Hoe sou dit wees as ons deur die mikroskopiese wêreld kon reis en ingaan in die wonderlike omgewing van een enkele, baie klein menslike selletjie – net een van diebiljoene in u liggaam? Wat ’n verstommende wêreld vol wonders sou ons nie teëkom nie! Daar binne-in die oneindig klein en elegant-geordende domein, sou ons ingewikkelde molekulêre masjinerie sien wat besig is met die uitvoering van die funksies wat ons lewens op aarde moontlik maak! Reis ons na die hart van die sel – sy kern – sou ons die “brein” van hierdie onsigbare, onpeilbare klein wêreldjie vind: ’n Ongelooflike dun, baie lang string atome wat ’n molekule vorm en waarvan die bestaan werklik ’n wonderwerk is.

Daardie wonderbaarlike molekule is deoksiribonukleïensuur – meer algemeen bekend as DNA. Dit verteenwoordig ’n tegnologiese wonderwerk van Goddelike ontwerp en ingenieursvernuf wat werklik verstommend is om te aanskou! God verklaar dat elke lewende wese “volgens sy soort” voortplant (Genesis 1:21-25), sodat kinders ’n ooreenkoms met hulle ouers het. Dit is deur hierdie onsigbare molekulêre DNA-agent wat God lewe op Sy bevel inblaas. DNA is, heel letterlik, die bloudruk van alle lewe op aarde.

Ontwerp word ontdek

Die bioloog James Watson en fisikus Francis Crick het in 1962 die Nobelprys gedeel nadat hulle die struktuur van die DNA ontdek het. Wat hulle ontdek het was eenvoudig verstommend! DNA is nie net ’n deurmekaar rangskikking van atome nie, maar dit het ’n elegante en duidelik goed-ontwerpte struktuur.

Die vorm van DNA lyk soos ’n spiraalvormige leer – ’n vorm wat bekend staan as ’n dubbele heliks. Die twee “bene” van die leer bestaan uit suikers en fosfate en die “sporte” of “trappe” van die leer word basispare genoem. Dit is die volgorde van hierdie basispare wat aan DNA sy merkwaardige vermoë gee om groot hoeveelhede inligting te bevat en oor te dra, die fisiese bloudruk wat van u u maak!

Slegs vier biologiese verbindings – adenien (A), sitosien (C), guanien (G) en timien (T) – verbind in pare om die basispaar “sporte” van die DNA-molekules te vorm. Hierdie molekules wat in byna elke sel van ons liggame voorkom, bevat hierdie basispare in spesiale en unieke volgorde, wat die vele opdragte wat ons selle bestuur kodeer om ’n ingewikkelde netwerk van molekulêre masjinerie te bou, wat van ons liggame maak wat dit is.

Lewe se bloudruk gekodeer

Die inligting wat in die lang stringe van die DNA molekule gekodeer is, stel ons liggame in staat om al die proteïene wat nodig is vir die verskillende funksies bymekaar te maak, net soos ’n rekenaar sy opdragte van ’n hardeskyf af lees. Trouens, die DNA molekulêre kode, wat gevorm word deur ’n spesifieke volgorde bestaande uit die A, C, G en T basisse, werk baie soos die spesifieke volgorde van die tweeledige rekenaarkode wat uit die syfers 0 en 1 bestaan.

Byvoorbeeld, in rekenaars wat die ASCII tweeledige kode gebruik om teks te verteenwoordig, sou die volgorde 010001000110000101100100 die Engelse woord “Dad” kodeer. Net so, sê ’n string DNA met die volgorde CAGAAGCCA aan die sellulêre masjinerie om die aminosuur-ketting glutamine-lisien-prolien te produseer. Net soos die 0’e en 1’e gekombineer word om die inligting te bevat en oor te dra wat elke moderne rekenaar wat bestaan laat werk, is dit hierdie stringe van vier eenvoudige chemiese basisse – A, C, G en T – wat die presiese bloudruk vir elke lewende organisme op aarde bevat en oordra!

Verder is DNA by uitnemendheid ’n hoogs-tegnologiese middel wat inligting opberg. Die wetenskap begin nou eers werklik die ontsaglike vermoëns van God se ontwerp in hierdie elegant-geskape molekule te verstaan – ’n kapasiteit wat enigiets wat die mensdom nog ooit uitgevind het, by verre oorskry! Onlangse interessante eksperimente het bygedra om die merkwaardige vermoë van hierdie wonderlike uitvindsel van die Almagtige God te illustreer.

In die September 2012-uitgawe van die Science tydskrif, het molekulêre genetikus, George Church en sy kollegas berig dat hulle in staat was om ’n afskrif van Church se boek, Regenesis, te kodeer in ’n DNA-string, dit daarna dan suksesvol te dekodeer [ontsyfer] om die oorspronklike teks terug te kry, net soos ’n mens dit met ’n rekenaar se hardeskyf sou kon doen. Soos hulle in die uittreksel van hul baanbrekerswerk verhandeling skryf: “DNA is van die mees kompakte en stabiele inligting wat aan die media bekend is”.

Nog ’n soortgelyke eksperiment verduidelik dit selfs meer dramaties. Die gesogte tydskrif, Nature, het in Januarie 2013 berig dat ’n span wetenskaplikes al 154 van Shakespeare se sonnette, die oorspronklike wetenskaplike artikel deur Francis Crick en James Watson oor die struktuur van DNA, 'n kleurfoto van die Europese Bio-informatika Instituut in Engeland en ’n klankuittreksel van Martin Luther King se beroemde “I have a dream”-toespraak, alles op slegs ’n klein stukkie DNA gekodeer. Hulle het toe die DNA in ’n flessie – sonder enige spesiale verpakking – gepos van die Verenigde State van Amerika na Duitsland, waar kollegas in staat was om die inhoud weer suksesvol te dekodeer [ontsyfer] in hulle oorspronklike teks-, visuele- en klank-formaat.

Die wetenskaplikes het voorgestel dat hulle tegniek “uiteindelik opgegradeer kan word om ’n opbergingskapasiteit te skep wat baie groter is as al die digitale inligting wat deesdae wêreldwyd gestoor word” (“DNA Data Storage100 Million Hours of HD Video in Every Cup,” Phys.org). Daardie hoeveelheid inligting sou ongeveer een zettagreepbeslaan – ’n verbysterende een miljoen miljoen gigagrepe! Hulle beweer in der waarheid dat die hoeveelheid DNA wat in ’n standaard koffiekoppie kan pas, genoeg sou wees om 100 miljoen ure van hoë-definisie video te stoor. Dit is genoeg hoë-definisie video om ononderbroke 24 uur per dag, elke liewe dag – vir meer as 10,000 jaar te speel. Alles in ’n enkele koffiekoppie.

Durf ons ’n Ontwerper ontken?

Vir diegene wat nie glo in ’n Almagtige God wat lewe geskep het en dit ontwerp het vir Sy eie wonderbaarlike doel nie, is die bestaan van hierdie merkwaardige molekule bepaald ’n hindernis om te oorkom! Wetenskaplikes wat die oorsprong van lewe navors, maar wat nalaat om ’n Goddelike Ontwerper in aanmerking te neem, bevind hulleself in die spreekwoordelike “hoender-en-eier”-dilemma, aangesien die proteïne wat gebruik word om die DNA-kode te lees, self geskep word deur die DNA-kode te gebruik! Die gedetailleerde inligting in DNA kan nie gelees word sonder komplekse, gespesialiseerde proteïnes wat ontwerp is vir die taak om dit te ontsyfer nie. Nogtanskan die komplekse, gespesialiseerde proteïne nie geskep word sonder die gedetailleerde instruksies wat gestoor is binne die DNA nie!

Baie biochemici wend ywerige pogings aan om ’n mitiese en geheimsinnige “skepping-sonder-God”-storie in die laboratorium te skep op soek na ’n geloofwaardige situasie waarin inligting-draende molekules hulleself willekeurig byeen kan bring en dan kan begin om hulleself te reproduseer. Ten spyte van al hulle pogings tot dusver, het hulle misluk. Net soos ’n komplekse rekenaarprogram ’n programmeerder vereis wat dit moes skryf, so roep die teenwoordigheid van die absoluut merkwaardige inligting-ryke DNA molekule wat die grondslag van elke lewende wese op aarde is uit na almal wat bereid is om te luister dat lewe ontwerp vereis. ’n Ontwerp moet van ’n uiters intelligente Ontwerper kom!

Met elke sel wat die programme wat in ons DNA gekodeer is lees – net soos ’n honderd biljoen rekenaars ’n honderd biljoen hardeskywe lees, elke sekonde van elke dag van ons lewens – vereis ons eie liggame dat ons glo in ’n Skepper! Namate die wetenskap steeds meer wonders aangaande die menslike liggaam en van lewe op aarde onthul, kan ons saam met Koning Dawid van Israel ons stemme verhef tot God en sê: “Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep” (Psalm 139:14 NV)!