In 1786 het ’n 16-jarige vakleerling deelgeneem aan sy eerste tog na die uitgestrekte, minder bekende binneland van die noordweste van Noord-Amerika. Die jong man se naam was David Thompson. Die jaar 2016 was die 230ste herdenking van die begin van ’n beslissende reis wat die gevolg gehad het van die vorming van westelike Kanada en die kartering van die grens met die Verenigde State. In die verslag van Thompson se reis is daar nog ’n verhaal wat ons behoort te bemoedig en te inspireer.

Thompson was vir twee jaar in verafgeleë poste langs die kus van Hudson Bay gestasioneer, nadat hy as vakleerling by die Hudson’s Bay Company (HBC) ingeskryf het ná voltooiing van sy opleiding by die Grey Coat Charity School naby Westminster-abdy in Londen. David se pa is dood toe hy net twee jaar oud was, waarna die gesin in armoede verval het. Die Grey Coat Charity School het uitstekende opleiding aan jong seuns met weinig lewensmiddele verskaf, terwyl belowende studente opgelei is om navigators en uiteindelik seekadette in die Koninklike Vloot te word. Die jong David het uitsonderlike aanleg in meetkunde, driehoeksmeting, algebra en navigasie getoon; daarom was hy op die ouderdom van 14 as vakleerling ingeskryf en na, wat nou Noord-Kanada is, gestuur. Daarna het hy nooit weer sy vaderland gesien nie.

Sy skip, die Prins Rupert, het in Mei 1784 anker gelig en later daardie jaar by Churchill on Hudsonbay aangekom. Dit was ’n wêreld wat baie anders was as enigiets wat hy in Engeland geken het, maar selfs in ’n staat van eensaamheid, waar hy met die vreemdheid van ’n dikwels vyandige nuwe land te doen gehad het, het David homself toegespits op enige taak wat aan hom opgedra was.

Die aanpak van ’n loopbaan

As deel van ’n verkennings-geselskap wat meer as 1,600 km die binneland in sou reis met die Noord-Saskatchewan rivier op, het Thompson van Churchill af na Manchester House gereis waar die geselskap in 1787 sou oorwinter. Daarna het hy ’n verdere 640 km per kano en te voet gereis, om saam met die Piegan stam naby die moderne Calgary te oorwinter. Thompson het die uitgestrektheid van die land waarin hy bestem was om te werk, begin ervaar. Met sy terugkeer na Manchester House in Desember 1788, het hy geval en homself baie ernstig beseer. Sy been is gebreek terwyl hy honderde kilometers van enige mediese hulp af was. Die geselskap het daarin geslaag om die beseerde Thompson terug na Cumberland House in die noorde van Saskatchewan te vervoer, maar vir maande was sy oorlewing in die weegskaal. Dit het hom ’n jaar lank geneem om te herstel en die besering het hom permanent mank gelaat. Terwyl hy besig was om te herstel, het Thompson vir Philip Turnor, die Hoof Landmeter van HBC ontmoet. Turnor was ’n uitstekende leermeester en dit wil voorkom of Thompson die konsepte van opmeting en astronomiese waarneming met gemak verstaan het.

Turnor wat self een van die grootste landmeters van sy tyd was, was diep beïndruk met Thompson se vermoë en karakter en het in 1790 aan die Londense Komitee van die HBC geskryf dat, “indien hy ooit genoeg krag sou herwin en in staat sou wees om ekspedisies te onderneem, dink ek u Edelagbares sal kan staatmaak op sy verslae oor die toestand van enige plek wat hy mag besoek” (Sources of the River: Tracking David Thompson Across Western North America, Sasquatch Books: Seattle, 1994, bl. 35).

In September 1792 het Thompson op die ouderdom van 22, toegerus met ’n basiese stel opmetings-instrumente, van York Factory op Hudson Bay vertrek met die opdrag om korter roetes vir pelshandelaars te vind. In die jare tussen 1792 en 1812 het Thompson 88,000 km afgelê, dikwels alleen en onder moeilike omstandighede en daarin geslaag om akkurate opmetings van 4,864,000 vierkante km van voorheen ongekarteerde terreine te maak, in ’n gebied wat gelykstaande aan die helfte van die oppervlakte van die Verenigde State is. Die akkuraatheid van sy opmetings kon nie oortref word nie, totdat die tyd van vliegtuig- en satellietkartering aangebreek het.

’n Man van eer en plig

Thompson het regdeur die hele landstreek, by inboorlinge sowel as by Europeërs, bekendgeraak as ’n man van integriteit en eerbaarheid. Hy het altyd sy woord gehou, ywerig sy pligte teenoor die HBC en later die Noordwes Kompanjie nagekom, maar veral teenoor sy vrou en huisgesin. In Junie 1799 is hy met Charlotte Small getroud, ’n jong dame van deels inheemse Amerikaanse afkoms. In ’n tyd wat Europese handelaars dikwels “plattelandse vroue” as eggenotes geneem het, hulle dikwels mishandel en gereeld agtergelaat het wanneer hulle ooswaarts teruggekeer het, was Thompson anders; hy het Charlotte innig liefgehad en haar gerespekteer. Hulle het saam meer as 20,000 kilometer te voet, per kano en te perd afgelê. Hy het voordeel getrek uit haar oorlewings- en taalvaardigheid, aangesien sy vlot Cree, Engels en Frans kon praat. Hy het dit waardeer. Hulle was werklik ’n span. Hulle was getrou aan mekaar en was vir 58 jaar lank getroud en het 13 kinders gehad. Vandag lê hulle saam in die Mount Royal begraafplaas in Montreal begrawe.

In 1817 is hierdie mees briljante kartograaf deur die International Boundary Commission opdrag gegee om opmetings te maak en ’n groot deel van die grens tussen Kanada en die Verenigde State vas te stel. Die hoof van die Kommissie se opinie sê baie van Thompson: “’n Heer vir wie ek altyd die hoogste agting sal hê vir sy opregtheid van hart, eerlikheid van geaardheid, integriteit van karakter en vaardighede in sy beroep”. (A Good and Wise Measure, F. Carroll, bl. 99).

Thompson se werk verstom nog steeds moderne kartograwe. Met primitiewe instrumente, terwyl hy in byna onmenslike moeilike en gevaarlike omstandighede gewerk het, was hy in staat om ’n groot gedeelte van die Noord-Amerikaanse wildernis met groot akkuraatheid te karteer, terwyl hy ook nog daarin kon slaag om ’n pelshandel met baie verskillende inheemse nasies te bestuur. Later in sy lewe het hy in finansiële moeilikheid beland en die Buitelandse Kantoor het hulle woord verbreek met hulle belofte om hom ten volle te vergoed vir ’n voltooide atlas wat Thompson voorberei en uitgereik het.

Terwyl die einde van sy lewe ’n finansiële stryd was, saam met sy oë wat ingegee het, het die liefde wat hy en Charlotte vir mekaar gehad het vir meer as ’n halfeeu voortgeduur. David het in Februarie 1857 op die ouderdom van 87 jaar gesterf en Charlotte het vir nog net drie maande daarna geleef.

’n Dikwels verwaarloosde les

Terwyl die wêreld vir David Thompson as die grootste landgeograaf in die geskiedenis mag onthou, kan ons die tyd neem om na te dink oor die opheffende vreugde wat David en Charlotte uit jare van getrouheid aan mekaar geput het. Hulle liefde en diens aan mekaar het selfs in moeilike tye aan hulle vreugde verskaf. Dit is ’n kameraderie wat in ons moderne, Westerse wêreld reeds verbrokkel het omdat die huwelik deesdae bespot word en die rol van die vrou in die pers en vermaaklikheidswêreld tot skande gemaak word. David en Charlotte was bevoorreg om voordeel te trek uit dít wat God vir die mensdom gegee het deur die instelling van die huwelik; hulle liefde het mekaar bemoedig en gemotiveer om voort te gaan om groot dinge te bereik en om geluk te beleef  bo enigiets wat geld kan voorsien.

David Thompson mag bekend wees vir sy verstommende bekwaamheid as kartograaf, maar ons behoort nie die res van sy nalatenskap te ignoreer nie. Hy en Charlotte was ’n ware span en ’n voorbeeld van die getrouheid en samewerking vir mekaar se belange wat God in gedagte gehad het toe Hy die instelling van die huwelik bedink het. Indien u meer hieroor wil leer, skryf gerus vir ons gratis eksemplaar van die boekie: Bou ’n vreugdevolle huwelik.