliete herhaaldelik gewaarsku om Sy Gebooie nie te vergeet nie (Deuteronomium 8:10-14) en om te vermy om bekoor te word deur die valse godsdienstige gebruike van die heidense nasies. God het spesifiek gewaarsku: “... neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die Here jou God nie; want alles wat vir die Here ’n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode” (Deuteronomium 12:30-31). Weer, in hierdie konteks sê God: “Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie” (Deuteronomium 12:32).

Hierdie duidelike waarskuwings word herhaal in die Ou en die Nuwe Testament. Die profeet Jeremia het uitdruklik aan die Israeliete gesê: “Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, en skrik nie vir die tekens van die hemel, omdat die heidene daarvoor skrik nie. Want die insettinge van die volke is nietigheid” (Jeremia 10:2-3). Jesus het selfs van godsdienstige mense van Sy tyd gesê: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Mattheüs 15:8-9). Die apostel Paulus het soortgelyke waarskuwings gegee (1 Korinthiërs 10:6-7; 2 Korinthiërs 6:14-17). Ten spyte van hierdie duidelike waarskuwings getuig die geskiedenis van die Israeliete – en van die moderne belydende Christelike kerke – dat hulle God se duidelike opdragte ignoreer en rondom dit argumenteer. Rebelse mense het gewoontes wat God as boos bestempel, verruil vir die feeste wat God ontwerp het om hul van Sy groot plan van redding en die ware doel van lewe in herinnering te hou. Mense wat beweer dat hulle Christene is, het na vals leermeesters geluister wat “sleg goed noem en goed sleg” (Jesaja 5:20). Hulle is bedrieg deur godsdiensleiers “wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk” (Romeine 1:18), leiers “wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het [heidense gebruik] bo die Skepper” (Romeine 1:25).

U, persoonlik, kan egter ’n ander keuse maak. Wanneer u begin om die Bybelse feeste wat God ingestel het te onderhou, sal u begin verstaan waaroor die lewe gaan. Die Bybel en die wêreld om u sal, soos nog nooit tevore nie, begin sin maak. Die opgewondenheid en die vervulling wat u sal ervaar, sal die ligsinnigheid en valsheid van heidense vakansiedag-gebruike in vergelyking leeg laat lyk. Indien u dit nie alreeds gedoen het nie, skryf asseblief aan die streekkantoor die naaste aan u (soos gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif) en vra om u gratis kopie van ons boekie, Die Heilige Dae – God se meesterplan. U sal dan waarlik die rede vir die seisoen begin verstaan!