Die Verenigde State het sy militêre mag en nasionale aansien aan ’n teenstrydige oorlog in Irak gewy, maar dinge vorder nie soos beplan nie. Wat sal die gevolge wees as die VSA in sy verklaarde missie faal om ’n moderne demokratiese staat in Iran te vestig?


In April 2003 het ’n militêre koalisie, hoofsaaklik gelei deur die magte van die Verenigde State, Saddam Hussein as heerser in Iran verwyder. Beleidmakers het gehoop om sy Baathistiese tirannie met ’n Irakse demokratiese staat te vervang wat sou kon dien as ’n ligpunt van moderniteit in die Midde-Ooste en ’n teenwig kon wees teen die toenemende mag van radikale Islam in daardie gebied. Gedurende daardie tyd het die VSA se regering ook die noodsaaklikheid om wapens van massavernietiging te verwyder, as ’n rede vir die inval aangegee. Humanitêre motiewe het die hoop om die bevolking van Irak te bevry van ’n moorddadige diktator en om as ’n teenvoeter te dien teen die groeiende terroristiese bedreiging, ingesluit.

Nou, bykans vier jaar later, vra baie mense hulself af: “Was dit die moeite werd?” “Kan dit nog werk?” Min mense vra die dieper vrae, soos: “Wat doen die VSA in Irak uit ’n strategiese en historiese oogpunt?” Nog minder – veral in die VSA – verstaan dat dit Europa is, nie die VSA nie, wat die meeste op die spel het in Irak.

Vroeër hierdie jaar, in sy 10 Januarie toespraak aan die nasie, het President George W. Bush sommige van die gevolge van ’n mislukking in Irak uitgelig: “Radikale Islamitiese ekstremiste sal toeneem in mag en nuwe rekrute verwerf. Hulle sal in ’n beter posisie wees om gematigde regerings te laat tuimel, chaos in die gebied te veroorsaak en die oliereserwes aan te wend om hul eie ambisies te bevorder. Iran sal daardeur aangemoedig word in sy strewe na atoomwapens. Ons vyande sal ’n veilige hawe hê vanwaar aanvalle op die Amerikaanse volk beplan en geloods kan word. Op 11 September 2001 het ons gesien wat ’n toevlug vir ekstremiste aan die ander kant van die wêreld, in die strate van ons eie stede kan aanrig. Vir die veiligheid van ons eie mense is dit noodsaaklik dat Amerika in Irak moet slaag.”

President Bush verstaan dat daar baie op die spel is en dat die VSA belange in ’n stabiele Irak deel. Wat egter, as hy polities of op militêre gebied, “nie in staat is om die taak te voltooi” nie? ’n Mislukking in Irak beteken nie noodwendig ’n militêre nederlaag nie. Toe die Israelies Libanon in 2006 binnegeval het om Hesbolla se groeiende militêre vermoë te verminder, het die Moslemse wêreld die veldtog as ’n oorwinning aan Hesbolla toegejuig – selfs toe Hesbolla baie vegters verloor het en uit die suide van Libanon gedruk is. Slegs die feit dat die Israelse aanval oorleef is, was as ’n sukses gereken.

Indien ’n radikale Islamitiese regering in Irak aan bewind kom nadat die VSA onttrek het, sal die uiteinde vir Irak en die hele Midde-Ooste baie slegter wees as voorheen, selfs sonder ’n militêre nederlaag op Amerika se kerfstok. Is hierdie ’n onwaarskynlike scenario? Moslems het hoofsaaklik, wanneer hulle die geleentheid gegun was om te stem, Islamiete verkies. Indien Irak egter in sektariese chaos verval nadat die VSA onttrek het, sal ’n outokratiese Islamitiese regering weer die orde herstel.

Botsing tussen Europa en Islam

’n Amerikaanse mislukking in Irak sal ook die Europese Unie se siening van hulself en hul verhouding met die Midde-Ooste verander. Maar, om die redes vir hierdie toekomstige Europese vereniging te verstaan, is dit nodig om ook Europa se onstuimige verhouding met Islam oor die laaste 13 eeue te verstaan. Hier volg ’n kort uiteensetting:

571-632 n.C. 
Die lewe van Mohammed.

637 n.C. 
Jerusalem en Sirië deur Moslems verower en die beëindiging van drie eeue van Romeinse heerskappy.

7de en 8ste eeue n.C. 
Mohammed en ander Moslemheersers versprei die Kalifaat (Islamitiese godsdienstige heerskappy) regoor die Midde-Ooste en Noord-Afrika.

711 n.C. 
Spanje word deur Noord-Afrikaanse Moslems binne geval.

732 n.C. 
Moslemse opmars deur Frankryk word gekeer naby Tours (Poiters), nie ver van Parys af nie.

792 n.C.
Suidelike Frankryk word deur Moslem-magte binnegeval.

Laat 8ste – vroeë 9de eeue n.C.
Moslemse verowerings regoor Europa, insluitende Sicilië en suidelike Italië.
Karel die Grote weerstaan die Moslemse leërs in Frankryk en in dele van Spanje. Die aanvang van sewe eeue se oorloë om westelike Europa terug te win.

846 n.C. 
St. Peter se Basilika in Rome deur Moslemse magte geplunder en verwoes.

1095 n.C. 
Die eerste Kruistog bring die Katolieke leërs na die Midde-Ooste om die lande wat in 637 n.C. verloor is, terug te win.

1099 – 1187 n.C. 
Jerusalem vir ’n kort tydjie terug onder Katolieke beheer.

14de – 16de eeue n.C. 
Groot dele van oostelike Europa val voor die magte van die Ottomaanse Turke en kom so onder die Kalifaat.

1492 n.C.
Katolieke magte voltooi die herowering van Spanje; Moslems word uit Granada verdryf.

1683 n.C.
Wenen, Oostenryk, weerstaan die laaste Moslemse beleg; Moslems begin in oostelike Europa terugval.

1718 n.C.
Moslemse magte in Oostenryk en Hongarye verslaan.

Hoe het die Moslems hul oorloë in Europa regverdig? Dit is belangrik om te onthou dat Islam Judaïsme en Christelikheid, alhoewel dit uit dieselfde Abrahamse oorsprong ontstaan het, as ketterye afmaak. Princeton Universiteit se befaamde historikus, Bernard Lewis, skryf: “Uit ’n Moslemse oogpunt, het die Jode en later die Christene, die pad byster geraak en valse leerstellings nagevolg. Albei die gelowe is dus afgeskaf en vervang deur Islam, die laaste en volmaakte openbaring in God se volgorde” (The Crisis of Islam, bl. 44).

Die Moslems sien derhalwe hul duisend jaar lange aanslag op Europa as ’n “heilige oorlog” – ’n djihad. In teenstelling daarmee sien hulle in die agtiende eeu die eeulange strooptogte van Europa in die Midde-Ooste, as “imperialisme”. Lewis merk verder op: “Vir hulle (die Moslems) het die woord imperialisme ’n spesiale betekenis. Dié woord was nooit deur die Moslems van die groot Moslemse Ryke – die een wat eerste deur die Arabiere gestig is en die lateres deur die Turke – gebruik nie, wat groot grondgebiede en volkere verower het om dit in te sluit in die Huis van Islam. Vir hulle is dit heeltemal regmatig vir Moslems om Europeërs te verower en oor hulle te heers, om hulle dus in staat te stel – maar nie te verplig nie – om die ware geloof aan te neem” (ibid. bl. 55).

Dit is dus geen verrassing dat Westerse en Moslemse persepsies van die Kruistogte hemelsbreed verskil nie. Na eeue van Moslemse verowerings was die Arabiese djihadhokgeslaan en toe uiteindelik deur die Europeërs afgeweer. In die Ooste het Bisantynse leërs Konstantinopel teen die Arabiese aanvalle verdedig, terwyl die “Reconquista” vanuit die Weste geleidelik die Moslems uit die Spaanse skiereiland geforseer het. Die Italiaanse skiereiland het as geheel weer onder Katolieke beheer gekom. Gedurende daardie oorloë het Katolieke Europeërs verskeie pogings geloods om Christus se geboorteplek, wat die Moslems in 637 n.C. verower het, vir hulle geloof terug te win. Behalwe vir ’n paar oorwinnings wat van korte duur was, was die Kruistogte bykans ’n totale mislukking. Historikus Lewis lewer kommentaar oor hoe die Kruistogte uiteindelik beskou is: “Belangstelling in die Kruistogte as ’n besondere historiese gebeurtenis, dateer uit die negentiende eeu asook die vertaling van Europese boeke oor die geskiedenis. Sedertdien was daar ’n nuwe persepsie van die Kruistogte as ’n vroeëre prototipe van die uitbreiding van die Europese imperialisme in die Islamitiese wêreld. ’n Meer akkurate beskrywing sou hulle as ’n lank-vertraagde, baie beperkte en uiteindelik baie oneffektiewe reaksie op die djihad uitwys” (ibid. bl. 50-51).

Dit kan aangevoer word dat die Weste eers ’n noemenswaardige oorwinning oor die Kalifaat behaal het nadat die Ottomaanse Ryk na die Eerste Wêreldoorlog verslaan is. Vandag se radikale Moslems wil weer daardie Kalifaat in ere herstel. Daniël Benjamin, ’n nasionale lid van die Veiligheidsraad van die Clinton-administrasie, verduidelik aan ’n onderhoudvoerder, Kwame Holman: “Osama bin Laden en sy volgelinge het beslis ’n ander siening van die heelal as wat ons het ... hulle glo dat hulle gewelddadigheid goddelik gemagtig is. Hulle handel dus ook op ’n bonatuurlike vlak – as u dit so wil stel – en vir hulle is dit al wat belangrik is – die groot stryd om die kalifaat weer gevestig te kry – ’n Moslemse superstaat soos wat dit in die 7de eeu was” (NewsHour, 13 September 2001).

Radikale Moslems glo dit is hul godsdienstige plig om aan Islam die Dar-al-Islam te herstel (die “Huis van Islam” – enige lande wat al ooit voorheen onder Moslem beheer was, insluitende dele van Europa) asook die Dar-al-Harb (letterlik die “Huis van Oorlog” – al daardie nie-Moslemse lande wat deur oorlog onder Islamitiese beheer gebring moet word).

President Bush verkeer onder geen illusie aangaande die doelstellings van die terroriste nie; hy het hulle ambisies duidelik beskryf in ’n toespraak aan die Militêre Offisiere Vereniging van Amerika, op 5 September 2006: “Hierdie kalifaat sal ’n totalitêre Islamitiese Ryk wees wat alle huidige en vorige Moslemlande sal insluit en sal strek vanaf Europa, Noord-Afrika, tot die Midde-Ooste en Suidoos Asië. Ons weet dit, want al Qaeda het ons dit vertel. Ongeveer twee maande gelede het die terroris, Zwahiri – hy is al Qaeda se tweede-in-bevel – verklaar dat al Qaeda beoog om hul heerskappy af te dwing op ‘elke land wat al die tuiste van Islam was, vanaf [Spanje] tot Irak.’ Hy het voortgegaan om te sê: ‘Die hele wêreld is ’n ope veld vir ons.’ ... Luister weereens na die woorde van Osama bin Laden vroeër hierdie jaar: ‘Die dood is verkiesliker as om saam met ongelowiges op hierdie aarde te leef.’”

Strategiese Bedreigings

Tydens die Tweede Wêreldoorlog was Duitse en Japanese fasiste ’n strategiese militêre bedreiging vir die Verenigde State want hulle het groot leërs, see- en lugmagte gehad wat gebiede kon binneval en beset. Gedurende die Koue Oorlog was die Sowjet Unie ’n ware strategiese bedreiging as gevolg van hulle kernwapens, enorme militêre instellings en internasionale veldtogte om militêre en politieke leierskap.

Olieryk Moslem nasies kan seer sekerlik die VSA se ekonomie in gevaar stel deur petroleum-voorsiening te ontwrig. Dit is egter belangrik om te besef dat Islam nie nou ’n groot genoeg weermag tot stand kan bring om die VSA te oorwin nie. Alhoewel terrorisme ernstige ekonomiese en psigologiese skade kan berokken, kan dit nie ’n strategiese bedreiging vir Amerikaanse grondgebied inhou nie.

In teenstelling daarmee het Islam ’n lang geskiedenis as ’n strategiese bedreiging vir Europa, met ’n duisend jaar van militêre invalle en besettings wat strek vanaf die 8ste eeu. Anders as die Amerikaners, het die Europeërs – op Europese grondgebied – eeue van oorloë met Moslems verduur. Die Europeërs begin stadigaan besef dat, gedagtig aan die geskiedenis van djihad in Europa, ’n herstelde Islamitiese Kalifaat weereens ’n strategiese bedreiging vir Europa sal inhou.

Waarlikwaar, Islamiete herinner Europeërs openlik aan hierdie bedreiging. Iran se President Mahmoud Ahmadinejad het die Europese Unie geskok toe hy verlede jaar in die openbaar verklaar het: “Ons het die Europeërs ingelig dat die Amerikaners ver weg is, maar julle is die bure van die nasies van hierdie streek. Ons deel julle mee dat die nasies soos ’n oseaan is wat opwel en as ’n storm losbreek, sal die omvang daarvan nie beperk bly tot Palestina nie en julle mag seerkry. Dit is in julle eie belang om julle te distansieer van hierdie kriminele [Israel]. Dit is ’n ultimatum” (“Almadinejad Does Europe”, Wall Street Journal, 24 Oktober 2006, bl. A18).

Die “Amerikaners wat ver weg is” sal voordeel trek uit ’n sukses van hul beleid in Irak, maar – of dit nou ook al die bedoeling van die Bush-administrasie is of nie – die Europeërs sal by verre die grootste bevoordeeldes wees. Derhalwe, uit ’n strategiese en historiese perspektief, dien die Amerikaanse inval in Irak as ’n voorbehoedende aanval teen Islamitiese radikalisme en die hervestiging van die kalifaat, as ’n volmag vir die Europeërs. Indien die VSA in Irak faal, dan verloor Europa dubbeld. ’n Neerlaag vir die VSA sal nie slegs groter vermoëns aan radikale Islam verleen om op hulle toekomstige sukses in Europa te fokus nie; ’n platgeslane VSA sal minder geneig wees om deel te neem aan enige verdere militêre verbintenisse en die Europese verwagting van Amerikaanse beskerming vir Europa sal verminder of heeltemal verdwyn. Indien die VSA faal, sal Europa geen ander keuse hê as “om alleen te staan” en onderling saam te snoer om hul eie beskerming teen toekomstige Islamitiese bedreigings te kan voorsien nie – net soos hulle dit in vervloë eeue moes doen.

In hierdie klimaat neem die Europese inisiatiewe, soos hulle Snelle Reaksiemag, selfs groter belangrikheid aan. Die EU se Snelle Reaksiemag was in 1999 gestig, maar is nog steeds in sy kinderskoene. Teoreties het die EU aspirasies vir ’n 80,000 man sterk Europese weermag om ’n algemene buitelandse beleid af te dwing. In November 2006 het Pole voorgestel dat die mag 100,000 sterk moet wees, maar hierdie mag funksioneer nog nie op die vlak wat baie Europeërs vir dit in die toekoms beoog nie. Nadat hulle vir lank op NATO vertrou het, sal Europa se magsewewig dramaties verander word deur die totstandkoming van ’n werklike effektiewe EU weermag. NATO was die belangrikste verdediging van Europa sedert die 1950’s en die VSA se militêre mag was die ruggraat van NATO tydens die Koue Oorlog, toe die Sowjet se strategiese bedreiging doeltreffend weerstaan was. EU amptenare voorsien egter al hoe meer die noodsaaklikheid van organisering en befondsing om hul eie militêre instelling te laat herleef. Met die toenemende bewustheid van ’n bedreiging vanuit militante Islam saam met verminderde vertroue in die VSA se beleid en militêre mag, sal die behoefte aan ’n Europese mag slegs toeneem.

Die Europese identiteit

Duitsers, Franse, Italianers en Pole mag hemelsbreed op taalkundige gebied verskil, maar hulle het lank reeds die kulturele eenheid van ’n gemeenskaplike geloof gedeel. Antieke katedrale domineer die landskap in meeste Europese stede. Pous Benedictus XVI het die rol van die Rooms-Katolieke Kerk as ’n saambindende faktor wat Europeërs saamsnoer tot ’n gemeenskaplike kultuur, beklemtoon – ’n tema wat hy geërf het van sy voorganger, Pous John Paul II, wat gesê het: “Die geskiedenis van die vorming van die Europese Nasies hou tred met hul evangelisasie. Gevolglik, ten spyte van die geestelike krisis wat die lewe van die kontinent in ons dae kenmerk, sal sy identiteit ondenkbaar wees sonder Christelikheid ... Slegs ’n Europa wat sy Christelike wortels nie elimineer nie maar dit herontdek, sal in staat wees om die uitdagings van die derde millennium die hoof te bied: Vrede, interkulturele en intergodsdienstige dialoog, die beveiliging van die skepping. Dit word van alle gelowiges in Christus in die Europese Ooste en Weste verwag om hul eie bydrae te lewer deur oop en opregte ekumeniese samewerking” (Regina Caeli, 2 Mei 2004).

Daar is egter ’n toenemende gewaarwording dat hierdie algemene element ondermyn word, nie slegs deur ’n welsynsleer nie, maar ook deur die snelgroeiende Moslem-bevolking in Europa. Soos dit verlede jaar duidelik geblyk het uit die geskil wat ontstaan het nadat tekeninge van Mohammed deur ’n Deense nuusblad gepubliseer was, is baie van Europa se Moslems baie gou om godsdienstige verdraagsaamheid te eis, maar glad nie so gou om dit te gee nie.

In so ’n klimaat het baie wat die Vatikaan se sienswyse van die Europese geskiedenis en kultuur steun, hul beywer vir ’n “Christelike Identiteitsklousule” in die voorgestelde EU Konstitusie. So ’n klousule was uiteindelik uit die laaste konsep-weergawe van die konstitusie gelaat, dus beskou baie Katolieke Europeërs dit as van die Voorsienigheid toe Frankryk en die Nederlande gestem het om die konstitusie te verwerp – en dit dus na die ontwerpersbord teruggestuur het waar die “Christelike Identiteitsklousule” weereens oorweeg kan word.

Die winde van Islamitiese identiteit waai tans deur die Moslemwêreld en daardie wind waai nou in Europa se rigting. Maar, ten aansien van ’n waarneembare kulturele en strategiese bedreiging van Islam, kan daardie selfde winde ’n vernuwing van die Katolieke identiteit na wêreldse Europa bring? Die Vatikaan hoop so!

Nuus vóórdat dit gebeur

Die geskiedenis van Europa kan ons baie oor ons huidige probleme vertel, maar wêreldgebeure kan nog verder geïllustreer word deur die “toekomstige geskiedenis” soos dit deur die Bybel se profesieë openbaar word. God deel aan ons die nuus mee lank vóór dit gebeur. As gevolg daarvan kan gelowige mense huidige gebeure waarneem in die konteks van ’n voltooide verloop van die geskiedenis.

God sê aan die profeet Jesaja: “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: ‘My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal ek doen’” (Jesaja 46:9-10).

Die profeet Daniël voorspel akkuraat die struwelinge waarin ’n reeks heersers betrek sal word om die gebied rondom Jerusalem te beheer. Konings van die Noorde sal stryd voer teen die konings van die Suide. Vanaf Daniël 11:40 spring die profesieë tot net ná ons tyd, na die “tyd van die einde” – die dae teen die einde van hierdie tydperk, net voor die Wederkoms van die Messias. In hierdie verse sien ons ’n heerser suid van Jerusalem wat aan bewind sal kom en baie magtig sal word. Hy sal ’n noordelike mag aanval of met hom “in botsing kom,” ’n mag wat die Bybel uitwys as ’n opvolger van die Romeinse Ryk – ’n Europese moondheid.

“Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei. Hy sal ook kom in die Pragtige Land, en baie sal struikel; maar hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon. En hy sal sy hand uitsteek teen die lande; ook Egipteland sal nie vrykom nie. En hy sal mag hê oor die skatte van goud en silwer en oor al die kosbaarhede van Egipte, terwyl die Líbiërs en die Kusiete sy voetstappe volg. Maar gerugte uit die ooste en uit die noorde sal hom verskrik; daarom sal hy met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref. En hy sal sy paleistente opslaan tussen die see en die berg van die heilige Prag [die berg Sion in Jerusalem]; maar hy sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie” (Daniël 11:40-45).

Sal ’n heringestelde Kalifaat aan ons die geprofeteerde koning van die Suide gee en neem ons nou die voorlopige stappe tot sy opkoms waar? Sal ’n hernude strategiese bedreiging vanuit die Midde-Ooste die Katolieke identiteit en militarisme in Europa laat herleef? Hou aan om u Bybel te bestudeer om hierdie profesieë te verstaan, hou aan om die Tomorrow’s World beeldsending dop te hou en gaan voort om die Tomorrow’s World/Wêreld van Môre-tydskrifte te lees, om op hoogte te bly aangaande hierdie uiters belangrike wêreldgebeure in die konteks van Bybelprofesieë.