God het ons breine só ontwerp dat ons plesier en erkenning nastreef. Hoe kan ons daardie godgegewe strewe gebruik om hom te eer?

Byna elke ouer onthou toe hulle gesien het wanneer hulle babatjie ’n eerste voorsmakie kry van wat hulle gunsteling kos word. Tot groot vermaak van ouers begin hulle beentjies en handjies skop en swaai en gesiggies ophelder van plesier en genoegdoening. Des te meer doen babas en kleuters toenemend moeite om meer te soek van wat hulle wil hê.

Die dryfkrag om die gevoelens en bevrediging van plesier of beloning te soek, is ’n ingewikkelde reaksie wat in ’n mens se brein ontwerp is. Die neurale struktuur van die brein en die gepaardgaande oordrag van ’n groot hoeveelheid breinchemikalieë, is meesterlik ontwerp deur ’n wyse Skepper. Net soos babas en kleuters, is u in die fynste besonderhede geprogrammeer om op baie vlakke na konstruktiewe belonings te soek.

Kwessie van gewaarwording

Die brein, tesame met die ruggraat strukture wat by hierdie proses betrokke is, word gesamentlik die limbiese sisteem genoem, wat die “totale senuweestelsel is wat emosionele gedrag en motiveringsdryfkragte beheer” (Guyton en Hall, Medical Physiology). Dit sluit honger, versadiging, geheue, emosionele reaksie, sosiale en familiebande, seksuele voortplanting en moederlike instinkte in. Die anatomiese dimensie van die limbiese sisteem beslaan ongeveer vyf sentimeter in die brein. In hierdie klein spasie verbind ten minste 30 anatomies-geïdentifiseerde strukture met komplekse interaksies, direk of indirek met 50 miljard breinselle en 70 biljoen liggaamselle.

Duisende breinchemikalieë help die limbiese sisteem om inligting oor te dra. Hierdie chemikalieë word plaaslik van neuron tot neuron vrygestel of soos ’n hormoon sistemies vrygestel. Benewens die opiate wat deur die liggaam geproduseer word, sluit hierdie boodskapper-chemikalieë in die brein, neuro-oordragstowwe soos GABA, oksitosien, serotonien, adrenalien, noradrenalien en dopamien in. Die meeste mense dink aan dopamien as ’n sentrale genotvolle chemikalie, maar dit integreer ook die “soekende” dryfkrag met funksies soos kognitiewe vermoëns, hart- en nierfunksie asook motoriese beheer. Dopamien wat op verskeie plekke regdeur die limbiese stelsel geproduseer word, word aangevuur deur sensasies of selfs deur ons gedagtes en persepsies.

Wat hierdie vermenging verder kompliseer, vind ons is teikenselle se neuro-oordragreseptore. In Amerikaanse bofbal moet ’n mens ’n handskoen aanhê om ’n bal te vang. Vir dopamien om enige doel of funksie te hê, moet neurone of selle reseptor-areas hê. Net soos verskillende posisiespelers in die bofbalspan verskillende soorte handskoene gebruik, bepaal elke reseptor die plek waar ’n dopamien-boodskapper gebruik kan word. Dopamien het vyf geïdentifiseerde reseptore, elkeen vir spesifieke take soos geheue, oplettendheid, slaap, onderrig, impulsbeheer, besluitneming en selfs nierfunksie. Binne die brein het slegs sowat 1 persent van neurale weefsel dopamien-reseptore, maar daardie reseptorneurone kan elektries regdeur die brein kommunikeer. Sodra die dopamienboodskap afgehandel is, word dit nie verder afgeskei nie.

Die interaksies tussen hierdie ingewikkelde komponente bring asemrowende komplekse, verskillende en geïndividualiseerde resultate. Dit verskaf aan ons die reeks sensasies en plesier van ’n fynproewer wat ’n glas wyn of ’n stukkie sjokolade geniet. Dit spoor al die woede en vrees aan wat in die wêreld se ergste oorloë was. Dit koester die lojaliteit, toegeneentheid, getrouheid en gedeelde herinnerings van ’n bejaarde getroude paartjie wat op ’n swaaibank op die stoep sit en mekaar se hande vashou.

Vorms van vernietiging

Ongelukkig het mense wat deur winsbejag gedryf word, hierdie kragtige en pragtig ontwerpte stelsels uitgebuit vir vernietigende, verslawende resultate. Alhoewel dit gewoonlik skadelik is, is verslawing vanuit ’n neurobiologiese oogpunt, bloot ’n uiterste manifestasie van gewoonte. ’n Verslawing kaap in wese die brein se motiverings- en beloningschemikalieë, wat ’n wyse Skepper ontwerp het om goeie gewoontes en gesonde verhoudings te versterk. Ontevrede met die Skepper se ontwerp, het die samelewing in die algemeen nuwe produkte en prosesse uitgedink, verander en toenemend kragtige middels van verslawing in werking gestel.

Die fentanielkrisis [dwelmmiddel] wat ons vandag sien, is slegs een tragiese illustrasie hiervan. Fentaniel is ’n sintetiese dwelmmiddel wat 50 keer sterker as heroïen is en 100 keer kragtiger as die morfien waaraan baie beseerde Amerikaanse Burgeroorlog-soldate verslaaf geraak het (“Fentanyl Facts,” CDC.gov, 23 Februarie 2022). In die konstante stroom van vernietigende verandering, is fentaniel se onlangse gelyksoortige ontwikkelling, karfentaniel, wat 10,000 keer sterker as morfien is (“Carfentanil: A Dangerous New Factor in the U.S. Opioid Crisis,” Drug Enforcement Administration, Justice.gov).

Soms gekombineer met kokaïen of heroïen, is fentaniel oënskynlik oral te vinde in die onwettige dwelmhandel. “Opioïed-verwante oordosis sterfgevalle het van 21,088 in 2010 tot 47,600 in 2017 gestyg en het in 2018 bestendig gebly met 46,802 sterftes. Dit is gevolg deur ’n aansienlike toename in 2020 tot 68,630 sterftes as gevolg van oordosis” (“Overdose Death Rates,” National Institute on Drug Abuse, NIDA.NIH.gov).

Smaaklose, kleurlose en reuklose, onwettig vervaardigde fentaniel kan in neussproei of oogdruppels gesit word of op papier of klein lekkertjies gedrup word. Soos alle opioïede, begin fentaniel se werking deur aan die brein se opioïedreseptore te verbind wat euforiese gevoelens van geluk en ontspanning saam met pynverligting meebring. Namate verdraagsaamheid vir die dwelm egter toeneem, kan die individu nie meer enige plesier sonder die opioïed voel nie. Die drang na die dwelm neem die individu se lewe oor en oordosering raak ’n moontlikheid.

Tekens van ’n oordosis fentaniel kan binne minute of selfs sekondes verskyn, aangesien die middel in wese die sentrale senuweestelsel verlam. Volgens die Nasionale Instituut van Gesondheid veroorsaak ’n oordosis fentaniel verminderde sensitiwiteit van asemhalingsentrums van die brein, wat lei tot ’n gevaarlike opbou van CO2. Die asemhalingsrefleks kan vinnig afneem of beëindig word. Verminderde suurstof na die brein kan lei tot “’n koma en permanente breinskade en selfs die dood” (“What is fentanyl?,” NIDA.NIH.gov). Dit is werklik ’n aaklige manier om te sterf en ’n tragiese ondermyning van ’n stelsel wat God ontwerp het vir ons eie beswil.

Op soek na die Ewigheid

Ons is geprogrammeer om te soek. Ons weet wat dit is om fisies honger te wees en wat dit is om versadig te wees. Soms kan ons onmiskenbaar leeg voel, emosioneel sowel as geestelik. Lank gelede het Israel se koning Salomo, wat baie rykdom besit het, daarna gestreef om elke begeerte van hom te bevredig: “En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsien nie: my hart het ek van geen enkele vreugde teruggehou nie” (Prediker 2:10). Ten spyte van sy soektog, het hy nogtans net bitter teleurstelling ondervind: “Daarom het ek die lewe gehaat, want die werk wat onder die son gedoen word, het my mishaag, omdat alles tevergeefs is en ’n gejaag na wind” (vers 17). Indien ons gewilliglik beheer oor ons emosies en verstand prysgee, kan dit gekaap word deur Satan die duiwel, wat ook genoem word die vernietiger (“Abaddon” of “Apollyon,” Openbaring 9:11), wat begeer om ons heeltemal van God te distansieer en ons “vol boosheid” te vul (Prediker 9:3).

Ervaar u dat u na iets soek wat u net nie kan vind nie? Lyk dit ooit asof niks u meer kan bevredig nie? U is van kop tot tone gemaak om u God te soek. Fisies, maar tot ’n baie groter mate geestelik – is u ontwerp om vervul en tevrede te wees met wat net u Skepper u kan gee. Ons leef in die “era van verslawing” met kragtige sintetiese dwelms, die Internet, alkohol en pornografie wat hulle aas aanbied en wag om dopamien en ander soekmeganismes in u brein en liggaam te kaap. Dit is in werklikheid egter niks nuuts nie; u kan ’n antieke eksperimenteerder se innerlike gedagtes en emosies in die boek Prediker lees. Salomo het verskeie ontvlugtings van die lewe probeer en tot die gevolgtrekking gekom dat net God die hartsbegeerte na iets blywends kan bevredig (Prediker 2:11; 3:11; 12:13).

Kundiges van verslawing kan nogtans sekerlik sommige mense help om ’n mate van beheer oor hulle impulse te herwin, alhoewel hierdie kundiges nie die uiteindelike antwoorde het nie. U Bybel het die antwoorde en die soeke na die waarhede wat vervat is in die Woord van God hét lewens verander. Mnr. Wallace Smith se artikel in die Tomorrow’s World van Augustus 2022, fokus op wat u Koning, wie binnekort sal terugkeer, vir u en vir elke slagoffer van hierdie “era van verslawing” beplan.