Kragtige magte werk tans saam in die hoop om binne hierdie dekade ’n politieke eenheid in Europa te bewerkstellig. Duitsland sal hierdie poging dryf gedurende die ses maande wat hy in die eerste helfte van 2007, aan die stuur van die Europese Unie staan. Die Vatikaan gooi ook sy gewig en invloed in agter die poging om nasies van Europa in ’n nouer eenheid te betrek. Bybelprofesieë het lank reeds aangedui dat net voor die einde van hierdie tydvak, die wêreld die herlewing van ’n magtige entiteit in Europa sal sien wat sal opkom uit die oorsprong van die Romeinse Ryk (Daniël 2:40-45). Hierdie herlewing sal ondersteun word deur ’n kerk wat gelei word deur ’n invloedryke godsdienstige figuur (Daniël 7:7-8; Openbaring 13:17). Hierdie profesieë neem nou gestalte aan in die nuus wat vandag opslae maak!

Duitsland neem die voortou

Die Duitse kanselier Engela Merkel het in Januarie vanjaar, toe Duitsland sy nuutste termyn in die EU presidentskap begin het, gesê sy hoop om die amp te gebruik om groter politieke eenheid in Europa te bevorder en om die EU grondwet te laat herleef nadat dit in 2005 op die rak geplaas is deurdat dit deur die Franse- en Nederlandse kiesers verwerp is. Persverklarings stem saam, “Duitsland sal sy presidentskap van die EU gebruik ... om druk uit te oefen vir die volledige oorsetting van die Europese grondwet wat opsy geskuif is” (The Times, 4 Desember, 2006). Tot op hede het 18 nasies die grondwet bekragtig; die dokument moet egter eenstemmig goedkeuring van al die EU lande ontvang om amptelik verklaar te kan word. Terwyl Duitsland en Frankryk vantevore saam gewerk het om die EU te bou, wil dit voorkom of Duitsland nou teensinnig is om vir Frankryk te wag. Merkel het gesê: “Duitsland het ander vriende naas Frankryk” (International Herald Tribune, 22-23 April 2006). Romano Prodi, die Italiaanse Eerste Minister, het in ’n toespraak in Berlyn gesê: “As gevolg van die rol wat ons in die verlede gespeel het en steeds voortgaan om te speel, het Italianers en Duitsers – tesame – die historiese, en sal ek sê, morele plig, om die verantwoordelikheid te aanvaar om die proses van politieke en grondwetlike integrasie weer aan die gang te sit” (www.socialistgroup.eu). Mnr. Prodi het in Berlyn ’n beroep op sy gehoor gedoen om “sterk te staan en iets dapper te doen” wanneer hulle “ons gesamentlike projek weer van stapel laat loop” (ibid.). By ’n kongres in Portugal het Prodi gesê: “Die jaar 2007 moet die jaar wees om Europa weer op koers te kry”. Een Duitse diplomaat wat die swakheid van die huidige Europese leiers waargeneem het, het gesê Duitsland “kan dit vinniger laat gebeur as wat enigeen besef” (The Times, 4 Desember, 2006).

Die tydrooster

Die volgende paar jaar kan baie belangrik vir Europa en vir die wêreld wees. Een deskundige sê: “Die leiers van Frankryk en Duitsland het tot ’n nuwe tydrooster ooreengestem om die EU grondwet te probeer laat herleef ... Beide leiers [Jacques Chirac en Angela Merkel] het ooreengekom ... dat die grondwetlike verdrag hersien sal word gedurende die Duitse presidentskap ... Onder die Franse presidentskap gedurende die tweede helfte van 2008, behoort die besprekingsproses afgehandel te wees en kan vaste besluite geneem word” (euobserver.com, 7 Junie 2006). Chirac het gesê hy “vertrou dat die Duitse presidentskap die skip in die regte rigting sal stuur” (ibid.). Frank-Walter Steinmeier, die Duitse Minister van Buitelandse Sake, het gesê: “Ons het ’n grondwet so gou as moontlik nodig ... sodat ons kan voordeel trek uit beter verteenwoordiging in buitelandse beleid en sake van beveiliging” (euobserver.com, 5 September 2006). Steinmeier het ook “aangedui dat Berlyn ’n ‘strategiese plan’ sal voorlê vir die bekragtiging van die grondwet aan die einde van sy presidentskap, in die vroeë somer van 2007” (euobserver.com, 7 April 2006). Die deurslaggewende faktor in al hierdie onderhandelinge is dat “Duitsland teen 2009 die grondwet bekragtig wil hê oor die hele EU heen” (ibid.).

Die godsdiensfaktor

In die 50 jaar sedert die Verdrag van Rome in 1957 onderteken is, het Europese leiers probeer om ’n verenigde Europa te bou op ’n wêreldse fondament van verdrae en ekonomiese bepalings. Hierdie pogings was egter nie voldoende om aan die vereistes te voldoen nie. Nou gaan die pogings ’n ander faktor insluit – godsdiens. Kanselier Merkel “het haar ten gunste van ’n verwysing na God in die grondwet uitgespreek ... Dit is die eerste keer dat Berlyn hom ten gunste van ’n Christelike verwysing in die EU grondwet uitgespreek het” (euobserver.com, 26 Mei 2006). Merkel, die dogter van ’n Protestantse pastoor, het haar uitgangspunt herhaal na ’n somer oudiënsie met die Duits-gebore Pous Benedict XVI: “Ek bevestig my siening dat ons ’n Europese identiteit benodig in die vorm van ’n grondwetlike verdrag en ek dink dit moet gekoppel wees aan Christelikheid en God, aangesien die Christendom Europa op ’n beslissende wyse gesmee het” (euobserver, 29 Augustus 2006). Duitsland behoort ondersteuning vir hierdie poging te verkry vanuit die oorwegend Rooms-Katolieke lande soos Spanje, Italië en Pole, wat vroeëre pogings om na Christelikheid en God in die grondwet te verwys, gesteun het.

Die beroep op die saambindende mag van godsdiens is geen verrassing nie. Jacques Delors, voormalige president van die Europese Kommissie, het die noodsaaklikheid vir Europa se bouers gesien om “’n siel aan Europa te gee, om dit geestelike lewe en betekenis te gee” (cec.kek.org). Ten einde die mag van godsdiens te gebruik om die grondwet te laat herleef en die Europese integrasieproses weer aan die gang te sit, het die Vergadering van Europese Kerke hulle daartoe verbind “om by te dra tot oprigting van ’n Europa waarin ons tuis kan voel en trots op kan wees. Die kerke in samewerking met hulle verwante organisasies en agentskappe is gereed om vennote te wees van die Europese politieke instellings” (ibid.). Jan Figel, Kommissaris van die Europese Unie, het aan ’n groep van 60 Europese kerkleiers gesê: “Dit is nodig dat Europese Instellings in voortdurende gesprek met kerke, gemeenskappe van geloof en die samelewing moet wees” (christiantoday.com). Europese biskoppe het ’n hoë-profiel groep daargestel – wat slegs uit Rooms-Katolieke bestaan – om aan te dring op die insluiting van ’n verwysing na Christelikheid en om op 25 Maart 2007 in Berlyn, “’n politieke verklaring van die EU se waardes en ambisies te beïnvloed” – op die 50ste herdenking van die Verdrag van Rome wat die grondslag gelê het vir die huidige EU (euobserver.com, 11 September, 2006). Die biskoppe se teks lui: “... die Christelike invloed op die Europese projek was ’n onbetwisbare feit ... die stigters van die Unie ... is gelei deur waardes soos menseregte, regswaarborg van persoonlike vryheid, solidariteit, noodhulpverlening ... en demokrasie ... hierdie waardes kom ooreen met die Katolieke maatskaplike leer” (euobserver.com, 19 Desember 2006). Dit sal van alle immigrante wat na Europa toe kom verwag word om aan hierdie voorwaardes te voldoen (euobserver.com, 16 Mei 2006).

Die toenemend sigbare pogings van geestelike figure – veral Rooms-Katolieke leiers – om die Europese grondwet te laat herleef nadat dit deur die Franse- en Nederlandse kiesers verwerp is en deur verskeie politieke leiers as “dood in die water” verklaar is, stem ooreen met lank-bepeinsde profesieë aangaande die einde van hierdie tydvak. Die apostel Johannes skryf van ’n luiperd-agtige dier (’n polities-ekonomies-militêre entiteit) wat ’n dodelike wond opdoen en verbasend genees word, en ’n lam-agtige dier (’n godsdienstige entiteit) wat ’n rol speel in die genesing van die wond, lewe gee aan die dier en veroorsaak dat die wêreld die eerste dier aanbid (Openbaring 13:1-15). Johannes openbaar ook dat politieke leiers wat met hierdie dier geassosieer word, intieme sake sal doen met ’n groot kerkorganisasie wat vir hierdie eindtydse dier-moondheid voorspraak sal maak en dit sal beïnvloed (Openbaring 17:1-2). Indien die Europese grondwet weer herleef en nasies van Europa weer voortstu na politieke eenheid, kan dit wel toegeskryf word aan die mag van godsdiens. Die Rooms-Katolieke kerk, wat ’n unieke rol gespeel het in die kroning van die keisers van die Heilige Romeinse Ryk, is weer eens in ’n unieke posisie om hulp aan die Europeërs te verleen in hulle soektog na eenheid – en om gestalte te gee aan antieke profesieë!