http://www.wvm.co.za/bybelstudiekursus_les.php
logo

Die Bybel: ’n Boek vir Vandag!

Van die Redakteurs...

As u gereeld na die Tomorrow’s World en Wêreld van Môre-radioprogramme luister en die Tomorrow’s World en Wêreld van Môre-tydskrifte lees, sal u beslis weet dat u ’n bietjie “anders” is as die meerderheid mense in hierdie wêreld wat nie gretig is om uit vind WAAROM hulle hier is nie, en nie wil WEET wat die Bybel regtig leer nie.

U het egter hierdie kursus aangevra omdat u meer wil leer. Miskien is u een van diegene wat in hierdie tydperk deur God geroep word en getrou aan Hom sal bly – selfs te midde van hierdie sondige samelewing (Mattheus 22:14; Openbaring 17:14).

Die eerste les in hierdie kursus is opgestel deur mnr. John Ogwyn, ’n evangelis en leraar vir baie jare. Moontlik het u al van sy artikels in die Wêreld van Môre-tydskrifte gelees. Mnr. Ogwyn het waarlik ’n gawe om God se Waarheid op ’n vars en lewendige wyse voor te sit om u te help om die geheimenisse van die Bybel te verstaan. Hy sal die hoofskrywer van die grootste deel van die kursus wees en ons is seker u gaan sy gawes as leermeester geniet – en baat daarby vind.

Mnr. Ogwyn kan egter nie al die werk vir u doen nie. Tensy u u Bybel gebruik en die skrifture wat hy aanhaal self opsoek, sal u nie vir uself die kosbare waarhede van die Bybel beproef nie. God wil hê Sy volk moet soos die Beréane wees, want “hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (Handelinge 17:11).

Vir sommige van u wat hierdie kursus begin, is God se Waarheid iets nuuts. Andere van u mag in die Waarheid grootgeword het, maar u het dalk nog nooit die geleentheid benut om vir uself te beproef wat u geleer is nie. Dan is daar ook dié van u wat eenvoudig ’n geleentheid wil hê om te versterk wat u alreeds weet. Ongeag van u agtergrond, gaan hier­die kursus u ’n geleentheid bied om te LEER en te GROEI – maar u gaan slegs daar uitkry wat u insit.

Diegene wat al voorheen kursusse soos hierdie gevolg het, beweer dat hulle die Waarheid die beste geleer het deur elke aangehaalde skriftuur woord-vir-woord uit te skryf. ’n Paar het verkies om selfs die vrae ook uit te skryf – bo en behalwe die skrif­ture en antwoorde op elke vraag. Dit klink dalk na baie moeite, maar die Bybel leer dat God diegene wat Hom soek .... [party vertalings sê, “ywerig soek”] ... sal beloon (Hebreërs 11:6). Namate u uself op die lesse toelê, sal u vind dat u studie en gebedslewe verryk sal word en u nader aan God sal wandel terwyl u Sy weë en Sy plan vir u en die ganse mensdom leer. Wat kan tog meer lonend wees en u tyd en aandag meer waardig wees?

Ons hoop en bid dus dat u hierdie kursus met YWER sal aanpak terwyl u u begrip van God se kos­bare gawe aan die mensdom – die Bybel – verdiep.

Inleiding

Hoe u by hierdie Bybelstudiekursus kan baat ...

Kan ’n mens werklik die Bybel verstaan? Die blote feit dat u hierdie Bybelstudiekursus aan­gevra het, wys dat u die Bybel wil verstaan. Hierdie publikasie is juis ontwerp om u te help om dit te doen. Indien u hierdie kursus behoorlik ge­bruik in die maande wat voorlê, waarborg ons dat u vermoë sal toeneem om die Bybel en sy lewens­belang­rike boodskap te verstaan.

Waarom die Bybel Bestudeer?

Die Bybel is al verbrand, verban en geïgnoreer. Geleerdes het al gepoog om die waarde daarvan te verkleineer. Sommiges het selfs beweer dat dit net uit “koddige” prosa bestaan en geen bruikbare doel dien nie. Tóg verdwyn dit nie!

Dit is die eerste boek wat ooit gedruk is, deur Gutenberg in 1456 en jaar na jaar bly dit steeds die wêreld se top­verkoper. Dit het ’n ontsettende invloed op die Westerse kultuur gehad en is in meer tale en dialekte vertaal as enige ander boek. En tog, ten spyte hiervan, word die Bybel deur weinig mense gelees en deur byna niemand werklik verstaan nie!

Waarom behoort die Bybel nog steeds in vandag se moderne wêreld gelees en bestudeer te word? Hoe kan hierdie antieke Boek werklik vandag nog van toe­passing wees? In die loop van hierdie les gaan ons sien dat die Bybel selfs moderner as vandag se koerante is!

Waarom is die Bybel nog relevant? Om dit eenvoudig te stel – die Bybel is die Skepper se “Instruksieboek” – en Sy in­struksies is altyd van toepassing. Toe God die heelal geskape het, het Hy dit ingestel met ’n stel beginsels wat alles daarin beheer, insluitend menslike lewe. Die beginsels of wette wat mens­like lewe beheer, is net so betroubaar as die wette wat fisika beheer!

Die Bybel openbaar nie slegs die uni­versele beginsels van menslike gedrag en verhoudings nie, dit openbaar ook die Skepper se groot meesterplan. Mense kyk na die pyn en lyding wat in hierdie wêreld aangaan en wonder: Waaroor gaan die lewe nou eintlik? Wat lê voor as hierdie tydelike fisiese bestaan ten einde loop? Die Bybel is die enigste bron wat die groot doel waarom ons gebore is openbaar!

Die Bybel spreek die werklike groot vraagstukke van die lewe aan, verduidelik die uiteindelike lotsbestemming van die mensdom, en sê nog boonop ook vir ons waarheen ons in vandag se wêreld op pad is. Bybelprofesie maak die ware betekenis van vandag se nuus-opskrifte duidelik.

Behalwe die feit dat die Bybel inligting bevat wat vandag absoluut toepaslik op ons is, is dit ook bewysbaar as God se geïnspireerde Woord. Die feite van ver­vulde profesie, inhoudsooreenstemming van die boodskap en die deurvlegte pa­troon, dra alles by om die Bybel as God se Boek te bewys.

Ten spyte van wat baie mense dink, kan die Bybel wél verstaan word. As u die Bybel se boodskap ter harte neem en strewe om dit toe te pas, sal dit u huidige lewe verander en u tot die ewige lewe lei. Dit is God se Boek en dit bevat die woorde van die lewe.

Die Wêreld van Môre Bybel­studie­kursus is ontwerp om u ’n kans te gee om u begrip van die Bybel te verdiep en die toename van daardie begrip te meet. Elke les wat u ontvang, dek verskillende onder­werpe wat lewensbelangrik vir u en u begrip van die Bybel is. Daar volg ook ’n oorsig en toets na elke vierde les.

Hoe kan u dan die meeste by hierdie kursus baat? Eerstens moet u besef dat dit ontwerp is om slegs ’n instrument of gids te wees in u studie van God se Boek, die Bybel. Om waarlik die Bybel se lering oor ’n onderwerp te verstaan, moet u die skrifture self lees. Dit is van uiterste belang dat u letterlik elke enkele skriftuur OPSOEK wat in die les genoem word. Op hierdie manier kan u self sien wat die Bybel eintlik sê, en u kan dit in die regte konteks lees. Navorsing het bewys dat hoe meer van ons sintuie ons inspan, hoe dieper is ons begrip. Hierdie kursus is ontwerp om u nie net oor die Bybel te vertel nie, maar om die gewoonte in u te ontwikkel om die antwoorde vir uself op te soek. So­doende sal u die gewoonte aan­kweek om die Skrif te deursoek en antwoorde te vind op die lewe se werklike groot vraagstukke.

Ons is almal gewoontemense. Bou die gewoonte van konsekwentheid in u Bybel­studie in deur ’n tyd van die dag te kies en ’n plek waar u kan konsentreer. Probeer dan om ’n spesifieke tyd elke dag opsy te sit, minstens 20 of 30 minute, wat u op hierdie kursus kan bestee om in die inhoud van u eie Bybel te kan delf. Kry u notaboek, u Bybel (ons beveel oor die algemeen die 1933 Afrikaanse Vertaling aan, maar maak gerus ook van ander vertalings gebruik as u kan), ’n woorde­boek en enige ander Bybelstudie hulp­middels gereed, sodat u net kan gaan sit en begin studeer. Ons raai u aan om al die lesse in ’n lêer te bêre, tesame met u notas waarin u die Bybel se antwoord op elke vraag neergeskryf het, asook u eie gedagtes en kommentare.

In hierdie kursus sal ons somtyds kommentare en verduidelikings van teg­niese punte insluit. Hierdie bykomende inligting, tesame met paslike artikels en boekies wat gratis in elke les aangebied word, is bedoel om u begrip van elke onderwerp wat u gaan bestudeer, te verbeter.

Sleutels tot Begrip van die Bybel
Die belangrikste sleutel tot begrip van die Bybel is gesindheid! Jesaja 66:2 (vergelyk ook Jes. 57:15) verduidelik dat God met diegene werk wat ’n nederige, bekeerde gees het. Ons moet leerbaar wees en ons moet ontsag vir God hê, asook die begeerte om deur Hom tereggewys te word. Spreuke 9:10 wys ons dat die vrees van God [letterlik ontsag, respek, en diep eerbied vir God], die beginplek is om wysheid te bekom.
’n Tweede sleutel is gehoorsaamheid aan God. Psalm 119:98, 104, en 166 verduidelik dat diegene wat God se Gebooie onderhou, wys en verstandig word. Deur daagliks die beginsels van God se wet in ons besluite en keuses toe te pas, neem ons toe in geestelike volwassenheid (Hebreërs 5:12-14).
’n Derde, baie belangrike sleutel om die Bybel te begryp, is om spesifieke verse in die konteks van die res van die Bybel te verstaan. Die apostel Petrus verduidelik in 2 Petrus 1:20-21 dat geen profesie van die Skrif ’n saak van “eie” uitlegging is nie. God inspireer die hele boek en een vers oor ’n onderwerp moet verstaan word in die lig van ander verse oor dieselfde onderwerp. Net soos meeste onderwerpe, is kennis van die Bybel aanvullend en moet opgebou word deur “gebod op gebod” en “reël op reël” (Jesaja 28:10).
’n Vierde sleutel is dat ons met die eenvoudige, duidelike verse oor enige onderwerp moet begin. Hulle sal ons dan help om die “moeiliker” of onduideliker skrifture te verstaan. Byvoorbeeld, Petrus verduidelik in 2 Petrus 3:15-16 dat Paulus sommige dinge geskryf het wat swaar was om te verstaan en dikwels uit verband verdraai is. As twyfel ontstaan oor ’n vers, lees dit in meer as een vertaling en gebruik ’n woordeboek om betekenisse en gebruike beter te kan verstaan.

Ons wens u alles van die beste toe terwyl u een van die lewe se lonendste en opwindendste reise onderneem. Dit is ’n reis wat u tot ’n dieper begrip van God se openbaring aan die mens sal lei, tot ’n voller waardering vir Sy groot plan en doel vir die ganse mensdom, asook vir u persoonlik.


Les 1, Deel 1

Die Bybel: ’n Boek vir Vandag!

Baie mense dink die Bybel is net ’n ou boek wat praat oor dinge wat lank gelede gebeur het met mense wat lank gelede geleef het. Hoe is die Bybel van toepassing op ons moderne wêreld aan die begin van ’n nuwe eeu? Is dit moontlik dat die Bybel praat oor toestande in ons tyd?

Jesus Christus was die grootste nuusberiggewer van alle tyd! In plaas van net oor gister se nuus te praat soos gewone nuusberiggewers, het Hy môre se nuus vooruit aan­gekondig. Hy het die wêreldtoestande in die jare net voor Sy wederkoms beskryf. Dit is wan­neer Hy gaan terugkom na hierdie aarde om die Koninkryk van God te kom vestig. Die Bybel is baie meer as ’n boek vol antieke verhale en gedigte; dit is ’n lewens­belangrike boek vir vandag.

  1. Is daar ooit aan Daniël gesê dat sy geskrifte nie vir sý dag bedoel was nie, maar geseël sou bly tot die eindtyd toe? (Daniël 12:9).
  2. Wie, in die eindtyd, sou verstaan wat Daniël geskryf het? (Daniël 12:10).
  3. Wat sê Salomo vir ons in Spreuke 9:10 is die beginsel (of beginpunt) van die wysheid?
  4. Slaan Spreuke 8:13; 15:33 en 16:6 na vir die Bybelse ver­duideliking van “die vrees van die Here”. (Nota: Die woord “vrees” in hierdie konteks verwys hoof­saaklik na ontsag, nie bangheid nie.)
  5. Psalm 119:98, 104 en 166 gee vir ons ’n belangrike sleutel tot die begrip van God se Woord. Wat is dit?
  6. Het Christus se dissipels Hom ooit uit­gevra oor “die einde van die wêreld?” Lees Mattheus 24:3. (Nota: Die Griek­se woord wat hier as “wêreld” weerge­gee word, kan ook as “eeu” of “tyd­perk” vertaal word. Daar is ook twee ander woorde wat in die Nuwe Testa­ment as “wêreld” vertaal word: kos­mos, wat na die samelewing verwys en oikoumene, wat na die aardbol verwys.)
  7. Ken God die toekoms? Openbaar Hy daar­die kennis in Sy Woord? Lees Jesaja 46:9-11.
  8. Wou Christus hê Sy dienaars moes weet wanneer Sy wederkoms na hier­die aarde naby is? Sien Mattheus 24: 32-33.
  9. Het die apostel Paulus verwag dat die Dag van die Here ware Christene on­verhoeds sou betrap soos “’n dief in die nag”, of sou hulle toegang hê tot inligting wat hulle in staat sou stel om die algemene tye waarin hulle lewe, te verstaan en nie heeltemal verras te wees daardeur nie? Sien 1 Thessa­lonicense 5:1-5, veral vers 4.
  10. Wat van die presiese tyd? Is dit iets wat God alleen sal weet? Sien Mattheus 24:36.

Die Indeling van die Bybel

Die geïnspireerde volgorde van die Bybelboeke is nog in die Hebreeuse en Griekse manuskripte bewaar. Die volgorde in ons moderne vertalings is egter ver­ander en die goddelike patroon van indeling is dus nie so duidelik sigbaar daarin nie.

Die Ou Testament bestaan uit drie dele en die Nuwe Testament uit vier. Dit maak ’n totaal van sewe – die nommer wat God dwarsdeur die Skrif gebruik om volledigheid en volmaaktheid aan te dui. Die Jode het in die ou tyd die boeke van die Ou Testament getel as 22. As dié 22 boeke by die 27 van die Nuwe Testament gevoeg is, is dit ’n totaal van 49 – sewe maal sewe. Die indeling van hierdie merkwaardige Boek getuig duidelik van God se hand daarin.


Les 1, Deel 2

Verteenwoordig die Bybel Eenvoudig net die Mens se Soektog na God?

Wat is die Bybel werklik? In teenstelling met die uitlatings van die kritici, maak die Bybel aanspraak daarop om, nie slegs die mens se soektog na God nie, maar eerder God se openbaring aan die mens te wees! Dink daaraan. Sou ’n liefdevolle God dan nie wou hê u moet van Hom weet nie? Hier aan die begin van u studie van die Bybel deur hierdie kursus, gaan ons eers kyk na watter aansprake die Bybel eintlik maak.

Is die Bybel geïnspireerd? Is dit histories akkuraat? Kom ons verstaan duidelik wat die Bybel oor die Bybel openbaar.

  1. Waar, sê Paulus in 2 Timotheus 3:16, het die Skrif ontstaan?
  2. Wat beteken die woord “ingegee”? (kyk in die woordeboek op). Nota: Die oor­spronklike Griekse woord is theo­pneustos, en beteken letterlik “deur God geasem”.
  3. Hoeveel van God se Woord moet ons van lewe, volgens Jesus Christus in Mattheus 4:4?
  4. Wat sê Christus in Sy gebed in Johan­nes 17:17, sal God se mense heilig maak, of uitsonder? Waar vind ons God se waarheid?
  5. Is die Genesis skeppingsverhaal waar? Wat sê Psalm 119:160 oor die hele Woord?
  6. Het Jesus Christus persoonlik getuig van die historiese egtheid van Noag en die universele vloed wat in sy tyd plaasgevind het? Sien Mattheus 24:37-39 en ook Lukas 17:26-27.
  7. Wat van Jona? Het Christus ooit na die insluk van Jona deur die groot vis verwys as ’n geskiedkundige gebeurte­nis? Sien Mattheus 12:40.
  8. Wat van Adam? Verwys die Nuwe Tes­tament na hom as ’n letterlike, his­toriese man? Watter inligting win ons uit die volgende skrifture? Lukas 3:38; Romeine 5:14; 1 Korintiërs 15:45; 1 Timotheus 2:13; Judas 14.
  9. Die Jode het tradisioneel die boeke van die Ou Testament in drie verdelings bewaar: die Wet, die Profete, en die Psalms. Het Jesus Christus hierdie versameling geskrifte onderskryf as die samestelling van die Skrifte wat in Sy tyd nog bestaande was? Sien Lukas 24:44-45.
  10. Het die skrywers van die Bybel een­voudig hulle eie idees opgeskryf? Let op wat Petrus in 2 Petrus 1:21 openbaar.

Die Wetenskap Kyk na die Bybel

Gedurende die 1960’s en 1970’s is baie argeologiese ontdekkings gemaak wat nuwe lig op die Bybel en sy inhoud gewerp het. Kenners het berig dat hierdie ont­dekkings “... bevestig het dat die Bybel meer histories akkuraat is as wat baie geleerdes gedink het” (U.S. News and World Report, 24 Augustus 1981).

Meeste kritici en geleerdes het lank gelede die verhaal van die vernietiging van Sodom en Gomorra as ’n mite afgemaak. Selfs die bestaan van die betrokke stede is grootliks betwyfel. “Nou glo twee hoogs­aangeskrewe argeoloë, Walter E. Rast en R. Thomas Schaub, dat hulle die oor­blyfsels van daardie stede gevind het, plus die ander drie nedersettings waarna in Genesis verwys word as ‘die stede van die Jordaanstreek’. Die ruïnes lê waar die Bybel aandui hulle sou wees – binne ’n paar myl van die Dooie See af. Boonop blyk dit dat minstens drie van die stede deur vuur vernietig moes gewees het, soos die Bybel sê, “die Here het swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën” (US N & WR, 24 Sep. 1981, bll. 38-39).

Nog ’n ontdekking wat nie net die be­staan van Sodom en Gomorra as histo­riese stede bevestig nie, maar ook lig werp op baie ander Bybelverhale, is die kleitafels van Ebla. Die ou stad van Ebla is opgegrawe in die noordelike deel van wat vandag Sirië genoem word. ’n Italiaanse professor, Giovanni Pettinato, het spyker­skrif tafels wat daar gevind is, vertaal wat handelstransaksies bevat in verband met beide die stede Sodom en Gomorra. Time tydskrif het berig, “Vondse van Ebla mag selfs ’n groter impak hê. Baie liberale Bybelgeleerdes beskou Abraham nie as ’n historiese figuur nie, maar as ’n soort Semitiese Koning Arthur. Hulle siening is dat die verhale van Abraham en die ander voorvaders meer as 1,000 jaar later opge­teken moes gewees het as die gebeure wat hulle voorgee om te beskryf. Nou het daar, uit hierdie wêreld wat die Bybel opgelewer het, bevestiging gekom dat gesofistikeerde en uitgebreide geskrewe kultuur bestaan het lank voor Moses en selfs voor Abra­ham... Na Ebla, sal ons die Bybel as ’n historiese dokument meer ernstig moet opneem” (21 Sep. 1981, bl. 77).

Behalwe inligting oor die voorvaders en die stede van Sodom en Gomorra, is daar boonop ook inligting by Ebla gevind oor die eksodus van Israel uit Egipte. Volgens Hans Goedicke, ’n vooraanstaande Egipto­loog aan die Johns Hopkins Universiteit, is daar by Ebla ’n kleitafel ontdek wat van die eksodus getuig uit ’n Egiptiese per­spektief en boonop ook die datum op om­trent 1475 v.C. vasstel. Hierdie datum is ongeveer twee eeue vroeër as die alge­mene beraming van die geleerdes, alhoe­wel dit ooreenstem met die tydvak wat die Bybel self stel.

Wat van die teorie van meervoudige outeurskap van die tradisionele boeke van Moses? Bybelgeleerde, Professor Yehuda Radday van Haifa se Israel Instituut van Tegnologie berig dat ’n vyf-jaar rekenaar­studie van die boek Genesis bewys dat dit die werk van ’n enkele skrywer is. Prof. Radday en drie van sy kollegas het die woorde van die Hebreeuse teks bestudeer en gekonsentreer op 56 kenmerke van taalgedrag wat buite die bewuste beheer van ’n skrywer is. Uit sy ontleding het hy tot die gevolgtrekking gekom dat Genesis die werk van ’n enkele skrywer was en dat die JEDP-veronderstelling (die teorie wat die hoër kritici versprei dat die boek Gene­sis die resultaat is van meervoudige skry­wers oor ’n tydperk van eeue), verwerp moet word.

So kan ons aanhou en aanhou feite opnoem. Maar as ons die lig van weten­skaplike ondersoek op die Bybel rig, dan vind ons dat dit die kritici is wat kortkom, nie die Bybel nie

’n Kaart van die Bybel
Die Ou Testament       Die Nuwe Testament  

I. DIE WET
1    Genesis
2    Eksodus
3    Levítikus
4    Numeri
5    Deuteronomium

II. DIE PROFETE 
6    Josua – Rigters
7    Samuel – Konings
8    Jesaja
9    Jeremia
10   Esegiël
11   Die Twaalf 
“Klein” Profete

III. DIE GESKRIFTE
12    Psalms
13    Spreuke
14    Job
15    Hooglied van Salomo
16    Rut
17    Klaagliedere
18    Prediker
19    Ester
20    Daniël
21    Esra – Nehemia
22    Kronieke

  

IV. DIE EVANGELIES & HANDELINGE
1    Mattheus
2    Markus
3    Lukas
4    Johannes
5  Handelinge

V. ALGEMENE SENDBRIEWE
6    Jakobus
7    1 Petrus
8    2 Petrus
9    1 Johannes
10   2 Johannes
11   3 Johannes
12   Judas

VI. PAULUS SE SENDBRIEWE
13    Romeine
14    1 Korintiërs
15    2 Korintiërs
16    Galasiërs
17    Efesiërs
18    Filippense
19    Kolossense
20    1 { Thessalonicense 
21    2 { Thessalonicense 
22    Hebreërs
23    1 Timotheus
24    2 Timotheus
25    Titus
26    Filemon

VII. PROFESIE
27    Openbaring


Les 1, Deel 3

Is die Ou Testament Vandag Nog Van Toepassing?

Die Ou Testament beslaan tweederdes van die hele Bybel. Hoe toepaslik is dit vandag op ons? Sommige mense sê die enigste waarde wat die Ou Testament het, is die geskiedkundige opskrywings wat dit bevat, of dalk die inspirerende poësie daarin. Wat dink u? Behoort die Ou Testament op dieselfde wyse bestudeer te word as die Nuwe Testament? Hoe is hierdie twee dele van die Bybel, die Hebreeuse Skrif en die Griekse Skrif, onderling verbind?

Dit is belangrik om die Bybel se antwoord op hierdie twee basiese begrippe te ver­staan voordat ons veel verder in ons studie van God se Woord, die Heilige Skrif, vorder.

  1. Lees weer 2 Timotheus 3:14-17. Watter Skrifte het nog in Timotheus se kinder­jare bestaan? (Nota: Die Nuwe Tes­tament was nog in die proses om geskryf te word tydens Timotheus se volwassenheid!)
  2. Het Paulus vir Timotheus vertel dat die (Ou Testamentiese) Skrifte nuttig is vir lering, sowel as teregwysing, en onder­wysing in die geregtigheid?
  3. Hoe definieer die Bybel geregtigheid? (Verwys Psalm 119:172).
  4. By wie het die gebooie van die Ou Testament ontstaan – by Moses of by God? Let op die volgende skrifture: Eksodus 19:7; 20:1; 24:4, 12; Levítikus 26:46, Deuteronomium 4:5.
  5. Wat omtrent die voorbeelde wat in die Ou Testament opgeteken staan? Is hulle ook van toepassing op ons van­dag? Wat het Paulus hieroor gesê in 1 Korintiërs 10:6, 11?
  6. Bevat die Ou Testament inligting oor saligheid deur Christus? Sien 2 Timotheus 3:15.
  7. Het die Ethiopiese hofdienaar die bood­skap van saligheid in die Ou Testa­ment gevind? Sien Handelinge 8:27-35.
  8. Kon hy die Ou Testament ten volle verstaan sonder die bykomende open­baring van die Nuwe, wat hy deur die direkte verklaring van Filippus ont­vang het? Let op Handelinge 8:35.
  9. Alhoewel die Jode die Ou Testament openbaring bewaar het, verstaan hulle werklik die volle boodskap daarvan? Let op Paulus se verklaring in 2 Korin­tiërs 3:14-18.
  10. Wat het Jesus Christus kom doen in verband met die Ou Testament? Sien Mattheus 5:17. (Nota: Die Griekse woord vir “vervul”, pleroo, word ook in Efesiërs 3:19 gebruik: “... sodat julle vervul kan word ...” Pleroo word egter as “vol” vertaal in Mattheus 13:48, en Lukas 2:40: “... vol van wysheid” – ook op sommige ander plekke).

Bybel Manuskripte en Vertalings

Die eksemplare van die Bybel wat ons in Afrikaans en Engels bestudeer, is ver­taal uit die oorspronklike tale waarin die Bybel geskryf is. Die Ou Testament is uit Hebreeus vertaal en klein deeltjies van die latere boeke uit Aramees, ’n Hebreeus-verwante taal. Ons Nuwe Testament is uit die Griekse Skrifte vertaal.

God het die Ou Testament Skrifte aan die Joodse gemeenskap toevertrou vir be­waring (Romeine 3:1-3). Skrifgeleerdes wat Masorete genoem is, het dit getrou bewaar in handgeskrewe manuskripte. Die ampte­like teks wat die Jode bewaar het, word die Masoretiese teks genoem.

Daardie skribas van ouds het alles in hul vermoë gedoen om die juistheid van die teks te bewaar. Hulle het selfs al die woorde en letters getel. Hulle het, byvoor­beeld, geweet watter woord en watter letter in die middel van ’n gegewe boek was. Wanneer hulle handgeskrewe kopieë van ’n boek gemaak het, het hulle die woordetal en lettertal noukeurig vergelyk om te verseker dat nie soveel as een letter in die teks verskil het nie. Jesus Christus het getuig van hul versigtigheid in hierdie opsig toe hy in Mattheus 5:18 gesê het, “nie een jota of een titteltjie van die wet [sal] ooit verbygaan” nie. Die “jota” verwys na die letter yod, die kleinste letter van die Hebreeuse alfabet, wat soos ’n afkapteken lyk. Die “titteltjie” verwys na die versier-krulletjie aan sekere letters van die He­breeuse alfabet.

Die gesaghebbende Hebreeuse teks is dié wat amptelik deur die Joodse gemeen­skap bewaar is, nl. die Masoretiese teks. Dit is in antieke tyd op fyn perkament ge­skryf wat van spesiaal behandelde skaap­vel gemaak is. Hierdie tekste is met die hand oorgeskryf deur deeglik opgeleide skribas en in boekrolle bewaar. Alhoewel baie sektes hulle eie kopieë van die Skrifte bewaar het, verdien nie een van hulle die­selfde ontsag as wat die amptelike Masore­tiese teks toekom nie.

Ons Nuwe Testament is finaal saam­gestel deur die apostel Johannes net voor sy dood teen die einde van die eerste eeu. Ten tye daarvan was hy in Efese woon­agtig, ’n Griekssprekende stad naby die westerse kus van ou Klein-Asië (moderne Turkye). Hierdie is dieselfde stad wat deka­des vroeër as bewaarplek gedien het vir die kopieë van Paulus se geskrifte (2 Timotheus 4:13, 21). Dit is ook die stad wat in Openbaring 2 gebruik is om die hele eerste stadium van God se Kerk uit te beeld. Die Griekse manuskripte, wat in Klein-Asië ontstaan het, word deur moderne geleerdes as die Antiocheense of Bisantynse tipe geklassifiseer. Hierdie was die teks wat in die Griekse wêreld gebruik is, wat ietwat verskil van die Westerse en Alexandriese tipes wat in Rome en Egipte bewaar is.

Afskrifte van die Bisantynse tekste is na die weste gebring deur geleerdes wat gevlug het van die Turkse inval in die 15de eeu. Ná die val van Konstantinopel in 1453, het baie van hierdie Griekse geleer­des (asook die manuskripte wat hulle met hul saamgebring het) hulle in die omge­wing van Basel, Switserland bevind. Dit is uit hierdie manuskripte waaruit gedrukte tekste van Erasmus (1516) en Stephens (1520) basies ontstaan het. Stephens se teks was bekend as die Textus Receptus (Teks Ontvang) en was vir ongeveer drie eeue die aangenome standaard van die Griekse Nuwe Testament.

Bybelvertaling het in die laaste deel van die negentiende eeu ’n verandering onder­gaan as gevolg van die wydverspreide aan­vaarding van die evolusieteorie en die intrede van hoër kritiek in geleerde kringe. Bybelgeleerdes het die idee dat die Bybel bonatuurlik geïnspireer en bewaar was, verwerp en besluit dat die oudste manuskripte, ongeag hulle bron, nader aan die oorspronklike moes wees en dus meer akkuraat moes wees. Hulle het toe besondere geloofwaardigheid aan tekste en teksbrokkies verleen wat voorheen as min­derwaardig beskou is. Meeste twintigste-eeuse Bybelvertalers het tekste gebruik waarvoor ondersteuning gewerf is deur die hoër kritici, en die lesings van amptelik be­waarde tekste afgeskuif tot voetnotas.

Die Authorised Version of King James Engelse vertaling het eers in 1611 ver­skyn, na ’n sewe-jaarlange taak deur 54 geleerdes. Dit is grotendeels uit die Maso­retiese grondteks en die Griekse Ontvang­de Teks vertaal, wat op die werke van vroeër geleerdes soos William Tyndale staatgemaak het. Alhoewel daar ’n paar ooglopende foute voorgekom het, byvoor­beeld die gebruik van “Easter” [“paasfees”] in plaas van “Passover” as vertaling van die Griekse pascha in Handelinge 12:4, het die King James vertalers gestrewe om nou­keurig getrou te wees aan die tekste tot hulle beskikking.

Die grootste probleem met die King James Version vir baie moderne lesers is die gebruik van ou-Engelse woorde wat nie meer in gebruik is nie (bv. thee en thou). Sommige woorde het ook deur die eeue van betekenis verander vandat vertaling begin het. Die New King James Version wat in 1982 voltooi is, het die teks gemoderniseer sonder om die juistheid en mooiheid van die oorspronklike teks prys te gee. Om daardie rede gebruik ons gewoonlik die New King James Version in die Tomorrow’s World program en tydskrif.

In ons Afrikaanse radioprogram Die Wêreld van Môre en in ons Afrikaanse leesstof, verkies ons die 1933 Vertaling bo die Nuwe Afrikaanse Vertaling, aangesien dit meer getrou aan die oorspronklike tekste is.

Baie ander twintigste-eeuse vertalings gee voorkeur aan manuskripte wat deur die hoër kritici verkies word. Alhoewel die oorgrote meerderheid van die inhoud van al die manuskripte dieselfde is, is daar nogtans ’n paar noemenswaardige verskil­le in sekere geskrifte. Al is hierdie ver­talings soms nuttig, moet hulle nie ge­bruik word om leerstellings vas te stel waar hulle van die 1933 Afrikaanse Ver­taling en die Engelse King James Version verskil nie.

Baie vertalings is eintlik net omskry­wings. Met ander woorde, hulle verteen­woordig die skrywer se poging om die teks te vereenvoudig deur dit in sy eie woorde in hedendaagse taal om te sit. Alhoewel hierdie weergawes dikwels makliker lees, is hulle nie betroubaar vir die studie van tegniese onderwerpe of om leerstellings vas te stel nie.


Les 1, Deel 4

Die Inligtingsboek

Hierdie tydvak waarin ons lewe, word dikwels die Inligtingseeu genoem. Daar is ’n ongeëwenaarde hoeveelheid inligting beskikbaar oor skynbaar elke onderwerp. Maar tog, in teenstelling met die mens se skynbare vermenigvuldiging van kennis en inligting, het sy probleme en moeilikhede ook vermenigvuldig. Een van die hoofredes hiervoor is dat God se openbaring toenemend bestempel is as ontoepaslik in ons moderne wêreld.

In werklikheid bevat die Bybel die kosbare kennis van saligmaking en God se groot plan vir die mensdom, en boonop ook nog baie ander belangrike onderwerpe. Dit bevat inligting oor die lewe en liefde, oor gesondheid en geluk, en dek elke aspek van menslike lewe en verhoudings, ten minste in beginsel. Sommige dinge word deur direkte bevele oorgedra, terwyl ander deur voorbeelde of openbaarde beginsels van wysheid geleer word. Ons gaan nou dele van hierdie verskeidenheid inligting in die Bybel van nader betrag.

  1. 1. Waarom, volgens Deuteronomium 6:24, wil God hê ons moet Sy wette gehoorsaam? Sien ook Deuterono­mium 5:29, 32-33.
  2. 2. Hoe het Jesus God se wet in Mattheus 22:36-40 opgesom? (Nota: Die eerste vier van die Tien Gebooie sê vir ons hoe om God lief te hê, terwyl die laaste ses ons sê hoe om ons naaste lief te hê).
  3. 3. Wat sê Paulus vir ons in Romeine 7:12 en 14 omtrent die wet? Wat van die gewilde godsdienslering dat geloof in Christus die wet ontoepaslik maak? Sien Romeine 3:31.
  4. 4. Leer die Bybel dat daar gevolge in ons lewe is wat op gehoorsaamheid of on­gehoorsaamheid aan God se wette ge­grond is? Deuteronomium 11:26-28.
  5. 5. Waarom het Salomo die boek Spreuke geskryf? Spreuke 1:1-4.
  6. 6. Mediese geneeshere het in onlangse dekades eers uitgevind dat stres siekte veroorsaak. Het God Salomo duisende jare gelede al geïnspireer om hierdie beginsel te verduidelik in Spreuke 17:22?
  7. 7. Watter praktiese beginsels oor hoe ons ons vriende en metgeselle behoort te kies, word in Spreuke geopenbaar? Sien Spreuke 22:24-25; 13:20; 23:19-21; 6:23-26.
  8. 8. Gee die Bybel lewensbelangrike inlig­ting oor hoe mans en vrouens teenoor mekaar behoort te reageer om geluk in hulle tuiste te bevorder? Sien 1 Petrus 3:1-11.
  9. 9. Mense sal ons soms uitvra oor wat ons glo en waarom. Wat sê 1 Petrus 3:15 vir ons hieroor?
  10. 10. Waarmee vergelyk Paulus ons vermoë om die Bybel se inligting te verteer, in Hebreërs 5:12-14? Hoe, sê hy, ver­beter ons ons geestelike spysver­tering? Let op vers 14.

Praktiese Hulpbronne vir Bybelstudie

Paulus het die Jode in die stad Beréa geloof omdat hulle “elke dag die Skrifte ondersoek [het] of hierdie dinge so was” (Handelinge 17:11). Ons het deesdae ’n verskeidenheid hulpbronne tot ons be­skikking om ons ondersoek van God se Woord baie makliker en geriefliker te maak as wat dit vir daardie eerste-eeuse Beréane was. Hierna gee ons vir u ’n lysie bronne wat van nut kan wees in u Bybelstudie. Onthou asseblief dat hierdie slegs hulpbronne is, en dat hulle nie noodsaaklik is vir die kursus nie.

Bybel Konkordansies

Dit kan soms baie moeilik wees om ’n Bybelvers te vind. Met die hulp van ’n kon­kordansie kan u maklik die skriftuur­plasing van enige woord in die Bybel vind. Sommige konkordansies gee selfs die oor­spronklike Hebreeuse of Griekse woorde aan, hulle korrekte uitspraak, en hul definisies.

As u tweetalig is, is die verskeidenheid hulpbronne natuurlik meer as dubbel, aangesien baie van hulle nie in Afrikaans beskikbaar is nie. Daar is verskeie uit­stekende Bybelkonkordansies in Engels beskikbaar. Strong’s Exhaustive Concor­dance gee ’n lys aan van elke woord in die Engelse Bybel en sê waar dit staan. Boon­op is daar ook ’n Hebreeuse en Griekse woordeboek agterin.

The Englishman’s Greek Concordance of the New Testament en The Englishman’s Hebrew Concordance is albei gekoppel aan Strong’s Exhaustive Concordance. Gevolg­lik kan hulle deur studente gebruik word wat geen kennis van die Griekse of He­breeuse alfabet het nie. Hierdie twee kon­kor­dansies is gebaseer op die gebruik van elke Griekse en Hebreeuse woord, nie slegs op die Engelse woorde waarin hulle vertaal is nie. ’n Verskeidenheid verskil­lende Griekse of Hebreeuse woorde, elk met effens verskil­lende betekenisse, mag almal as een enkele Engelse (of Afrikaan­se) woord vertaal word. Somtyds word verskeie Engelse woorde gebruik om dieselfde Griekse of Hebreeuse term te vertaal. Hierdie konkordansies help om elke teks op te spoor waar ’n spesifieke Griekse of Hebreeuse woord gebruik is, ongeag die Engelse term wat gebruik is om dit te vertaal.

Bybel Atlasse, Woordeboeke en Kommentare

Om die Bybel te ondersoek, kan soos ’n reis na ’n vreemde, nuwe wêreld wees. In u soektog na die waarheid van die Bybel mag u onbekende gebruike teëkom en name van volke en lande hoor wat u nie op enige moderne landkaart kan opspoor nie.

Wie was die Fariseërs en die Sadduseërs? Waarom was die Samaritane en die Jode van Jesus se dag vyande? Waar was die antieke ryke van die Assiriërs, die Babiloniërs en die Perse geleë? Die historiese, geografiese en sosiale agtergrond is baie belangrik om baie vae verse te begryp.

’n Bybel atlas help om antieke volke, stede en ryke op te spoor. Dit sal u die Romeinse wêreld wys waardeur Paulus gereis het en baie kerke gevestig het, of die ligging van die twaalf stamme van Israel gedurende die dae van Josua en die Rigters. Dit is baie nuttig wanneer u probeer om die wêreld voor te stel wat bestaan het voor die tydvakke wat in die Bybel bespreek word.

Bybelwoordeboeke en Bybelkommentare help die antieke sosiale gebruike verduidelik, asook argeologiese ontdekkings en wêreldgeskiedkundige gebeure verbind met gebeure in die Bybel. Ongelukkig is elkeen van hierdie werke egter beperk tot die vooroordele en vooropgesette menings van sy skrywer. As die leser die perspektief verstaan van diegene wat enige gegewe werk voorberei, sal dit die leser in staat stel om behoorlik te kompenseer.

Hier volg ’n lysie van verskillende naslaanwerke wat algemeen beskikbaar is aan Bybelstudente. Die lys bevat nie naastenby al die geskikte werke nie, en dit is ook nie ’n onderskrywing deur Tomorrow’s World/Die Wêreld van Môre van alles wat daarin staan nie. U kan dalk een of meer hiervan vir u persoonlike biblioteek aan­skaf, alhoewel u meeste van hulle in u plaaslike Naslaanbiblioteek behoort te kry.

Engels:
Atlas of the Bible Lands (Hammond, Inc.)
Oxford Bible Atlas (Oxford University Press)
The Dictionary of Bible and Religion (Abingdon Press)
Smith’s Bible Dictionary (Hendrickson Press)
The Interpreter’s Dictionary of the Bible (Abingdon Press)
The New Bible Commentary (InterVarsity Press)
Jamieson, Fausset & Brown Commentary (Zondervan)
The Expositors’ Bible Commentary (Zondervan)
Soncino Books of the Bible (Soncino Press, Old Testament only).

Afrikaans:
H.A.T. Verklarende Hand Woordeboek van die Afrikaanse Taal (Odendaal, Schoonees, Swanepoel, du Toit, Booysen) Uitg.: Perskor
Reader’s Digest Afrikaans/Engelse Woor­de­boek
Tweetalige Woordeboek (Bosman, Van der Merwe, Hiemstra) Uitg.: Tafelberg
Afrikaanse Bybel Konkordansie (Mijn­hardt) Uitg.: J.L. van Schaik

^