Hoe weet jy wanneer jy ’n fout gemaak het? Soms vind jy dit uit deur jou eie ervaring. Soms is dit egter nodig dat ’n ander persoon vir jou sê waar jy verkeerd was. Wanneer ons jonk is, kom die meeste teregwysings van ons ouers af. Hoe goed het ons dit hanteer – of hoe goed hanteer ons dit nou?

Die Skrif beveel ouers: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spreuke 22:6). Om kinders op te voed om God te eerbiedig en te gehoorsaam, is die grootste en belangrikste Godgegewe verantwoordelikheid wat aan ouers gegee is. As deel van hierdie proses word ouers beveel om hulle kinders te dissiplineer. Ons lees: “Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging” (Spreuke 13:24). Indien ouers hulle rol behoorlik vervul, behoort ons van hulle te verwag om dissipline en tugtiging ferm en liefdevol toe te pas.

Dit is baie belangrik vir jong mense om te verstaan dat ouers meer ervaring en wysheid het as kinders. Daarom sal verstandige kinders hulle ouers se opdragte aanvaar. “’n Wyse seun luister na die tug van die vader, maar ’n spotter hoor nie na berisping nie” (Spreuke 13:1). Die wyse koning Salomo sê duidelik: “Een wat die tug liefhet, het kennis lief; maar wie die teregwysing haat, is dom” (Spreuke 12:1).

Teregwysing kom egter nie net van die ouers af nie. Teregwysing kom ook van onderwysers, sportafrigters en beraders tydens kampe, leraars, hoofde by die werk en vele ander. Almal van ons kan God se hand sien in ons lewens waar Hy ons tereggewys het. Ons lees: “My seun, verag die tug van die Here nie, en laat sy kastyding nie jou weersin wek nie, want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, ja, soos ’n vader die seun in wie hy behae het” (Spreuke 3:11-12).

Ons maak almal foute

Ons almal doen van tyd tot tyd sonde en oordeel verkeerd. As mense is ons geneig om geestelik te struikel, “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Ons behoort dus almal die gewoonte aan te leer om ons foute te erken en dit reg te stel. Hierdie bereidwilligheid om ons foute te erken, is nie ’n teken van swakheid nie, maar dit is ’n teken van die sterk karakter wat absoluut van ’n ware Christen vereis word. Dit is immers wat die proses van bekering behels.

Christelike groei vind plaas wanneer ons ons sondes en foute voor God bely en dit vermy. Ons moet voortdurend daarna streef om die drange van ons menslike natuur te oorkom, die negatiewe invloed van die samelewing rondom ons, asook die versoekings van Satan en die menigte bose geeste. Ons moet ons lewens in ooreenstemming bring met God en Sy lewenswyse. Dit gaan nie maklik wees nie, maar dit is die pad wat lei na die ewige lewe!

Na sonde volg teregwysing. Waarom? “Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is” (Hebreërs 12:11). Wanneer ons teregwysing aanvaar en ons foute erken, bring dit groei mee! Dit is waaroor die lewe gaan. Ons is as sterflike mense van vlees en bloed geskape, maar tog bou ons Skepper Sy eie karakter binne in ons in, namate ons elke deel van ons lewens aan Hom onderwerp. Oorwinning en groei is wat God van ons verlang, en dit is wat gebeur wanneer ons verander as gevolg van die teregwysing.

Teregwysing sal dwarsdeur ons lewens op baie maniere en van baie mense af kom – nie net van ons ouers nie. Soms sal dit op ’n goddelike wyse kom en ons sal besef dat dit geldig is. Wat behoort ons te doen wanneer ons voel dat ons onregverdig tereggewys word? In hierdie omstandighede kan ons slefs nog steeds daarby baat vind – kan ons karakter ook versterk word – indien ons die situasie korrek hanteer. Indien die teregwysing nodig was, maar op ’n onvriendelike of onchristelike wyse oorgedra is, kan ’n wyse persoon dit nogtans oorweeg en probeer om daardeur te groei.

Selfs al sou die teregwysing onverdiend wees, sal die verstandiges nie vergeet van die Christen se verpligting nie – om selfs in ’n situasie waarin daar moontlik konfrontasie kon voorkom – vrede te soek en dit na te streef (Psalm 34:14; 1 Petrus 3:11). Selfs in ’n konfliksituasie moet ons nie toelaat dat ander mense ons emosionele toestand bepaal nie. Ons behoort objektief te kyk na die teregwysing wat ons ontvang het. Sodoende weerspieël ons werklik ’n bereidwilligheid om te leer en ’n nederige gesindheid. Dit is waarom die psalmdigter geïnspireer was om te skryf: “Die wat u wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie” (Psalm 119:165).

Moet nie oorsensitief wees nie

Terwyl ons egter ontvanklik moet wees vir teregwysing – gretig om te bely en te verander en te groei – moet ons nie beangs word en voortdurend bang wees vir elke stukkie potensiële kritiek nie. Ons moet die beginsel wat dikwels oor die hoof gesien word onthou: God wil nie hê dat ons oorgevoelig moet wees vir korreksie nie. Let op hierdie kosbare raad: “Jy moet ook nie let op al die woorde wat die mense spreek nie, sodat jy nie hoor dat jou dienaar jou vloek nie. Want jou eie hart weet ook van baie gevalle dat jy self ook ander gevloek het” (Prediker 7:21-22).

Salomo herinner ons aan ’n algemene feit van die menslike natuur – ’n feit wat ons behoort te help om baie meer genadig teenoor ander te wees, indien ons dit reg verstaan. Indien mense iets kwetsend van jou sê, dink daaraan om hulle te vergewe – net soos jy hulle vergifnis sou wou hê as hulle elke onvriendelike woord kon hoor wat jy van hulle gesê (of gedink) het! As Christene verstaan ons hoe nodig ons God se genade en goedertierenheid het. Dit behoort ons te motiveer om nie toe te laat dat “ons gevoelens seergemaak word” deur iemand anders se woorde nie.

Om “leerbaar” te wees, beteken nie om angstig te wees oor elke onvriendelike woord wat jy van ’n ouer of gelyke mag hoor nie. Dit beteken om eerlik met jouself oor jouself te wees. Dit beteken dat jy daarna sal streef om die persoon te wees wat God wil hê jy moet wees, selfs al vereis dit soms pynlike verandering. God beskik oor ’n volmaakte, heilige en regverdige karakter – niks en niemand kan selfs naastenby met Hom en Sy heerlikheid vergelyk word nie. Nogtans wil Hy graag Sy eie karakter in jou ontwikkel!

Hy kan egter net Sy karakter in diegene wat nederig en ontvanklik vir teregwysing is ontwikkel. “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes” (Jesaja 57:15). Hy bevestig dit wanneer Hy sê: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2).

Uiteindelik sal slegs diegene wat bereid is om te leer, die Koninkryk van God binnegaan. Leer dus om baie waarde te heg aan teregwysings en om daardeur te groei! Die belonings is beslis die moeite werd: “Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd” (1 Petrus 5:6)!