God open vir ons deure hier in Noord Carolina, meer as wat ons nog ooit in hierdie huidige werk ondervind het. Ons is uiters dankbaar hiervoor en ons sien uit na die toekoms om ’n ware opmerkbare impak op die wêreld te hê soos wat die tyd verloop.

Tans beweeg profetiese gebeure teen ’n vinniger tempo en in ’n meer breër fundamentele wyse as ooit tevore.

Na meer as 50 jaar se voltyds diens in Christus se bediening, hoop ek ek kan perspektief op die situasie werp. Gedurende die 1950's het ons ’n ernstige droogte beleef wat vir sewe jaar geduur het, maar die nasie was toe baie sterk en het in effek, in sterkte toegeneem. Teen die 1960's, het ’n wydverspreide onsedelikheid toegeneem, meer as ooit tevore in die Verenigde State, toe “Elvis the Pelvis” ’n sensasie geword het, asook later die Beatles en ander skreeuende, ronddraaiende karakters na vore gekom het en ’n gevoel van histerie onder die jong mense veroorsaak het. Sommige van die jeug het dagga gebruik, of ander veel erger dwelms! Nogtans was die nasie sterk as ’n geheel - die VSA se militêre mag was die sterkste in die wêreld.

Na die fiasko van Viëtnam en die “onbehaaglikheid” van die 70's, was die nasie steeds in staat om homself in militêre opsigte te versterk onder president Ronald Reagan, en hierdie dryfkrag het voortgeduur tot die eerste Golf oorlog onder President H.W. Bush. Daarna volg die jare van die Clinton administrasie, toe Amerika se weermag in wese “ruggraatloos” gelaat is en die toename van sedeloosheid versnel het, aangemoedig deur die baie slegte voorbeeld wat “deur die hoogste boom” gestel is. Desondanks het God, in Sy genade, nie toegelaat dat enige buitelandse avonture ons verswak nie, of dat enige sterk vyand ons sedert die heengaan van die Sowjet-Unie Ryk, wat reeds in die ampstermyn van die eerste president Bush gebeur het, ons uitdaag nie.

Nou het die toestand egter definitief reg oor die wêreld versleg so ver as wat dit Amerika en Brittanje betref. Soos wat baie nuusontleders en kommentators verduidelik het, is die algemene minagting en selfs haat teenoor die VSA - tussen honderde miljoene mense in die Midde Ooste, Asië en selfs Wes Europa - besig om toe te neem teen ’n merkbare tempo. Ons huidige president het nog nie tyd gehad om die weermag op te bou ten einde die verskeie uitdagings te trotseer wat ons skynbaar in die gesig staar nie. Ons nasionale skuld is plofbaar, die uitstaande paaiemente is ’n toestand wat skynbaar erger en erger word vir die Verenigde State, en die euro het baie veld gewen teenoor die dollar. Stadig maar seker begin die Europeërs, Asiërs en ander om hulle beleggings te onttrek van die Verenigde State en die gelde oor te plaas na Europa of elders. Selfs nou, terwyl die VSA magte in Irak saamgetrek is, dreig die diktator in Noord-Korea die wêreld met ’n atoombom! Verder mag sommige van die 1.2 biljoen Moslems van reg oor die wêreld opgesweep word om bystand te verleen in verskeie terroriste aanvalle en ander dade wat die trots en aansien van die Verenigde State en sy getroue bondgenoot, Groot Brittanje, ondermyn. Verskeie “geheimsinnige” siektes soos SARS is besig om reg oor die wêreld te verskyn, aardbewings word meer kragtig, kom meer dikwels voor en ’n tekort aan voedsel en ander items in ons winkels mag van tyd tot tyd begin voorkom.

Ek voel dit is my plig as dienskneg van God om julle broers almal te waarsku om te besef - en om u deel te doen om voor te berei, vir beide die geestelike en fisiese noodgevalle wat ons binnekort mag tref!

Ons moet altyd die “groot oorsig” voorspelling onthou van Mattheus 24:6-11. In hierdie verse, beskryf Christus die feit dat daar ’n aantal oënskynlike “klein oorloë” sowel as groter konflikte sal wees wat regstreeks in die Bybel voorspel word. Hy dui aan in Lukas 21:11 dat daar “verskriklike dinge” of soos sommige vertalings dit aangee, “skrikwekkende dinge” - oor ons sal kom asook werklike “groot” aardbewings teen die einde van die tyd. Terselfdertyd sal daar hongersnood en siekte-epidemies wees.

As ons werklik Bybel-gelowige Christene is, sal ons voorberei vir hierdie situasies - insluitend die terroriste aanvalle wat nou klaarblyklik voor die deur is. Mnr. Herbert Armstrong het ons dikwels herinner aan die ou spreekwoord: “God help hulle wie hulself help!” Hy het menige voorbeelde uit eie ondervindings aangehaal, en aangetoon dat - alhoewel God soms bonatuurlik ingryp om ons te verlos - Hy van ons verwag om ons deel te doen om onsself te beskerm, en om wysheid te gebruik. Onthou die voorbeeld van Jesus se stiefvader, Josef. Die woord van God vertel ons dat, nadat Jesus gebore is: “En omdat hulle in ’n droom ’n goddelike waarskuwing ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met ’n ander pad na hul land teruggegaan. En toe hulle teruggegaan het, verskyn daar ’n engel van die HERE in ’n droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak” (Mattheus 2:12-13). Later het God Josef gelei om van Egipte af terug te keer. Dan lees ons dat God Josef weereens gelei het om, wat ons “ontwykende aksie” mag noem, te neem ten einde die jong kind Jesus te beskerm. “En hy het ’n goddelike waarskuwing in ’n droom ontvang en na die streke van Galiléa teruggekeer” (vers 22).

Ons moet almal die oorspronklike voorbeeld van Josef onthou, terug in die land van Egipte, wie gewaarsku was deur God om ekstra voedsel opsy te sit vir die voorspelde hongersnood (Genesis 41:25-57). Klaarblyklik kon God gesê het: “Moenie bekommerd wees of ’n ontwykende aksie neem nie, ek sal julle sommer verlos - ongeag wat gebeur!” Nietemin, die Bybel - wat die gedagtes van God openbaar - dui aan dat God wou gehad het dat Josef en Sy uitverkore volk die ondervinding moes beleef om ekstra eetgoed opsy te sit en leer om hulle deel te doen met die voorbereiding vir ’n toekomstige ramp. Soos die apostel Jakobus skryf “die geloof sonder die werke [is] dood” (Jakobus 2:20).

Dit is beter vir ons om lesse te leer deur hierdie situasies - en beoefen versigtigheid, wysheid en volharding - as wat God ons uit elke moontlike ramp moet “verlos”. God berei ons voor om Sy volle seuns in Sy Koninkryk en familie vir ewig te wees. Ons moet leer om ’n begrip van Sy wil te ontwikkel, en die wysheid om baie verskillende tipe situasies deeglik te kan hanteer. Dan sal ons beter geskik en beter voorberei wees om as konings en priesters te regeer, onder Christus, in die wêreld van môre.

Ons hemelse Vader vertel ons in Spreuke 22:3: “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf”. Vanselfsprekend wil God nie hê ons moet lafaards wees nie, maar dit is ook duidelik dat ’n wyse man of vrou somtyds hom of haarself moet “verberg” - ontwykende aksie neem - of selfs in die geheim neergelaat moet word oor die stadsmuur en “vlug,” soos wat die apostel Paulus in ’n gevaarlike situasie gedoen het (Handelinge 9:23-26)!

God gee ons ook in die Skrif die voorbeeld om mekaar te help in noodsituasies. “En een van hulle met die naam van Agabus het opgestaan en deur die Heilige Gees te kenne gegee dat daar ’n groot hongersnood oor die hele wêreld sou kom, wat ook gekom het onder keiser Claudius. En die dissipels het besluit dat iedereen van hulle na sy vermoë iets sou stuur tot versorging van die broeders wat in Judéa woon. En dit het hulle ook gedoen en dit deur Bárnabas en Saulus aan die ouderlinge gestuur” (Handelinge 11:28-30). In die komende jare mag dit nodig word - en ons Christelike plig - om ons broeders in ander gedeeltes van die wêreld te help wanneer swaar teenspoed oor hulle kom. Uit vrees dat ons hier in die Verenigde State te selfvoldaan en verwaand voel, laat ons besef dat, soos wat die “Hoofkwartier” gebied van die Kerk moes hulp aanvaar in die Apostoliese tyd, so ook mag ons hier in die Verenigde State nodig hê om gehelp te word deur ander gedeeltes van die wêreld in die toekomstige jare.

Onthou, almal van ons is “gekoop en voor betaal” deur die offer van Jesus Christus! Die geïnspireerde woord van God sê: “Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge. Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie. As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie - behoort hy daarom nie aan die liggaam nie?” (1 Kor. 12:12-15). Weereens: “maar God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee, sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra. En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik” (verse 24-27).

In tye soos hierdie, moet ons almal waarlik nederig wees - luister na die instruksies van God se Woord, van ons menslike leiers in die volk en veral in die Kerk van God. Ons lees: “Een wat die tug liefhet, het kennis lief; maar wie die teregwysing haat, is dom ... Die weg van ’n dwaas is reg in sy eie oë, maar die wyse luister na raad” (Spreuke 12:1,15). Buiten luister, is dit nodig vir ons om te reageer op wat vir ons gesê word, solank as wat ons weet dat dit binne God se wil is. Let op wat God geïnspireer het in Prediker 9:19: “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie”. So, ek hoop dat u almal, en u geliefdes, sal aksie neem omtrent die dinge wat ek nou net uitgewys het, en dat u God sal wys dat u gewillig is om u deel ywerig te doen.

Natuurlik, bo en behalwe alles wat ons menslik kan doen, is ons uiteindelike geloof in God self! Sy geïnspireerde Woord sê immers: “Die perd word reggemaak vir die dag van die geveg, maar die oorwinning is deur die HERE” (Spreuke 21:31).