Geliefde broeders en vriende, wil u meer wees soos Koning Dawid van Israel - die “man na my hart” (Hand. 13:22)? Die grootste deel van my Christelike lewe was koning Dawid en die apostel Paulus my belangrikste Bybelse “helde” - dit is, afgesien van Jesus Christus Self. Soos ek ouer geword het, het ek Abraham en die geliefde apostel Johannes tot die lys bygevoeg. Dit is egter 'n ander verhaal. Ek het koning Dawid se lewe oor die jare bestudeer en verskeie preke gegee waarom hy 'n “man na God se Eie hart” was. Ons het ook 'n aantal goeie artikels hieroor gepubliseer.

In hierdie “Geliefde broeders” brief, wil ek egter nou fokus op een dikwels agterweë-gelate aspek van Dawid se verhouding met God. Ons, in God se eie Kerk, moet ernstig probeer om in elke opsig nader en nader aan God te groei. Deur vurige gebed en deur God se Heilige Gees moet ons almal strewe om 'n dieper gevoel van nabyheid aan God en aan ons Saligmaker, Jesus Christus, te bereik. Ons moet probeer om ten volle gehoorsaam te wees aan wat die Seun van God Self, as die “groot gebod” van die wet bestempel. Jesus sê: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod” (Matt. 22:37-38).

Daar was twee hoof maniere waarvolgens koning Dawid hierdie basiese wet gehoorsaam het. Eerstens, is ons almal bewus daarvan dat koning Dawid God se wet opreg liefgehad het en gereeld daaroor gemediteer het. Ons lees Dawid se woorde hieroor in Psalm 119:97-99: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig. Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing”, ook: “Ek lê my daarop toe om u voorskrifte altyd uit te voer, tot die einde toe ...” (vers 112 N.V.).

Geen wonder dat Dawid, onder Christus, weer koning oor die hele Israel sal wees in die wêreld van môre nie! Niemand het meer direkte ondervinding in die toepassing van God se wet, én Sy vorm van regering, oor 'n hele nasie as koning Dawid nie. Christus se spoedig-komende regering sal basies gegrond wees op God se gebooie en insettinge soos dit geestelik verstaan en toegepas sal word onder die nuwe verbond. Christus se regering sal ook hiërargies (volgens rangorde) wees - met diegene in gesag aangestel in hulle poste. Daar sal geen stemmery en geen politiek wees nie. Daar sal inteendeel 'n opregte geloof wees dat Christus die regte mense in die regte poste sal aanstel. Dit is waarom dit lewensbelangrik is dat ons in God se Kerk, vandag leer om God se vorm van regering in die Kerk toe te pas en te leer. Ons moet in geloof na ons lewende Hoof, Jesus Christus, kyk om die regering in Sy Kerk te lei en te orkestreer. As ons nou nie eers die geloof het om Christus te vertrou om Sy Kerk te lei nie, hoe kan ons verwag om enige beduidende verantwoordelikheid te hê in Sy spoedig-komende regering?

Die ander “sleutel”-wyse waarop Dawid uitdrukking gegee het aan sy diepgaande liefde tot God, was in sy geestesingesteldheid van opregte dankbaarheid, waardering en aanbidding voor God, op 'n wyse wat min mense in die geskiedenis ooit getoon het. Die Psalms van Dawid openbaar, in 'n besondere wyse, wat Dawid gedink en gevoel het - terwyl hy letterlik “vir sy lewe gevlug het” voor koning Saul, terwyl hy ernstig siek of emosioneel radeloos was, of toe hy die verskriklikheid van sy sonde besef het, in die geval van Uria en Batseba. Hierdie is die gedagtes en gevoelens van een van die grootste manne van God van alle tye. Die Psalms is ons deeglike en biddende studie en aandag waardig.

Toe Dawid moes vlug voor sy opstandige seun Absalom, het hy geskryf: “o HERE, hoe het my teëstanders vermenigvuldig! Baie staan teen my op. Baie sê van my: Daar is geen heil vir hom by God nie. Sela. Maar U, HERE, is ’n skild wat my beskut, my eer en die Een wat my hoof ophef. Luid roep ek die HERE aan, en Hy verhoor my van sy heilige berg. Sela” (Ps. 3:2-5). Toe Dawid uiteindelik van Saul verlos is, het hy hierdie jubel-Psalm geskryf: “Ek het U hartlik lief, HERE, my sterkte. Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting. Ek roep die HERE aan wat lofwaardig is, en van my vyande word ek verlos” (Ps. 18:2-4).

Later, in hierdie pragtige lof-Psalm, beskryf Dawid die heerlikheid en die krag van die God wat hy dien. “Toe het die aarde geskud en gebewe; die fondamente van die berge het gesidder en geskud, omdat Hy toornig was. Rook in sy neus het opgegaan, en ’n vuur uit sy mond het verteer; kole uit Hom het gebrand ... En die HERE het in die hemel gedonder, en die Allerhoogste het sy stem laat hoor; hael en gloeiende kole. En Hy het sy pyle uitgestuur en hulle verstrooi; ja, sy bliksems in menigte, en Hy het hulle verwar. En die beddings van die waters het sigbaar geword, en die fondamente van die wêreld is blootgelê vanweë u dreiging, o HERE, vanweë die geblaas van die wind van u neus” (verse 8-9; 14-16). Hier stel Dawid sy God voor as Een wat letterlik die aarde skud en 'n God met 'n stem soos harde donderslae. Diegene van u wat op plekke woon waar geweldige weerligstrale en donderstorms voorkom wat letterlik die aarde skud, sal die ontsagwekkende krag van God soos deur Dawid uitgebeeld, in sy psalms verstaan.

Sy volkome aanbidding van die grote God en sy diepe ontsag vir God se krag, het aan Dawid baie geloof en moed gegee. Toe Goliat, die reus, kragtig na Dawid aangeloop kom, het hy “Dawid vervloek by sy gode” (1 Sam. 17:43) en gedreig om hom te vernietig. Die dapper jong man was geïnspireerd met merkwaardige geloof en moed. Sy gedagtes was nie op homself gevestig nie - dit is die “sleutel” - maar op die ontsagwekkende krag en majesteit van God. So het Dawid vol selfvertroue aan die reuse Filistyn gesê: “ Jy kom na my met ’n swaard en met ’n spies en met ’n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het. Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel ’n God het” (verse 45-46).

Dawid se intense geloof dat die wonderlike God wat hy dien “sal toesien dat reg geskied”, het gehelp om hom daarvan te weerhou om koning Saul tereg te stel, terwyl Saul nog “God se gesalfde” was. Selfs toe Saul totaal magteloos was voor Dawid - vas aan die slaap - het Dawid nie die vegter Abísai toegelaat om hom dood te maak nie. “Maar Dawid sê vir Abísai: Bring hom nie om nie, want wie slaan sy hand aan die gesalfde van die HERE en bly ongestraf? Verder sê Dawid: So waar as die HERE leef, sekerlik sal die HERE hom slaan, òf sy dag sal kom dat hy sterwe, òf hy sal aftrek in die geveg en omkom! Mag die HERE my bewaar dat ek my hand aan die gesalfde van die HERE sou slaan! Maar neem nou tog die spies wat aan sy koppenent is, en die waterkruik, en laat ons weggaan (1 Sam. 26:9-11). Dawid sou nie hierdie benadering gehad het teenoor 'n man wat oor en oor probeer het om hom dood te maak nie, tensy hy nie sy God voorgestel het as die “Rots” van Israel, wat baie realisties en totaal regverdig is en altyd uiteindelik reg laat geskied nie.

Dawid het só gereageer omdat hy God aanbid en vereer het.

Onder die sterre in die nag buite het Dawid uitgeroep: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het - wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom ’n weinig minder gemaak as ’n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon ... o HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!” (Ps. 8:4-6, 10).

Terwyl Dawid baie las gehad het van siekte en infeksie, het hy uitgeroep: “o HERE, straf my nie in u toorn nie en kasty my nie in u grimmigheid nie. Want u pyle het in my ingedring, en u hand het op my neergedaal. Daar is geen heel plek in my vlees vanwee u grimmigheid nie; daar is niks gesond in my gebeente vanweë my sonde nie. Want my ongeregtighede gaan oor my hoof; soos ’n swaar pak het hulle vir my te swaar geword. My wonde stink, hulle dra vanweë my dwaasheid (Ps. 38:2-6). Selfs in diepe neerslagtigheid en pyn, het Dawid sy denke op God se getrouheid gevestig. “want op U, HERE, wag ek; U sal verhoor, Here my God! (vers 16).

Toe Dawid begin om intense berou te betoon oor sy gemene sonde met Batseba en die moord op haar man, Uria, het hy weer eens sy denke op God en Sy genade gevestig en op God se doel met al ons lewens: “Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel. Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig. Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie. Die offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” (Ps. 51:16-19).

Dawid het deurgaans verseker dat sy gedagtes op die liefde, die genade en grootheid van God gevestig bly. Die hele Psalm 103 is 'n pragtige uitdrukking van die liefde en aanbidding wat Dawid deurlopend aan sy Skepper betoon: “Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie! Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees, wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede ... Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid ... Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is” (Ps. 103:1-4, 8, 11-14).

Geliefde broeders, in ons verwarde en uiters materialistiese samelewing - waar ons daagliks, amper uurliks deur die klanke en beelde van die televisie, telefoon, rekenaar, radio, verkeer en miskien helikopters wat bo ons vlieg, gebombardeer word - is dit dikwels vir ons moeilik om te konsentreer op die skoonheid, die genade, die volkome wysheid en die ontsagwekkende krag van die groot God, wat ons na Sy gelykenis geskape het. As ons egter soos Dawid moet wees - die man “na God se eie hart” - sal ons ons lewens so moet organiseer dat ons ook stilweg, stadig en nadenkend God se Woord indrink en “mediteer oor God se Wet”, soos wat Dawid gedoen het. Ons moet tyd maak om na buite te gaan en te kyk na die bome, blomme en plante, die son, maan en sterre wat ons God en Skepper gemaak het. Dan moet ons soos Dawid tyd neem om ons harte voor God uit te stort in opregte aanbidding. Ons moet almal in staat wees om soos Dawid te sê: “ Saans en smôrens en smiddags klaag ek en steun, en Hy hoor my stem” (Ps. 55:17).

God die Vader en Jesus Christus ons Verlosser moet beide die middelpunt van ons bestaan wees. Hulle is waarlik “een” - soos Jesus sê: “ Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30). Ons verwagtinge, drome, gedagtes en planne moet alles draai om wat God wil hê wat ons moet doen en wees. Soos wat Dawid dit deeglik verstaan het, en die apostel Paulus dit uitdruk: “want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons ...” (Hand. 17:28).

In Psalm 104 beskryf Dawid die skoonheid en wysheid van God se skepping. Hy beskryf hoe God “die hemel uitspan soos ’n tentdoek”. Hy beskryf hoe God se stem “donder”, en hoe “Hy laat gras uitspruit vir die diere en die plante tot diens van die mens: om broodkoring uit die aarde te laat voortkom, en dat wyn die mens se hart kan bly maak; om die aangesig te laat blink van olie, en dat brood die mens se hart kan versterk” (verse 14-15). Dawid roep uit: “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele! Daar is die see, groot en alkante toe wyd - daar is ’n gewemel sonder getal, klein diere saam met grotes (verse 24-25).

Koning Dawid van Israel het uit die diepste van sy wese uitgeroep: “ Ek wil sing tot eer van die HERE solank as ek lewe, ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek daar is. Mag my oordenking Hom welgevallig wees; ék sal bly wees in die HERE! Mag die sondaars omkom van die aarde en die goddelose mense nie meer wees nie! Loof HERE, o my siel! Halleluja!” (verse 33-35).

Sal ek en u “sing tot eer van die HERE” solank as wat ons lewe? Sal ons “psalmsing tot eer van God” solank as wat ons bestaan? Is ons hemelse Vader en ons persoonlike Here, wat vir ons gesterf het - Jesus Christus, “die Here God van die leer van Israel” - die ware fokus van ons lewens, ons planne en alles waarop ons hoop?

Broeders, laat ons opreg bid tot God dat ons - asook al ons broeders in God se Kerk - mag leer om God “te soek” met ons hele hart, met Hom te wandel, Hom lief te hê, altyd te prys, te dank en te aanbid soos koning Dawid dit gedoen het! Dan sal ons werklik mense word “na God se eie hart”. Dan sal God ons seën, verlos, genees en in elke opsig “Sy aangesig op ons laat skyn” soos nog nooit tevore nie.