Bybelprofesie wys ons daarop om die Midde-Ooste dop te hou soos wat die eindtyd nader kom. Hierdie vyf profesieë voorsien ons van die besonderhede waarvoor u op die uitkyk kan wees voor die Wederkoms van Christus.

God se Woord identifiseer die Midde-Ooste as die belangrikste ligging vir eindtydse konflikte wat sal lei tot die Wederkoms van Jesus Christus om Sy Koninkryk te vestig. Hierdie vyf profesieë vir die Midde-Ooste beskryf gebeurtenisse wat moet plaasvind voor die Wederkoms – gebeurtenisse waarvoor u behoort uit te kyk!

Bybelse profesie openbaar dat gebeure in die Midde-Ooste die toekoms van die hele wêreld sal bepaal. Het u hierdie oproerige streek dopgehou? Weet u waarna om op te let?

Die Israelse joernalis, Yossi Melman het opgemerk: “Wanneer die Midde-Ooste nies, kan die res van die wêreld – veral Amerika en Wes-Europa – die griep kry”. Inderdaad word konflikte in die Midde-Ooste dikwels deeglik in Amerika gevoel en die teendeel is ook waar.

“Die Verenigde State se weermag bestee sowat $1 miljoen om duisende Islamitiese staatvegters en hulle familielede aan te hou in tydelike kampe wat deur Koerdiese burgermagte in die noorde van Sirië bestuur word. Dit trek die Pentagon dieper in die oorlogsone se aanhoudingsbedrywighede in wat hulle juis probeer vermy het”, skryf Eric Schmitt van die New York Times. “Kritici vrees dat hierdie geriewe ’n broeiplek kan word vir ekstremiste en ’n herhaling word van ’n belangrike sekuriteitsmistasting van die oorlog in Irak”. Schmitt skryf verder: “Net oor die afgelope maand alleen en gewapen met nuwe volmag van mnr. Trump, gaan die Amerikaanse spesiale operasionele magte voort om jag te maak op mense wat besig is met die bedrywighede van die Islamitiese Staat en Qaeda”. Dit is duidelik dat konflik in die Midde-Ooste glad nie iets van die verlede is nie!

Op een of ander manier lyk dit of die Midde-Ooste ’n voortdurende fokus van wêreldkonflik bly. Sal daar ooit ’n tyd wees wanneer hierdie streek – selfs al die streke van die wêreld – ware, blywende vrede sal beleef?

Die goeie nuus is dat u Bybel ’n tyd voorspel wanneer vrede uiteindelik op Aarde sal heers, maar daardie tyd sal eers kom ná ’n tydperk van intense oorlog en lyding soos ons wêreld nog nooit gesien het nie. Tog, indien ons weet vir watter geprofeteerde gebeure ons op die uitkyk moet wees, kan ons hoop en vertroue hê in God se beloofde toekoms van vrede, selfs al is ons nog in ’n tydperk van gruwelike haat en verwoesting. Hierdie artikel sal vyf geprofeteerde sleutelgebeure ondersoek waarvoor ons almal op die uitkyk behoort te wees.

Profesie # 1: Nuwe militêre alliansies oos van die Eufraatrivier

Onthou u die Iran-Irak oorlog? Dit het van 1980 tot 1988 voortgeduur en meer as ’n miljoen mense het gesterf. Die Eufraatrivier was prominent in daardie konflik en u Bybel toon dat dit weer sentraal sal wees in geprofeteerde eindtydgebeure.

Die Eufraatrivier loop van Turkye af deur Sirië en Irak na die Persiese Golf. Die nasie van Iran lê direk ten ooste van Irak. Gedurende die geprofeteerde Dag van die Here sal ’n ontsaglike groot leër van 200 miljoen soldate weswaarts oor die Eufraatrivier in die Midde-Ooste inbeweeg.

In Openbaring lees ons van ’n magtige leër uit die ooste wat miljarde mense sal doodmaak. Die apostel Johannes beskryf dit as die sesde basuinplaag. Let op waar hierdie groot weermag sal versamel: “En die sesde engel het geblaas, en ek het ’n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is, en dié het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat” (Openbaring 9:13-14).

Ja, die Eufraatrivier is die fokuspunt vir hierdie profesie. Johannes gaan voort:

“Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om ’n derde van die mense dood te maak. En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tienduisend maal tienduisend; en ek het hulle getal gehoor. En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan. Deur hierdie drie plae is ’n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het” (Openbaring 9:15-18).

Dit beskryf ’n wêreldoorlog waarin miljarde mense sal sterf, wanneer ’n leër van 200 miljoen, wes oor die Eufraatrivier sal beweeg en een-derde van die planeet se bevolking sal uitwis! Dit is waarom Jesus Christus vir ons gesê het dat, tensy daardie dae verkort sou word, geen vlees gered sal word nie (Matthéüs 24:21-22).

Watter wêreldmoondhede is oos van die Eufraat? Kyk na ’n kaart en u sal nasies vind wat Iran, Indië, China en Rusland insluit. Maak seker dat u daardie nasies se militêre ontwikkelings en internasionale alliansies dophou. Hou ook vir groeiende beleggings in militêre mag dop, wat ook kernwapens insluit!

Profesie # 2: Groter eenheid tussen Israel se tradisionele vyande

In Junie 1967 het Israel in wat die sogenaamde “Sesdaagse Oorlog” genoem word geveg. Israel het teen die gesamentlike magte van Egipte, Sirië en Jordanië geveg en die Sinaï-skiereiland, die Golan Hoogland, die Wesoewer en Oos-Jerusalem verower. Hierdie oorwinning het aan Israel toegang verleen tot Jerusalem se antieke heilige plekke, met betrekking tot die Westelike Muur (ook bekend as die “Klaagmuur”) by die Tempelberg. Teen die einde van die oorlog het Israel aangebied om die Wesoewer weer aan die Palestynse beheer oor te gee indien hulle Israel se algehele eienaarskap van Jerusalem sou aanvaar. Gamel Abdul Nassar, Egipte se destydse president, het by sy Arabiese bure aangesluit deur Israel se aanbod van grondgebied vir vrede te weier.

Sewe jaar later, op 6 Oktober 1973, was Israel weer in ’n oorlog gewikkel. In wat bekend geword het as die “Yom Kippur Oorlog” – omdat dit op die Versoendag van daardie jaar begin het – Israel het invalle vanaf Egipte en Sirië afgeweer. Uiteindelik het Israel, Egipte en Sirië ingestem tot ’n Verenigde Nasies skietstaking wat die konflik beëindig het.

Sedertdien was daar af en toe militêre aanvalle, sowel as die jare lange intifada (Arabies vir “afskud”) waarin die Palestyne weerstand gebied het – soms bloedig – teen wat hulle as onregverdige Israelse oorheersing beskou het. Gevegte en bloedvergieting het ook voortgegaan onder strydende Palestynse faksies; die president van die Palestynse Owerheid, Mahmoud Abbas, het op een stadium sy volk beskryf as “op die rand van burgeroorlog” as gevolg van die struwelinge tussen sy Fatah-organisasie en die Islamitiese militante groep Hamas.

Selfs te midde van konflikte binne die Arabiese en Moslem-nasies, is baie van hulle nogtans deur ’n diepgesetelde haat vir Israel verenig. Die Iranse president, Hassan Rouhani, het Israel veroordeel as ’n “besetter- en indringer-regering” wat “ongeregtigheid pleeg teenoor die volke van die [Midde-Ooste] streek en onstabiliteit na die streek gebring het met sy oorlogsugtige beleid”. Volgens die Times of Israel, het bevelvoerder Mohammad Reza Naqdi van die Basij-burgermag van Iran se Revolusionêre Wagte, in 2015 gesê dat om “Israel van die landkaart af te vee nie onderhandelbaar was nie”. Alhoewel tradisionele geskille tussen Arabiere en Moslems sal voortduur, hou dop vir die toenemende eenheid tussen hierdie magte teen Israel. U Bybel toon aan dat ’n toekomstige “koning van die Suide” verskeie Arabiese nasies sal verenig en dat hierdie gekombineerde mag as ’n bedreiging deur die “koning van die Noorde” beskou sal word en die konflik rondom Jerusalem sal in intensiteit toeneem (Daniël 11:40-45). Dit sal ’n skrikwekkende konflik veroorsaak wat ons wêreld sal skud, maar Bybelstudente sal dit ook kan herken as ’n voorloper van Jesus Christus se naderende Wederkoms.

Profesie # 3: Internasionale pogings om Jerusalem te beheer

Geskiedkundig en godsdienstig is Jerusalem belangrik vir volgelinge van Judaïsme, Christelikheid en Islam. Al hierdie godsdienste beskou Jerusalem as die sentrale plek van waar belangrike gebeurtenisse van hulle geloof plaasgevind het. Vir Jode is Jerusalem kosbaar omdat dit die stad van die groot profete en die hoofstad van die koninkryk van Israel en Juda onder koning Dawid en sy seun, koning Salomo was.

Salomo se tempel, ook bekend as die “Eerste Tempel”, is in die tiende eeu v.C. in Jerusalem gebou onder leierskap van Koning Salomo en het Juda se middelpunt van aanbidding gebly totdat die Babiloniërs dit in die sesde eeu v.C. verwoes het. Die volk van Juda is toe in ballingskap weggevoer. Nadat dit as die “Tweede Tempel” herbou is – nadat die Jode uit Babilonië teruggekeer het – het dit die fokuspunt van die Joodse aanbidding gebly totdat dit in 70 n.C. deur Romeinse leërs vernietig is.

Jerusalem word ook naas Mekka en Medina beskou as die derde heiligste stad van Islam. Dit is die tuiste van die “Rotskoepel” – ’n gekoepelde moskee van goud wat sedert 691 n.C. die Tempelberg oorheers het en steeds, sover bekend, die oudste bestaande Moslem-gebou is. Moslems verwys na die Tempelberg as die Haram al-Sharif (“Die Edele Heiligdom”) en glo dat die Rotskoepel die plek is waarvandaan Mohammed na die hemel opgevaar het, vergesel deur die engel Gabriël.

Christene beskou Jerusalem natuurlik as die stad waar Jesus Christus gekruisig en opgewek is, maar ook as die plek van Sy geprofeteerde Wederkoms – waar Sy voete eerste die aarde op die Olyfberg wat oos van Jerusalem lê sal raak (Sagaria 14:4).

Jerusalem is reeds vir jare baie belangrik vir drie groot wêreldgodsdienste. Hierdie feit het veroorsaak dat die beheer daarvan, ’n internasionale fokuspunt van stryd is. Alhoewel Israel sedert 1967 beide Oos- en Wes-Jerusalem beheer het, wil baie ander regerings sien dat Jerusalem internasionaal beheer sal word. Die oorspronklike 1947 Verenigde Nasies Verdelingsplan vir Palestina (resolusie 181 van die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies) het voorgestel dat Jerusalem behandel word as ’n corpus separatum – ’n sone wat internasionaal bestuur word. Hoewel hierdie status nooit van krag geword het nie, hoop baie mense steeds dat so-iets soortgelyk bereik sal word. In 1984 het Pous Johannes Paulus II in sy apostoliese brief Redemptoris Anno geskryf dat hy hoop dat Jerusalem ’n “spesiale internasionaal gewaarborgde status” kan verkry. Wie sou daardie status kan waarborg? In 1975 het die V.S. se Minister van Buitelandse Sake, Henry Kissinger, voorgestel dat Jerusalem ’n internasionale stad word en dat beheer oor heilige plekke en die godsdienstige administrasie aan die Rooms-Katolieke pous gegee word.

Sal sodanige internasionale beheer oor Jerusalem bereik kan word? Die Bybel openbaar dat ’n skokkende gebeurtenis sal plaasvind, waarna Jerusalem nie deur Israel beheer sal word nie, maar deur ander regeringsmagte. Die apostel Johannes skryf: “En ’n riet soos ’n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid. Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap” (Openbaring 11:1-2).

Ja, Jerusalem (“die Heilige Stad”) sal 42 maande lank deur die heidene beheer word voor Jesus Christus se Wederkoms! ’n Groot wêreldmoondheid, beskryf as die “Dier” in die boek Openbaring, sal die Midde-Ooste binnedring en beheer oor Jerusalem oorneem vir ’n tydperk van drie-en-’n-halfjaar voor die Wederkoms van Jesus Christus! Gedurende daardie tyd sal twee profete van God met groot krag en mag getuig en stry teen die heidense moondheid wat dan die Midde-Ooste sal oorheers (Openbaring 11:3-14).

Profesie 4: Diere-offers heringestel deur Jode in Jerusalem

Indien u die boeke Daniël en Matthéüs in u Bybel gelees het, was die geheimsinnige “gruwel van die verwoesting” dalk vir u raaiselagtig. Wat is dit en wat sal dit beteken in eindtydse profesie? Laat ons eerstens kyk na Jesus se eie woorde. Hy het gesê: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom — laat hy wat lees, oplet — dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug” (Matthéüs 24:15-16).

Dit is duidelik ’n belangrike waarskuwing wat verstaan behoort te word. Dit dui op die tyd wanneer God se mense sal vlug om die finale drie-en-’n-halfjaar opeenvolging van verwoestende eindtydse profetiese rampe vry te spring.

Die Griekse heerser Antiochus Epiphanes het volgens geskiedenis in 167 v.C. ’n bevel uitgereik wat die Jode verbied het om offers in die tempel te maak. “En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel” (Daniël 11:31). Antiochus het nie net ’n einde aan die daaglikse offers gemaak nie; hy het ’n standbeeld van Jupiter Olympus in die tempel opgerig en almal beveel om dit te aanbid.

Hierdie gebeurtenis, wat ook in Daniël 8 beskryf word, voorspel ’n geprofeteerde eindtydse mylpaal. “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend-tweehonderd-en-negentig dae verloop” (Daniël 12:11). Ja, 1,290 dae voor Jesus Christus se Wederkoms, sal diereoffers weer afgeskaf word! Jesus waarsku ons as Christene om waaksaam te wees vir ’n eindtydse gruwel van verwoesting! Net soos Antiochus Epiphanes die tempel in 167 v.C. ontheilig het en die offers verbied het, so sal ’n onheilige gesag ook in die toekoms, Joodse offers verbied! Trouens, die apostel Paulus waarsku teen ’n groot valse profeet wat in die heilige plek sal staan. “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thessalonicense 2:3-4).

’n Groot valse profeet sal groot wonderwerke verrig en miljoene mense mislei. Hy sal aanbidding van homself bewerkstellig en aanspraak maak op die mantel van goddelikheid. Hierdie groot valse profeet sal ongelooflike wonderwerke verrig, selfs vuur uit die hemel laat neerdaal, en hy sal miljoene mense regoor die wêreld mislei (Openbaring 13:13-14)! Ons moet egter nie mislei word deur hierdie tekens en wonders nie! Die Skrif sê: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21).

Daar is egter ’n vangplek. Sedert die Romeine die tempel in Jerusalem gedurende 70 n.C. verwoes het, het die Jode nie meer diere-offers gebring nie. Om eindtydse offers te staak, moes hulle tog eers weer ingestel gewees het! Wanneer diere-offers weer begin in Jerusalem, sal u weet dat die profesieë waarvan Jesus gepraat het, spoedig op pad sal wees na ’n rampspoedige klimaks!

Wees op die uitkyk vir ontwikkelings in Israel wat sal lei tot die herinstelling van diere-offers. Dit hoef nie noodwendig te beteken dat ’n volskaalse tempelstruktuur gebou sal word nie. Let op wat gebeur het toe die Jode ongeveer 536 v.C. van Babiloniese ballingskap teruggekeer het. Hulle het ’n heilige plek gehad, maar nog geen tempel nie. Die boek Esra beskryf dat hulle na die “Huis van God” gekom het voordat hulle ’n tempel gehad het waarheen hulle hulle offers kon bring (Esra 3:6). Later, in daaropvolgende verse, lees ons dat die fondament van die tempel gelê is.

Die punt is dat offers op ’n “heilige plek” aangebied moet word – maar ons het in Esra gesien dat offers daagliks gebring kon word, selfs sonder ’n fisiese gebou wat ’n tempel genoem word! Op die oomblik word slegs Moslems toegelaat om op die Tempelberg te aanbid. Die heiligste plek wat tans deur Joodse godsdienstige owerhede beheer word, is die Westerse (of “Klaag”) Muur. Op een of ander manier sal offers hervat word, alhoewel ons nog steeds moet sien wáár en hóé dit sal gebeur. Wees op die uitkyk vir ’n groot nasionale krisis in Israel om hierdie gebeurtenis te bespoedig!

Profesie # 5: ’n Europese supermoondheid in beheer van Jerusalem

Ons het gesien dat vóór Jesus Christus se Wederkoms, Israel se vyande teen die klein beleërde volkie sal saamspan. Ons het gesien dat daar druk op Israel sal wees om die beheer van Jerusalem uit hulle hande te neem en dit in die hande van ’n internasionale administrasie te plaas. Ons het gesien dat hierdie krisis godsdienstige Jode sal aanspoor om diere-offers weer in te stel. Waarvoor behoort ons nog uit te kyk?

Die Bybel toon aan dat ’n Europese supermoondheid kort voor die Wederkoms van Jesus Christus, die beheer van Jerusalem sal oorneem. Die profeet Daniël het die opkoms van ’n suidelike moondheid beskryf wat met ’n noordelike moondheid sal bots. Let op: “Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei. Hy [die Koning van die Noorde] sal ook kom in die Pragtige Land, en baie sal struikel; maar hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon. En hy sal sy hand uitsteek teen die lande; ook Egipteland sal nie vrykom nie” (Daniël 11:40-42).

Die koning van die Noorde sal in die “Pragtige Land” ingaan – die ligging van die moderne staat, Israel. Bybelgeleerdes identifiseer Ammon (wat sal vrykom uit die hand van die koning, saam met Edom en Moab) as hedendaagse Jordanië, wat baie mense sal laat glo dat Jordanië sal verenig met die Europese moondheid. Wie sal deel wees van hierdie alliansie teen Israel? Let op Psalm 83. Assirië (hedendaagse Duitsland) sal ’n verdrag sluit met Moab, Ammon en Edom. Kyk na landkaarte in u Bybel om hulle geskiedkundige ligging te vind en indien u dit nog nie gedoen het nie, skryf vir ’n gratis kopie van ons insiggewende artikel Die Herrysende Duitsland: ’n Vierde Reich? om meer te leer oor Duitsland se rol as hedendaagse Assirië.

Wat vertel die Skrif ons van die koning van die Noorde? Ons het gesien dat hy ook as die “Dier” bekend is, maar wie is die Dier? Let op hierdie kantnota uit die Douay-Rheims (Nuwe Katolieke uitgawe) van die Bybel, wat kommentaar lewer oor die dier van Openbaring 17:11. “Die dier waarvan hier gepraat word, blyk die Romeinse Ryk te wees, soos in hoofstuk 13”. Met ander woorde, die Dier van Openbaring 17 en die Dier van Openbaring 13 verteenwoordig die Romeinse Ryk. Hierdie Katolieke Bybel sê ook soos volg, in verband met Openbaring 13:1: “Die beeld van die eerste dier is gebaseer op die sewende hoofstuk van Daniël. Hierdie dier beeld die koninkryke van die wêreld uit, koninkryke wat gegrond is op passie en selfsug, wat al vir eeue gekant is teen Christus en probeer om die dienaars van God te onderdruk. Imperiale Rome verteenwoordig hierdie moondheid”.

Ja, die “Dier” is ’n herlewing van die antieke Romeinse Ryk. Indien u wêreldgebeure dophou, het u dalk waargeneem dat die Europese Unie, politieke, militêre en ekonomiese eienskappe van die ryk begin ontwikkel het wat in die Skrif beskryf word. U kan in Openbaring 18 van die ekonomiese mag van hierdie ryk lees.

Namate ons nader aan die Groot Verdrukking kom, sal ware Christene toenemend vervolg word. Jesus beveel ons egter hoe om te reageer wanneer godsdienstige vervolging vererger. “Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry. En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is” (Lukas 21:19-20).

Ons is nou in die geprofeteerde tydperk bekend as die eindtyd. Ons behoort voorbereid te wees vir die Wederkoms. Christus sal Koning wees oor die hele aarde en heers vanuit die nuwe wêreldhoofstad, Jerusalem. “En in dié dag sal daar lewende waters uit Jerusalem uitvloei, die een helfte daarvan na die Oostelike en die ander helfte daarvan na die Westelike See; somer en winter sal dit so wees. En die Here sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die Here een wees, en sy Naam een” (Sagaria 14:8-9).

Dank God dat hierdie wonderlike wêreldregering onder Jesus Christus binnekort sal kom. Mag ons almal heelhartig bid: “... laat u koninkryk kom”!