My vriende, die meeste van u besef vandag dat die meerderheid mense feitlik geen vrees of opregte respek vir die God van die Bybel het nie! Dit lyk asof hulle nie omgee wat Sy geïnspireerde Woord sê – aangaande aborsie, dieselfde-geslag huwelike, seks buite die huwelik of basies enigiets anders nie! Nogtans sê die God van die Bybel aan ons: “Want Ek, die Here, het nie verander nie” (Maleagi 3:6). Net soos die Almagtige God antieke Israel swaar gestraf het, so sal Hy ons straf, tensy ons mense hulle waarlik bekeer en na Hom terugkeer!

Hoe sal hulle hulle egter kan bekeer as hulle nie gewaarsku word nie (Romeine 10:14)? Dít is die werklike rede vir hierdie Werk. God gebruik ons om die wêreld tewaarsku aangaande God se toekomstige ingryping in die mens se sake en aan hulle die manier te wys waarop hulle God se toorn kan vryspring in die jare wat voorlê. God beveel Sy ware dienaars: “Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ’n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes. Wel soek hulle My dag vir dag en het ’n behae in die kennis van my weë! Soos ’n nasie wat geregtigheid doen en die reg van sy God nie verlaat nie, vra hulle My na die regverdige verordeninge; hulle het ’n behae in die toenadering tot God” (Jesaja 58:1-2).

Die Skepper-God beveel Sy ware leraars: “Roep uit die keel!” Hoeveel het werklik die moed en toewyding om dit te doen? Inderdaad, baie min!

So was dit in Jesus se tyd. Die apostel Johannes sê: “Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie. Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God” (Johannes 12:42-43).

Doen die werk

My vriende, ons by die Wêreld van Môre doen die Werk van die Almagtige God aan die einde van ’n era. Ons “vertel dit regtig soos dit is”. Ons verstaan ook werklik die Bybelse profesie en verkondig voortdurend die waarheid oor wat vir u voorlê in u eie lewe. Die God wat aan ons lewe en asem gee, verkondig in Sy geïnspireerde Woord: “Sal die basuin in die stad geblaas word en die bevolking nie skrik nie? Sal daar ’n onheil in die stad voorval as die Here dit nie bewerk het nie? Want die Here Here doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie. Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie? Die Here Here het gespreek, wie sal nie profeteer nie?” (Amos 3:6-8).

Om die basuin te blaas en hierdie boodskap, vir meer as 76 jaar te verkondig, is die moderne herlewing van die Werk van God deur hierdie tydskrif en sy voorgangers aangekondig. Ekself is hierdie winter (2014) reeds 62 jaar lank voltyds betrokke in die Werk.

Van mimeograwe tot mikroskyfies

Nadat mnr. Herbert W. Armstrong, wat my in 1952 verorden het tot ’n evangelis, sy bediening meer as 76 jaar gelede begin het, het hy sy tydskrif-artikels met die hand op ’n ou tikmasjien getik. Hy het tabelle met ’n liniaal en pen of potlood getrek. Hy het sy eerste tydskrifte per hand “gedruk” met behulp van ’n mimeograaf-masjien. Nadat die radio en televisie beskikbaar was, het mnr. Armstrong die potensiaal van die moderne tegnologie raakgesien en dit na die beste van sy vermoë gebruik om die boodskap van die Evangelie van die Koninkryk van God te verkondig.

Vandag kan die rekenaar so baie doen wat ons kan gebruik in die ontwerp en druk van hierdie tydskrif. Selfs in ons kantoor in die VSA sê een van die “rekenaardeskundiges” op ons personeel vir my dat die rekenaars wat ons tans gebruik om ons Engelse tydskrif te publiseer, ten minste 30 keer kragtiger is as dié waarmee ons 14 jaar gelede ons eerste Tomorrow’s World-tydskrif gepubliseer het. Ons wil die beste van die tegnologie op die regte manier gebruik, soos God dit moontlik maak, om die Waarheid so te verkondig dat dit toenemend miljoene mense sal bereik, namate die einde van hierdie tydvak nader.

Ek weet dat vir die meeste van u wat hier lees, dit die “boodskap” is wat belangrik is. ’n Man op ons rekeningkundige personeel sê dat hy ons tydskrifte selfs sou lees, al was hulle “op ’n bruin papiersak” gedruk. In ’n sekere opsig is hy heeltemal reg. Indien ons nie die regte boodskap het nie, kan geen rekenaarvaardighede tog opmaak vir wat ontbreek nie. U sal ook sien dat die boodskap op die bladsye van ons Engelse tydskrif nie verander het nie, ten spyte van die nuwe formaat en ontwerp. Dit is nog dieselfde skrywers as voorheen en die artikels is dieselfde. Ons wil nogtans hê dat ons Engelse tydskrif steeds moet “lyk en voel” soos die beste tydskrif wat deesdae beskikbaar is. Ons wil ons ontwerp vars, eietyds en aantreklik hou vir soveel as moontlik lesers, sodat hulle kan “kennis neem” van die waarskuwende boodskap wat ons verkondig. Hoewel ons nie die Tomorrow’s World-tydskrif verkoop nie – ons sal ook nooit nie – wil ons hê dat dit in sy eie reg presies net so professioneel moet lyk, soos ander kwaliteit-tydskrifte wat u moontlik lees, soos The Economist of Newsweek of Time.

Terwyl ons van Newsweek praat mag sommige van u moontlik onthou dat, ná byna 80 jaar van publikasie, Newsweek Desember 2012 oorgegaan het tot ’n “ten volle digitale” formaat en die gedrukte uitgawe het verdwyn. Al was Newsweek ’n tydskrif wat afhanklik was van betaalde advertensies en intekenaarsgeld kon die uitgewers nie bekostig om voort te gaan met die druk van die tydskrif nie. Dit is ook nog ’n ander manier waarop die Tomorrow’s World “anders” is. Ons volg die weg van “gee” waarvan Jesus in Mattheüs 10:8 praat. Ons is innig dankbaar teenoor diegene wat met donasies hierdie Werk ondersteun, hoewel ons nie donasies verwag van diegene wat hierdie asook ons Engelse tydskrif ontvang nie. In dankbaarheid weet ons dat God Sy mense inspireer om te gee tot die mate waartoe hulle in staat is. Deur Sy voorbeeld wys Hy aan ons dat die weg van gee werklik ’n lewenswyse is wat werk!

Die hardwerkende lede van ons personeel wat ons Engelse tydskrif saamstel is ook ’n voorbeeld van hierdie lewenswyse. Alhoewel ek nie dikwels in hierdie artikel die name noem van die mense wat so hard aan hierdie tydskrif werk om dit so ’n uitstaande eindproduk te maak nie, was dit my plesier toe ek in Januarie ons skrywer Dexter Wakefield kon noem vir sy uitstekende artikel in die vorige uitgawe (“Onnatuurlike rampe”, November-Desember 2013). In hierdie uitgawe wil ek graag twee lede van ons redaksionele personeel persoonlik bedank. Eerstens wil ek Donna Prejean noem wat die lid is wat die langste op ons redaksionele span dien. Die Tomorrow’s World-tydskrif het 14 jaar gelede begin en toe het mev. Prejean geen ander hulp gehad in die ontwerp en uitleg van elke uitgawe nie. Deur die jare het sy onvermoeid gewerk om die tydskrif op baie maniere te verbeter, terwyl sy terselfdertyd ons boekies en verskeie ander gereelde publikasies voorberei het. Ek het diepe waardering vir haar lojale en getroue diens aan hierdie Werk, en sien uit na God se volgehoue seën op alles wat sy doen vir hierdie Werk se publikasies. Vervolgens wil ek graag ons nuutste redaksionele werknemer in die VSA, John Robinson, noem. Mnr. Robinson het aan die spits gestaan van die herontwerp van hierdie tydskrif. Ek weet hy sal hard werk om die voortgesette voortreflikheid daarvan te verseker en om ons ander redaksionele lede te help en aan te moedig om dieselfde te doen. Elkeen van hierdie twee lojale en gewaardeerde werknemers speel ’n sleutelrol in ons span “agter die skerms”.

Profesieë marsjeer voort!

Ek let terloops op dat die laaste keer toe ons met ’n herontwerp van ons Engelse tydskrif (vir ons Mei-Junie 2005 uitgawe) begin het, Pous Benedictus XVI slegs ’n paar dae nadat die herontwerpte uitgawe ter perse gegaan het verkies is. Hierdie jaar is Pous Franciskus I verkies terwyl ons besig was met die herontwerp van ons Engelse Mei-Junie 2013 uitgawe. Een van ons medewerkers het skertsend opgemerk dat, indien ons ooit weer ons tydskrif sou herontwerp, watter Pous ook al dan daar is, baie senuweeagtig behoort te wees! Op ’n ernstiger noot, ons behoort almal wêreldgebeure dop te hou soos Christus ons beveel in Mattheüs 25:13. Sal Franciskus I die heel laaste Pous wees voor Christus se wederkoms? Ons weet nog nie, maar – omdat ons die geskiedenis en die eindtydse profetiese opeenvolging van gebeurtenisse ken – is daar baie wat ons kan weet van hierdie man en sy amp (sien dr. Douglas S. Winnail se artikel, Franciskus I: Die heel laaste Pous?, elders in hierdie uitgawe). My vriende, ek hoop dat u gehoor sal gee aan Christus se opdrag om te “waak” – sodat u gereed sal wees wanneer die tyd aanbreek. Die wêreld om ons is besig om te verander, maar Christus se opdrag – en ons roeping – bly dieselfde soos altyd!