Abraham Lincoln het eenkeer gesê: “’n Huis wat teen homself verdeeld is, kan nie bly staan nie”. Hy het na Jesus Christus se woorde verwys, wat ironies genoeg na Satan se huis of koninkryk verwys het: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie. En as die Satan die Satan uitdryf, is hy teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan bly staan?” (Matthéüs 12:25-26).

Wat ’n kragtige uitspraak oor die oproerigheid waaroor sommige van ons moderne lande vandag bekommerd is. Hierdie Skrifgedeelte spreek boekdele oor ons samelewing wat nie in die huidige, verdeelde toestand staande kan bly nie.

Hierdie gedeelte openbaar ook dat Satan baie gevalle engele in sy “koninkryk” het en alhoewel hulle onder mekaar mag meeding en baklei, is hulle verenig in hulle opstand teen God. Satan weet dat verdeeldheid lei tot die ondergang van lande, stede en gesinne. Hy is ’n meester wanneer dit kom by die saai van verdeeldheid en onenigheid onder die mensdom – op elke vlak. Die Bybel maak ons bewus van sy bestaan en openbaar sy taktiek van tweedrag en verdeeldheid sodat ons dit kan vermy (2 Korinthiërs 2:11; Efésiërs 4:27). Hy gebruik dikwels verskille tussen mense as ’n bron van twis – verskille wat ons Skepper bedoel het om mekaar aan te vul!

Hoe kan ’n “huis” dus staande bly wat in homself al die verskille het wat ons vandag tussen mense regoor die wêreld sien?

 

Eenvoudige maar noodsaaklike vereistes vir vrede

Eerstens behoort daar begryp te word dat nie alle verskille ’n slegte ding is nie. Die God van die hele skepping waardeer verskille en verskeidenheid. Dit is duidelik in die fisiese skepping van die sterre en planete bo die aarde tot die flora en fauna op die aarde. Dit is ook duidelik in die mensdom – daar bestaan ’n geweldige verskeidenheid tussen die nasies en volke van die aarde. Daar is verskille in kultuur, verskille in persoonlikhede en verskille met betrekking tot natuurlike gawes (Romeine 12:3-8). Natuurlik het Hy verskille tussen die man en die vrou geskep wat mekaar behoort aan te vul (Génesis 2:18). Soos die spreekwoord sê: Vive la différence! Selfs verskille in lewenservarings en perspektiewe sê vir ons dat ons raad en advies van ander mense behoort op te soek (Spreuke 24:6). Verskille behoort te help om ons sterker en nie swakker te maak nie. Laat ons nie mislei word nie.

Tweedens is dit nodig dat daar gemeenskaplike grond is – om meer spesifiek te wees, gemenereg. Reëls en regulasies bestaan met die doel om orde te skep en te handhaaf. Die fisiese heelal werk volgens wette; dit behoort ook duidelik te wees dat dieselfde in menslike verhoudings geld. Geen regdenkende mens sou die idee voorstaan dat ons sonder wette behoort te leef nie – chaos, verdeeldheid en anargie sou baie vinnig volg. God het antieke Israel dié opdrag gegee: “Een wet en een reg moet geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef” (Númeri 15:16).

Om te verstaan wat die verskille en die belangrikheid van gemeenskaplike standaarde is, is die sleutel tot die handhawing van eenheid. Daar is ’n pragtige profesie in Jesaja wat dien as ’n baken van hoop vir ’n wêreld vol twis en tweedrag: “In dié dag sal Israel die derde wees naas Egipte en Assirië, ’n seën in die midde van die aarde, omdat die HERE van die leërskare hom geseën het, met die woorde: Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!” (Jesaja 19:24-25).

Diegene wat Bybelprofesie bestudeer sal ook onthou dat hierdie drie nasies in die verlede in oorlog met mekaar gewikkel was. Dit sal nie so wees in die wêreld van môre nie. Daar sal hierdie nasies en baie ander nasies byeenkom om saam te aanbid en God se Wette en seëninge te ontvang (Miga 4:2).

Oral waar mens vandag kyk is die samelewing verdeeld, maar u hoef nie deel te wees van daardie verdeelde en ontmoedigende gees nie. Word eerder ’n vredemaker met die hulp van God se Heilige Woord en begin nou om voor te berei vir die glorieryke Koninkryk wat kom.