Ons staar ’n sameloop van katastrofes op ’n wêreldskaal in die gesig – dit sal ons ruïneer tensy ons die enigste weg na opregte vrede vind.

Die titel van my hoofartikel in die Julie-Augustus 2021 Wêreld van Môre-tydskrif was “’n Perfekte Storm”. Indien u nie destyds ’n intekenaar was nie, kan u dit aanlyn lees by wvm.co.za. Ek het die sameloop van gebeure in Australië, Afrika, Europa en Noord-Amerika beskryf wat rampe in daardie streke tot gevolg gehad het. Ek het daarop gewys hoe die noordelike Queensland in Australië se sewe jaar lange droogte skielik beëindig is met vloedreëns wat ’n geraamde 600,000 beeste laat verdrink het. Dit is gevolg deur die warmste en droogste jaar wat nog ooit opgeteken is, wat weer gelei het tot die ergste seisoen van bosbrande in menseheugenis wat eiendom vernietig het en ’n geskatte miljard wilde diere doodgebrand het. Terwyl dit gelyk het asof dinge nie erger kon word nie, gebeur die onverwagte: COVID-19 het toegeslaan.

Dit was slegs een van die “perfekte storms” wat in die artikel genoem word. Baie meer “storms” het plaasgevind in die volgende twee jaar. David Beasly, die voormalige goewerneur van Suid-Carolina en uitvoerende direkteur van die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram, beskryf die huidige voedselkrisis in Afghanistan, waar miljoene mense in gevaar verkeer vir ’n “perfekte storm” van konflik, klimaat en COVID-19-verwante probleme.

Ons sien die sameloop van inflasie, tekorte aan werkers en leë winkelrakke, terwyl onwettige immigrante van regoor die wêreld oor ’n oop grens in die Verenigde State stroom asook na Brittanje vanuit Afrika, die Midde-Ooste en Oos-Asië. Boonop broei daar drie massiewe oorloë in Europa, Asië en die Midde-Ooste. Een oorlog het reeds begin en ten tye van die ter perse gaan van hierdie tydskrif, weet ons nie wat die uitkoms sal wees nie – wie weet wat sal gebeur tussen nou en wanneer u hierdie uitgawe lees? Sal een of meer oorloë uitbreek? Terwyl hierdie uitgawe ter perse gaan, het Rusland pas met ’n inval in die Oekraïne begin. Sal dit Europeërs nader aan mekaar bring? Hoe sal ander nasies se verhoudings as gevolg van die konflik hervorm word? Gaan die plaag van COVID-19 uiteindelik tot ’n einde kom of sal nuwe aansteeklike variante te voorskyn kom? Hoe hoog sal inflasie styg en tot hóe min kan ons kruideniersware se voorrade daal? Een ding is seker – 2022 is besig om net so traumaties as 2020 en 2021 te wees.

Waarom gebeur hierdie dinge alles? Waar sal dit eindig? Is daar enige iemand wat vrede kan bring aan ons wêreld vol onenigheid? Ons staar ’n perfekte storm van wêreldwye afmetings in die gesig, wat nie net beperk sal wees tot ’n spesifieke streek of sektor nie. Baie mense sien dit en is bekommerd oor wat hulle sien. Hierdie is nie normale tye nie. Ja, daar was nog altyd weerversteurings, oorloë, inflasie, pandemies en gelyktydige gebeurtenisse in streke wat perfekte storms veroorsaak het. Wat ons egter vandag sien, is ’n sameloop van katastrofiese gebeure op ’n wêreldwye skaal. Die mensdom se probleme raak buite beheer – maar daar is goeie nuus aan die einde van dit alles.

Wie kan blameer word?

Terwyl politici ons probleme op COVID-19 blameer, óf die party aan bewind of die party wat nié aan bewind is nie, is dit al te dikwels hulle eie misleide beleide wat die voorbereidingswerk doen vir vernietiging op ’n wêreldwye skaal. Ons moet egter nie al die skuld op ons leiers pak nie. Wat ons sien, is die resultaat van die mensdom se dwase verwerping van ons Skepper – wat ons by ’n eindtydse hoogtepunt van die ramp sal bring. Agter dit alles is ’n wese wat nie deur die grootste deel van die mensdom herken word nie – die een wat die Bybel “die owerste van die mag van die lug” noem. Hierdie “gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” rig “die loop van hierdie wêreld” (Efésiërs 2:2). Daardie wese is werklik en min mense begryp die omvang van sy invloed. Hy het homself meesterlik uitgebeeld as ’n rooi spotprentkarakter met horings en ’n lang stert, wat ’n hooivurk dra – sekerlik nie om ernstig deur intelligente mense opgeneem te word nie. Hy is nogtans die een wat gesindhede van woede, verdeeldheid, haat en vrees in die gedagtes van die niksvermoedende mensdom uitsaai. Hy is ’n meester “skaakspeler” wat weet hoe om leiers en die massas te manipuleer.

Ons by die Wêreld van Môre probeer om ’n balans te handhaaf deur politiek te vermy terwyl ons met vrymoedigheid die Waarheid verkondig. Daardie “owerste van die mag van die lug” het moraliteit en waarheid baie geslepe met politiek vermeng. Enigiemand wat die waarheid praat, word gesien as om bloot die een of die ander kant van die politieke verloop voor te staan – dus, in erg verdeelde lande skakel dit die helfte of meer van die bevolking dadelik uit. Dit is die rede waarom ons briewe ontvang waarin ons beskuldig word – soms nie in sulke mooi terme nie – dat ons die een of die ander politieke party ondersteun. Ja, ons kry dit van alle kante!

Ons moet tog die waarheid praat, naamlik dat ’n oop grens met honderde duisende onwettige migrante van regoor die wêreld wat die V.S., Brittanje en verskeie ander Europese lande binnestroom, hierdie nasies sal vernietig tensy dit gestuit word. Dit maak nie saak wie die president of nasionale leier mag wees nie – ’n land sonder ’n grens sal ophou om ’n land te wees indien ongekontroleerde immigrasie toegelaat word om voort te gaan. Natuurlik kan ’n deernisvolle persoon kwalik fout vind met iemand wat uit ’n slegte situasie vlug om ’n beter lewe vir homself en sy gesin te vind – maar ’n onbeskermde grens nooi dwelmsmokkelaars, mensehandelaars, seksuele rowers, gewelddadige bendelede en terroriste binne. Hulle bring ook nuwe gelowe en kulture wat nie altyd in harmonie met die lande is wat hulle ingaan nie.

’n Geopolitieke tsunami

Waarom gebeur hierdie probleme juis nou gelyktydig? Waarom sien ons hewige verdeeldheid in verskeie lande oor onwettige immigrasie, COVID-19-protokolle en mandate, skoolkurrikulums en selfs wat dit beteken om ’n man of ’n vrou te wees? Waarom sien ons die Verenigde State ernstig agteruitgaan? Waarom sien ons ’n geheelbeeld van geopolitieke herskikking van nasies? Waarom is ons koopkrag in ’n afwaartse spiraal? Waarom is daar geweld in ons strate, terwyl algemene landdroste – wie se taak dit is om misdadigers te vervolg – meer soos verdedigingsprokureurs vir boewe en gewetenlose misdadigers optree? Waarom gebeur dit alles op dieselfde tyd? Kortliks, waarom sien ons die ineenstorting van nasionale- en wêreldorde?

Die Britse en Amerikaanse volke het al vir meer as 200 jaar lank die slegste van nasies en volke in toom gehou – Napoleon, Hitler, Mussolini, Stalin, Tojo – en het gehelp om nasies te voed en te herbou nadat rampe plaasgevind het. Vandag kom Amerikaanse en Britse orde in die wêreld egter tot ’n einde en ons behoort te weet wáárom.

Min mense besef vandag dat die Bybel die Bybelse identiteit van die mense van Britse afkoms sowel as die Amerikaanse, Nederlandse, Switserse en Franse volke openbaar. Dit is onmoontlik om Bybelse profesieë te verstaan, asook wat dit vir ons wêreld voorspel, sonder om hierdie belangrike sleutel te verstaan wat insig openbaar na ons moderne nasies se plek in daardie profesie. Dit is waarom ons publikasie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?, so belangrik is. U kan ’n eksemplaar by u naaste streekkantoor bestel, wat op bladsy 2 van hierdie tydskrif gevind word of lees dit aanlyn by wvm.co.za.

Alhoewel die moderne Israelitiese lande oor die algemeen ’n seën vir die wêreld was, het hulle ook swakker nasies afgeknou en die wêreld op ’n dwaalspoor gebring met hulle kulturele sondes. Vandag is hulle aan die voorpunt van die uitvoer van ’n immorele kultuur na ander nasies. Terwyl hulle lank reeds beweer dat hulle Christelike nasies is, het hulle nie altyd soos Christus opgetree nie en floreer vandag om alles behalwe dit te wees. Aborsie is nou wettig in die land. God het ons manlik en vroulik geskape, maar opvoedkundige instellings, groot en klein besighede en ons media – selfs “konserwatiewe” media – vermy dit feitlik heeltemal om daardie ooglopende waarheid te noem, nie dapper genoeg om aanstoot te gee vir ’n woedende kanselleerkultuur-minderheid nie. Mans wat beweer dat hulle vroue is, neem deel aan swemkompetisies wat bedoel is vir vroue en ontneem beurse van diegene aan wie dit na regte behoort. Intussen verstaan die Russe, Chinese en sommige Afrika-lande die verskil tussen manlik en vroulik en bevorder manlikheid en vroulikheid deur werklik mans sowel as vrouens te waardeer. Is dit enigsins ’n wonder dat Westerse nasies in chaos verval het, op pad na uiteindelike vernietiging?

God se waarskuwing

In Levítikus 26 waarsku God die Israelitiese nasies dat indien hulle Sy Gebooie verag: “Ek sal verskrikking oor julle beskik” (vers 16). Dink aan hoe ons wêreld sedert 11 September 2021 verander het. Miljarde migrante stroom elke maand oor Amerika se suidelike grens, verskeie Europese grense of die Engelse Kanaal. Hoeveel van hulle is gewelddadige bendelede, seksoortreders, dwelmhandelaars of toegewyde terroriste? Selfs al is dit net 1 persent – 20,000 – van die twee miljoen moeilikheidmakers wat bekend is dat hulle gedurende 2021 Amerika onwettig binnegekom het, skep dit ’n probleem!

Die volgende vloek wat genoem word, is “die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag” (Levítikus 26:16). Ons is nie net in ’n CORONA-19-viruspandemie nie, ons het ook HIV/VIGS, kanker en nog soveel ander siektes. Die vierde van die vier perderuiters in Openbaring beeld pes of siektes uit (Openbaring 6:8). Wat ons nou sien, is net ’n voorsmakie van wat nog voorlê. God sal die vloeke vertraag en ons tyd gee om te verander – indien ons nie daarin slaag om te verander nie, sal dit selfs met groter intensiteit plaasvind.

Vervolgens sê God vir ons “julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet” (Levítikus 26:16). Inderdaad, Amerikaanse en Kanadese familieplase word deur korporasies verslind – en toenemend het daardie korporasies hulle hoofkwartiere buite Noord-Amerika.

’n Ander voorbeeld van grondbelegging wat die afgelope paar jaar toenemend belangrik geword het, handel oor eienaarskap en beheer oor die grond en die voedsel wat dit produseer wat na die buiteland gestuur word ... Belegging in landbougrond is ’n sleutelstrategie vir regerings wat angstig is om hulle voedselvoorraad en hulle voedselpryse te stabiliseer. Deur grond in ander lande te koop en daarop te boer, is buitelandse kopers in staat om hulle binnelandse voedselvoorraad en ander markte te ondersteun wat van landbou afhanklik is, sonder om vir noodsaaklike produkte op die wêreldmark mee te ding. Buitelandse beleggers sal ’n paar honderdduisend hektaar koop, byvoorbeeld in Afrika, om palmolie, rubber of biobrandstof te produseer. Die transaksies gaan tipies gepaard met beloftes van werksgeleenthede, infrastruktuur, hulpbronontwikkelings of net ’n hupstoot vir die nasionale ekonomie, maar al te dikwels realiseer daardie beloftes glad nie. Die plaaslike bevolking put geen voordeel daaruit nie, hulle verloor hulle boerdery-regte, toegang tot water en selfs hulle huise (“Who Really Owns American Farmland?TheCounter.org, 31 Julie 2017).

Saoedi-Arabië, die VAE [Verenigde Arabiese Emirate] en China koop grond-, minerale- en waterregte regoor Noord-Amerika en Afrika. Die werklike persentasies vir Amerika is nog klein; buitelanders besit tans sowat 2 persent van die Amerikaanse plaasoppervlakte. In tye van skaarsheid kan selfs klein persentasies ’n verskil maak en dit is die rigting wat belangrik is. Die God van die Bybel waarsku dat die Amerikaners en nasies van Britse afkoms beheer oor hulle eie lande sal verloor indien hulle aanhou om Sy bevele te minag.

Verder: “Ek sal my aangesig teen julle rig, sodat julle voor jul vyande verslaan word; en julle haters sal oor julle heers, en julle sal vlug terwyl niemand julle agtervolg nie” (Levítikus 26:17). Die rampspoedige wyse waarop die VSA uit Afghanistan onttrek het, getuig van hierdie profesie. Dit kan anders vertolk word, maar Amerika se vyande sien dit net op een manier – hulle het oorleef en ’n ander supermoondheid verslaan. Amerika het geleer wat die Britte en Russe voorheen geleer het – Afghanistan is geen plek om ’n oorlog te veg nie.

Dit is voorspel dat die huis van Juda (die Joodse volk) asook die huis van Israel (Amerikaners en nasies van Britse afkoms) groot militêre mag sal hê “aan die einde van die dae” (Génesis 49:1, 9, 22-24; Deuteronómium 33:13-17). Vandag is hierdie nasies baie trots op hulle mag, maar God waarsku: “Ek sal julle trotse mag verbreek” (Levítikus 26:19). Afghanistan is net die begin. Kan ons nie die storm waarneem wat deur daardie swak beplande onttrekking gevolg het nie? Noord-Korea is besig om weer missiele te toets. China vlieg met straalvliegtuie oor Taiwan. Die probleme tussen Iran en Israel sal nie verdwyn nie. Aan die einde van Februarie 2021 het Rusland ’n gewelddadige militêre aanval teen die Oekraïne geloods – teen die tyd dat u hierdie artikel lees, sou die Oekraïne geval het of sou ander nasies se militêre magte in ’n uitgebreide konflik betrek gewees het? Sal die Oekraïense weerstand voortduur? Talle nuusbronne het in Januarie 2022 berig dat Rusland nie sal huiwer om troepe na Kuba en Venezuela te stuur nie. Wat sal gebeur as twee of meer oorloë op dieselfde tyd uitbreek? Sou enigiemand op daardie oomblik die Amerikaanse president wou wees?

God verklaar ook: “[Ek sal] julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper. En julle krag sal tevergeefs verbruik word, want julle land sal sy opbrings nie gee nie, en die bome van die land sal hulle vrugte nie gee nie” (Levítikus 26:19-20). Ons het almal gehoor van die uitgebreide droogtes van die laaste paar jaar in Australië, die westelike deel van die V.S. en Kanada, maar hoeveel mense is bewus van die skerp afname in Florida se lemoen-oeste oor die afgelope twee dekades? Die afname is te wyte aan “sitrusvergroening” – een van die mees verwoestende sitrusplantsiektes ter wêreld. Dit word deur ’n insek versprei, daar is geen kuur daarteen nie en maak gewoonlik die boom binne ’n paar jaar dood. Hoe verwoestend was dit vir Florida se lemoen-oeste?

“Florida maak gereed om die kleinste lemoen-oes in meer as 75 jaar sedert die 1944-1945-seisoen te produseer. Volgens ’n voorspelling wat deur die VS Departement van Landbou vrygestel is, sal Florida se $9 miljard-industrie slegs 44,5 miljoen 90-pond [41 kilogram] kratte lemoene produseer, wat ’n vermindering van 1,5 miljoen kratte lemoene sedert Desember is. Dit is in teenstelling met die tyd toe Florida 244 miljoen kratte lemoene gedurende ’n enkele jaar geproduseer het (“Florida’s Annual Orange Crop Appears to Be Smallest Produced in Over 75 Years,NewsWeek.com, 19 Januarie 2022)”.

’n Wag se waarskuwing

Met al die slegte nuus, is daar enige goeie nuus? U wonder dalk waarom bring die Wêreld van Môre soveel verdoemende en somberheid onder u aandag? Die antwoord word in die Bybel gevind. God beveel ons om aan ons samelewing die waarheid te verkondig van waarheen ons gedrag lei. God het vir die profeet Eségiël gesê om ’n wag vir die huis van Israel te wees, om die Israeliete te waarsku van ’n naderende ballingskap as gevolg van hulle sondes. Begryp u die probleem? Die noordelike tien stamme van die huis van Israel het al meer as honderd jaar voor dit in ballingskap gegaan, nog voordat Eségiël geskryf het! Dit beteken dat die opdrag om die wag se waarskuwing in die verre toekoms, aan die einde van hierdie tydperk te vervul, aan iemand anders gegee is. Let op die ernstige verantwoordelikheid wat gegee word: “As daarenteen die wag die swaard sien kom en met die basuin nie blaas nie, sodat die mense nie gewaarsku is nie, en die swaard kom en neem ’n siel uit hulle weg – dan is hy deur sy ongeregtigheid weggeneem, maar sy bloed sal Ek van die hand van die wag eis” (Eségiël 33:6).

God het die profeet Jesaja opdrag gegee: “ROEP uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ’n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes” (Jesaja 58:1). Diegene wat nie weet waar om die huis van Israel vandag te vind nie, is nie vrygestel nie; God sê dat enigeen wat die rigting sien wat die mensdom inslaan, ’n waarskuwing moet gee. “Red die wat na die dood gesleep word, en die wat na die slagbank wankel, hou hulle tog terug! As jy sê: Kyk, ons het dit nie geweet nie! – sal Hy wat die harte toets, dit nie merk nie? En Hy wat let op jou siel, Hy kom dit te wete. En Hy vergeld die mens na sy werk” (Spreuke 24:11-12).

God beskryf hoe die wêreld naby die voleinding daarvan sal wees. Valse godsdienstige leiers sal vir mense vertel wat hulle wil hoor eerder as wat hulle nodig het om te hoor – ’n boodskap van bekering. “Gaan nou in, skryf dit op ’n tafel in hulle teenwoordigheid en teken dit op in ’n boek, dat dit kan bly vir later dae, vir altyd, tot in ewigheid. Want dit is ’n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die HERE nie wil hoor nie; wat aan die sieners sê: Sien nie! en aan die profete: Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry; wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons aangesig verdwyn!” (Jesaja 30:8-11).

Die hoop op ’n beter wêreld

Die Wêreld van Môre sal voortgaan om die waarheid aan die huis van Israel en aan die mensdom in die algemeen te verkondig. Ons sal dit doen in die hoop dat baie mense sal verander vir hulle eie beswil. Dit is wat ware liefde is! “Die wonde deur een wat liefhet, is opreg bedoel, maar die soene deur ’n vyand is oorvloedig” (Spreuke 27:6). Ons sal ook die goeie nuus verkondig dat Jesus Christus binnekort sal terugkeer om die mensdom van hulle waansin te red. Jesus beskryf die desperate nood waarin ons onsself sal laat beland – die gewisse vernietiging van alle lewe op ons planeet – maar Hy gee ons ook die versekering dat Hy sal ingryp om dit te beëindig (Matthéüs 24:21-22).

Ons sal ook die goeie nuus (die Evangelie) verkondig wat Jesus gekom het om aan te kondig – die toekomstige Koninkryk van God op aarde (Markus 1:14-15; Lukas 4:43). Die Bybel vertel van ’n duisendjarige heerskappy van Christus, wanneer daar vrede, regverdigheid en voorspoed vir almal sal wees. Ons leer ook dat die ware volgelinge van Jesus gedurende hierdie leeftyd, saam met Hom sal regeer om te help om dit te bewerkstellig (Lukas 19:11-24; Openbaring 5:9-10; 20:4). Stel u voor dat u ’n belangrike rol het om te vertolk in die oplossing van die probleme wat hier op aarde bestaan! Dit is die goeie nuus wat Jesus kom verkondig het tydens Sy eerste koms!