Baie Bybelse profesieë beskryf spesifieke tekens wat op die wêreldtoneel sal verskyn namate ons die einde van hierdie tydvak nader – die tyd net voor Jesus Christus se wederkoms na hierdie aarde om die Koninkryk van God te vestig. Jesus het aan Sy dissipels gesê om op die uitkyk te wees hiervoor, sodat hulle die tekens van wanneer Sy wederkoms naby is sal herken (Mattheüs 24:32-44).

Baie van hierdie profesieë, wat baie eeue gelede geskryf is, neem reg voor ons oë gestalte aan! Die apostel Paulus het geskryf dat “daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards ... sonder natuurlike liefde ... meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” (2 Timótheüs 3:1-5). Jesus Christus het diegene gekritiseer wat ’n valse front van geregtigheid voorhou, terwyl hulle dit inderwaarheid vir eie gewin doen. Christus het met een van die godsdienstige leiers van daardie dae gepraat toe Hy hom duidelik daarop gewys het: “Ja, julle Fariseërs, julle maak die buitekant van die beker en die bord skoon, maar van binne is julle vol roof en boosheid” (Lukas 11:39). Hoe algemeen is hierdie gesindheid nie vandag in besigheid, politiek en verbruikerskultuur nie?

Hebsug is nie goed nie!

Die Tien Gebooie veroordeel hebsug (Exodus 20:17). Salomo het duisende jare gelede gewaarsku dat slegte mense “onregverdige wins” maak (Spreuke 1:10-19). Jesus het die godsdienstige leiers berispe oor hulle skynheiligheid, afpersing en onbeteuelde hebsug (Mattheüs 23:25). Die profete het uitgevaar teen selfsugtige verkryging van materiële dinge: “Wee die wat onreg uitdink ... hulle begeer velde en roof dit; ook huise en neem dit ... Kyk, Ek bedink onheil teen hierdie geslag ...” (Miga 2:1-3) . Die profeet Amos het God se waarskuwing tot die Israeliete gerig en gesê dat as gevolg van hulle algemene gierigheid, godlose materialisme en uitbuiting van die minderbevoorregtes, sal “Ek die winterhuis saam met die somerhuis tref, en die huise van ivoor sal te gronde gaan, en baie huise sal verdwyn” (Amos 2:6-7, 3:1, 14-15). Amos waarsku Israel se leiers wat in weelde geleef het, terwyl baie ander van veel minder moes lewe: “Kyk, daar sal dae oor julle kom dat hulle julle met hake sal optrek en die wat van julle oor is, met vishoeke. … en Israel sal sekerlik uit sy land in ballingskap gaan” (Amos 4:1-3, 5:27, 6:7, 7:11, 17). Die Bybel openbaar dat God in die verlede streng opgetree het teen die goddeloses en gierigaards en Hy sal dit in die toekoms weer doen!

’n Eeue-oue dilemma vandag

Amerikaners is, net soos baie ander mense in die Westerse nasies, verdeeld oor die kwessie van gierigheid. Aan die een kant betreur kommentators soos Bill Moyers en Michael Winship die regering se versuim om menslike hebsug te beperk: “In plaas daarvan om ’n rem te wees vir die weghol korporatiewe mag en hebsug, bemagtig die regering hulle om dit te doen” (“Enabling Greed Makes U.S. Sick”, BillMoyers.com, 20 Mei 2013). Aan die ander kant het die ekonoom Milton Friedman in sy boekCapitalism and Freedom opgemerk: “Wat is hebsug? Natuurlik is nie een van ons gierig nie, dit is net die ander persoon wat gierig is. Individue wat hulle eie afsonderlike belange behartig laat die wêreld funksioneer”.

Dit is maklik om die vinger na andere te wys, maar dit is moeiliker om hebsug in ’n mens self raak te sien. Die Amerikaanse kultuur het al oor die hele wêreld versprei en die kultuur van hebsug na ander plekke uitgevoer. Amerikaanse musiek, films en televisie propageer voortdurend verbruikersprodukte sowel as die filosofie dat die eindelose verbruik daarvan geluk sal bring – dit het die broeiplek geword van “’n geld-gesinde jeug-kultuur wat onmiddellike bevrediging eis en floreer op oudiovisuele bombardering” (Why Do People Hate America? Sadar & Davies, bl. 125). Volgens sommige mense lyk hierdie “wêreldwye weerspieëling van die Amerikaanse invloed ... dieMcDonaldisering van die samelewing ... soos ’n virus, ’n besonder patologiese een ... wat homself in die res van die wêreld reproduseer ... en die kulturele liggaam van ander nasies besmet” (ibid., bll. 117-118). Die globalisering van die gierige, self-gesentreerde verbruik wat ’n uitvloeisel van Amerika en ander ryk lande is, veroorsaak baie wêreldwye vyandigheid omdat dit tradisionele waardes en kulture ondermyn en vernietig.

Die kulturele historikus Morris Berman beskryf ’n ander kommerwekkende tendens: Toenemende ongelykheid waardeur die rykes steeds ryker word, terwyl die armes steeds armer word. Berman merk op dat ons in die afgelope dekades “’n ongekende herverdeling van inkomste ten gunste van die rykes gesien het. Wat die ongelykheid in rykdom betref, is die Verenigde State die leier onder al die ander groot industriële nasies” (The Twilight of American Culture, bl. 21). Sommige uitvoerende beamptes se salarisse is nou selfs meer as 400 keer groter as die salaris van die werkers in hulle maatskappye. Finansiële instellings wat voorheen gerespekteer was, streef nou aggressief na gedwonge uitkoping en vyandige oornames van maatskappye. Die hoofde ontvang aansienlike bedrae geld en loop weg met miljoene dollars – terwyl duisende werkers hulle werk en inkomste verloor (House of Morgan, Chernow, bll. 690-709).

Die historikus Jim Nelson Black wys daarop dat hierdie selfde maatskaplike en ekonomiese tendense eeue gelede reeds teenwoordig was tydens die ondergang van die Romeinse Ryk, net soos in die jare toe die ander magtige ryke begin kwyn het. Antieke skrywers het aangeteken dat “hebsug en eie genot ... beheptheid met die luukse” morele verval wat die ondergang van die eens magtige Romeinse Ryk was, verhaas het (When Nations Die, bl. 160). Die geskiedskrywers Will en Ariel Durant het ’nherhalende patroon in die ophoping en herverdeling van rykdom deur die eeue heen gesien. Rykdom raak gekonsentreerd in die hande van ’n paar mense en wanneer die verarmde massas die ongelykheid nie langer kan verduur nie, word die rykdom herverdeel – óf deur vreedsame wetgewing, óf deur gewelddadige revolusie. Die Durants het reeds ’n paar dekades gelede geskryf dat “die gaping tussen die rykstes en die armstes nou groter is as op enige tydstip sedert die Imperiale plutokratiese Rome” en hulle het ’n voorgevoel gehad dat ’n regstelling binnekort sou kom (The Lessons of History, Durant, bl. 55). Meer onlangs het die Franse ekonoom, Jacques Attali gewaarsku dat ons in die komende jare ’n groeiende, bitter en plofbare kloof tussen ’n toenemend rykerwordende kern en ’n toenemend armerwordende buiterand sal sien. Dan sal die verarmde buiterand uiteindelik opstaan teen die ryk kern “in ’n oorlog soos wat nog nie in moderne tye gesien is nie” (Millennium, Attali, bll. 14-15).

Vir eeue lank het ekonome aanvaar dat menslike redenasie wêreldmarkte kan reguleer. Optimistiese geskiedkundiges het vir die ergste gevrees, maar nogtans gehoopvir ’n vreedsame herverdeling van rykdom wanneer maatskaplike magte ’n verandering teweeg sou bring. Die Bybel openbaar egter dat die huidige tendense na ’n heel ander uitkoms tydens die hoogtepunt van die mensdom se eeue van hebsug sal opbou. Die Skrif openbaar dat God sal toelaat dat ons selfsugtige, verbruikers-obsessiewe, materialistiese samelewings die betreurenswaardige gevolge sal maai van dit wat ons gesaai het (Jeremia 2:17-19).

Die Skrif praat van ’n eindtydse godsdienstig-politieke mag wat slegs kortstondige voorspoed na die wêreld sal bring. Aanvanklik sal gierige sakemanne “ryk [ge]word [het] deur die mag van haar weelderigheid” (Openbaring 18:3). Daardie voorspoed sal egter eindig en dieselfde hebsugtige mense wat ryk geword het deur daardie mag “sal ver weg staan uit vrees vir haar pyniging” (vers 15).

Uiteindelik sal Jesus Christus terugkeer en met ’n “sterk hand” ingryp (Psalm 136:12; Openbaring 11:17) om ekonomiese geregtigheid te herstel en ’n einde te maak aan selfsug en hebsug. Eeue van menslike hebsug bou op tot ’n dramatiese hoogtepunt om te onthul dat Bybelse profesieë besig is om gestalte aan te neem!