Ons ken almal grappies soos dié een oor die stamhoof wat van die jagtog af teruggekom het. “Ek het goeie nuus en slegte nuus. Die goeie nuus is dat die jagtog baie vleis vir die winter opgelewer het. Die slegte nuus is dat al wat ons kon kry, muishond is!”

Ons werk by Wêreld van Môre is ’n goeie nuus/slegte nuus boodskap vir die mensdom, sonder ’n grappige kinkel. Die slegte nuus is werklik slegte nuus en die goeie nuus is werklik goeie nuus – maar anders as in hierdie humoristiese staaltjie, kom die slegte nuus eerste.

Enigeen wat oë het om te sien, weet dat ons wêreld in die moeilikheid is. Hierdie aanhaling uit die Washington Post van 2 November 2017 openbaar die huidige stand van sake in die Verenigde State: “Die aanval het ’n ontsaglike leemte gelaat in ’n dorpie in Texas met minder as 700 mense en het vir sommige van hulle ’n gevoel van ongemak geskep omdat geen plek van moontlike geweld gevrywaar is nie. Daar het die afgelope ses weke ook ’n konsertterrein in Las Vegas, ’n Walmart in Colorado, ’n kerk in Nashville en ’n fietspad in New York, die toneel van dood en bloedvergieting geword”.

Dit lyk of voertuie die vernaamste moordwapen  deesdae in die Verenigde Koninkryk en Europa is om burgers te terroriseer, alhoewel vuurwapens en bomme in Parys, Brussel en Mancheser dood en verwoesting gesaai het. Motorbomme ontplof gereeld in die Midde-Ooste na gelang godsdienstige en politieke faksies wedywer vir oppergesag en skoolkinders word ontvoer deur militantes in Afrika. Wie weet watter nuwe gruweldade sal plaasvind voordat hierdie artikel u bereik?

Dwelmmisbruik is ’n nimmereindigende plaag in die samelewing (dit word in meer diepte bespreek in ons artikel, Dagga, elders in hierdie tydskrif). Produsente, verspreiders en korrupte amptenare ontwrig stede en nasies en gebruikers vernietig hulleself en ander mense rondom hulle. Misbruik van die Internet vier hoogty: Identiteitsdiefstal, bedrieglike beleggings, pornografie, vals nuus wat reputasies kan verwoes en maatskappye skade berokken, gereelde diefstal van militêre en korporatiewe geheime met gevaarlike potensiaal – om maar net ’n paar op te noem!

Noord-Korea en die Verenigde State gaan voort om mekaar met oorlog te dreig, net soos Iran en Saoedi-Arabië ook doen. Libië, Sirië, Irak, Jemen en Somalië bly in chaos namate mededingende faksies na oorheersing streef. Moderne wapens maak dit moontlik om die mensdom uit te wis. Slegs die menslike natuur het konstant gebly.

Slegte nuus oorheers. Verhoudings tussen mans en vrouens is kommerwekkend. As gevolg van lae geboortesyfers en aborsies wat in sommige nasies gedurende die afgelope paar dekades uitgevoer is, word immigrante benodig om die werk te doen wat gedoen sou kon word deur die miljoene geaborteerde babas wat volwassenheid sou bereik het en poste sou kon vul. Dwelmmisbruik, onbeskofte politieke besprekings, die onvermoë om saam te werk – alles dra by tot wat al hoe meer gesien word as die dood van die Westerse kultuur.

Die begin van smarte

Hierdie dinge gebeur voor ons oë, maar die werklike slegte nuus lê nog voor! Alle tekens dui daarop dat ons die tydperk wat die Bybel beskryf as die “voleinding van die wêreld” (Matthéüs 24:3), “tyd van die einde” (Daniël 12:4) en “tyd van benoudheid vir Jakob” nader (Jeremia 30:7). (Bestel gerus ons gratis publikasie Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?, vir ’n beter insig van hierdie Skrifture.)

Jesus beskryf hierdie tyd wat gekenmerk word deur valse Christelikheid, etniese geweld, oorloë en gerugte van oorloë, hongersnood, pessiektes en natuurrampe (Matthéüs 24:4-7; Markus 13:5-8; Lukas 21:8-11). Ons leer ook dat dit net die begin van smarte is. Daar is goeie nuus, maar ons wêreld sal baie erger word voordat dit beter sal word! Jesus het ’n ander tendens voorspel wat vererger terwyl u hier lees – diegene wat Sy weg kies, sal in die eindtyd deur alle nasies gehaat word. Ware Christene sal vervolg word, selfs doodgemaak word (Matthéüs 24:9)! Hoe kan dit in beskaafde samelewings gebeur?

Ek het eens op ’n tyd daaroor gewonder, maar nie meer nie. In verskeie Islamitiese state is dit reeds gevaarlik om die naam van Christus te bely. Wat van ons Westerse demokrasieë? Politieke korrektheid (sensuur en die uitsterf van vrye spraak) maak dit onwettig om werklike Bybelse standpunte uit te spreek. Sommige dele van die Bybel is reeds in Kanada as “haatspraak” verklaar! Besighede in Amerika en die Verenigde Koninkryk word deur die moderne “gedagte polisie” geteiken en vernietig.

Dus, waar is die goeie nuus? Hoe kan ons hierdie prentjie verander? Die antwoord is dat ons nie kan nie, maar God kan! ’n Nuwe wêreld is aan die kom en soos die ou liedjie lui, “dit is net om die draai!” Dieselfde bron wat voorspel het dat die mensdom in hierdie gemors sal beland, voorspel hoop vir die toekoms. Vir die meeste mense klink dit te goed om waar te wees. Is dit regtig?

Die goeie nuus

Jesus Christus, die grootste Profeet in die geskiedenis, het gewaarsku dat die mens homself sou vernietig tensy Hy direk en goddelik ingryp (Matthéüs 24:21-22).

Die profeet Sagaria beskryf die hoogtepunt van die mens se wanbestuur. Ons leer dat Jerusalem die kern van die finale konflik sal wees. “Kyk, daar kom ’n dag vir die Here; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem! Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem ... En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies ... En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant” (Sagaria 14:1-4). Die profesie beskryf dan die berg wat in twee sal splyt [split] en ’n groot vallei sal vorm waarvandaan water sal vloei. Dit beskryf duidelik ’n toekomstige gebeurtenis, want daar het nog nooit so iets gebeur nie. ’n Groot geveg sal dan plaasvind tussen die wêreld se nasies en die terugkerende Jesus Christus. Hy sal hierdie leërs verslaan – “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (vers 9).

Nadat Hy hierdie opstand beteuel het, sal Jesus die oorlewende nasies beveel om iets te doen wat baie belydende Christene weier om te doen: Om die Bybelse feeste en Heilige Dae te onderhou. “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier” (vers 16). Die profesie waarsku dat enige nasie wat nie hierdie Fees onderhou nie, geen reën sal kry nie en uiteindelik met plae getref sal word as hulle voortgaan om teen die bevel te rebelleer (verse 17-19). Die terugkerende Christus sal die mens se aandag verkry en menslike uitwissing voorkom (Matthéüs 24:21-22).

Die Bybel beskryf hierdie wonderlike tyd in baie gedeeltes. ’n Skriftuur het Evgeniy Vuchetich in 1959 geïnspireer om ’n geskenk van die Sowjetunie aan die “Verenigde” Nasies te skep. Dit is ’n bronsbeeld van ’n man wat ’n swaard in ’n landbou-implement omskep en het die titel: “Laat ons swaarde in pikke smee”. Die oorsprong van hierdie frase kom in Jesaja 2:4 voor.

Benjamin Franklin, een van Amerika se “stigtingsvaders”, het na bewering skepties gesê: “Diegene wat hulle swaarde in pikke smee, eindig gewoonlik om te ploeg vir diegene wie hulle swaarde behou het”. Dit is maklik om te verstaan waarom so baie mense vandag sulke skeptisisme deel. Vrede kan nie met ons huidige menslike natuur saamleef nie, maar wat daarvan as die menslike natuur sou verander? Hoe is dit moontlik?

’n Nuwe hoop

Nadat Sy vyande verslaan is, sal Christus ’n magtige geestelike invloed uit die weg ruim wat die mensdom sedert die tyd van ons eerste ouers mislei het. Min mense besef die werklikheid en mag van hierdie slinkse wese wat as Satan, die duiwel, bekend staan. Die Bybel noem hom “die god van hierdie wêreld” (2 Korinthiërs 4:4) en die “owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” wat “die loop van hierdie wêreld” orkestreer (Efésiërs 2:2). Die Versoendag, een van die Bybelse Heilige Dae, openbaar dat ons slegs met God en met mekaar “een” kan wees wanneer Satan toegesluit is (Levitikus 23:27; Openbaring 20:1-3). Die misleiding en rebellie wat ons vandag sien, sal vinnig afneem nádat hy uit die weg geruim is. Slegs dan kan ’n nuwe era van vrede, voorspoed, goeie gesondheid en harmonie ’n werklikheid word.

Om meer te leer oor hierdie tyd van goeie nuus, vra gerus u gratis eksemplaar van ons boekie aan, Die toekomstige wêreld: Hoe sal dit wees?