Daar is ’n weeklikse toets wat nie net vir skoolkinders is nie!

VRAAG: Ek het gehoor dat die vierde gebod (Exodus 20:8-11) beskryf word as die “toets”-gebod. Wat beteken dit vir Christene?

ANTWOORD: Om op skool te slaag leer studente om die opdragte van hulle onderwysers te volg en hulle lesse noukeurig te leer. Min van ons besef egter dat God ons elke week op ’n spesiale manier toets. Volg ons ons Leermeester se opdragte (Matthéüs 19:17) en neem ons Sy lesse aan ons ter harte?

Die Skrif sê aan ons dat God op die sewende dag van die skeppingsweek gerus het (Génesis 2:1-3; Exodus 20:11). Hy het die dag van rus geskep of “heilig gemaak” (Markus 2:27) deur op die dag te rus, terwyl Hy al die ander dae gemaak het om te werk. Hy het nie nodig gehad om te rus omdat Hy moeg was nie (Jesaja 40:28); Hy is Gees en word nooit moeg nie. Deur op die sewende dag van die skeppingsweek te rus (vanaf Vrydag sononder tot Saterdag sononder), het God die Sabbat geheilig en vir Adam en sy nageslag ’n voorbeeld gestel om na te volg.

Die een wat Jesus Christus geword het (Johannes 1:1-5, 10-14) is die Een wat opgehou het om aan Sy skepping te werk (Kolossense 1:13-16; Markus 2:28). Jesus het dit duidelik gemaak dat die sewende dag vir die mens gemaak is (Markus 2:27; Exodus 20:8-10). God het bedoel dat die weeklikse “Sabbat” (in Hebreeus beteken hierdie woord rus) ’n verfrissende seën vir die mensdom sal wees (Deuteronómium 5:14; Exodus 23:12). God het geweet dat die mens periodiek rus en verandering van werk nodig sou hê.

Die doel om God se Sabbat te onderhou gaan wel veel dieper as om net op daardie dag te rus. Ons het elke week daardie tyd nodig om noue geestelike kontak met God te hê deur gebed, Bybelstudie en samesyn met ander gelowiges.

God se Sabbat behoort nie ligtelik opgeneem of vergeet te word nie. Ons word beveel: “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig” (Exodus 20:8). Dit is ’n herdenking van God se herskepping van die aarde en die skepping van die mens, wat ons daaraan herinner wie die Skepper is.

Hoe is onderhouding van die weeklikse Sabbat ’n “toets”? Dit is ’n toets van ons gehoorsaamheid aan God! Ware geloof in God beteken aktiewe gehoorsaamheid (Handelinge 5:29, 32; Romeine 16:25-26). Diegene wat God werklik glo sal doen wat Hy sê en sal Sy Sabbat onderhou! Sabbatonderhouding was ’n “toets” om te sien of die antieke Israeliete God sou gehoorsaam (Exodus 16:4-5, 22-24), selfs nog voordat Hy al die Tien Gebooie in gekodeerde vorm aan hulle openbaar het (Exodus 20:1-17).

Onderhouding van die Sabbatdag sou ook ’n spesiale teken van identifikasie tussen God en sy volk wees (Exodus 31:13, 16-17). God wou hê dat antieke Israel moes onthou dat Hy die Skepper, die Onderhouer en Opperheerser oor Sy hele skepping is, dus het Hy Sabbatonderhouding as die een groot teken uitgesonder waardeur hulle altyd herinner sal word aan wie Hy is en wie hulle was – Sy uitverkore volk.

Baie belydende Christene is bereid om te erken dat die ander nege gebooie deesdae op een of ander manier onderhou behoort te word, maar verwerp en weier om letterlik een gebod te gehoorsaam: Die vierde! So sien ons dat die Sabbatgebod ’n deurslaggewende toets van gehoorsaamheid is, want dit identifiseer diegene wat hulle aan God onderwerp het en daarna streef om al Sy gebooie te gehoorsaam.

Jesus het gereeld godsdienstige dienste op die Sabbatdag bygewoon “soos Hy gewoond was” (Lukas 4:16, 31). Hy het Sy eie opdrag gehoorsaam om elke Sabbat saam met ander gelowiges bymekaar te kom (Levitikus 23:3). Dít is die dag wat Hy uiteraard sou onderhou, want Hy het oorspronklik die Sabbat geheilig deur te rus en te bevestig dat dit van daardie tyd af vir altyd heilig gehou moes word. Dit was ook die apostel Paulus se gewoonte om die Sabbat te hou (Handelinge 17:1-2). Ander getuienis toon dat die vroeë Kerk van God die Sabbat onderhou het (Handelinge 13:13-15, 42, 44; 18:1, 4, 11).

Diegene wat deesdae daarna streef om God te gehoorsaam en te doen wat Hy sê (Lukas 6:46), onderhou ook dieselfde dag wat Jesus, Paulus en die hele ware Kerk nog altyd onderhou het. Hulle slaag God se “toets” elke sewende dag van die week.