Een van die interessantste en uitsonderlikste prestasies in die Kanadese geskiedenis het tussen 1871 en 1885 plaasgevind, binne twee dekades na Kanada se Konfederasie in 1867: Die konstruksie van die Canadian Pacific Railway (CPR) oor die hele vasteland om oostelike Kanada met sy nuutste provinsie, Brits Columbië, aan die Stille Oseaan se kus, te verenig. Vandag neem ons hierdie spoorlyn as vanselfsprekend aan, maar daardie tyd het dit geblyk die kragtigste, mees toegejuigde en moontlik die waaghalsigste onderneming ooit te wees. Die Kanadese skrywer, wyle Pierre Burton, het waarskynlik die omvattendste verslag oor hierdie prestasie in sy stel van twee bundels geskryf, The Canadian Dream en The Last Spike (McClelland en Stewart Ltd, Toronto, 1970).

’n Duidelike visie

Mnr. John A. Macdonald – Kanada se Konserwatiewe leier, “Vader van die Konfederasie” en eerste Eerste Minister – het ’n duidelike visie gehad van wat hy in gedagte gehad oor hoe Kanada moet wees. Dit was ’n Nasionale droom om Kanada vanaf die Atlantiese Oseaan tot die Stille Oseaan uit te brei. Met Konfederasie het Kanada uit die vier provinsies van Ontario, Quebec, New Brunswick en Nova Scotia bestaan, met Manitoba en Prince Edward Eiland wat kort daarna in 1870 bygevoeg is. Die res van die Kanadese vasteland het uitgestrekte grasvlaktes ingesluit, sowel as die noordelike en Arktiese gebiede – ’n ontsaglike groot wildernis wat yl bevolk was, hoofsaaklik deur inheemse en Metis-volke. Die Brits Columbië kolonie was aan die weskus gevestig.

Macdonald en andere het die gevaar van Amerikaanse invalle in dié streke bespeur en het besluit om dit te blokkeer deur Brits Columbië te nooi om by Kanada aan te sluit en om immigrante uit Oos-Kanada en Europa in die grasvlaktes te vestig. Om Brits Columbië in die Konfederasie in te lok, het die regering aanvanklik ’n wapad beloof om die twee streke te verbind, dit is vinnig verander na ’n belofte om ’n spoorlyn te bou wat die weste met die ooste sou verbind om sodoende die grasvlaktes te bevolk. Selfs nog voordat daar met konstruksie begin is, het teenkanting in die regering en onder die publiek ontstaan. Die Liberale opposisie-leier, Alexander Mackenzie, het in 1871 daarna verwys as “’n daad van waansinnige roekeloosheid” (The National Dream, bl. 6).

Die Amerikaners het reeds in 1869 hulle soortgelyke kontinentale spoorlyn van St. Louis na Kalifornië gebou, wat met die reeds bestaande verbindingslyne in die ooste verbind is. Die Canadian Pacific Railway was bestem om die langste spoorlyn ter wêreld te word, totdat die Trans-Siberiese lyn in 1925 in die Sowjet-Unie gebou is en bewys het dat dit ’n uiters moeilike onderneming is.

Kanada was ’n nuwe nasie wat uit ’n tiende van die bevolking van die Verenigde State bestaan het, hulle het ’n baie kleiner industriële en finansiële basis gehad om mee te werk en ’n ekonomie wat hoofsaaklik op natuurlike hulpbronne gefokus was. Die omgewing het ook eindelose uitdagings en afskrikmiddels opgelewer. Die massiewe Kanadese Skild van Noord- en Wes-Ontario en ’n gedeelte van Manitoba – ’n massiewe streek van rotse – het vordering vertraag en konstruksiekoste opgejaag. Die Skild is al beskryf as ’n bykans ondeurdringbare massa rotse, mere en vlei-agtige moerasse, sowel as muskiete. Die strawwe Kanadese winter het werk uiters moeilik gemaak en het dikwels tot die noodwendige verandering en herbelyning van die spoorlyn gelei. Ernstige ongelukke en teëspoed wat dikwels deur swak oordeel aan die kant van die konstruksie-ingenieurs en die bestuur veroorsaak is, het tot groot lewensverlies en die verlies van toerusting gelei nog voordat dit verby die Skild gevorder het (ibid. bl. 283fols).

Die moeisame pad

Die grasvlaktestreek wat van die res van die nasie afgesny was, het sy deel aan probleme opgelewer, alhoewel die werk vinniger gevorder het. Voorrade, met inbegrip van spoorstawe en hout vir verbindings, stutte en brûe, moes vir honderde kilometers vanaf Winnipeg, na die punt van die spoorlyn in die weste verskuif word. Verder na die weste het verskeie versperrings van die Rockies en bergreekse massiewe hindernisse in die vordering veroorsaak, veral op die lyn wat van Nieu-Westminster (Vancouver) na die ooste begin is, in die verraderlike Fraservallei. Honderde, selfs duisende lewens is in ongelukke verloor, vernaamlik as gevolg van die nalatige hantering van plofstof – veral nitrogliserien.

Macdonald se regering het teen 1873 in skande verval as gevolg van knoeiery, begunstiging en korrupsie ten opsigte van die spoorlyn. Kontrakte wat aan vriende en familie toegeken is het selde gedien om deeglike konstruksie te bevorder. Twyfelagtige ooreenkomste en goedkoop boumateriaal het winste in persoonlike welvaart verander. Macdonald en sy regering het in onguns verval waarna hulle in 1873 uitgeforseer en deur ’n Mackenzie Liberale regering vervang is.

Ongelukkig vir die CPR en Kanada, het Mackenzie bewys dat sy regeringstydperk van 1874-1878, net so korrup soos dié van Macdonald was en ten opsigte van die spoorlyn selfs nog minder doeltreffend. Sy regering het na ’n letterlike vuisgeveg met die Konserwatiewes in die Parlement in duie gestort, wat onder Macdonald weer die uitdaging vir die voltooiing van die spoorlyn na die weste aanvaar het. Die gekibbel en debattering oor die hele idee van die spoorlyn het steeds onafgebroke voortgewoed, kostes het met miljoene toegeneem en die dood van duisende werkers het aangegaan.

Oorwinning het egter gevolg namate kilometer vir kilometer van die spoorlyn sorgvuldig deur die wildernis gelê is; brûe en tonnels is gebou en dorpe gevestig. Op 7 November 1885 het Donald A. Smith, die oudste direkteur van die CPR, die laaste spyker ingeslaan in die wildernis by Craigellachie, Brits Columbië, oos van Meer Shuswap wat die Oostelike en Westelike lyne van die CPR verbind het.

Die Nasionale droom en visie vir Kanada, waaraan daar hardnekkig deur een man en sy volgelinge vasgeklou is, het uiteindelik geslaag ten spyte van byna onoorkomelike teëspoed, skandale, finansiële implikasies en die ineenstorting van ’n regering. Dit het Kanada die versekering van ’n blink toekoms gegee, het van die Atlantiese Oseaan tot by die Stille Oseaan gestrek en so die land verenig en bevolk met setlaars, plase en stede vir nywerhede. Dit het vir Kanada die weg gebaan om ’n suksesvolle, moderne nasie te word.

’n Visie van die toekoms

Die bou van die Canadian Pacific Railway was die gevolg van ’n groot visie – een wat Kanada op die pad gehelp het om sy rol in God se beplanning vir die wêreld te vervul. In die verloop van die vervulling van die visie is lewens verloor, sommige mense is onregverdig behandel en ander het hulleself onregmatig verryk. Dit is ongelukkig die huidige stand van die wêreld. Selfs die mees idealistiese menslike leier kan nie ’n volmaakte wêreld tot stand bring nie.

Visie is nogtans ’n kritieke element om dinge gedoen te kry en mense te motiveer om daarna te streef en dit te bereik wat sommige mense as onmoontlik mag beskou. Dit vervul ’n baie menslike behoefte: “As daar geen openbaring [visie] is nie, word die volk bandeloos” (Spreuke 29:18). Leierskap wat ’n groot en positiewe visie van ’n beter wêreld bevorder, skep hoop en energie. ’n Mens kan nêrens ’n meer positiewe visie van ’n beter wêreld vind as in die profesieë wat God geskryf en in die Bybel bewaar het nie. Hier vind ons ’n visie van ’n wêreld wat onbeskryflik vreedsaam, produktief en gelukkig is met alle dinge wat sonder korrupsie bereik word, maar deur nakoming van ’n volmaakte stel Wette – God se eie Wette. Daardie visie sal tot voltooiing deurgesien word deur die onomkoopbare Seun van God, Jesus Christus! In teenstelling met Macdonald se visie vir Kanada wat slegs van kus tot kus kon strek, leer die Skrif ons dat Christus se visie grensloos sal wees: “... tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sal daar geen einde wees nie” (Jesaja 9:6).

Die aankondiging van hierdie visie is die missie van die Wêreld van Môre!