Van oorloë tot pandemies tot astronomiese wonders, waarvoor sê God se Woord moet ons op die uitkyk wees in die jaar wat voorlê?

Bybelprofesie gee aan ons ’n oorsig van toekomstige gebeure. Jesus Christus het aan Sy volgelinge gesê om te “waak” [op die uitkyk te wees] vir die tekens van die eindtyd (Mattheus 24:42). Wat is dan die tekens waarvoor ons op die uitkyk moet wees? Waarvan kan ons seker wees volgens die Skrif? Ons behoort voorbereid te wees vir 2015 ... en daarna!

In 2014 het die drama van die menslike geskiedenis en die geweld en oorlog onverpoos voortgeduur. Koalisie-magte het die ekstremistiese Islamitiese mag naamlik ISIS, aangeval. Militêre vliegtuie van verskeie lande het ISIS-teikens in Irak en selfs in Sirië gebombardeer. Rusland se militêre magte het die Krim Skiereiland binnegemarsjeer en dit as sy eie grondgebied opgeëis. Japan en China was oor omstrede eiland-gebiede in stryd met mekaar. Palestynse militêre basisse in Gaza het meer as 4,000 missiele na Israel afgevuur, sommige tot so ver as Tel Aviv, waarin dosyne Israeli’s gedood is. Dit het Israel aangehits om voetsoldate in Gaza in te stuur om hierdie aksie stop te sit, waarin duisende Palestyne gevolglik gedood of beseer is. Joernaliste is selfs deur ekstremiste onthoof, namate bloedige onheil sy goddelose verskyning gemaak het. In Wes-Afrika het duisende mense van die Ebola-siekte gesterf. Soos baie van u weet het Jesus van Nasaret gewaarsku dat daar verskriklike siekte-epidemies in die profetiese eindtyd sal wees, die tyd waarin ons nou leef! Hy het gewaarsku: “... en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte” (Mattheus 24:7-8).

Oorloë, konflikte en terrorisme

Sal ons egter ooit die einde van konflikte, oorloë en geweld sien? Is daar enigiets wat u kan doen om van die gevaarlike tye wat voorlê te ontvlug? Jesus gee ’n uiteensetting van profetiese gebeure in die bekende “Olyfbergpredikasie” (dit word so genoem omdat dit op die Olyfberg gespreek is). U kan dit self lees in Mattheus 24, Markus 13 en Lukas 21. Die Verlosser sê: “En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander” (Mattheus 24:6-7).

Het die menslike natuur verander sedert Christus hierdie woorde gespreek het? Nee! Die laaste honderd jaar het aan ons twee wêreldoorloë, die Koreaanse Oorlog, die Viëtnamese oorlog, ’n paar Midde-Oosterse oorloë en terrorisme regoor die VS, Groot Brittanje en baie ander nasies gebring. Nasies teen nasies, etniese groepe teen etniese groepe, godsdienstige sektes teen godsdienstige sektes, geweld duur voort en heel aan die einde sal dit selfs nog erger word.

Wêreldgeskiedenis het getoon dat regerings en alliansies nie blywende vrede kan voortbring nie. Die apostel Paulus haal die profeet Jesaja aan, wat hierdie ontstellende werklikheid as volg stel: “... en die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie” (Romeine 3:17-18).

Voortgesette ontwikkeling in Europa

Watter ander groot tendense kan ons in 2015 verwag? Openbaring 17 beskryf die herlewing van ’n geheimsinnige “Dier”-moondheid. Ons lees: “En hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy ’n kort tydjie bly” (Openbaring 17:10).

Gereelde lesers van hierdie tydskrif verstaan dat hierdie Europese supermoondheid ’n herlewing sal wees van die antieke Romeinse Ryk. Tien konings of koninkryke sal ’n kragtige alliansie met die Dier-moondheid vorm. “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier. Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (Openbaring 17:12-14).

Is dit vir u ’n verrassing? Selfs die oorspronklike Douay-Rheims Bybel, wat vertaal is uit die Latynse Vulgaat vir gebruik deur die Rooms-Katolieke, sluit hierdie verrassende erkenning oor die “Dier” van Openbaring 17 in. Wanneer vers 11 beskryf word, erken die kommentaar: “Die dier waarvan hier gepraat word lyk of dit die Romeinse Ryk kan wees, soos in hoofstuk 13”. Die Douay-Rheims kommentaar oor Openbaring 13:1 sê die volgende: “Die beeld van die eerste dier is gebaseer op die sewende hoofstuk van Daniël. Hierdie dier is ’n uitbeelding van die koninkryke van die wêreld, koninkryke wat gebou is op passie en selfsug, wat in elke tydperk vyandiggesind is teenoor Christus en wat poog om die dienaars van God te onderdruk. Imperiale Rome verteenwoordig hierdie mag”.

Bybelprofesie openbaar dat die politieke entiteit wat ’n herleefde Romeinse Ryk sal word, onder die beheer van ’n “vrou” sal wees, ’n Bybelse simbool vir ’n kerk, wat op die Dier sal “ry” en dit sal beheer. Ons lees: “... en ek het ’n vrou sien sit op ’n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings. En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ’n goue beker gehad, vol van gruwels en die onreinheid van haar hoerery; en op haar voorhoof was ’n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde. En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien” (Openbaring 17:3-6).

Ja, daar word ook na die geprofeteerde eindtydse dier-moondheid verwys as Groot Babilon. Hierdie supermoondheid sal net vir ’n paar jaar stand hou. Die apostel Johannes skryf: “En ná hierdie dinge het ek ’n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid. En hy het met ’n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ’n woonplek van duiwels en ’n versamelplek van allerhande onreine geeste en ’n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls, omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid” (Openbaring 18:1-3).

Hierdie eindtydse herlewing van die Romeinse Ryk sal tot ’n ekonomiese supermoondheid groei en sal die internasionale politiek oorheers. Dit sal oor so ’n moderne militêre magsbron beskik dat dit selfs teen Christus met Sy Wederkoms sal veg, soos ons in Openbaring 17:14 lees. Sal al hierdie dinge in 2015 in plek val? Moontlik glad nie. Daar is nogtans geprofeteer dat dit vóór Christus se Wederkoms sal plaasvind. Wees dus op die uitkyk vir die opkoms van ’n magtige Europese samesmelting van state, terwyl dit die weg voorberei vir die finale eindtydse herlewing van die Romeinse Ryk.

Hemelse tekens?

Baie van u wat hierdie tydskrif lees, mag vertroud wees met selfaangestelde predikers wat met wilde idees vorendag gekom het oor die sogenaamde “bloedmane” van 2014-15. Wat is dit? Dit is ’n astronomiese natuurverskynsel, waartydens siklusse homself elke 550 jaar of so herhaal, waarin vier algehele maansverduisterings in skakerings van dieprooi plaasvind. ’n Persverklaring deur die Nasionale Lugvaart en Ruimte Administrasie beskryf die maan se kleur as “sonsondergang rooi” en beskryf elke verduistering as dat die maan “’n koperkleurige gloed kry en dan in ’n groot rooi bol verander”. Die eerste twee van die vier het op 15 April en 8 Oktober in 2014 plaasgevind. In 2015 was die verduistering op 4 April en daar sal op 28 September weer een wees. Sal enige van hierdie vier Christus se Wederkoms aankondig? Nee! Die waarheid is dat u Bybel ’n toekomstige gebeurtenis beskryf wat nog meer asemrowend sal wees as hierdie bloedmane. “Ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed” (Openbaring 6:12). Die opskrif in sommige Engelse Bybels net bokant hierdie afdeling is: “Sesde seël: Kosmiese Versteurings” en inderdaad sal hierdie “bloedmane” dof vertoon in vergelyking daarmee.

In die werklike vervulling van die “sesde seël” soos in die Skrif geprofeteer word sal die kosmiese versteurings sonder gelyke wees. Let op: “... en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6:13-17).

Hierdie kosmiese versteurings sal die Dag van die Here aankondig, die “groot dag van [Christus se] toorn”. Watter lesse kan ons uit hierdie hemelse tekens leer? Wanneer dit kom, sal dit nie die begin van die Groot Verdrukking aankondig nie, maar eerder die einde daarvan en die begin van die Dag van die Here, die finale jaar van die menslike geskiedenis voor Jesus Christus se Wederkoms!

Gedurende die Groot Verdrukking sal die wêreld Satan se toorn teen ware Christene ervaar asook op die Westerse nasies, die afstammelinge van die Huis van Israel. Die Skrif sê aan ons dat hierdie tyd, uniek in die hele geskiedenis, die tyd van benoudheid vir Jakob sal wees: “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ’n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jeremia 30:7). Onthou dat Jakob se naam na Israel verander is. Die huis van Israel het die “verlore” tien stamme geword, die Amerikaners en nasies van Britse afkoms, met inbegrip van die nasies van noordwes-Europa.

Het God voorheen tekens in die hemel gegee? Ja, Hy het! Lees van die duisternis wat geval het toe Jesus gekruisig is, dit was op Woensdag, 25 April in 31 n.C. Die mense van Jerusalem het vir drie ure lank ’n bonatuurlike duisternis gesien (Mattheus 27:45). Later daardie nag het ’n maansverduistering ook plaasgevind. Die apostel Petrus het, in sy inspirerende Pinkster-boodskap, die profeet Joël aangehaal in die beskrywing van die hemelse tekens wat nog moet kom. “En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (Handelinge 2:19-21).

Hou Jerusalem dop!

Die stad Jerusalem en veral die gebied van die Tempelberg, bly steeds ’n bron van konflik tussen die Jode en Moslems, Israeli’s en Palestyne. Gedurende die afgelope jare het klein groepies Jode begin voorberei om diere-offers, wat in 70 n.C. toe die Tweede Tempel vernietig is tot ’n einde gekom het, weer in te stel. Israelse howe het die Joodse aktiviste se pogings om hulle eredienste op die Tempelberg in te stel, verbied.

Ons weet uit die profesie van Daniël dat daar in die eindtyd ’n herlewing van diere-offers sal wees en dat dit dan verbied sal word, net soos onder die Griekse heerser, Antiochus Epiphanes, wat in 167 v.C. ’n bevel uitgereik het wat offers in Jerusalem se Tempel verbied het. Voorheen het Antiochus die tempel verder ontheilig. Hy het ’n standbeeld van Jupiter Olympus in die tempel opgerig en almal beveel om dit te aanbid.

Eweneens waarsku die boek Openbaring van ’n toekomstige besetting van Jerusalem deur ’n heidense moondheid. “En ’n riet soos ’n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid. Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap” (Openbaring 11:1-2).

Wat sal gedurende daardie tyd gebeur? “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend-tweehonderd-en-negentig dae verloop” (Daniël 12:11). Indien die daaglikse offer weggeneem word, dan moet dit nog eers op ’n tyd begin wat in die toekoms lê. My vriende, wanneer dit gebeur, sal u weet dat die einde van hierdie wêreld se beskawing aan die kom is.

Christene moet voorberei!

Aan die een kant mag dit maklik wees om moedeloos te word wanneer ons al die lyding en tendense rondom ons sien. Aan die ander kant, wanneer ons weet dat die geprofeteerde gebeure nog eers oor ’n paar jaar kan plaasvind, kan dit ook maklik wees om op te hou om aandag te skenk aan Christus se bevele. Watter waarskuwing het ons Verlosser ons in hierdie verband gegee? “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:34-36).

As Christene moet ons waaksaam bly vir die profesieë wat Jesus ons gegee het. Ons moet nie geestelik aan die slaap raak nie. Die apostel Paulus gee ons hierdie vermaning: “En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het. Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord” (Romeine 13:11-12).

Geagte Lesers, ons leef in die opwindende geprofeteerde “eindtyd”. Eindtydse profesieë wat vir duisende jare in plek was, is besig om soos nog nooit tevore nie te “versnel” en vervul te word. Ons sien uit na die Wederkoms van Jesus Christus, wat binnekort sal terugkeer om die Koninkryk van God op planeet Aarde te vestig. Ons moet dus voorbereid wees. Selfs al sou Christus nie binne die volgende paar jaar terugkeer nie kan ons elkeen individueel nie toelaat dat ons waaksaamheid verslap nie, want enige een van ons kan vanaand sterf. Ons moet in 2016 nader aan God kom en ons moet naby aan Hom bly. Indien ons dit doen, kan ons ingelig en aangemoedig word deur die vervulling van die geprofeteerde gebeure terwyl ons Christus se opdrag gehoorsaam om te “waak” in 2016 en daarna!