Enigiemand wat na die regstreekse uitsending vanuit die Vatikaan op 8 Mei 2025 gekyk het sou natuurlik ontroer gewees het deur die drama en opregte emosie van die geleentheid.
Terwyl die skare buite die St. Peter’s basilika stilletjies in die agtergrond gefluister het, was alle oë gefokus op ’n klein skoorsteen bo-op die dak van die Sistynse Kapel. Om 18:07 plaaslike tyd, het wit rook uit die skoorsteen begin borrel en die vreugdevolle gehoor laat oplewe. ’n Nuwe pous is verkies om die Rooms-Katolieke kerk te lei. Die skare was nou in ekstase en het oorverdowend gejubel. Sommige mense het hulle arms in die lug gegooi, ander het stilweg gehuil met hulle hande voor hulle gesigte. Vlae van regoor die wêreld het gewapper as getuienis van die groot aantal nasies wat verteenwoordig was onder die 1,4 miljard mense regoor die wêreld wat die nuwe Pontifex Maximus [pous] as hulle herder sou erken.
Skaars meer as ’n uur nadat die eerste dampe wit rook verskyn het, het die man wat voorheen bekend gestaan het as Kardinaal Robert Francis Prevost op die balkon van die basilika verskyn. Nou, met die naam Leo XIV, het hy gereed gestaan om die skare as hulle nuwe “Heilige Vader” toe te spreek as opvolger van Pous Franciskus, wat 17 dae tevore oorlede is,
Die 69-jarige Prevost, gebore in Chicago, Illinois – die eerste Amerikaanse biskop wat ooit tot die pouslike amp verkies is – het ’n instelling met baie probleme geërf. Aan die een kant gaan luide stemme op ten gunste van die terugkeer na die ouer maniere van voor-Vatikaan II Katolisisme, uit vrees dat pogings om uit te reik na ons vervalle kultuur gelei het tot die aanvaarding van agteruitgang. Aan die ander kant gaan ewe luide stemme op ten gunste van meer van die hervorming wat Francis vir baie van hulle verteenwoordig het, aangesien hy daarna gestreef het om sy kerk meer toeganklik te maak vir die uitgeslotenes en grensgevalle wat na leiding van die kerk gesoek het. Die verdeeldheid is so groot dat sommige mense gevrees het dat ’n skeuring onvermydelik was – dalk een rede waarom Prevost verkies is en wat deur sommige mense as ’n man tussen hierdie uiterstes beskou word.
Waarom sou ons dan omgee? Die wêreld se getroue Rooms-Katolieke sal beslis omgee. Wat egter van die ander 6 tot 7 miljard mense op planeet Aarde? Dit blyk immers asof die era toe pouse die keisers gekies het, oorloë begin het of inkwisisies beveel het, lankal verby is. Watter impak kan Leo XIV moontlik op die lewe van ’n gemiddelde, nie-Katolieke persoon hê?
Die impak van een pous – moontlik hierdie een of dalk een wat sal volg – sal aansienlik groot wees. Indien ons toelaat dat Bybelprofesie ons lei, sal ons sien dat ’n man wat die Vatikaanse hiërargie in die toekoms lei, heel moontlik die middelpunt van eindtydse gebeure mag wees. Om te verstaan waarom en hoe, vereis ’n goeie begrip van die pousdom.
Buitengewone bewerings
Getroue Rooms-Katolieke sien Leo XIV as die 267ste biskop van Rome in ’n deurlopende opeenvolging wat terugstrek vanaf die apostel Petrus. Laat in die tweede eeu n.C. het die Katolieke biskop Irenaeus die aartsbiskoplike amp van die Rooms-Katolieke biskop verdedig op grond van die veronderstelling dat die kerk daar gestig en georganiseer was ... deur die twee glorieryke apostels, Petrus en Paulus (Against Heresies 3:3:2). Daar word beweer dat Petrus vir ongeveer 25 jaar lank in Rome as die biskop van sy gemeentes in Rome gewoon het voordat hy en die apostel Paulus dáár gemartel is. Sedertdien word daarop aanspraak gemaak, dat die biskop van Rome die “Pontifex Maximus” [hoofbiskop] is – ’n term wat uit Rome se heidense verlede geleen is – wat hoofsaaklik die “hoof brugbouer” beteken, die hoof van alle biskoppe regoor die wêreld.
Moontlik was die sterkste verklaring van pouslike mag gemaak deur Pous Bonifatius VIII in 1302, wie onomwonde gesê het: Ons verklaar, ons verkondig, ons bepaal dat dit absoluut noodsaaklik vir verlossing is dat elke menslike wese onderworpe is aan die Roomse Pous. Interessant genoeg, terwyl latere verwikkelings die vertolkings van daardie stelling versag het, is dit steeds soos gesê word “amptelik aangeteken”. Die moderne kategismus van die Katolieke Kerk is duidelik: Die Pous, Biskop van Rome en Petrus se opvolger ... het oppergesag en universele mag oor die hele kerk, ’n mag wat hy altyd ongehinderd kan uitoefen (§882).
Dit is buitengewone aansprake om te maak, maar is dit waar? Dogma opsygesit en die bewyse van sekulêre geskiedenis sowel as die heilige Skrif voorsien die antwoord: Nee, dit is nie waar nie! Indien ons bereid is om God toe te laat om ons te lei, kan ons die volle waarheid met betrekking tot die ware Christendom waarneem.
Petrus: Duidelik die leier van die Apostels
Nadat Simon die visserman, die eerste persoon was wat Jesus se identiteit as die Christus en Seun van God bely het (Matthéüs 16:15-18), het Christus hierdie dissipel se naam na Petrus verander, ’n Griekse naam wat ’n rots of klip beteken – ’n verandering wat dikwels misverstaan word en wat ons later sal ondersoek. Christus het tydens Sy bediening Petrus, Jakobus en Johannes se name gereeld genoem as diegene wat leidende rolle onder Sy dissipels het (Matthéüs 17:1; Lukas 8:51; Markus 14:33). Die Here Jesus het spesifiek gebid vir die beskerming van Petrus, wie deur die duiwel geteiken was (Lukas 22:31-32).
Op Pinksterdag, met die eerste openbare proklamasie van die nuut Geestelikbemagtigde Kerk, het al die dissipels gepraat – maar Petrus het duidelik die leiding geneem (Handelinge 2:4-8, 14). Sy tydgenote het erken dat Petrus ’n spesiale opdrag gekry het om die Evangelie van die Koninkryk na die besnedenes te neem (Galásiërs 2:7). Hoewel die opdrag ten opsigte van die heidene hoofsaaklik vir Paulus gegee is, het God steeds vir Petrus gebruik om eers die deur vir hulle oop te maak (Handelinge 10-11; 15:7). Jakobus het Petrus se woorde spesiaal aangehaal by die afsluiting van die Jerusalem-konferensie (Handelinge 15:13-21). In die lyste van die Apostels noem die Skrif altyd Petrus se naam eerste, alhoewel Petrus se broer, Andréas, blykbaar reeds vir Jesus voorheen gevolg het (Matthéüs 10:2; Lukas 6:13-14; Johannes 1:40-42).
God is georganiseerd en georden (sien 1 Korinthiërs 14:33, 40), daarom behoort dit geen verrassing te wees dat daar struktuur en orde binne die leierskap van Sy Kerk is nie. Die Almagtige organiseer Sy mense deurgaans onder die leierskap van een individu – of dit nou op ’n nasionale vlak is soos toe Moses die Israeliete gelei het of op ’n persoonlike vlak, soos dit in die Bybelse familie gevind word. Waarom sou ons verwag dat die Kerk enigsins anders georganiseer sal wees (sien Maleági 3:6; Hebreërs 13:8)?
Dit is duidelik dat Christus vir Petrus ’n spesiale posisie van leierskap onder die Apostels gegee het. Dit is egter net so duidelik dat Petrus se rol in die vroeë Kerk nie ooreenstem met die weergawe van die hedendaagse pousdom nie. Die apostel Paulus se beskrywing van Jakobus, Céfas en Johannes as diegene wat as pilare geag is [Galasiërs 2:9] in Jerusalem is nouliks wat ’n mens sou verwag indien een van hulle volle, oppergesag en universele mag oor die hele Kerk besit het. Terwyl Petrus se getuienis in Handelinge 15 veral belangrik gevind was, blyk dit nogtans dat Jakobus, nie Petrus nie, die konferensie gelei het (verse 13-21), dalk as leier van die gemeente in Jerusalem (Handelinge 21:17-18; Galásiërs 2:12), wat destyds die hoofkwartier van God se Kerk was. Paulus, wie Petrus se skynheiligheid onder die heidene uitgewys het, blyk nouliks die agting en verering te weerspieël wat vandag aan pouse betoon word (sien Galásiërs 2:6-14).
Waarlik, niks word in enige Bybelse verslae gevind wat betref Petrus se bediening onder sy mede-Apostels en wat enigsins na hom verwys in die rol van ’n pous soos deur Rooms-Katolieke gelowiges deesdae verstaan word nie.
Is Petrus die rots?
Indien Petrus nie die eerste pous was nie, hoe behoort ons Matthéüs 16 te verstaan, toe Jesus Sy dissipels gevra het wie hulle gedink het Hy is? Petrus was die eerste om te antwoord: U is die Christus, die Seun van die lewende God (Matthéüs 16:16). In reaksie hierop het die Verlosser Petrus geseën en gesê dat hierdie erkenning nie deur Petrus se eie verstand gekom het nie, maar deur God se openbaring (vers 17). Christus het toe Petrus se naam verander van Simon, sy gegewe naam, na Petrus, in ’n stelling wat meer debatte as miskien enige ander stelling in die geskiedenis van die Christendom veroorsaak het:
Geseënd is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. En Ek sê ook vir jou dat jy Petrus is, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook al op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook al op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbind wees (verse 17-19).
Ons sien hier ’n geval van woordspeling. In die Nuwe-Testamentiese Grieks is die naam Petrus eintlik Petros, wat verwant is aan die Griekse woord petra vir “rots”. Het Christus dus gesê Hy sou Sy Kerk op die mán Petrus bou? Pouslike ondersteuners wys op ’n skynbaar duidelike verband: Jesus het Petrus se naam na rots verander omdat Hy die Kerk op Petrus sou bou en dus ook op al die pouse wat volgens hulle, hom opgevolg het.
Kritici van die pousdom wys egter daarop dat die woorde petros en petra nie dieselfde is nie en in werklikheid dui op verskille in betekenis waar petros na ’n kleinere rots verwys en petra na ’n veel groter een. Pousondersteuners probeer om hierdie kenmerkende woordspeling te verminder en merk op dat dit nie gevind is in die Aramese taal wat Jesus en Petrus gepraat het nie, waar kepha (die basis van Paulus se gebruik van Céfas as Petrus se naam) vir albei doeleindes sou dien. God het tog gekies om die geïnspireerde verslag in Grieks op te teken, nie Aramees nie – dus behoort die Griekse onderskeid nie sommer verwerp te word nie.
Openbaring van die ware Rots
Indien ons na ander geïnspireerde gedeeltes kyk, is die waarheid oor hierdie Rots duidelik. Jesus Christus is die Rots op wie die Kerk gebou is. Paulus identifiseer Christus as die hoeksteen van die huishouding van God (Efésiërs 2:19-20). Petrus self bevestig dit in sy openbare prediking en sy geskrifte aan ander Christene (Handelinge 4:11; 1 Petrus 2:6-7). Die Verlosser het geopenbaar dat Hy Self die hoeksteen is (Matthéüs 21:42) en in gelykenisse verduidelik Hy dat die betekenis van bou op die rots is, om volgens Sy leerstellings op te tree (Matthéüs 7:24-25). Paulus verduidelik dat Jesus Christus voor sy menslike bestaan die God was wat antieke Israel bygestaan het, bevestig: “die rots was Christus” (1 Korinthiërs 10:4).
Selfs een van die invloedrykste “doktore” van die Rooms-Katolieke kerk, Augustinus van Hippo, het presies dieselfde aannames in sy geskrifte en preke gedurende die vroeë vyfde eeu n.C. gemaak. Later in sy lewe het Augustinus van dieselfde verse wat hierbo genoem is, aangehaal om te bevestig dat Jesus Christus die Een was wat Petrus bely het – nie Petrus self nie – wie die Rots was waarop Christus beloof het om Sy Kerk te bou (byvoorbeeld The Retractations, hoofstuk 20, afd. 1; Preek 76; Preek 295; Preek 229P). ’n Duisend jaar voordat enige Protestantse hervormers hierdie argument teen die pousdom gebruik het, het een van die voorste Rooms-Katolieke teoloë dieselfde gedoen! Trouens, Pous Leo XIV wat self ’n volgeling van Augustinus was, het tydens sy inhuldigingsmis in Mei presies dieselfde stelling gemaak dat Christus die Rots is.
Wat van Christus se stelling met betrekking tot die sleutels van die koninkryk van die hemele en die gesag om op die aarde .... wat jy ook op aarde mag ontbind sal in die hemel ontbonde wees? (Matthéüs16:19). Net twee hoofstukke later gee Christus dieselfde gesag om te bind en te ontbind, nie net aan Petrus nie, maar aan al die Apostels (Matthéüs 18:18). Ja, Christus het die setel van gesag – om volgens God se Wette te oordeel – van die Joodse leierskap na Sy Apostels oorgedra (sien Matthéüs 23:1-3, 13). Aangesien daardie gesag egter aan al twaalf Apostels gegee is, kan dit nouliks gebruik word om die idee te ondersteun dat die pous volle, oppergesag en universele mag oor die hele kerk besit.
Rome se bewerings verkrummel
Wat het geword van die bewering dat die kerk in Rome deur die apostels Petrus en Paulus “gestig en georganiseer” was? Selfs al was dit waar, sou dit steeds onvoldoende wees om Rome as die gesaghebbende hoofkwartier vir alle Christene te vestig. Nie die geskiedenis óf die Skrif stem ooreen met hierdie bewering nie.
Die hoogaangeskrewe geskiedskrywer Eamon Duffy, is ’n Katolieke geleerde en bekend vir sy ywer vir sy kerk en die pousdom. Hy is ook reguit wat betref die stories van Rooms-Katolieke oorsprong en die bewerings van ’n ononderbroke pouslike lyn van Petrus tot vandag se pous:
Hulle is vroom romantiese versinsels, nie geskiedenis nie. Die feit is dat ons geen betroubare verslae het aangaande Petrus se latere lewe of oor die wyse of plek van sy dood nie. Nie Petrus of Paulus het die Kerk in Rome gestig nie, want daar was Christene in die stad nog voordat enigeen van die Apostels hulle daar gevestig het. Ons kan ook nie aanvaar, soos Irenaeus gedoen het – dat die Apostels daar ’n opeenvolging van biskoppe gevestig het om hulle werk in die stad voort te sit nie, want volgens alle aanduidings was daar vir byna ’n eeu ná die dood van die Apostels, geen enkele biskop in Rome nie. Die feit is, hoe ons ook al daarna kyk, blyk die breë trekke van die Petrus se opvolging in Rome vaag en onoplosbaar (Saints and Sinners: A History of the Popes, Fourth Edition, 2014).
Nee, die Christelike gemeenskap in Rome is nié deur Petrus en Paulus gestig en georganiseer, soos Irenaeus valslik sou beweer het nie, want dit was reeds meer as ’n eeu nadat albei gemartel is. Trouens, Paulus het dit duidelik gemaak dat die lewende Christus vir Petrus opdrag gegee het om die Evangelie na die Israeliete te neem, net soos Paulus opdrag gegee is om dit na heidene te neem – die besnedenes en onbesnedenes onderskeidelik, van Galásiërs 2:7-9. Die idee dat Petrus Christus se opdrag sou laat vaar om ’n dekadeslange setel as ’n biskop van Rome op te neem, is absurd.
Petrus het verder in sy eerste brief geskryf dat hy van Babilon af geskryf het – ’n werklike eerste-eeuse pleknaam, wat deur eerste-eeuse geskiedskrywers Philo en Josephus bevestig is. Trouens, Josephus merk op dat daar gedurende die eerste eeu ’n groot aantal Jode in Babilon was (Antiquities 15.2.2), wat beteken dat Petrus se teenwoordigheid daar ooreenstem met sy opdrag aan die besnedenes.
Dit is net so duidelik dat toe Paulus aan die Romeine geskryf het, hy geskryf het om ’n reeds bestaande en aktiewe gemeente van gelowiges te versterk en het melding gemaak van sy verlange om hulle uiteindelik te besoek (byvoorbeeld Romeine 1:9-12; 15:22-28). Dit is betekenisvol dat wanneer Paulus in Romeine 16 baie noemenswaardige Christene in Rome op hulle naam groet, hy nie melding maak van Petrus nie. Paulus kon heel moontlik later na Rome gegaan het en hy asook Petrus kon inderdaad daar aan hulle einde gekom het. Die idee dat hulle Rome se Christelike gemeenskap gestig het, is ongegrond.
Die feit is, in 451 n.C. het die Raad van Chalcedon in Kanon 28 opgemerk dat die rede vir Rome se voorrang hoofsaaklik was omdat dit die keiserlike stad was – dit wil sê, as gevolg van die politieke belangrikheid daarvan en nie as gevolg van enige teologiese of apostoliese redes nie.
Waarom dit saak maak
Vroeë verslae van die organisasie wat die Rooms-Katolieke kerk sou word, toon talle belangrike besluite wat geneem is – soos in die Raad van Nicea in 325 n.C. – met skaars enige betrokkenheid van ’n pous hoegenaamd en beslis sonder enige beroep op die gesag van een. Die waarheid is dat die pousdom ’n geleidelike skepping van daardie organisasie is – nié ’n voortsetting van die “stoel van Petrus” en ook nie goddelik deur Jesus Christus georden nie. Geen pous soos dit vandag deur Katolieke verstaan word, word in die Bybelse aantekeninge gevind nie.
Waarom behoort ons dan om te gee? Daar is ten minste twee belangrike redes. Eerstens, enige aansprake dat die Rooms-Katolieke kerk en sy pous die gesag het om van die eenvoudige bevele van Jesus Christus en die Wette van God af te wyk, is heeltemal ongegrond en word nie deur die Skrif ondersteun nie. Sulke afwykings is egter legio.
Neem byvoorbeeld die sewendedag-Sabbat in ag wat uitdruklik in die vierde Gebod (Exodus 20:8-11) voorgeskryf word en deur die eerste-eeuse Kerk onderhou is, soos dit bevestig word deur die Skrif sowel as wêreldse geskiedenis. Hoe het dit dan gebeur dat Sondag eerder onderhou word? The Convert’s Catechism of Catholic doctrine, wat in 1910 onder amptelike goedkeuring gepubliseer is, is duidelik: Ons onderhou Sondag in plaas van Saterdag omdat die Katolieke Kerk, in die Raad van Laodicéa (336 n.C.), die plegtigheid van Saterdag na Sondag verander het.
Let ook op na die aanbidding en verering van beelde, standbeelde en ikone. Hierdie soort aanbidding word uitdruklik verbied in die tweede Gebod (Exodus 20:4-6). Die sewende ekumeniese raad in Nicea (787) het egter die verering van ikone geregverdig ... van Christus, maar ook van die Moeder van God, die engele en al die heiliges (Catechism of the Catholic Church, §2131). Woordspeling word gebruik om te beweer dat sulke verering nie aanbidding is nie, maar verander nie die feit dat enige antieke (of hedendaagse) heidense Katolieke wat gebruike aangaande beeldhouwerk en ikone beskou, hulle eie afgodediens sou herken nie.
Christus Sélf het diegene veroordeel wat gedurende Sy tyd wel die mag besit het en in die gesagstoel gesit het: Die skrifgeleerdes en Fariseërs. Wat het Hy van hulle gesê wanneer hulle hul gesag gebruik het om van die Woord van God af te wyk en vertolkings van Sy Wet te skep wat daardie Wet effektief geskend het?
Waarom oortree julle ook die gebod van God as gevolg van julle tradisie?… So het julle die gebod van God kragteloos gemaak deur julle tradisie. Geveinsdes! Jesaja het tereg oor jou geprofeteer en gesê: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met hulle lippe, maar hulle hart is ver van My af. En tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is (Matthéüs 15:3-9).
Wat ’n vergelyking! Soos die Fariseërs van ouds, het pouslike owerhede deur die eeue heen oordele gevel oor God se Wette wat veroorsaak het dat Sy Gebooie kragteloos gemaak is deur die gevolglike tradisies. Diegene wat dit vandag doen, deel in die Fariseërs se veroordeling.
Om te erken of die pous ’n ware of ’n valse leier is, maak wel saak. Dit maak saak omdat waarheid saak maak en die Vader soek nie diegene wat in die Fariseërs se voetspore sal volg en tradisie bo waarheid stel nie, hoe opreg hulle ook al mag wees. God speel nie met woorde nie en Hy soek diegene wat in beide gees en waarheid sal aanbid (Johannes 4:23-24).
’n Geprofeteerde valse profeet
Dit maak ook saak omdat u Bybel waarsku teen ’n charismatiese, valse profeet wat wonderwerke doen en ’n wêreldwye godsdienstige herlewing sal lei gedurende die jare voor Christus se Wederkoms. Hierdie persoon sal die hoof wees van ’n magtige, welgestelde, wêreldomvattende kerk wat ’n valse, nagemaakte Christendom verteenwoordig (2 Thessalonicense 2:8-10; Openbaring 17:1-6). Hierdie misleidende valse profeet sal die laaste wees in ’n antieke lyn van valse leiers wat beweer dat hulle in Christus se naam onderrig. Jesus het geprofeteer dat hierdie lyn sou begin gedurende die lewens van Sy Apostels en gesien sou word in die antichriste van hulle eie tyd (Matthéüs 24:4-5; 1 Johannes 2:18). Hierdie lyn sal sy hoogtepunt bereik in ’n eindtydse valse profeet wat in baie opsigte Christelik sal voorkom, maar subtiele verdraaiings (woordspelings) en misleidende leerstellings van die duiwel sal verkondig (Openbaring 13:11).
Hierdie godsdienstige leier sal ook politieke invloed uitoefen, in samewerking met ’n toekomstige Europese supermoondheid en sy leier – die berugte dier van Openbaring. Hulle sal saam diegene vervolg wat aan die ware leerstellings van Jesus Christus wil vashou en valse leerstellings weerstaan (Openbaring 13:12-15). Profesie beeld hierdie ryk, magtige, toegeeflikgesinde “Christelike” kerk uit, wat gelei word deur die valse profeet, wat dronk word van die bloed van die regverdige heiliges wat sy slagoffers sal wees (Openbaring 17:6).
Die einde van daardie valse kerk, sy godsdienstige leier, sy politieke bondgenoot asook die hele, godslasterlike stelsel wat hulle verteenwoordig is verseker: Hulle sal heeltemal vernietig word deur Jesus Christus en Sy verheerlikte heiliges wanneer die Verlosser terugkeer. Voor daardie tyd wanneer die geprofeteerde valse profeet kom wat in Christus se naam spreek en beweer dat hy namens Hom en met Sy gesag optree en deur miljoene der miljoene Christene wêreldwyd aanbid word – sal hy die middelpunt wees van ’n verstommende hoeveelheid lyding.
Slegs die geestelike blindes kan nie die potensiële verband sien tussen die ontsaglike, welgestelde, oordrewe, magtige, vervalste “Christelike” kerk van profesie nie, wat gelei word deur ’n enkele valse profeet en die Rooms-Katolieke kerk van vandag, gelei deur ’n pous wat valshede in Christus se Naam verkondig. Slegs die eiesinnige mense sou onwillig wees om die saak ernstig te oorweeg. Wees verseker niks hiervan beteken dat Pous Leo XIV definitief daardie geprofeteerde valse profeet is nie. Die amp wat hy nou beklee pas egter by die rol en studente van God se Woord sal oplet wat die maande en jare wat voorlê, sal oplewer.
Ons bied u twee waardevolle studiegidse aan om te help om hierdie onderwerp verder te bestudeer: Satan se Vervalste Christendom en Wie of Wat is die Antichris? U kan dit aanlyn lees by wvm.co.za of u eie gratis gedrukte eksemplaar bestel. Die waarheid van Christus kan nie gevind word in die rade, geloofsbelydenisse of kanonieke wette van die Rooms-Katolieke kerk nie en ook nie dié van haar hoerdogters (Openbaring 17:5), wat hulle moeder se toegeeflike gesindheid geërf het en nuwes van hulle eie gemaak het nie. Jesus Christus het immers beloof om Sy Kerk te bou en Hy hét! Hierdie twee hulpbronne sal u help om u reis te begin om Sy Kerk te vind.


