Is die menslike verstand die uiteindelike onbekende grens?


Die menslike ras het geheimenisse in blykbaar elke hoekie van die Skepping nagevors! Mans en vrouens met heldemoed om te pas by hul leergierigheid, het dit gewaag tot op die hoogste berge en in die diepste grotte. Wanneer ons nie self daarheen kon gaan nie, het ons toerusting gestuur om dit vir ons na te vors; dompelbare robotagtige outomate om die dieptes van die oseane te deursoek en ingewikkelde peilingsapparate die heelal ingestuur om tot in die verste vertes van ons sonnestelsel en verder, te deurvors.

Nogtans, selfs terwyl mense hul wonderlike verstande aanwend om die onbekende om ons te verstaan, bly daar moontlik een gebied, waarskynlik die geheimsinnigste van almal, oor: Die menslike verstand self!

In sekere opsigte het die wetenskap in die afgelope jare dit reggekry om meer van die fisiese brein te wete te kom as ooit tevore. Dele van die brein met betrekking tot die redenasie, gedagte en emosie – selfs morele oordeel – begin om sekere van hul geheime prys te gee.

Namate meer geleer word aangaande die menslike brein, bly die menslike verstand selfs meer misterieus! Sommige van die wetenskaplike bevindings wat die brein en die verstand aangaan, lyk teenstrydig – verwys ook na ’n wonderlike komplekse fisiese struktuur, maar ook na iets wat verder strek as die fisiese: Verder as ons vermoë om te meet, te weeg of te tel.

Wat is dit omtrent die menslike verstand wat ons so merkwaardig anders maak as die diere om ons – in staat tot soveel meer? Wat is die antwoord op die geheimenis van die verstand?

Kragtige verskille

Net soos baie ander kreature op planeet Aarde, het menslike wesens ’n brein – ’n ingewikkelde, fisiese orgaan wat ingestel is om die verskillende stelsels van die liggaam te beheer en wat ’n sentrale rol speel om die gedrag daarvan te beheer. Omdat mense hierdie eienskap met baie ander diere deel, is ’n algemene aanname dat die mens slegs maar ’n “ietwat meer gevorderde” dier is – een waarvan die brein ’n klein, maar noemenswaardige trappie verder gevorderd is as dié van mede-skepsels soos die sjimpansee of die dolfyn.

Nogtans, wanneer ons die ontsaglike verstandelike krag van die mens vergelyk met die relatief arm vermoëns wat regdeur die diereryk gevind word, is die verskille verrassend! Ja, ons vind diere soos sjimpansees wat blare van takke afstroop om “werktuie” te maak, en ons mag verstom wees oor hoe Koko die gorilla geleer is om deur middel van eenvoudige gebaretaal te kommunikeer. Het ons egter al ooit gesien hoe ’n groep orangoetangs saamspan om ’n ruimtetuig te bou? Het ons al ’n dolfyn gesien wat ’n asemrowende argitektoniese projek kan ontwerp? Het ’n papegaai al ooit ’n passievolle sonnet gekomponeer wat die siel raak?

Ten spyte daarvan dat hul ’n brein het wat fisies baie soortgelyk is aan dié van party soogdiere, het mense al verbasende hoogtes en verstommende prestasies van visie, beplanning, kreatiwiteit en verbeelding bereik. Geen ander spesie het al eers naby daaraan gekom nie! Dus, wat maak die verskil?

Vir baie dekades het wetenskaplikes die menslike brein probeer ontleed, in die hoop om leidrade te vind tot die geheimenis van hoe ons brein ons maak wat ons is. Terwyl hulle daarmee besig was, het hulle verrassende feite blootgelê wat ’n uitdaging mag wees vir baie mense se godsdienstige en filosofiese begrip.

Die werklike fisiese brein

Die wetenskap het getoon dat daar ’n ware fisiese komponent verbonde is aan ons verstand – ons persoonlikheid en ons intellek. Wie ons as indiwidue is, is baie nou verbonde aan die fisiese toestand, gesondheid en struktuur van ons breine en verandering aan daardie struktuur kan fundamentele veranderings aan die kern van ons persoonlikheid en selfs ons waardes meebring.

Dink byvoorbeeld aan moraliteit. Baie mense sou sê dat die moontlikheid om sedelike keuses te maak, om te oordeel tussen reg of verkeerd, een van die onderskeidende elemente van indiwiduele identiteit is. Nogtans, deur eenvoudig ’n deel van die brein net bokant en agter die regteroor aan magnetiese impulse bloot te stel, was wetenskaplikes in staat om persone se vermoë om korrekte sedelike keuses te maak, te verander (“Magnets Can Alter Moral Judgement by Changing Brain Activity”, Medical News Today, 1 April 2010).

Eintlik weet wetenskaplikes al vir ’n tyd dat fisiese verandering aan die brein veranderings kan veroorsaak in hoe ons dink en optree en selfs aan ons basiese persoonlikheid. Dink aan die geval van ’n spoorwegwerker, Phineas Gage, wat in die middel 1800’s ’n troumatiese breinbesering opgedoen het toe ’n ontploffing ’n 5,9 kilogram ysterstaaf deur sy kopbeen gedryf het. Hoewel die projektiel ’n deel van sy brein uitgeskeur het, het hy dit nie net oorleef nie – hy het herstel! Nogtans het baie van sy vriende en bekendes getuig dat die Phineas Gage wat hulle geken het, in die woorde van sy dokter “nie meer Gage was nie” – dat sy persoonlikheid en sy karakter heeltemal en radikaal verander het (“Recovery from the passage of an iron bar through the head”, Dr. John Harlow, Publ. of the Massachusetts Medical Society, 1868).

Hoewel Gage een van die bekendste gevalle is, lyk dit of hy nie alleen is nie! Navorsers het opgemerk dat ernstige breinbeserings dikwels gepaard gaan met dramatiese veranderings in persoonlikheid, soos die toename van impulsiewe en aggressiewe gedrag en die verlies aan vorige inhibisies (“Agitation, agggression, and disinhibition syndromes after traumatic brain injury”, NeuroRehabilitation. 2002;17(4):297-310).

Dit lyk of sodanige bevindings duidelik toon dat baie van wie ons is – ons persoonlikheid, ons vermoë om morele keuses en oordele te maak – uitermate afhanklik is van ons fisiese brein. Dus, is die menslike brein al wat daar is ten opsigte van die menslike verstand?

Baie wetenskaplikes antwoord: “Ja!” Die meeste navorsers in die neuro-wetenskaplike veld het tot die gevolgtrekking gekom dat ons hele indiwiduele identiteit – ons voorkeure en afkeure, ons waardesisteem, ons persoonlikheid – heeltemal afhanklik is van fisiese samestellings van molekules en elektriese impulse in ons brein. Vir hulle is daar geen geheimenis van die verstand nie, want hulle gevolgtrekking is: Daar is geen verstand nie! Volgens hulle uitgangspunt is menslike denke, bewustheid, sedelike oordeel, vrye wil – alles wat ons die “verstand” noem – ’n illusie, voortgedryf deur ’n fisiese brein wat gedagteloos optree (nogal letterlik) volgens die wette van chemie en fisika en die toevallige kombinasies van chemiese stowwe in ons breinstof. Soos Jeffrey M. Schwartz, navorsing professor van psigiatrie aan die Universiteit van Kalifornië, Los Angeles, geskryf het: “Dit is nie slegs dat die wil nie vry is in die moderne wetenskaplike oogpunt nie, nie slegs dat dit ingeperk is nie, ’n gevangene van materiële magte nie. Dit is, meer radikaal, dat die wil, ’n manifestering van die verstand, nie eens bestaan nie, want ’n verstand, onafhanklik van die brein, bestaan nie” (The Mind and the Brain, bl. 8). Hierdie idee – dat daar geen “verstand”, geen “vrye wil” is en niks werklik “geestelik” is omtrent die menslike bestaan nie – word materialisme genoem en is die oorheersende idee in hedendaagse navorsing.

Daar steek meer in “verstand” as in “brein”

Die materialisme van die moderne wetenskap word egter toenemend uitgedaag deur verdere bevindings wat lyk of dit demonstreer dat die menslike verstand baie werklik is en dat dit op een of ander manier baie meer is as wat deur slegs die fisiese brein verduidelik kan word. Oorweeg die veelbesproke werk van die Britse neuroloog, John Lorber van Sheffield se Universiteit, wat waterhoofdigheid bestudeer het – ’n toestand waarin ’n groot deel van die brein ontbreek en die plek daarvan in die skedel met water gevul is. Indien dit in die vroeë kinderontwikkeling onbehandeld gelaat word, staar indiwidue wat ’n waterhoof het, dikwels erge vertraging en voortydige dood in die gesig.

Lorber se navorsing het baie mense verras, omdat hy opsienbare gevalle bestudeer het van mense wat andersins normale lewens gelei het, ten spyte van die feit dat hulle bykans heeltemal geen brein gehad het nie. Een van die mees bekende gevalle behels ’n “sosiaal heeltemal normale” kollege student met ’n IK van 126, wat ’n eersteklas honneursgraad in wiskunde verwerf het. Nogtans het skanderings van hierdie merkwaardige jong man se skedel getoon dat hy feitlik geen brein het nie. Sy skedel is omtrent heeltemal gevul met harsingrugmurgvog, met slegs ’n dun lagie breinstof “van omtrent ’n millimeter of so” (“Is Your Brain Really Necessary?”, Science, 12 Desember 1980, bll. 1232-4).

Indien die menslike verstand niks meer is as die menslike brein nie, hoe word sulke gevalle verduidelik?

Bykomend hiertoe begin wetenskaplike navorsing meer duidelik as ooit tevore demonstreer dat die menslike verstand en vrye wil nie slegs denkbeelde is wat deur die fisiese brein opgewek word nie. In sy skrywe in die Wall Street Journal (“How Thinking Can Change the Brain”, 19 Januarie 2007), beskryf outeur Sharon Begley neurologiese studies wat op Tibetaanse Boedhiste monnike uitgevoer is by die Universiteit van Wisconsin. Werk met daardie monnike het aangedui dat die struktuur van die brein, oor ’n tydperk, verander kan word slegs deur die aksie van dink!

Die uitgangspunt van die algemene materialistiese wêreld beweer dat dit onmoontlik is, omdat die “verstand” veronderstel is om slegs die gevolg en die fisiese brein dieoorsaak te wees. Navorsing demonstreer egter dat die omgekeerde ook die geval kan wees. Verre daarvandaan dat die brein die verstand skep, ontdek wetenskaplikes dat verstand die brein kan verander – dit is ’n “tweerigtingstraat”!

Dus, presies wat gaan hier aan? Kom al hierdie verskillende wetenskaplikes tot onverenigbare gevolgtrekkings? Wat is die verwantskap tussen die verstand en die brein? Dit mag baie moderne lesers verras om te leer dat die ontbrekende dimensie in hierdie bespreking te vinde is in ’n antieke bron van kennis: Die Bybel! God se Woord openbaar die waarheid oor die geheimenis van die menslike verstand – ’n waarheid wat strook met die bevindings van die wetenskap, wanneer dit reg verstaan word, en verwys ons na ’n dieper, ontsagwekkende waarheid wat die wetenskap alleen nooit kon ontdek nie!

Die mensdom: Iets meer

In die boek Genesis openbaar God dat Hy mense gemaak het uit die stof van die aarde (Genesis 2:7). Net soos die ander lewende wesens in ons wêreld, is die mensdom ’n deel van God se skepping. Anders as God en Sy engele in die geestelike sfeer, is menslike wesens fisiese wesens, onderworpe aan dood (Genesis 2:17, 3:19).

Mense sien die wêreld deur fisiese oë wat fisiese lig versamel en dit fokus op die fisiese retinas in ons twee oë. Elektriese seine trek dan na die brein, waar hulle registreer dat iets gesien is. Net so, as mense, hoor ons die wêreld deur fisiese ore, voel ons deur fisiese aanraking en ruik ons deur ’n fisiese neus. Die brein versamel, kanaliseer, verwerk en beheer al hierdie inkomende sintuiglike inligting.

Die verstand behels egter veel meer as die versameling van fisiese data! Indien die mens niks meer gehad het as die fisiese brein nie, sou mense nie verskil het van diere – wat reageer op stimulasie, die versorging van fisiese behoeftes en funksioneer op die mees aardse vlakke – nie.

God beoog egter baie meer vir die mensdom dan lewe op “aardse vlakke”. Wanneer Hy die skepping van diere beskryf, lees ons: “En God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens hulle soorte en die vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die grond kruip, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was” (Genesis 1:25).

Dus, is mense slegs maar ’n “mens-soort”? Nee! Wanneer dit die skepping van die mensdom aangaan, vertel God ’n baie anderste storie! “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape” (Genesis 1:26-27).

Anders as die diere – waarvan elkeen volgens sy eie soort dier gemaak is – verklaar die Bybel reguit dat mense gemaak is volgens die God-soort! Van die begin af het God beoog dat mense soos Hyself sou wees! Wanneer Sy hele, wonderlike plan ten volle verstaan word, sien ons dat God mense gemaak het vir die doel om Sy heilige en regverdige karakter te ontwikkel, totdat hulle nie slegs na die uiterlike soos God lyk nie, maar ook Sy karakter van binne af sal uitstraal! God se plan is om mense te verander van hul fisiese, sterflike bestaan tot ’n ewige geestelike bestaan (1 Korinthiërs 15:50-55)! Om meer oor God se ontsagwekkende doel vir u en my te leer, bestel gerus u gratis kopie van ons inspirerende boekie: U uiteindelike lotsbestemming.

As deel van Sy plan vir die mensdom, het God ’n bykomende element bygevoeg tot die menslike bestaan, wat saam met die menslike brein werk om mans en vrouens soveel meer te maak as die diere wat hul andersins sou wees. Hierdie element word die “gees in die mens” genoem. Gekombineerd met die fisiese brein, verleen dit aan mense ’n kragtige verstand, wat hom toelaat om dinge te bereik ver bo die eenvoudige instink van selfs die briljantste dolfyne of sjimpansees.

Ons lees omtrent hierdie gees in die Skrif. Soos Elíhu aan die aartsvader Job gesê het: “Maar dit is die Gees in die mens en die asem van die Almagtige wat hulle verstandig maak” (Job 32:8). Inderdaad, dit is die gees in die mens wat aan hom kennis en begrip verleen: “Want wie van die mense weet wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is?” (1 Korinthiërs 2:11). Dit is nie ’n onsterflike siel nie; dit is ’n noodsaaklike Godgegewe element van die sterflike menslike verstand, wat van mans en vrouens maak wie en wat hulle is!

Sleutel tot die Opstanding!

Die Skrif verduidelik dat wanneer mense sterf, dan is dit hierdie gees in die mens – nie ’n onsterflike siel nie, maar liewer die Godgegewe element van ons menslike identiteit – wat God herwin. Ons lees: “... en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het” (Prediker 12:7). Wanneer ons dood is, keer ons fisiese liggame terug na die aarde waaruit dit geneem was, maar ons “identiteit” – die “gees in die mens” wat die rekord bevat van ons karakter en ondervinding – keer terug na God in afwagting op die opstanding.

Het “die gees in die mens” enige bewussyn nadat ons gesterf het? Nee! Die Skrif openbaar duidelik dat wanneer mense sterf, ons van niks bewus is tot die opstanding uit die dood nie (Prediker 3:18-21, 9:5). Ons lees van diegene wat “in Jesus ontslaap het” (1 Thessalonicense 4:14). Die Skrif beskryf herhaaldelik die dood nie as ’n liggaamlose bewustelike staat nie, maar liewer as ’n “slaap” sonder bewustheid (Johannes 11:11; 1 Korinthiërs 11:30).

Elke menslike wese ontvang die “gees in die mens” as deel van God se skeppingsdaad. Vir diegene wat egter Christene word, word ’n selfs meer belangrike Gees by die vergelyking gevoeg. Na berou tot bekering en doop, ontvang Christene die Heilige Gees. Net soos die “gees in die mens” aan mense “verstandkrag” gee wat onbekend vir ander diere is, so gee die Heilige Gees aan Christene ’n geestelike krag wat ongekend vir ander mense is.

Deur met die menslike verstand binne in die fisiese liggaam te werk, gee die Heilige Gees aan elke Christen die vermoë om voor te berei om tydens die opstanding uit die dood, as ’n lid van die Gesin van God, in die ewige lewe ingebore te word.

Wanneer ons dit begin verstaan, word die geheimenis van die menslike verstand duidelik. Die verstand is nie slegs ’n “ontluikende eienskap” van ’n fisiese brein, met vrye wil en gedagtes en slegs maar ’n illusie veroorsaak deur botsings en kombinasies van gedagtelose molekules en elektrone nie. Nog minder is die verstand ’n onsterflike en suiwer immateriële bestanddeel. Die menslike verstand is die gevolg van twee noodsaaklike komponente: Die fisiese menslike brein en die menslike gees wat direk deur God verleen word! Dit is die oplossing tot die geheim van die verstand! Dit is die produk van die goddelik bewerkte kombinasie van brein en gees.

Dit verduidelik waarom ons wonderlike verstande so afhanklik is van die toestand van ons fisiese breine, maar ook waarom ons fisiese breine eenvoudig nie genoeg is om die wonderlike menslike verstand voort te bring nie!

Dit is waarom die dierewêreld – terwyl dit ons sekerlik kan verstom – nog steeds ligjare agter die mensdom is op die gebied van kreatiwiteit en kommunikasie en die vermoë om te redeneer en iets voor te stel. Anders as vir die meeste merkwaardige diere, het God die mens beplan vir ’n kosmiese doel!

Die fisiese brein en die gees in die mens wat deur God toebedeel is, smelt saam om die wonderlike menslike verstand te vorm. Dit is hierdie verstand, wat wanneer dit toegee aan die opdragte en sorg van ’n liefdevolle God, die krag het om te weet, na te volg en eendag die teenwoordigheid en geestelike werklikheid van ons Skepper te ervaar. Soos dit so dikwels die geval is, werp God se Woord die lig op geheime wat die wetenskap alleen eenvoudig nie kan verduidelik nie!