In die Tomorrow’s World van Julie 2021 het die artikel “London Calling” na die vooruitsigte van die Verenigde Koninkryk ná die “Brexit” [uittrede] van die Europese Unie gekyk. In hierdie artikel kyk ons na die ander kant van die saak deur te vra: Hoe gaan dit met die Europese Unie (EU) ná Brexit en wat is die vooruitsigte daarvan – veral in die lig van Bybelse profesie?

Terwyl ek hierdie artikel skryf, lyk dit op die oog af dat die EU relatief stabiel is. Agter die skerms gaan alles egter nie goed nie. Die skuldlas in die eurosone, net soos in baie ander dele van die wêreld, het drasties toegeneem as gevolg van die stryd om die impak van COVID-19 te versag. Die algemene staatskuld van die EU het dramaties toegeneem – van 84 persent van die BBP in 2019 sal dit na verwagting teen die einde van 2021 meer as 98 persent wees.

Moontlik nog erger as dít, is dat individuele lidlande se skuld op die bankbalans-state toeneem. In Februarie beloop Italiaanse banke se uitgifte vir staatskuld byvoorbeeld, 124 persent van hulle bruikbare reserwes. Dit maak hulle uiters kwesbaar in geval van verdere nood. Sommige finansiële kommentators waarsku dat die EU op pad is na ’n nuwe finansiële krisis. Dit het alles te doen met die lewensvatbaarheid van die euro, die enkele geldeenheid wat die kern van die Europese projek is (sien “Europe is Heading Toward a New Financial Crisis,Bloomberg.com, 12 April 2021).

 

Brexit het ’n “steeds hegter Unie” beëindig

Brexit was ’n keerpunt in die geskiedenis van die Europese Unie. Vir 60 jaar lank het die EU voortdurend in krag, omvang en grootte toegeneem. Tog, selfs al het die EU lidlande bygekry, het daardie nasies se mag en soewereiniteit verswak. Wat begin het as ’n organisasie wat bedoel was om Duitsland te beperk en te beheer, het dit ’n organisasie geword wat beheer word deur Duitsland, sy grootste lid. Brexit het die EU se grondbeginsel van ’n “steeds hegter unie” met een slag geruïneer. Dit het skokgolwe deur die hele EU gestuur en die behoefte aan selfondersoek en besinning oor die pad vorentoe aangewakker. Die EU word gedwing om homself te verander – of tot niet te gaan.

Regdeur sy geskiedenis het die EU ernstige probleme ondervind wat afbreuk doen aan die doeltreffendheid en sukses daarvan. Wat eers as ’n supranasionale ekonomiese federasie beskou was, het deur die jare in ’n polities-gedrewe superstaat verander. Die doel daarvan was om ’n soort “Verenigde State van Europa” te word wat met die Verenigde State van Amerika kon meeding. Algaande het die doelwit van een van sy stigters, Robert Schuman, verlore gegaan – wat ’n baie groter vlak van demokrasie beoog het as in die manier waarop die EU funksioneer.

Interne ontevredenheid en spanning het geleidelik toegeneem namate die EU uitgebrei het. Dit is nie verbasend dat hierdie faktore die besluit van die Verenigde Koninkryk om te onttrek beïnvloed het nie. Enige bespreking oor die toekoms van die EU moet die volgende aanspreek: Die impak van globalisering en die uitkontraktering van werk, ’n demokratiese tekort aan funksionering, eksterne immigrasie na die EU en interne beweging binne die unie, korrupsie, asook versuim om EU-uitgawes voldoende te oudit en ’n onversetlike burokratiese “Galliese” denkkrag wat alle EU-aktiwiteite oorkoepel. Dit is ’n taamlike lys.

 

’n Verdeelde Unie

Dit alles dui op ’n unie wat ondoeltreffend is om aan die behoeftes van die bevolking te voldoen en wat nie self vrede het nie. Tydens haar 16 jaar in die amp het Angela Merkel, die uittredende kanselier van Duitsland [amptelik uitgetree op 9/12/2021], byvoorbeeld meer as enigiemand anders die ontwikkeling en vooruitgang van die EU beïnvloed. Die prominente Duitse joernalis Wolfgang Münchau het Merkel sleg gesê en beweer dat “die gemors wat sy geskep het, verskriklik duidelik geword het. Sy laat ’n verdeelde EU agter wat nie net sonder leiding is nie, maar wat moontlik nou onbeheerbaar mag wees” (“Angela’s ashes: Merkel is leaving the EU in chaos”, SpectatorWorld.com, 1 Julie 2021).

Twee van verskeie voorbeelde wat Münchau se artikel insluit, is Merkel se “spontane uitvoerende wet” van 2015 wat ’n miljoen vlugteling-immigrante uit die Midde-Ooste na Europa toegelaat het en haar besluit ná die finansiële krisis van 2008 om die aanvaarding van EU-wye “Eurobonds” [obligasies] te blokkeer wat daarop gemik was om nasionale skuld gemeenskaplik te maak regoor die multinasionale EU. Haar besluit in verband met immigrasie is geneem sonder om koalisievennote of ander EU-lidlande te raadpleeg en het enorme spanning en opspraak in die hele EU veroorsaak. Haar besluit om die voorstel van die Eurobonds van die tafel af te vee, sou heel moontlik die hele eurosone kon laat ineenstort as dit nie vir die tussenkoms van Mario Draghi van die Europese Sentrale Bank (ESB) was nie. Münchau sluit sy artikel af met ’n klaaglied dat die EU sterk en verenig kon gewees het, maar in plaas daarvan “sien ons verwarring” – oproer en wanorde.

 

Die konferensie oor die toekoms van Europa

Namate die EU sy uitdagende toekoms tegemoet gaan, is dit nodig dat dit baie meer hanteer as die verlies van die VK wat 15 persent van die EU se ekonomie, 20 persent van sy uitvoere en 12,5 persent van sy bevolking uitgemaak het. In Junie het die EU ’n jaar lange reeks debatte en besprekings begin wat ingestel was om “mense vanuit elke hoek van Europa in staat te stel om hulle idees te deel oor hoe om die toekoms van Europa te vorm” (“Conference on the Future of Europe: Engaging with citizens to build a more resilient Europe,European Commission, 10 Maart 2021). Die program wat die Konferensie oor die “Toekoms van Europa” genoem word, is om ’n beter funksionerende Europese demokrasie teweeg te bring.

Die doel is om aan burgers ’n groter rol te gee in die vorming van beleid en ambisies van die EU. ’n Lys van moontlike temas sluit die rol van die EU in die wêreld in, hoe om demokratiese prosesse te versterk en die weerbaarheid van die Unie teen krisisse te verbeter. Die konferensie het ten doel om inklusief, oop en deursigtig te wees. Die President van die kommissie, Ursula von der Leyen, beloof dat “ons sal luister en dan sal ons optree”.

Dit moet nog gesien word of dit sal slaag. Die taak om 27 uiteenlopende lande in een samehorige Unie te skep wat effektief, deeglik demokraties, eerlik en voorspoedig is, is ’n reuse onderneming. Sommige mense sal sê dat dit onmoontlik is.

 

’n Fatale fout onthul

Dit bring ons by een onderwerp wat die konferensie waarskynlik nie sal bespreek nie – hoewel dit die onderwerp is wat almal wil vermy – wat blyk die probleem te wees wat die grootste potensiaal het om die EU-projek in sy huidige vorm te laat misluk: Die gedeelde geldeenheid van Europa, die euro. Het Europa werklik ’n gemeenskaplike geldeenheid nodig of sou dit beter wees daarsonder?

Die ekonoom Nickolai Hubble bespreek in sy boek How the Euro Dies met besondere duidelikheid dít wat hy as die noodlottige fout beskou in die EU se vertroue op ’n gemeenskaplike geldeenheid. Hierdie fout behels gesentraliseerde monetêre beleid, ’n vaste wisselkoers vir alle lidlande en die risiko dat kapitaal maklik op ’n groot skaal kan oorgaan na ’n geldeenheid wat as veiliger beskou word indien dinge verkeerd loop. Hy verduidelik dat hierdie drie faktore saam ’n onmoontlike dilemma skep.

Waarom maak dit saak dat alle EU-lande, ondanks verskillende ekonomieë, gedwing word om dieselfde rentekoers te deel? Aangesien dit beteken dat lidlande ’n belangrike veiligheidsmaatreël ontsê word om hulle eie rentekoerse te beheer, indien en wanneer omstandighede ontstaan wat ’n verandering vereis. Dit is veral waar wanneer ’n sukkelende land sou kon baat vind by ’n laer rentekoers, terwyl ’n ander land ’n hoër rentekoers nodig het om spekulasie, inflasie en buitensporige skuld te bekamp. Die behoeftes van Noord-Europa verskil van dié van Suid-Europa, wat weer verskil van die behoeftes van Oos-Europa. ’n Benadering van wat vir die een geld, geld vir die ander, werk eenvoudig nie in die praktyk nie en is die oorsaak van voortdurende spanning en krisisse in die EU.

Dit is waarom alle geldeenheid-unies soos die euro onvermydelik misluk. Politieke beleid kom in konflik met die ekonomiese realiteit en uiteindelik moet eersgenoemde toegee in die aangesig van kapitaalvloei. Hubble spreek kortliks sy gevolgtrekking uit: “Monetêre unies misluk nie as gevolg van die ekonomie nie. Hulle misluk omdat die ekonomie die politiek dryf om hulle in die steek te laat” (bl. 79). Die VK het dit byvoorbeeld op die harde manier geleer toe dit vir ’n kort tydjie deel was van die EU se wisselkoersmeganisme en besluit het om nie by die euro aan te sluit nie, om sodoende beheer oor sy geldeenheid en monetêre beleid te behou.

Volgens Hubble is dit die rede waarom die eurosone waarskynlik sal misluk. Hy haal Ralf Dahrendorf, voormalige direkteur van Londen se Skool van Ekonomie aan en sê wat baie ander mense glo: “Die valuta-unie is ’n groot fout, ’n riskante, roekelose en verkeerde doelwit wat Europa nie sal verenig nie, maar dit sal verdeel” (Hubble, bl. 30). Net so het professor Francois Heisbourg, ’n voormalige voorsitter van die Internasionale Instituut vir Strategiese Studies geskryf: “Die droom het ’n nagmerrie geword. Ons moet die realiteit in die oë kyk dat die EU self nou deur die euro bedreig word. Die huidige pogings om dit te red, bring die unie nog verder in gevaar” (Roger Bootle, The Trouble With Europe, 2015, bl. 231).

 

Italië op die randjie

Italië is die agtste grootste ekonomie ter wêreld. Dit is egter in skuld gedompel en het geen hoop om van die skuld ontslae te raak solank dit binne die eurosone bly nie. Dit word hoofsaaklik aan die lewe gehou deur die ESB, wat die reëls gebuig het en met slim skemas vorendag gekom het om Italië aan die gang te hou. Dit kan egter nie onbepaald so aangaan nie en ’n groot aantal lenings aan Italië was in 2021 betaalbaar. Die groot vraag is hoe gaan Italië uit die penarie kom? Ambrose Evans Pritchard van The Telegraph het geskryf “Italië moet kies tussen die euro en sy eie ekonomiese oorlewing” (11 Mei 2016).

Roger Bootle, die voorsitter van Capital Economics, is een van die bekendste ekonome in die VK, sowel as ’n bekroonde finansiële rubriekskrywer en skrywer. Hy skryf dat “die euro van die begin af ’n ramp was. Dit toon die kwaliteit van die besluitneming van die EU op sy slegste, gedryf deur nasionale politiek, onderlinge handelsooreenkomste, oorwegings van nasionale aansien en kinderlike vooruitsigte van toekomstige Europese eenheid – met weinig inagneming vir die ekonomiese realiteit. Een van die belangrikste kwessies is wat die voortbestaan of verbrokkeling van die euro sou impliseer vir die toekomstige groei van die EU. Kan die einde van die euro deel uitmaak van die redding van die EU en indien nie, wat kan?” (The Trouble With Europe, bll. 168-169).

 

Herrangskikking van nasies

Terwyl die 27 lande van die EU probeer om ’n idee te kry van hoe om ’n eksistensiële uitdaging aan te pak, is dit verstandig om die Bybelse konteks te onthou waarin hulle funksioneer. Bybelse profesie het ’n paar kragtige dinge te sê oor die Europese projek.

Die boek Openbaring beeld ’n kortstondige moondheid uit wat tot stand sal kom net voor Jesus Christus se Wederkoms om oor die nasies van hierdie wêreld te regeer. Dit word gekenmerk as ’n samestelling van tien nasies met ’n sterk leier wat ’n bondgenootskap met ’n groot godsdienstige figuur het (Openbaring 17). Dit regeer ’n kort tydjie en veg selfs teen Christus met Sy Wederkoms (vers 14).

Dit is belangrik om daarop te let dat die geografiese konteks van hierdie moondheid wat binne die geskiedkundige gebied van die ou Romeinse Ryk geleë is, in ag geneem word alhoewel die kortstondige geestelike en handelsinvloed daarvan ’n baie wyer invloed sal uitoefen voor sy uiteindelike ondergang (Openbaring 18:2-3, 9-11). Die arena is Europa; die Wêreld van Môre verstaan uit die Skrif dat daar ’n moondheid van tien nasies in Europa sal opstaan wat uiteindelik sal probeer om die wêreld te oorheers en te beheer. Die EU wat ons nou sien, is nie hierdie geprofeteerde entiteit nie, maar kan wel gesien word as ’n voorloper daarvan.

Hierdie situasie is interessant om dop te hou in ’n tyd waarin bestaande strukture ernstige tekens toon van dreigende ineenstorting. Dit lyk hoogs onwaarskynlik dat die EU vrywillig die euro sal laat vaar, maar die ekonomie sal nog bepaal of dit wel die geval sal wees. Europa, sonder die verstikkende dwangbaadjie van die euro soos tans die geval is, sou eintlik kon floreer soos nog nooit tevore nie. Dit is die moeite werd om in gedagte te hou hoe Europa, terwyl ons kyk en veral Italië, deur hierdie eksistensiële krisisse vorder.

Indien u meer wil weet oor die boodskap van die boek Openbaring en hoe dit verband hou met gebeure in die hedendaagse wêreld, vra ons gratis boekie aan Die Dier van Openbaring: Mite, beeldspraak of werklikheid? of lees dit aanlyn by wvm.co.za.