Jerusalem is nie net die fokuspunt van vandag se Midde-Oosterse konflik nie. U Bybel openbaar dat Jerusalem die hoofstad van die wêreld gaan wees en dat ’n nuwe Jerusalem uiteindelik na die planeet Aarde sal kom!

Die stad Jerusalem is ’n fokuspunt van die drie grootste godsdienste: Die Christendom, Judaïsme en Islam. Die moderne nasie van Israel is in 1948 gestig. Selfs toe dit net die helfte van die stad beheer het, het Israel in 1950 Jerusalem as sy hoofstad verklaar. Na die Sesdaagse Oorlog in 1967, het Israel die ou stad met die nuwe stad verenig. Vandag eis die Palestyne Jerusalem ook op as hulle hoofstad. Die vredesproses tussen hierdie nasies het doodgeloop.

Wanneer ons na al die konflikte in die Midde-Ooste kyk, lyk die vooruitsigte vir blywende vrede maar skraal. Bybelprofesie openbaar dat Jerusalem nie net die toekomstige hoofstad van die afstammelinge van antieke Israel en Juda sal wees nie, maar dat Jerusalem die hoofstad van die wêreld sal wees. Nog wonderliker is dat Bybelprofesie verkondig dat ’n nuwe Jerusalem uiteindelik uit die hemel op die aarde sal neerdaal waar dit deur God die Vader en die Messias, Jesus Christus, bewoon sal word. Sal u ’n deel van daardie glorieryke toekoms wees?

Die Midde-Ooste bly vandag ’n streek van konflik en geweld. Sommige waarnemers is hoopvol dat Israel en die Palestyne blywende vrede tot stand sal kan bring. Jerusalem is een van die struikelblokke tot vrede. Kan Jerusalem as die hoofstad van Israel sowel as ’n Palestynse staat funksioneer?

Vir die Jode was Jerusalem die stad van die groot profete en die hoofstad van die koninkryk van Israel onder koning Dawid en sy seun koning Salomo. Die eerste en tweede tempels was die middelpunt van aanbidding totdat die stad in 70 n.C. deur die Romeine vernietig is. Jerusalem is ook Islam se derde heiligste stad, ná die stede van Mekka en Medina. Vandag oorheers die Islamitiese Moskee van Omar, of die Rotskoepel, die Tempelberg. Die Arabiese term vir hierdie heilige plek is “al-Haram as-Sharif” en beteken “die Edele Heiligdom”. Die Moslems glo dat Mohammed van daardie terrein af na die hemel opgevaar het en dat God vir Abraham beveel het om Ismael en nie vir Isak nie, daar te offer. Christene vereer dié stad as die plek waar hulle Verlosser gekruisig was en waar Hy in die tempel onderrig gegee het. Christene glo dat Jesus sal terugkeer om Sy Koninkryk, met Jerusalem as hoofstad van die wêreld, hier te vestig.

Toekomstige profetiese mylpale!

Wat lê voor vir die stad Jerusalem? Betekenisvolle profetiese mylpale word deur die Skrif geopenbaar. Gereelde lesers van die Wêreld van Môre-tydskrif verstaan die eindtydse Verdrukking en die Dag van die Here, die 3½ jaar voor Christus se Wederkoms. Twee groot gebeurtenisse sal gedurende daardie tyd op die stad Jerusalem fokus. Let op wat u Bybel sê – dat vir daardie 3½ jaar, sal God se twee getuies die Diermoondheid teenstaan, die komende Europese supermoondheid waarteen ons u al gewaarsku het. “En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank sal profeteer” (Openbaring 11:3).

God het nog altyd ’n getuienis aan die rebelle en bose mense van hierdie wêreld gegee. Die wêreld sal dink dat hulle ’n oorwinning oor die twee getuies behaal het wat doodgemaak sal word en vir 3½ dae in Jerusalem dood sal lê. God sal egter die twee gestorwe getuies opwek – tot die skok van hulle vervolgers.

Ons lees: “En ná die drie en ’n halwe dag het ’n gees van die lewe uit God in hulle ingegaan, en hulle het op hul voete gaan staan, en ’n groot vrees het geval op die wat hulle aanskou het. En hulle het ’n groot stem uit die hemel vir hulle hoor sê: Kom op hierheen! En hulle het opgevaar na die hemel in die wolk, en hul vyande het hulle aanskou. En in dié uur het daar ’n groot aardbewing gekom, en ’n tiende van die stad het geval, en seweduisend mense het in die aardbewing omgekom, en die ander het bevrees geword en aan die God van die hemel heerlikheid toegebring” (Openbaring 11:11-13).

Wat anders sal gedurende die 3½ jaar van die Groot Verdrukking en die Dag van die Here gebeur? Let wel: “En ’n riet soos ’n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid. Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap” (Openbaring 11:1-2).

Ja, Bybelprofesie is duidelik. Jerusalem sal deur die heidene oorwin word en vir 3½ jaar of 42 maande verdruk word. Gedurende hierdie tydperk van 42 maande, sal Jerusalem deur die heidene vertrap word. Die twee getuies sal vir 1,260 dae lank profeteer. Die Kerk, die ware Christene, sal na ’n veilige plek in die woestyn geneem word vir 3½ “tye”, naamlik 3½ jaar, terwyl die Diermoondheid vir 42 maande sal volhard.

Wat sal aan die einde van daardie 42 maande gebeur? Die laaste van die sewe basuine in die boek Openbaring kondig die vestiging van God se Koninkryk op aarde aan. Die hemelse aankondiging verseker die einde van die mensdom se dolle vaart na verwoesting en wêreld-vernietiging. “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15)!

Opstanding van Christene!

Die algemene opstanding van getroue Christene sal met hierdie sewende basuin plaasvind, of die laaste basuin soos dit in 1 Korintiërs 15 genoem word. Dit is die tyd wanneer die ontslapenes in Christus van sterflik na onsterflik verander sal word. Hulle sal in die koninklike, goddelike Gesin van God gebore word. Die Skrif beskryf daardie transformasie: “Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie. Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word” (1 Korinthiërs 15:50-53).

Vandag se Christene wil in daardie opstanding wees. Indien u voel dat God u roep en u wil betekenisvolle veranderings in u lewe maak, kan u met een van ons verteenwoordigers gesels in die streekkantoor die naaste aan u. Sien die lys op bladsy 2 van hierdie tydskrif. U sal die geleentheid hê om met iemand te praat wat u vrae oor die Bybel kan beantwoord en u kan help om na te dink oor u begeerte om u te bekeer en gedoop te word. Onthou die apostel Petrus se opdrag aan die massas berouvolle mense in Jerusalem op die dag van Pinkster in 31 n.C.: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38). Nie net sal die sewende basuin die opstanding van getroue Christene aandui nie, maar dit sal ook die finale oordeel oor rebelse nasies aandui. Openbaring 15 lui die sewe laaste plae oor opstandige mense in. Johannes beskryf die hemelse toneel as volg: “En een van die vier lewende wesens het aan die sewe engele sewe goue skale gegee, vol van die grimmigheid van God wat leef tot in alle ewigheid” (Openbaring 15:7).

Soos jarelange lesers van hierdie tydskrif weet, beskryf die sewe seëls van Openbaring die profetiese gebeure van Christus se tyd af tot die Groot Verdrukking en die Dag van die Here. Trouens, die sewende seël (Openbaring 8) verteenwoordig die sewe-basuin-gebeure tydens die een-jaar lange Dag van die Here en die sewende basuin (Openbaring 11:15) verteenwoordig die sewe laaste plae.

Johannes beskryf die sesde van die sewe laaste plae wat tot die geveg lei waarna gewoonlik as Armagéddon verwys word: “En die sesde engel het sy skaal uitgegooi op die groot rivier, die Eufraat, en sy water het opgedroog, sodat die pad van die konings wat van die Ooste af kom, reggemaak kon word. En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” (Openbaring 16:12-14).

Jesus waarsku ons dan almal: “Kyk, Ek kom soos ’n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie. En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon” (verse 15-16).

Die slag van Armagéddon is al beskryf as die finale stryd tussen goed en kwaad. Die profeet Sagaria beskryf die omstandighede van daardie geveg. “Kyk, daar kom ’n dag vir die Here; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem! Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem” (Sagaria 14:1-2).

Jerusalem sal die fokuspunt van die finale geveg wees. Wie sal dan daardie stryd wen? “En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ’n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide” (Sagaria 14:3-4).

Ja, Jesus Christus se voete sal, soos die Bybel sê, weereens op die planeet Aarde staan. Hy sal alle rebelse nasies oorwin. Soos dit in Openbaring 17:14 gestel is, “... die Lam sal hulle oorwin” – dit is, al die militêre magte wat teen Christus sal veg met Sy Wederkoms. Let op die straf wat haatgevulde en opstandige nasies sal ontvang omdat hulle gedink het dat hulle teen God kan veg: “En dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond” (Sagaria 14:12).

Hoofstad van wêreldvrede

Die Koning van die konings sal aan alle oorloë tussen nasies ’n einde maak. Hy sal aan al die volke die weg na vrede leer. Dit sal egter tyd neem. Sommige nasies en volke leer op die harde manier. Jerusalem sal die hoofstad van die wêreld wees. Al die nasies sal verteenwoordigers stuur om die Koning, Jesus Christus, in Jerusalem te aanbid. Let op: “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier. En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die Here van die leërskare, te aanbid nie – hulle sal geen reën kry nie” (Sagaria 14:16-17).

Die mens het nog nooit die pad na blywende vrede geleer nie. Inderdaad, “... die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie” (Romeine 3:17-18). Die Koning van die konings sal die nasies die weg na vrede leer. Jerusalem sal die middelpunt van wêreldregering en onderwys wees en al die nasies sal na Jerusalem kom om God se lewensweg van liefde en vrede te leer. “En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Miga 4:2-3).

Die nasies sal die Tien Gebooie leer en die hele lewenswyse wat deur Christus onderrig word, die lewenswyse soos dit in die Skrifte opgeteken is. Let op hierdie inspirerende beskrywing van Jerusalem se toekoms: “So sê die Here: Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon; en Jerusalem sal genoem word: Die stad van trou, en die berg van die Here van die leërskare: Die heilige berg” (Sagaria 8:3).

Jerusalem staan nie nou bekend as die stad van Waarheid nie. Dit sal egter binnekort wel so wees wanneer God se Koninkryk oor die hele wêreld gevestig sal wees. Lees verder in die boek Sagaria. Luister na hierdie pragtige beskrywing van vrede en gesinsaktiwiteite in Jerusalem, tipies van vrede in nasies regoor die wêreld. “So sê die Here van die leërskare: Daar sal weer ou manne en ou vroue op die pleine van Jerusalem sit – elkeen met sy stok in sy hand vanweë die veelheid van hulle dae. En die pleine van die stad sal vol wees van seuntjies en dogtertjies wat op die pleine daarvan speel” (Sagaria 8:4-5).

Die profeet Jesaja gee vir ons ’n prentjie van die toekomstige vreugde in Jerusalem: “Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie. Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep; want kyk, Ek skep Jerusalem om te juig, en sy mense om bly te wees. En Ek sal juig oor Jerusalem en bly wees oor my volk; en daarin sal nie meer gehoor word die stem van geween of die stem van geskreeu nie” (Jesaja 65:17-19).

God beplan ’n heerlike toekoms vir ons en vir Jerusalem. Hy sal ook nuwe hemele en ’n nuwe aarde skep, saam met ’n nuwe Jerusalem. Na afloop van die Millennium en die Groot Wit Troon Oordeel sal God die skepping deur ’n brand suiwer. Die poel van vuur sal oor die hele aarde versprei om dit te suiwer. Let op: “Maar die dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand” (2 Petrus 3:10).

Die poel van vuur word in Openbaring 20:14-15 beskryf. Openbaring 21 beskryf die nuwe Jerusalem. Die apostel Johannes skryf: “En ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is” (Openbaring 21:1-2).

Toekomstige tuiste vir Christene!

Getroue Christene sal uiteindelik in daardie nuwe Jerusalem woon. Diegene wat daarna uitsien om “hemel toe te gaan” behoort daarop te let dat God se eie stad na die planeet Aarde kom! Ongelukkig verontagsaam Bybelkritici dikwels die toekomstige werklikheid van hierdie wonderlike gebeure. Hulle sê die boek Openbaring bevat apokaliptiese [openbarende] taal en versinnebeeldings, soveel so dat die meeste gebeure, indien nie almal nie, wat daarin beskryf word, nie letterlik is nie.

Ja, dit is waar dat die boek Openbaring simboliese taal gebruik maar dit is ook waar dat die Bybel die Bybel self interpreteer en ons kan help om nie net die letterlike waarhede wat direk in die Skrif geskryf is te verstaan nie, maar ook die letterlike waarhede agter simboliese gedeeltes. Onthou dat die Openbaarder Self, Jesus Christus, die toekoms aan ons wil bekend maak, asook die belangrikste profetiese gebeure wat nog in hulle volgorde sal plaasvind. “Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur” (Openbaring 1:1).

Ons behoort as Christene te weet wat daardie belangrikste gebeurtenisse is wat Christus openbaar. Onthou die seën wat Hy uitspreek oor diegene wat hierdie Boek ernstig lees en dit behou: “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby” (Openbaring 1:3).

Is u verwonderd oor Openbaring 21:9 se beskrywing van die nuwe Jerusalem? Getroue Christene na wie in die Skrif verwys word as die Lam se vrou, sal in die nuwe Jerusalem woon. ’n Engel het met die apostel Johannes gepraat en hom hierdie visioen gegee: “Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam. En hy het my in die gees weggevoer op ’n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal; en dit het die heerlikheid van God gehad, en sy lig was soos ’n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen” (Openbaring 21:9-11).

Deur vorige eeue heen het Bybelkunstenaars hulle begrip van die nuwe Jerusalem geskilder. Dit word gewoonlik as ’n kubus uitgebeeld volgens die skriftuurlike beskrywing (Openbaring 21:16). Let daarop dat die antieke tabernakel en Allerheiligste ook kubusvormig was. Baie kunstenaars het die glans van die stad beklemtoon. Dink na oor hierdie beskrywing uit die Skrif: “En ’n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam. En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin. En bedags – want nag sal daar nie meer wees nie – sal sy poorte nooit gesluit word nie; en hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies daarin bring. En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam” (Openbaring 21:22-27). Ja, diegene wat in die Lam se Boek van die Lewe opgeteken is sal hierdie glorieryke erfenis vir ewig ontvang om saam met God die Vader en met die Lam, Jesus Christus te wees.

God Almagtig het ’n ontsagwekkende plan van verlossing. U kan deel wees van die glorieryke plan en alle dinge beërwe. Jesus sê: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Matthéüs 5:5). Getroue Christene sal saam met Christus vir ’n duisend jaar in die Koninkryk op die aarde regeer, dan sal ons alle dinge beërf – die heelal. “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees” (Openbaring 21:7).

Die wêreld is vandag in konflik, veral in die Midde-Ooste. Binnekort sal Jerusalem egter die hoofstad van die planeet Aarde word en u kan deel hê aan daardie glorieryke Koninkryk!