U Bybel waarsku dat ongekende tekorte aan voedselvoorrade voorlê – selfs in vooruitstrewende Westerse lande. Hoe kan u uself voorberei?

Waarskuwings oor hongersnood klink dalk onsinnig vir welgestelde, oorvoede nasies in Wes-Europa, Noord-Amerika en ander “Eerste Wêreld”-lande, waar vetsug ’n toenemende probleem is. Trouens, groot groepe mense ly daagliks honger en hongersnood is pynlike feite van die lewe. Terwyl baie godsdienstige leiers oor liefde, vrede en verdraagsaamheid praat, sien hulle nie – of verstáán hulle nie die betekenis van die tragiese gebeure wat lank gelede geprofeteer is en wat vandag gestalte aanneem nie.

Jesus Christus waarsku dat kort voor Sy geprofeteerde Wederkoms, die wêreld toenemend erge hongersnood op ’n wêreldwye skaal sal beleef (Matthéüs 24:3-8; Markus 13:8; Lukas 21:11). Die apostel Johannes simboliseer hierdie hongersnood met sy bekende derde perderuiter van die apokalips, wat op ’n swart perd ry en ’n weegskaal dra – ’n instrument om koring en ander graan te weeg wat te koop is (Openbaring 6:5-6). Hierdie geprofeteerde hongersnode – saam met siektes, natuurrampe en dodelike wêreldwye oorlogvoering – sal die dood van een-kwart van die wêreld se bevolking veroorsaak.

Vir baie moderne mense klink dit dalk na morbiede wetenskapfiksie of die bangmaaktaktiek van ’n skrikaanjaer. Hierdie is ’n onderwerp waaroor die nuwerwetse, “voorspoed-teologie” nie graag praat nie. Vir baie mense in die ontwikkelde Westerse lande is “voedselskaarste” deesdae weinig meer as ’n kwessie van ’n voorsieningsketting wat beteken dat daar net een vleissnit in die supermark is of dat daar vyf soorte rys beskikbaar is in plaas van tien soorte. Min mense verbind die probleem met die woorde van die Skrif.

Die waarheid behoort egter ons oë oop te maak. Werklike wêreldwye toestande toon dat ons wêreld begin lyk soos wat die Bybel lankal reeds voorspel het. Vir dekades het Westerse noodlenigings-agentskappe en die Verenigde Nasies die meeste van hulle pogings gerig om voedselverligting te voorsien met betrekking tot hongersnood regoor Afrika. Voedselonsekerheid het nogtans in meer onlangse jare na ander streke uitgebrei. Gedurende 2022 het die V.N. die wêreld se aandag gevestig op ernstige voedseltekorte wat bevolkings in Afganistan, Haïti en Jemen raak (“Food insecurity soaring across 20 hunger hotspots,” News.UN.org, 27 Januarie 2022).

Hongersnood sal na die Weste uitbrei

Dit is ontnugterend om te besef dat Bybelse profesieë waarsku teen ernstige voedseltekorte wat in meer welvarende Westerse lande sal voorkom. Lank gelede het God vir die opstandige huis van Israel gesê: “’n Derde deel van jou sal aan die pes sterwe en deur hongersnood in jou omkom; en ’n derde deel sal deur die swaard rondom jou val; en ’n derde deel sal Ek na al die windstreke verstrooi, en Ek sal ’n swaard agter hulle uittrek” (Eségiël 5:12). Die gebrek aan reën en die daaropvolgende droogte sal groot faktore wees wat bydra tot hierdie haglike omstandighede (Levítikus 26:19-20; Deuteronómium 28:23-24).

Wydverspreide droogtes en gebrek aan reën is nie die enigste oorsake van huidige hongersnood nie. Swaar of wisselvallige weer, wat verband hou met klimaatverskynsels soos El Niño of La Niña, kan stortreën, vriesende koue en tornado’s veroorsaak wat oeste beskadig en voedseltekorte tot gevolg kan hê. Oorloë wat boere van hulle grond af verdryf, verminder voedselproduksie, ontwrig verspreidingstelsels en vernietig opgebergde voedsel. Politieke teenstanders word dikwels toegang tot voedselvoorrade ontneem. Bewerkbare grond het ’n instrument geword vir politieke invloed in sommige lande wat in die nood is, deurdat bevoordeelde partye of groepe toegang vir opponente geweier het.

Strukturele veranderings wat deur die Wêreldbank of die Internasionale Monetêre Fonds op lande met groot skuld afgedwing word, veroorsaak ook hongersnood toestande in dele van die samelewing. Nasies wat “aangemoedig” word om gewasse vir kontant-uitvoer te verbou, in plaas daarvan om voedsel te verbou, bevind dikwels dat hulle nie in staat is om hulleself te kan voed nie. Die verplasing van plattelandse bestaansboere deur groot korporasies laat ook baie mense in armoede en hongersnood beland.

Terwyl politieke en maatskaplike gevegte oor “klimaatsverandering” voortduur en dit betwis word of onlangse klimaatuiterstes net deel van ’n natuurlike kringloop is of vererger word deur die mensdom se swak rentmeesterskap oor die planeet, is die koste verbonde aan die agteruitgang van die natuur geweldig hoog en moet uiteindelik betaal word! Visvoorrade in die wêreld se oseane is ernstig besig om af te neem as gevolg van verwoesting deur moderne fabrieke se visvang tegnieke. Vleis word al hoe duurder om te produseer, wat lei tot die geweldige toename in belangstelling van “plantgebaseerde” vervangings onder die druk van omgewingsbewustes, sowel as deur die multinasionale korporasies wat uit die krisis wil baat.

Misleide regeringsbeleide wat deur droogte vererger is, het in die verlede verwoestende hongersnood veroorsaak en soos dit geprofeteer is, gaan hulle vandag daarmee voort, met tekens dat hongersnood sal vererger. In 1932-1933 het daar na raming vyf miljoen boere in die Oekraïne weens hongersnood gesterf wat veroorsaak was deur die Sowjet-leier Joseph Stalin se beleid van gedwonge sosialisering van bewerkbare landerye. Hoeveel Oekraïners kan selfs in 2022 sterf weens voedselontwrigting wat deur Rusland se inval veroorsaak is? Na raming het 30 miljoen Chinese as gevolg van dieselfde redes honger gely tydens hulle land se “Great Leap Forward” in die laat 1950’s. Alhoewel dit onmoontlik is om ’n betroubare syfer van die streng beheerde staat te verkry, beraam sommige waarnemers dat meer as drie miljoen Noord-Koreane tussen 1994 en 1998 gesterf het weens hulle regering se oordrewe streng beleid.

Ons behoort dit dus nie ligtelik op te neem dat die Europese Unie vandag sentrale beheer oor Europa se voedselvoorrade – landbou, visserye, voedselverwerking en voedselverspreiding – wil handhaaf nie. Dit kan verreikende gevolge hê.

Geprofeteerde rampspoed lê voor

Nadat God die Israeliete uit Egipte gebring het, het Moses geprofeteer dat indien hulle die Wette van God gehoorsaam, hulle geseën sou word met “reëns [gee] op die regte tyd” en oorvloedige oeste, maar indien hulle die Wette van God ignoreer, sal Hy “julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper” sodat “julle land ... sy opbrengs nie gee nie” en siekte-epidemies sal hulle kleinvee en beeste teister (Levítikus 26:14-22).

God het ook gewaarsku dat, as gevolg van ongehoorsaamheid: “... julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet.” God sal ook “vir julle die staf van die brood verbreek” (Levítikus 26:16, 26). God het later die Israeliete gewaarsku dat benewens oesskade deur droogte en insekte: “... jy sal altyddeur net verdruk en beroof wees sonder dat daar ’n helper is ... Jou bees word voor jou oë geslag, maar jy sal daarvan nie eet nie ... jou kleinvee word aan jou vyande gegee ... Die vrugte van jou land en al jou werk sal ’n volk eet, wat jy nie ken nie; en jy sal altyddeur net verdruk en hard behandel word. En jy sal kranksinnig wees vanweë die gesig van jou oë wat jy sal sien” (Deuteronómium 28:23-42).

Wat God voorspel het, begin vandag gebeur, met Brittanje en met ander moderne afstammelinge van Israel in Europa en Suid-Afrika en herinner ons aan Eségiël se profetiese waarskuwing: “As Ek die verderflike pyle van hongersnood teen hulle uitstuur … en julle staf van die brood sal Ek verbreek …” (Eségiël 5:14-17). God het sy opstandige kinders gewaarsku: “Ek sal onheile op hulle ophoop ... As hulle uitgeput is van honger” (Deuteronómium 32:23-24).

Die derde perderuiter kondig die koms aan van ’n tyd van hongersnood wat erger as enigiets is wat ons wêreld nog ooit gesien het. Aangesien die moderne afstammelinge van antieke Israel, God se Wet grootliks verwerp het en entoesiasties op ’n morele “slee wat afwaarts gly” na verval gespring het. God se straf is voor die deur. Hy sal nie net die weer gebruik nie, maar sal ook die hebsug van die moderne wêreldse mensdom gebruik om ’n geprofeteerde tyd van hongersnood ’n werklikheid te laat word wat tot die wêreld se ondergang en algehele vernietiging sal ly, as dit nie vir die Wederkoms van Jesus Christus is om ons van onsself te red nie. Om meer te wete te kom oor die derde perderuiter en sy rit, sowel as die ander perderuiters wat waarsku oor krisisse wat voorlê, bestel gerus ons gratis boekie Vervulde Profesie: God se Hand in Wêreldsake.