VRAAG: Is dit ooit aanvaarbaar om inligting by “heldersiende persone” soos spiritistiese mediums of fortuinvertellers te soek? Dit lyk asof baie mense baie hulp en vertroosting uit sulke inligting ontvang. Wat sê die Bybel hieroor?

ANTWOORD: Toe die Israeliete op die punt was om die Beloofde Land binne te gaan, het God hulle gewaarsku om nie die gruwels van die nasies wat Hy voor hulle uitdryf na te volg nie (Deuteronómium 18:9). God het daardie nasies se gedrag as verfoeilik beskou omdat hulle “luister na goëlaars en waarsêers” (vers 14). Hy het die Israeliete uitdruklik verbied om deel te neem aan die gruwels van daardie nasies – met inbegrip van afgodediens, menslike offers, heksery, waarsêery, verklaring van voortekens, towery, goëlery bemiddelaars, spiritisme en die raadpleging van dooies (verse 10-12). Die Skrif is onweerlegbaar duidelik daaroor dat sulke praktyke nie aanvaarbaar is vir diegene wat God wil gehoorsaam nie.

Sommige bedrieërs kan “Christelik” of “heilig” of “welmenend” voorkom. Let egter daarop dat Satan se dienaars regverdig voorkom. Die apostel Paulus het vals apostels soos volg beskryf: “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Korinthiërs 11:14-15).

Jesus Self het gewaarsku dat “baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei” (Matthéüs 24:11). Dit is noodsaaklik om te besef dat diegene wat hulleself “mediums” of “profete” noem, in werklikheid mislei is óf doelbewuste bedrieërs is. God waarsku: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Johannes 4:1).

Een voorbeeld van ’n valse profeet is Simon Magus die Towenaar, wat baie mense in ’n Samaritaanse stad mislei het om te dink dat hy “die groot krag van God” was (Handelinge 8:9-11). Nadat Filippus die ware Evangelie van Jesus Christus verkondig het, wou Simon hierdie mag wat gepaard gegaan het met tekens en wonderwerke wat deur die Heilige Gees verrig is, (verse 5-8, 12) koop, maar Petrus het hom bestraf (vers 20). Petrus het toe gesê: “Bekeer jou dan van hierdie boosheid van jou, en bid God of die gedagte van jou hart jou miskien vergewe mag word. Want ek sien dat jy in ’n gal van bitterheid en bande van ongeregtigheid is” (verse 22-23). Simon Magus die Towenaar het ’n gees van opstandigheid en bitterheid gehad. Sy krag het nie van God gekom nie, maar uit die beoefening van toorkuns. Daarteenoor het Filippus en Petrus die waarheid en gehoorsaamheid aan God se Woord onderrig, gerugsteun deur die onmiskenbare krag van die Heilige Gees. Baie mense het hierdie verskil waargeneem. Hulle was sekerlik bevry van Simon se misleiding en het ware hulp ontvang, wat aanleiding gegee het tot hulle verlossing.

Gedurende die Nuwe-Testamentiese era was ’n groot deel van die “beskaafde” wêreld in afgodediens, demonisme en okkultisme gedompel (Handelinge 17:16; 19:18-20). Ons lees van ’n slavin wat deur ’n waarsêende gees gevul was en wat groot wins vir haar eienaars opgelewer het (Handelinge 16:16-18). Nadat hy deur daardie bose gees lastig geval is, het Paulus die gees beveel om uit die slavin uit te gaan en dit het gehoorsaam. ’n Ware Christen behoort nooit hulp te soek by spiritistiese mediums of paranormale bronne nie, want Satan en sy demone sit direk of indirek agter al hierdie aktiwiteite. Let op die vermaning van die profeet Jesaja: “En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel – moet ’n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word? Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ’n volk wat geen dageraad het nie” (Jesaja 8:19-20).

Christene moet waak teen alle vorms van heksery en spiritisme. God waarsku dat towenaars in die poel van vuur verbrand sal word (Openbaring 21:8). Daarteenoor sal diegene wat God soek en glo en gehoorsaam is aan wat Hy sê, altyd deur die waarheid gelei word. Soos Jesus Christus tot die Vader gebid het: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Johannes 17:17).