Wil u ware sukses smaak? Wil u ware geluk ervaar? Wil u hê dat ander mense u moet sien as iemand wat ryklik bygedra het tot hul welstand?


Tallose miljoene mense in ons hedendaagse samelewing streef “sukses” na. Hulle lees boeke, luister na bande, woon seminare by en doen allerlei dinge ten einde suksesvol te wees.

Wat is “sukses” egter?
Dit is noodsaaklik om te besef dat ’n mens nie ware sukses kan bekom, tensy jy ten volle verstaan wat dit is nie! Baie mense beskou sukses in die lig van om baie geld te besit of te verdien. Ander mense voel weer dat, indien hulle net ’n bekende filmster, televisiester, musiekster of sportster kon wees – of enige soort “sterstatus” kon behaal – dit hulle suksesvol sou maak. Sou dit egter werklik die geval wees?

Wanneer dit by geldmaak kom, was J. Paul Getty die “suksesvolste” van sy geslag. Hy was biljoene dollar werd op ’n tydstip wat die dollar ten minste twee of drie keer vandag se waarde gehad het. Tog het hy ’n mislukte huwelik gehad, was dikwels alleen en gefrustreer en dit is algemeen bekend dat hy gesê het: “Ek sal al die geld gee wat ek ooit gemaak het, as ek net een gelukkige huwelik kon hê!”

Die meeste van ons is sekerlik bewus dat tallose televisie-, film- en sportsterre later in hul lewens baie gefrustreer is. Die stories van hul betrokkenheid in drankmisbruik, dwelmverslawing en huweliksonmin – en hul algehele gevoel van leegheid – is legendaries. Jong “sterre” verskyn vinnig op die toneel om hulle te vervang en sonder enige sin van doelgerigtheid in hul lewens, verdoof hul sterstatus. Hulle voel beslis nie “suksesvol” wanneer hul sterstatus afneem, hul inkomste afplat en mense hulle as “uitgedien” beskou nie.

Die “sleutel” tot WARE sukses

Die belangrikste sleutel tot ware sukses is om te leer om die regte doelwitte te stel en om daardie doelwitte vasberade na te streef. Ek sê “doelwitte” omdat dit nodig is om ’n aantal tussentydse doelwitte te stel én te bereik ten einde die uiteindelike doel te bereik. Baie mense raak verwar oor wat ware sukses behels, daarom besluit hulle “geldmaak” is een van hul hoofdoelwitte. Hulle besef nie dat hoewel mildelike finansiële hulpbronne effens mag bydra tot die mate van geluk wat ’n mens reeds bekom het, dit nie die ware bron of grondslag van geluk of sukses is nie. Die meeste waarlik suksesvolle mense besef dit, hoewel miljoene mense nooit tot daardie besef kom nie.

Party van die belangrike gebiede van sukses behels ’n mens se gesin, loopbaan en gesondheid. Tiger Woods, wat nou al vir verskeie jare as die “wêreld se beste gholfspeler” beskou word, glo sy sukses spruit uit vertroue in sy gesin, geloof in doelwitte, volhouding van ’n onwrikbare fokus en diens in die gemeenskap. Hierdie besondere jong man sê: “Die baie ideale en lesse wat ek van my ma en pa geleer het, omskryf wie ek is en maak my trots daarop. Hul onwankelbare geloof en vertroue in my, hou my daagliks aan die gang. Ongeag hoe taai ons dink ons is, ons kan dit nie alleen doen nie”. Sy pa, Earl, sê wanneer die twee mekaar omhels na ’n oorwinning, sê Tiger altyd “ons het dit gedoen” – nooit “ek het dit gedoen” nie.

’n Uitsonderlike gesin kan beslis grootliks bydra tot ’n mens se sin van eiewaarde. Dit kan ’n mens ’n gevoel van stabiliteit en doelgerigtheid gee en onmeetbaar bydra tot jou geluk en sin van selfvervulling. Namate ons ouer word, indien ons nie net ’n liefdevolle maat het nie, maar omring word deur liefdevolle kinders, kleinkinders en ander simpatieke individue in ’n uitgebreide familie, sal die diep gevoel van trots, tevredenheid en vervulling wat dit meebring, baie meer werd wees as al die geld in die wêreld!

Dit is waarom ons Skepper sê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas” (Genesis 2:18). In ’n liefdevolle gesin, wanneer kinders en kleinkinders bykom (agt kleinkinders in my geval!) kan die gevoelens van warmte, sekuriteit en geluk wat daarmee gepaardgaan nie behoorlik gemeet word nie. Soos die psalmdigter skryf: “Kyk, seuns is ’n erfdeel van die HERE; die vrug van die moederskoot is ’n beloning. Soos pyle in die hand van ’n held, so is die seuns van die jeug. Gelukkig is die man wat sy pylkoker daarmee gevul het! Hulle sal nie beskaamd staan as hulle met die vyande in die poort spreek nie” (Psalm 127:3-5). Net in die volgende Psalm lees ons: “Jou vrou is soos ’n vrugbare wingerdstok binne-in jou huis; jou kinders soos olyfboompies rondom jou tafel. Kyk, so sal sekerlik geseën word die man wat die HERE vrees” (Psalm 128:3-4).

Die Amerikaanse skrywer/filosoof, Elbert Hubbard, gee raad: “Put jou geluk uit jou werk”. Diegene wat ’n loopbaan nagestreef het wat waarlik by hulle pas, sal almal saamstem dat dit ’n groot gebied is waarin sukses en geluk gebou kan word – of, andersins, om frustrasie en leegheid te ervaar wanneer die verkeerde tipe loopbaan gekies is.

Ons Skepper sê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Genesis 1:26). Die mens is na die grote God se gelykenis geskape. Ons is, tot ’n beperkte mate, gemaak om “soos” ons Skepper te wees – om te dink, te beplan, te regeer en om ’n skeppende verbeelding op verskeie maniere aan te wend. Indien u u loopbaan rig in ’n beroep waar u vermoëns ten volle en vrugbaar aangewend kan word, kan u werk of beroep inderdaad ’n gevoel van sukses en vervulling verskaf. Mense wat hulself oplei en dissiplineer om die “beste” kabinette, motors of huise te bou, kan met reg baie tevredenheid daaruit put. ’n Toegewyde onderwyser, geneesheer of soortgelyke beroepslui, geniet ’n geweldige sin van vervulling deur te weet dat hy of sy grootliks bygedra het om die lewens van honderde of selfs duisende mense te verbeter en hulle te help om hul menslike potensiaal meer ten volle te bereik.

Selfs na dit alles, sal dit die meeste wat slegs in hul sake of loopbane sukses bereik het, met ’n gevoel van leegheid laat. Multimiljoenêr, J. Paul Getty, beskryf sy eie leegheid in hierdie opsig in sy boeiende boek, How To Be Rich. Nadat hy beskryf hoe hy sy eerste miljoen dollars op ouderdom 24 gemaak het, skryf Getty oor hoe hy “afgetree” het en “ten volle ingeval het by die Suid-Kalifornië-L.A.-Hollywood-wêreld van pret en plesier”. Dan vertel hy egter: “Dit het my ’n wyle geneem om tot die besef te kom dat ek net tyd gemors het en dat ek verveeld was. Teen die einde van 1918 was ek deeglik keelvol. Vroeg in 1919 was ek terug in die oliebedryf – nie min verleë oor die “ek-het-jou-mos-gesê”-glimlag wat ek van my pa gekry het nie toe ek hom inlig dat ek, nadat ek op 24 afgetree het, nou op 26 uit aftrede kom nie!”

Bykans elke welgestelde persoon waarmee ek al gepraat of van gelees het, erken geredelik dat “goed” ’n mens nie gelukkig maak nie. Met die seën van goeie gesondheid en ’n gelukkige gesin, kan finansiële sukses ’n mate van tevredenheid bring. Ware sukses strek egter veel verder as finansiële- of sakeprestasies. Soos verskeie skrywers dit in effek stel: “Betekenisvolheid strek verder as sukses”.

Het u lewe diepe BETEKENIS?

Op sekere tye in hul lewens, begin die meeste mense hulself vra: “Is dit al wat daar is?”
U moet daardie vraag vierkantig in die oë kyk!

Indien u bereid is om die ware antwoord op die vraag “Waarom is ek gebore?” ten volle en noukeurig te oorweeg, sal u onderweg wees om te ontdek hoe om ’n waarlik betekenisvolle lewe te geniet – ’n lewe en ’n doel wat al hoe dieper strek om die uiteindelike doel waarvoor u op aarde geplaas is, te vervul.

Die meeste van ons Wêreld van Môre-intekenare is ongetwyfeld bereidwillig om daardie groot doel te oorweeg, anders sou u nie inteken op hierdie tydskrif en dit lees nie. Laat ons dus nou noukeurig oorweeg hoe hierdie uiteindelike doel verband hou met die bereik van “sukses” in die lewe. Wees asseblief bereid om dinge noukeurig te deurdink, om by die ware antwoorde op die lewe se belangrikste vrae te kom – nie die “kitsoplossings” wat net ’n gedeelte van die storie in ag neem en net ’n gedeelte van die ware antwoord bied nie.

Die meeste van u weet dat Jesus Christus gesê het: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). Die enigste geskrewe “woord van God” op daardie tydstip, was wat die meeste van ons die Ou Testament noem. Let nou op hoe Jesus die Ou Testament geldig verklaar: “Jesus antwoord hulle: Is daar nie in julle wet geskrywe: Ek het gesê, julle is gode nie? As dit húlle gode noem tot wie die woord van God gekom het, en die Skrif nie gebreek kan word nie, sê julle vir Hom wat die Vader geheilig en in die wêreld gestuur het: U spreek godslasterlik – omdat Ek gesê het: Ek is die Seun van God?” (Johannes 10:34-36). In hierdie skrifgedeelte beskryf Jesus Christus duidelik die Ou Testament as “Skrif” en sê dan dat die Skrif “nie gebreek” kan word nie. 
Ek noem dit omdat dit noodsaaklik is dat elkeen van ons vir onsself die bestaan van die baie werklike God bewys – die Skepper van die hemel en die aarde. Dit is ook noodsaaklik dat ons bewys dat die Bybel die geïnspireerde openbaring van God is, om die mensdom te vertel waarom ons hier is en die ware doel vir ons lewens te onthul. Ons moet verstaan dat sonder hierdie goddelike onthulling – wat bewys kan word – ons bloot in die woestyn van menslike verwarring ronddwaal, want afgesonder van so ’n werklike God, is elke mens se mening net so geldig soos elke ander mens se mening! Waar sou dit ons laat? Dit sou ons in leegheid en verwarring laat waar ons nie in staat is om enige voortreflike doel vir die lewe te vind nie.

Ons moet elkeen met sorg oorweeg wat God sê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Genesis 1:26). As wesens, na die “gelykenis” van God Self geskape om te “heers” oor die aarde, waarheen is ons uiteindelik op pad? Hoe kan ons daardie doel bereik? Sal daardie doel wonderlike betekenis aan ons lewens gee?

Die goeie nuus

Die antwoord op hierdie laaste vraag is ’n oorweldigende “Ja”! Sodra u vir uself bewys het wat die ware betekenis van die lewe is – sodra u begin om die groot doel van die lewe te vervul – sal elke fase en faset van u lewe betekenis aanneem. Elke dag word gevul met betekenis. Die oggendkoerant en die aandnuus is propvol betekenis, namate u sien hoe God se doel vir die nasies stadig maar seker ontvou en hoe elke individu se lewe geseën word tot die mate waartoe hy of sy reageer op die ontsagwekkende doel vir menslike bestaan.

God inspireer antieke koning Dawid om te skryf: “Wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom ’n weinig minder gemaak as ’n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel” (Psalm 8:5-7).

God inspireer die skrywer van Hebreërs in die Nuwe Testament om Dawid se woorde te herhaal. Dan, na die laaste frase – “Alle dinge het U onder sy voete gestel” – voeg die apostel Paulus by: “Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie” (Hebreërs 2:8). Bybelgeleerdes erken dat die frase “die onderwerping van alle dinge aan hom [die mensdom]” ewenwel die mens se uiteindelike heerskappy oor die ganse heelal kan aandui! Soos Paulus byvoeg, het God “niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie”!

Vir duisende jare het die mens die maan en sterre bestudeer en gefilosofeer oor hoe ons dit eendag kan bereik. Met ons hedendaagse tegnologiese vermoëns, is ons nou in staat om van die naaste planete in ons eie sterrestelsel te “ondersoek”. Die omvangryke heelal daarbuite – met sterre en planete wat biljoene ligjare ver is – sou vereis dat mans en vroue vir baie geslagte in die een of ander ruimtevoertuig leef, voortplant en sterf voordat hulle selfs die rand van ander sterrestelsels sou bereik!

Sal ons dus die ruimte oorwin?

Ja! Ons sal uiteindelik die ruimte “oorwin”, maar op die wyse waarop ons Skepper dit bestem het, want Paulus gaan voort, in hierdie geïnspireerde gedeelte van Hebreërs: “Maar ons sien Hom, naamlik Jesus, wat vir ’n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyde van die dood met heerlikheid en eer gekroon, sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak. Want dit het Hom betaam, ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om die bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak” (verse 9-10).

God sal uiteindelik die mensdom gebruik – wat geskape is na die gelykenis van God om volwaardige kinders van God te word namate Christus “baie kinders na die heerlikheid [wou] bring” (vers 10) – om Christus te help om die ganse aarde en later, waarskynlik, die ganse heelal, te regeer, soos aangedui in Hebreërs 2:8!

Gepraat van ’n grootse doel! Gepraat van ’n voortreflike doelwit!

Hoewel die meeste belydende Christene nog nooit hiervan gehoor het nie, dit is die uiteindelike Goeie Nuus! Dit is waarom ek en u gebore is! Ons is nie geskape om in die hemel te “sweef” met niks om te doen nie. God het ons eerder geskep om te leer om ons tyd, talente en skeppende vermoëns te benut om ons God, ons Vader, te dien, want ware Christene word vertel om God as “Vader” aan te spreek (Mattheus 6:9). Onthou, God se Woord vertel ons dat Jesus “die eersgeborene kan wees onder baie broeders” (Romeine 8:29). Ons gaan die werklike “jonger broers en susters” van Jesus Christus wees – nie “vals broers en susters” wat op die een of ander laer bestaansvlak, soos ’n koei of bok ondergeskik aan ’n mens is nie!

God se ewige DOEL

God sê herhaaldelik vir ons in Sy geïnspireerde Woord dat diegene wat in hierdie huidige tyd deur Hom geroep word tot ware begrip, die geleentheid gegee gaan word om konings en priesters te wees in Christus se eerskomende Koninkryk en om Hom by te staan om te regeer oor stede en volke – om ware vrede, vooruitgang en geluk aan hierdie deurmekaar wêreld te bring. Paulus skryf: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korintiërs 6:2-3). Paulus vertel ons in duidelike terme dat ons ’n uiteindelike “doelwit” het om onder Jesus Christus oor die nasies van hierdie aarde te regeer, mits ons die duidelike woorde van die Nuwe Testament sal glo en indien ons gewillig is om ons lewens ten volle aan God te gee deur die ware Jesus Christus!

In Openbaring 2:26 praat Christus in die eerste persoon: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee”. Ja, die ware heiliges – die “oorwinnaars” wat verstaan en hulself oorgee aan God se groot doel – sal die mag gegee word oor die Verenigde State, Brittanje, Kanada, Australië, Suid-Afrika, Nieu-Seeland, die Filippynse Eilande, China, Rusland en al die nasies van hierdie wêreld onder Jesus Christus in Sy komende wêreldregering! Dit is die wonderlike “Goeie Nuus” van die Koninkryk, of Regering van God, wat die Bybel van voor tot agter verklaar!

Nee! Daardie deel van die regering gaan nie bo in die hemel wees nie, want God se geïnspireerde Woord beeld die ware heiliges uit waar hulle sing: “U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:9-10). Nadat Daniël beskryf hoe die eerskomende Vals Profeet “sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel” (Daniël 7:25), wys hy op die uiteindelike verlossing en heerskappy wat aan die heiliges van God gegee gaan word: “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees” (vers 27).

Dit is nie net die een of ander sinnebeeld of vae droom, soos party hedendaagse teoloë graag voorstel nie! Jesus Self vertel die Apostels: “En Ek beskik vir julle ’n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Lukas 22:29-30).

Ja! Indien ons ons lewens van ganser harte aan God gee, deur die ware Jesus Christus van die Bybel, kan ons ’n mate van sukses en ontsagwekkende betekenis ervaar wat dít te bowe gaan wat die meeste mense hulself selfs kan begín indink!

Hoe kan ons dan ’n sekere mate van sukses en bevrediging in hierdie lewe ervaar, terwyl ons ons voorberei op ons uiteindelike doelwit? Ons kan ons bes doen om ’n standvastige, Godvresende gesin te bou. Ons kan talent ontwikkel in ons gekose loopbaan en die “vrugte” van ons sukses gebruik om ander mense te help en te dien. Ons kan die beginsels van goeie gesondheid navolg en probeer om “God te verheerlik” in ons liggame (1 Korintiërs 6:20). God wil beslis hê dat ons redelik gelukkig en suksesvol op hierdie gebiede moet word.

Verder sal waarlik groeiende en produktiewe Christene – die “oorwinnaars” – leer om ’n lewe van persoonlike ontwikkeling en prestasie te leef ten einde hulle voor te berei op die toekomstige werk om Christus te help om die probleme van hierdie wêreld uit te stryk. Deur dit te doen – om ons uiteindelike doelwit te identifiseer – moet ware Christene se gedagtes vertroos word deur die diepe “vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan” (Filippense 4:7), want Jesus sê: “Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10).

Bowenal egter – mits ons “die visie sal aangryp” waarvoor God ons in die eerste plek geskape het en bowenal die Koninkryk van God en Sy geregtigheid eerste sal soek – sal God (deur Sy Heilige Gees wat in ons werk) ons vorm en smee deur ’n lewe van geestelike groei en oorwinning. Hy sal ons ook Sy volwaardige kinders in Sy Geesgevulde gesin maak, wat binnekort hierdie ganse wêreld gaan regeer!

Dit is ware sukses! Kan u u indink hoe opwindend dit gaan wees om die biljoene deurmekaar, siek en verhongerde mense met Jesus se Wederkoms te help, te voed, aan te moedig, te onderrig en te dien? Kan u besef wat se geleentheid dit is om diepgaande vrede en vreugde te bring aan biljoene lewens deur hulle te onderrig en te lei in God se weg? Dit alles sal inderdaad uiteindelike sukses en vervulling bring waarvoor ons geskape is. Daar is geen groter roeping nie – daar is geen groter “sukses” nie – as om dáárdie grootse doel te vervul waarvoor ons gebore is!