V: Onderrig Galasiërs 4:8-10, dat daar nie van Christene vereis word om God se Sabbat en Heilige Dae te onderhou nie?

A: Nee, dit is nie wat daar onderrig word nie. Die apostel Paulus rig sy brief aan die Christene in Galasië, wat ’n unieke vermenging van Jode, Romeine, Grieke en Galliërs (waaruit die Franse ontstaan het) was, met ’n spesifieke karakter gevorm deur eeue se Keltiese invloed (sien JB Lightfoot’s Commentary on Paul’s letter to the Galatians, 1999, bll. 12-17).

Die Galasiërs se samelewing het ’n verskeidenheid heidense bygelowe en rituele gehad vir die onderhouding van “dae en maande en tye en jare”. Ceasar het gekla dat die Galasiërs, as ’n volk voortgedryf is deur ’n begeerte vir verandering, wat die aanneming en wegdoening van die een godsdiensstelsel na die ander ingesluit het (sien Lightfoot, bl. 15). Paulus het hierdie wispelturigheid waargeneem toe hy skryf: “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ’n ander evangelie toe” (Galasiërs 1:6). Hy noem hulle ook “onverstandige Galásiërs” en “betower” (Galasiërs 3:1). Hul geloof was oppervlakkig; hul ywer kortstondig en wanneer iets nuut en opwindend opgeduik het, het hulle dit nagejaag. Met dít ingedagte, kan ons twee hoofuitdagings vir die Kerk in Galasië verstaan, naamlik Judaïsme en die heidendom.

Sommige mense het valslik onderrig dat die Galasiërs, soos die Jode, besny moes word. Vir die vroom Jode het fisiese besnydenis en ritualistiese aanbiddingsgewoontes geregtigheid beteken. Paulus gaan hierdie vals lering teë deur aan te dui dat ’n mens nie “volmaak” gemaak kan word deur die vlees nie (Galasiërs 3:3). Trouens, “besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie” (Romeine 2:28-29). Ware geregtigheid en volmaaktheid volg slegs deur Jesus Christus en Sy geloof wat in ons woon (Galasiërs 2:20).

Paulus verduidelik die ware doel van die offerandes, offers en wassinge van die ritualistiese wet: “Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom” (Galasiërs 3:19). Let daarop dat hierdie wet ingestel is nadat die Tien Gebooie, die Heilige Dae en die Sabbat ingestel is. Jesus Christus sê dat Hy die Here van die Sabbat is (Markus 2:28). Sy voorbeeld en Sy geloof stel die standaard waarvolgens alle ware Christene leef. Die Galasiërs het ’n ritueel @ besnydenis, in twyfel getrek, nie ’n basiese lewenswyse wat deur Christus en Sy apostels onderrig en beoefen was nie. Dit is waarom Paulus kon skryf: “Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ’n nuwe skepsel” (Galasiërs 6:15).

Paulus spreek ook die probleem van heidensheid in die Kerk aan. Hy skryf: “Maar ... toe julle God nie geken het nie, het julle dié gedien wat van nature geen gode is nie; maar nou dat julle God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? Julle neem dae en maande en tye en jare waar” (Galasiërs 4:8-10).

Paulus begin Galasiërs 4 deur die Joodse Christene aan te spreek en gebruik die gesamentlike voornaamwoord “ons”. In vers 8 spreek Paulus “julle” aan, die Christene van heidense oorsprong wat tevore duiwels en afgode aanbid het en nie geweet het wat hulle aanbid nie, want soos Jesus bevestig het “saligheid is uit die Jode” (Johannes 4:22). Die Heidene is van God afgesny (Efesiërs 2:13) en het begin om mensgemaakte bygelowe en heidense rituele na te volg, insluitend die viering van “dae en maande en tye en jare”. Hierdie vierings, gekoppel aan antieke astrologie, het voorts baie belydende Christene tot verderf gelei. Die vierde-eeuse Katolieke biskop Chrysostom skryf dat die swak Christene bygelowige “tye” onderhou het. Hy sê: “Baie raak bygelowig verslaaf aan waarsêery … Ter viering van hierdie tye rig hulle lampe in die markplein op en hang blommekranse op hul deure” (Bingham’s Antiquities of the Christian Church. Bll. 1,123-1,124). Hierdie vieringe maak ook melding van baie sogenaamde “gelukkige” en “ongelukkige” dae en spesiale maande en jare waartydens die Grieke en Romeine oor die algemeen afgodery beoefen het.

God verbied sulke rituele spesifiek, alle waarsêery (onderhouding van “tye”) en afgodery (Deuteronomium 18:10, 14; Levitikus 19:26). Selfs vandag duur hierdie gebruike voort in “moderne” bygelowe soos spesiale “gelukbringer juweliersware”, wensbeentjies, Vrydag die 13de-vrese en die oplees van sterrevoorspellings. Paulus se vermaning was nie ’n veroordeling van God se wet of Sy Heilige Dae nie, maar sy vermaning is steeds vandag van toepassing op Christene wat Christus se voorbeeld en leringe volg!