Kan ’n Christen maar op enige dag aanbid? Behoort Christene enige spesiale dae uit te sonder as gewyd of heilig?


Verskillende godsdienste sonder verskillende dae af as vakansiedae en tye van aanbidding. Terwyl die meeste van die wêreld se 2.1 miljard belydende Christene op Sondag aanbid, gedenk 1.3 miljard Moslems Vrydag as hulle weeklikse dag van aanbidding. Miljoene Jode gedenk die Sabbat – hulle dag van rus en aanbidding – van sononder op Vrydag tot sononder op Saterdag.

Maak dit saak watter dae ons gedenk? Gee God om wanneer ons Hom aanbid, solank ons Hom wel aanbid? Die meeste belydende Christene aanvaar eenvoudig wat hulle ouers of kerk hulle as tradisie geleer het. Totdat ek ’n jong volwassene was, is dit wat ek ook gedoen het. Toe ek ’n seuntjie was, het ek my ma gevra: “Waarom hou ons Sondag, terwyl die vierde gebod in die Bybel ons leer om die Sabbat, die sewende dag, te hou?” Sy het my ’n vae antwoord gegee wat ek op daardie tyd aanvaar het, maar kanu daardie vraag beantwoord? Watter dag is die Christelike Sabbat?

Waar kom vandag se belydende Christene aan die idee dat Sondag die Christelike dag van aanbidding is? U mag geskok wees om te verneem dat sommige godsdienstige sektes leer dat hulle kerk se tradisie meer outoriteit het as die Bybel! Let op hierdie stelling van die Anglikaanse teoloog Isaac William: “Waar in die Bybel word daar vir ons gesê om hoegenaamd die eerste dag te onderhou? Ons word beveel om die sewende te onderhou, maar nêrens word ons beveel om die eerste dag te onderhou nie ... Die rede waarom ons die eerste dag van die week heilig hou in plaas van die sewende, is om dieselfde rede waarom ons baie ander dinge onderhou, nie as gevolg van die Bybel nie, maar omdat die kerk dit gelas het” (Plain Sermons on the Catechism, vol. 1, bll. 334, 336).

Is William reg? Dra die Bybel – die Woord van God – minder gewig as kerktradisie? Watter voorbeeld het Jesus Christus self gestel? Let op wat die Bybel sê aangaande Jesus se eie gewoonte aan die begin van Sy bediening: “Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees” (Lukas 4:16).

Ja, dit was Jesus se gereelde gewoonte om op die Sabbat te aanbid. Watter dag van die week was dit? Sedert die tyd van Jesus, en ook eeue tevore, het die Joodse gemeenskap baie noukeurig hulle onderhouding van die sewende dag, die Sabbat aangeteken, van sononder Vrydag tot sononder Saterdag. Ons weet uit duisende dokumente wat noukeurig bewaar is, dat die sewe-dae siklus van die week nie onderbreek is nie. Diegene wat vandag op die sewende dag aanbid, doen dit op dieselfde dag as wat Jesus aanbid het!

Vra uself: Het Jesus Sy voorbeeld, deur die Sabbat en al die Bybel se voorskrifte te onderhou, vir ons gestel sodat ons nie nodig sou hê om dit self te doen nie? Skokkend, maar dit is wat baie predikers vandag verkondig! Het Jesus egter selfs net een keer aan Sy volgelinge gesê om Sy voorbeeld te ignoreer? Nee! Nie alleen het Jesus self die gebooie onderhou nie, Hy het ander beveel om dit ook te doen. Hy sê: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe een, naamlik God. Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheüs 19:17). Jesus se antwoord het duidelik getoon dat Hy van die Tien Gebooie praat.

Paulus se voorbeeld

Ons het gesien dat dit Jesus se gewoonte was om die Sabbat te onderhou. Het die apostel Paulus – die “apostel aan die nie-Jode” – die Sabbat onderhou of het hy ’n voorbeeld gestel dat Heidense Christene dit nie hoef te doen nie? Onthou dat Paulus as Fariseër opgelei was en goed onderrig was in die Skrif. Toe Paulus in Griekeland was, in die stad Thessalonika, het hy vir drie agtereenvolgende Sabatte vir die Jode in die sinagoge gepreek. Let daarop dat dit Paulus se gewoonte was – hy het gereeld op die Sabbat gepreek. “En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte en dit uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan, en gesê: Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, is die Christus” (Handelinge 17:2-3).

Ons sien dus dat Paulus gereeld vir die Jode op die Sabbat gepreek het. Het hy ook met die heidene (nie-Jode) op die Sabbat gepraat? Lees wat hy in die heidense stad Korinthe, Griekeland gedoen het: “En hy het elke sabbat in die sinagoge gespreek en Jode sowel as Grieke oortuig (Handelinge 18:4)! Ja, Paulus het vir die Heidene op die Sabbat gepreek!

Indien Paulus van Christene verwag het om ’n Sondag te onderhou in plaas van die sewende dag, die Sabbat, kon ons van hom verwag om met Christene – of ten minste met die Heidene – op Sondag te praat. Is dit wat u Bybel wys hy gedoen het? Kyk na Paulus se voorbeeld in Antiochië, wat vandag Turkye is. Wat het gebeur na Paulus se gebruiklike Sabbatdiens aan beide Jode en Heidene in die sinagoge? “En toe die Jode uit die sinagoge gaan, het die heidene versoek dat daardie woorde op die volgende sabbat tot hulle gespreek sou word” (Handelinge 13:42).

Indien Jesus of die Apostels die bevole dag van aanbidding na Sondag verander het, was hier ’n ideale geleentheid vir Paulus om aan die Heidene te sê: “Nee, julle hoef nie tot volgende Saterdag te wag nie, ons Christene aanbid nou op Sondag. Ontmoet ons môre!” Maar, hy het dit nie gedoen nie! Wat sê u Bybel? “En op die volgende Sabbat het byna die hele stad saamgekom om die woord van God te hoor” (Handelinge 13:44). Paulus het die Heidense Christene op die Sabbat onderrig! Hy het ook aan die Heidense Korinthiërs opdrag gegee om sy voorbeeld te volg. Onthou Paulus se opdrag: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is” (1 Korintiërs 11:1). Ja, Jesus, Paulus en die Apostels het ’n voorbeeld vir alle Christene gestel deur hul onderhouding van die Sabbat!

Waarom die verandering?

Aangesien die voorbeeld van Christus en die Apostels duidelik is, kan ons wonder: Wanneer het die “hoofstroom” Christendom begin om Sondag te onderhou in die plek van die Sewendedag-Sabbat as ’n rusdag? Kyk: “Tertullian (202 n.C.) is die eerste skrywer wat uitdruklik die Sondagrus noem: ‘Ons moet egter (net soos tradisie ons geleer het), op die dag van die Here se Opstanding waak, nie slegs teen knieling nie, maar teen elke liggaamshouding en taak van sorgsaamheid en ons moet selfs ons sake uitstel sodat ons nie enige ruimte vir die duiwel laat nie’” (Artikel: “Sunday”, The Catholic Encyclopedia). Dit het eers gebeur in 202 n.C., meer as 170 jaar na die dood, begrafnis en opstanding van Jesus Christus, die Messias!

Later, in die vierde eeu n.C., het die Romeinse keiser Konstantyn Sondagaanbidding regdeur sy ryk afgedwing. Konstantyn was ’n heidense sonaanbidder. Hy het die volgende edik in 321 n.C. uitgevaardig: “Laat alle landdroste en mense op die eerbiedwaardige dag van die Son ... rus” (Artikel: “Sunday Legislation”, Schaff-Herzog Encyclopedia of Religious Knowledge).

Ongehoorsaamheid aan die keiser se opdrag kon die dood beteken vir die Christene wat die Sabbat onderhou het. Slegs ’n paar jaar later het die Roomse kerk ook ’n skokkende verordening by die Raad van Laodicéa uitgevaardig. Dit verklaar: “Christene moenie verjoods deur op die Sabbat te rus nie, maar moet op daardie dag werk en eerder op Sondag rus. Maar, indien enigeen wel verjoods [God se Sabbat onderhou], laat hulle van Christus geban verklaar word” (A History of the Councils of the Church, bl. 316). Christelike Sabbatonderhouers was toe gebrandmerk as ketters.

Die regering sowel as die kerke het teen die Christelike Sabbatonderhouers opgetree. Nogtans het die ware Christendom van die eerste eeu – wat nooit opgehou het om Christus se voorbeeld te volg deur die vierde gebod te gehoorsaam nie – tot vandag toe voortbestaan, ten spyte van vervolgings deur die eeue heen. Miljoene mense in Amerika vergeet vandag dat baie van die eerste Amerikaanse nedersetters die Atlantiese Oseaan in die 17e eeu oorgesteek het op soek na godsdiensvryheid in die Noord-Amerikaanse kolonies. Derduisende het na Rhode Island gegaan om voordeel te trek uit die kolonie se koninklike handves, in 1663 deur Koning Charles II van Engeland verleen, wat godsdiensvryheid in die kolonie gewaarborg het. Tot vandag word daardie handves in die Providence, Rhode Island se staatshuis vertoon.

Sewendedag Sabbatonderhouers was onder diegene wat na Rhode Island gegaan het in hulle soeke na godsdiensvryheid. Stephen Mumford en sy vrou wat in 1665 na Newport, Rhode Island gegaan het, was die eerste aangetekende Christelike Sabbatonderhouers wat hulle in Rhode Island gaan vestig het. Ander het gevolg en teen 1729 het hulle groep so uitgebrei dat hulle ’n groter vergadersaal benodig het. Daardie saal, wat in 1729 gebou is, word steeds deur die Newport Historical Society bewaar.

Indien u ooit in Newport, Rhode Island is, mag u dalk graag daardie geskiedkundige gebou wil besoek. In die saal is ’n hoë kansel. Agter die kansel is twee groot plate met die Tien Gebooie daarop gegraveer. Onderaan die tweede plaat is die apostel Paulus se reguit stelling: “Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet” (Romeine 3:31). Ja, daardie Nuwe-Testamentiese Christene het hulle getrouheid aan Christus se stelling bevestig: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie”. Daardie Christene het reg verstaan dat Jesus se leringe daarop aandring dat Sy volgelinge die Tien Gebooie moet gehoorsaam en daarvolgens moet leef!

Sabbatariese kerkoorkondes wat in Newport se Historiese Museum bewaar word, bevat lede se name en bydraes. Dit is veelseggend dat die kerk sigself in daardie rekords beskryf as sou hulle “God se gebooie onderhou, en die geloof van Jesus, en in die besonder die Here se Sewendedag-Sabbat”.

Sommige Sewendedag Sabbatonderhouers was in die 18de eeu vooraanstaande burgers van Rhode Island. Twee van die kolonie se goewerneurs – Richard Ward en sy seun Samuel – was Sewendedag Sabbatonderhouers. Selfs die eerste president van Brown University – James Manning – was ’n Sabbatariër!

Die Sabbat voor Moses?

Sommige mense glo vandag dat onderhouding van die Sabbat as ’n Joodse gebruik by die berg Sinai ingestel was, toe Moses die kliptafels met die Tien Gebooie ontvang het. Is dit waar? Nee! Lees hoe u Bybel die “skeppingsweek” beskryf. Ons lees dat God man en vrou op die sesde dag geskape het. Wat het dan op die sewende dag gebeur? “So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak” (Genesis 2:1-3).

Ja, die Sewendedag-Sabbat is ’n herdenking van die skepping – dit wys na die ware God en ware Skepper van die heelal. Dit het sedert die skepping betekenis gehad en dit het vandag nog steeds diepliggende betekenis vir Christene, wat na die Sewendedag-Sabbat kyk as ’n voorafskaduwing van Jesus Christus se duisendjarige regering op die aarde tydens die Millennium.

Waarop het Jesus aanspraak gemaak aangaande Sy verhouding tot die Sabbat? Het Hy gesê dat Hy Here is oor die Sondag – dat Sondag die Here se dag is? Nee! Jesus sê: “Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat” (Markus 2:27-28). Indien Jesus Here is van die Sabbat, watter dag is dan die dag van die Here? Sondag? Nee! Die Sabbat is die Here se Dag – Jesus het self so gesê! In der waarheid, verskyn die uitdrukking “die Here se dag” nie een maal in een van die Afrikaanse Bybelvertalings nie, terwyl die uitdrukking “the Lord’s Day” slegs een maal in die Engelse vertalings voorkom, en wel in Openbaring 1:10. Daar verwys dit na die profetiese tydperk bekend as die Dag van die Here, wat Jesus se Wederkoms voorafgaan. Dit verwys nie na ’n dag van die week nie.

Die boek Hebreërs beeld die Sabbat uit as ’n voorafskaduwing van die aarde se duisendjarige rus, sowel as ’n herdenking van God se rus tydens die skepping. Aangaande die antieke Israeliete se ongehoorsaamheid onderweg na die beloofde land, lees ons: “Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van ’n ander dag daarná spreek nie. Daar bly dus ’n sabbatsrus oor vir die volk van God” (Hebreërs 4:8-9). Die oorspronklike Griekse woord vir “rus” in vers 9 is sabbatismos, wat “’n Sabbatonderhouding” beteken (sien Vine’s Expository Dictionary of Biblical Words). Beide die Ou en die Nuwe Afrikaanse Vertalings vertaal vers 9 as “’n sabbatsrus”.

Ja, daar bly dus nog ’n Sabbatsrus vir God se mense oor, selfs vandag nog! Is dit egter bloot ’n simboliese rus, of is dit ’n letterlike Sabbatsrus? Indien u toegang het tot dieAnchor Bible Dictionary, sal u self sien dat in ander kontekste, insluitend sekulêre Griekse geskrifte wat nie van hierdie vers in Hebreërs afhanklik is nie, sabbatismos duidelik en letterlik “Sabbatonderhouding” of “Sabbatviering” beteken. Dit is nie te betwyfel dat hierdie vers ’n Nuwe-Testamentiese stelling oor ’n letterlike Christelike herdenking van die Sabbat is nie!

Indien Christene hulle werk moet staak, net soos God Sy werk gestaak het (Hebreërs 4:10), moet ons vra: Hoe het God Sy werk gestaak? Die Bybel gee aan ons die antwoord: “Want Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werke gerus” (Hebreërs 4:4).

Daar is niks te raai hier nie! Nuwe-Testamentiese Christene is veronderstel om te rus net soos wat God gerus het – op die sewende dag! Die Ou sowel as die Nuwe Testament gee aan Christene die duidelike voorbeeld en opdrag om die Sabbatdag heilig te hou! Indien u die Bybel as u gesag beskou eerder as die een of ander kerktradisie wat daarop aanspraak maak dat dit die Bybel ongeldig kan verklaar, het u geen ander keuse nie! Wat beskou u dus as gesaghebbend?

Bybel of tradisie?

Vroeër in hierdie artikel, lees ons van ’n Anglikaanse teoloog se duidelike bekentenis dat dit kerktradisie was, eerder as die Bybel, wat onderhouding van Sondag in die plek van die Sewendedag-Sabbat teweeg gebring het. Ander teoloë stem saam. Die welbekende Rooms-Katolieke teoloog James Cardinal Gibbons maak die volgende onbeskroomde stelling in sy boek Faith of Our Fathers: “U kan maar die Bybel lees van Genesis tot Openbaring en u sal nie ’n enkele reël vind wat die heiligmaking van Sondag magtig nie. Die Bybel dwing die godsdienstige onderhouding van Saterdag af, ’n dag wat ons nooit heilig nie”. Gibbons erken dat, indien die Bybel u gesag is, daar geen gronde is vir die onderhouding van Sondag nie. Die Skrif, skryf hy, dwing “die godsdienstige onderhouding van Saterdag af”. Gibbons erken dat dit die Raad van Laodicea was – nie die bladsye van u Bybel nie – wat in die vierde eeu veroorsaak het dat die belydende Christenwêreld verander het van die Sewendedag-Sabbat na ’n Sondagonderhouding.

Net so ook skryf die prominente predikant van die Suidelike Baptiste, Harold Lindsell, ’n voormalige redakteur van die tydskrif Christianity Today: “Daar is niks in die Bybel wat aan ons voorskryf om Sondag eerder as Saterdag as ’n heilige dag te gedenk nie”.

Wat behoort u te doen? U behoort u Bybel te bestudeer en dan te besluit of u volgens “elke woord van God” wil leef, soos Jesus ons herinner in Mattheüs 4:4 en Lukas 4:4. Jesus sê Hy is Here van die Sabbat. Hy het die Sewendedag-Sabbat gereeld onderhou en Hy het nie die wet oortree nie. Soos Hy sê, “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly” (Johannes 15:10). Sal u Jesus Christus se voorbeeld en die opdragte van u Bybel volg? Of sal u dit teenstaan ten einde die tradisies van mense te volg?

Indien u nog steeds enige twyfel het oor watter dag die Christelike Sabbat is, gee dan aandag aan wat u Bybel leer aangaande die toekomstige Koninkryk van God, waar Jesus Christus oor alle volke op aarde sal regeer. “Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, spreek die Here, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees. En elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die Here” (Jesaja 66:22-23).

In God se Koninkryk sal almal die Sewendedag-Sabbat onderhou. Wat ’n wonderlike wêreld sal dit nie wees nie. Ware Christene voorafskadu vandag daardie tyd in hulle aanbidding.