Hoeveel jare begin met hoopvolle verwagtings vir wêreldvrede, voorspoed en samewerking tussen nasies? Dit was immers die geskiedkundiges Will en Ariel Durant wat skitterend uitgewys het dat in 3,400 jaar van die mens se aangetekende geskiedenis, net 268 jaar van die beskaafde wêreld heeltemal sonder konflik tussen nasies, koninkryke en regerings was. Vir 92% van die menslike geskiedenis, was een of ander deel van die wêreld in oorlog betrokke. In die 20ste eeu alleen het meer as 100 miljoen mense as ’n direkte gevolg van oorlog gesterf en skattings van oorlogsterftes regdeur die menslike geskiedenis styg tot so hoog as 1 miljard.

Dit is duidelik dat die mens nie in staat is om die pad na blywende vrede te vind nie. Sal die toekoms enige ongekende deurbraak bring? Wat dink u? Indien ons vir ’n oomblik terugkyk, kan ons die volgende in ag neem: Hoe het die menslike samelewing in 2016 gevaar? Dit was ’n jaar van toenemende konflik en terrorisme. Die tragiese en gruwelike terroriste-aanvalle in Parys wat Europeërs in groter militêre-, sekerheids- en verdedigingsbewustheid saamgesnoer het sal, soos baie jarelange lesers van hierdie tydskrif weet, ’n rol speel in die uiteindelike opkoms van ’n verenigde en magtige Europese super-staat, die finale herlewing van die ou “Heilige Romeinse Ryk”.

Daardie staat sal homself as so magtig beskou dat dit selfs ’n valse godsdiens sal bevorder wat homself ’n vorm van “Christelikheid” sal noem. Daardie valse godsdiens sal in werklikheid nie net teen die ware leerstellings van Jesus Christus wees nie; dit sal die wêreld se leërs ondersteun wat in rebellie teen Christus sal opstaan wanneer Hy na die planeet Aarde sal terugkom om die Koninkryk van God te vestig en ’n einde te maak aan 6,000 jaar van die mensdom se pogings om hulleself te regeer.

Oorwin die “god van hierdie wêreld”!

Ja, dit is nodig dat Jesus Christus terugkeer om die Koning van die planeet Aarde te word! ’n Redelik onbekende waarheid wat in u Bybel gevind word, is dat die mensdom vandag onder die heerskappy van die “god van hierdie wêreld” leef – Satan die duiwel (2 Korinthiërs 4:4). Daar is tog ’n beter manier. God roep net ’n paar mense in die huidige era tot ’n lewe van oorwinning om op hierdie oomblik ’n voorsmaak te kry van die vrede en vervulling wat die hele wêreld in die komende Millennium sal ken.

Vandag se ware Christene kyk na hierdie hoop, selfs in tye van benoudheid, namate hulle daarna streef om te volhard (Matthéüs 24:13). Hulle weet dat, indien hulle volhard, hulle al hoe nader aan die dag sal kom wanneer die hele aarde daardie Weg sal ken en hulle aan die liefdevolle Regering van hulle welwillende Koning, Jesus Christus, sal onderwerp.

Hierdie Weg is vandag egter onbekend aan die oorgrote meerderheid van mense, wat lyk of hulle bykans eindelose kreatiwiteit het om enigiets te doen wat hulle wil, behalwe om aan God gehoorsaam te wees.

Besluit om God te gehoorsaam!

Elke jaar begin miljoene mense hulle Januarie deur “nuwejaarsbesluite” te neem. Die eenvoudige waarheid dat God se jaar in die lente (herfs in die suidelike halfrond) begin en nie in die middel van die winter (somer in die suidelike halfrond) nie, word nie in ag geneem nie. (In 2017 begin die Bybelse Nuwejaarsdag, Nisan 1, inderdaad op Maandagaand sodra die son sak die 27ste Maart.) Ons weet dat dit ’n tyd is wanneer baie mense besluit om beter te doen. Dit is iets wat die moeite werd is om enige tyd van die jaar te doen.

Ons sien nogtans met elke nuwe jaar dat selfs ons eenvoudigste “nuwejaarsvoornemens” vinnig in die niet verdwyn. Gesondheidsklubs skryf elke Januarie duisende nuwe lede in, maar hoeveel van daardie nuwe inskrywings geld nog steeds in Maart? Hoeveel miljoene nuwe diëte word elke Januarie begin? Hoeveel goedbedoelde planne word gemaak, net om uiteindelik in duie te stort?

Wanneer mense hulleself dikwels nie eers individueel kan beheer nie, is dit enige verrassing dat wanneer state en nasies bymekaarkom, die probleme van die regering agterweë bly? Vir etlike duisende jare het die mensdom herhaaldelik in sy pogings misluk om te eksperimenteer met nuwe vorms van regering, nuwe maatskaplike strukture – selfs onlangs met nuwe definisies van die “gesin” en “huwelik”. Lees die aangrypende artikel “God speel of God gehoorsaam?” elders in hierdie tydskrif wat deur ons Hoofredakteur, dr. Roderick C. Meredith, geskryf is. Dit lyk byna of opstandige mense dit as vanselfsprekend aanvaar dat indien die God van die Bybel iets beveel, hulle geen deel daaraan wil hê nie! Jare lange lesers van hierdie tydskrif weet dat God ’n plan vir die mensdom het – hulle is hier op die planeet Aarde geplaas om self die heilige en regverdige karakter van God te ontwikkel. Wat hulle nie deur hulle eie pogings kan doen nie, word deur die inwoning van die krag van God, die Heilige Gees, moontlik gemaak.

Asseblief, moenie verkeerd verstaan nie. Christene word nie oornag volmaak nie. God bou nie Sy regverdige karakter in ons deur “gesaghebbende beslissing” nie – onafhanklik, sonder samewerking van ons kant af nie. Soos ons leer om aan Sy wil toe te gee en geregtigheid te beoefen eerder as om te sondig, ontwikkel Christene meer van die “gesindheid van God” en leer om te dink en op te tree soos hulle Verlosser dit in enige gegewe situasie sou doen (Filippense 2:5).

Wat is die bestemming van diegene wat leer om volgens God se weë te leef? Soos u in my artikel, “Die nuwe Jerusalem” elders in hierdie uitgawe sal sien, kom daar ’n tyd wanneer vandag se Christene onder Jesus Christus in die geprofeteerde “Millennium” sal regeer – ’n tyd wanneer die hele wêreld die weë van God sal leer. Aan die einde van daardie tyd, ná die Groot Wit Troon Oordeel (Openbaring 20:11-13) verby is, sal ’n nuwe Jerusalem – die werklike woonplek van God die Vader – na die herstelde planeet Aarde kom. Ja, die “Hemel” sal na die aarde kom!

Tot dáárdie tyd kom, wat kan Christene doen om voor te berei? Ons weet dat ons wêreld vol gevare is. Sommige van u wat hierdie tydskrif lees, mag reeds in die vroeë 1940’s geleef het voor die wydverspreide gebruik van penisillien om bakteriële infeksies te behandel. U sal onthou na watter wonderlike deurbraak dit gelyk het toe daar skielik ’n eenvoudige manier was om infeksies te oorkom wat voorheen sekere mense se dood sou beteken. Ongelukkig, soos met so baie wonderlike nuwe ontwikkelings, het die mensdom foute begaan. As gevolg van die oormatige voorskrifte en onverskillige gebruik van antibiotika, is nuwe vorms van antibiotika-weerstandige bakterieë besig om al hoe meer algemeen te raak. Lees meer hieroor in mnr. John Meakin se kragtige artikel, “Superkieme!” elders in hierdie uitgawe.

U Bybel waarsku dat ’n tyd sal kom, reg aan die einde van hierdie tydperk, wanneer siekte-epidemies ons planeet sal verwoes. Vandag troos baie mense hulle met die idee dat hulle net ’n pil kan sluk en ’n infeksie sal verdwyn. Daar is nogtans ’n tyd aan die kom, gouer as wat sommige mense besef, wanneer die enigste seker bron van genesing nie van medikasie sal kom nie, maar van God Self. Sommige mense vergeet vandag dat toe Jesus Christus Sy dissipels uitgestuur het om te preek, Hy hulle gestuur het om “die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak” (Lukas 9:2).

Besluit om na aan God te bly!

’n Tyd is aan die kom wanneer slegs diegene wat die God van die Bybel ken en dien, in staat sal wees om die verskriklike siektes te weerstaan wat oor die mensdom gebring gaan word. Maak dus seker dat u na aan God bly. Lees elke dag u Bybel. Bid verskeie kere per dag tot u Skepper. Dit is nuttig om ten minste een keer per dag op u knieë te bid indien moontlik, maar ek weet dat sommige van ons met “ou bene” nie in staat mag wees om dit maklik te doen nie. Die belangrikste ding is egter om God aan te roep en dan te luister vir Sy antwoord. U weet Sy antwoord kan gevind word in die bladsye van u Bybel, wat Sy weg openbaar aan Sy dienaars: Ware Christene.

Mag God almal van u as lesers seën, wanneer u u met meer ywer na Hom wend, deur teen die stroom van so baie mense in ons wêreld te gaan wat dink hulle kan sonder Hom klaarkom. Doen u deel om God se heilige en regverdige karakter met Sy leiding te bou. Volhard in u getroue diens en gehoorsaamheid aan u Skepper. Maak seker dat u heel eerste soek na die Koninkryk van God en Sy geregtigheid, in alles wat u doen (Mattheüs 6:33)!