Skandelike gedrag word deesdae beskou as prysenswaardig. Is dit nie tyd om te vra of die “nuwe moraliteit” die regte een is nie?

Gedurende die twintigste eeu het dramatiese veranderings in morele gedrag plaasgevind – veral in die Weste en hoofsaaklik in Europa en die Engelssprekende mense van Noord-Amerika, Australië en Nieu-Seeland [asook in Suid-Afrika]. Tot ’n groot mate was en is dit die resultaat van Darwinisme – die idee dat die mensdom die produk van blote toeval is en daarom geen blywende of voortreflike doel het nie. Soos die apostel Paulus dit stel: “As die dode nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons!” (1 Korinthiërs 15:32).

Die gruweldade van die twee Wêreldoorloë het ook veroorsaak dat mense die feit bevraagteken het hoe so ’n bloedbad kon plaasvind indien ’n liefdevolle God werklik bestaan. Penisillien en die “voorbehoedpil” het ’n rol gespeel om mense te bevry van twee van die grootste vrese vir intimiteit buite die huwelik: swangerskap en siekte. Persepsies het verander, maar die probleme het dieselfde gebly. Seksueel oordraagbare siektes is algemeen teenwoordig, aftakelend en dodelik.

Daar was ook die intellektueles, die wêreldse evangeliste van die nuwe moraliteit: Sigmund Freud, Alfred Kinsey, William Masters, Virginia Johnson, Edward Brecher en ander geleerdes wat hulle daarop toegespits het om ons te bevry van ons onderdrukkende Victoriaanse verlede – die ander uiterste. Ongeag die oorsaak – die gevolge was dramaties. Gedrag wat voorheen skandelik was, word nou as normaal en selfs as prysenswaardig beskou.

 

’n Dramatiese verskuiwing

In die Westerse kultuur was daar voorheen, ten minste in naam, ’n bewussyn van God en onder baie mense ook ’n sterk geloof in Sy bestaan. Christene asook Jode het in ’n mate staat gemaak op die Skrif – spesifiek op die Tien Gebooie – as die riglyn vir gedrag. Daardie reëls het menslike gedrag in toom gehou, maar gedurende die tweede helfte van die twintigste eeu het geloof in God en moraliteit onder hierdie nasies heeltemal agteruitgegaan, net om selfs vinniger in die eerste twee dekades van die een-en-twintigste eeu nog vinniger in ’n afwaartse spiraal ineen te stort.

Wêreldse humanisme het die Tien Gebooie in howe en opvoedkundige instellings vervang. Is dit egter waar dat daar ’n etiese sosiale orde kan wees buiten die geloof in ’n gesaghebbende God? Die probleem is dat mense nie kan saamstem oor wat moreel en eties is nie.

’n Vinnige internetsoektog oor egbreuk bewys hierdie feit. Michael W. Austin, PhD, het in Psychology Today geskryf: “In my etiekkursusse bespreek ek kwessies in verband met gesinsetiek met my studente wat betrekking het op die huwelik en ouerskap. Ons bespreek dikwels ’n kort verhandeling deur die hedendaagse filosoof Richard Wasserstrom, ‘Is Adultery Immoral?’ Ek glo die antwoord is ’n duidelike ja” (“What’s Wrong With Adultery?” 1 Augustus 2011). In ’n ander kort verhandeling in Psychology Today, het Clifford N. Lazarus, PhD, geskryf: “Met ander woorde, daar is gesonde asook ongesonde redes om buite-egtelike verhoudings te hê. Ironies genoeg kan ’n huwelik in sommige gevalle deur so ’n verhouding versterk word” (“Is Everything We Think We Know About Adultary Wrong?” 17 Julie 2013).

Alhoewel die meeste getroude egpare dus glo dat dit moreel reg is dat ons maats getrou aan ons sal wees, stem nie almal saam nie. Austin asook Lazarus benader die onderwerp deur middel van die menslike rede en bied argumente aan beide kante van die vraag aan. Menslike rede alleen, sonder om God in ag te neem, is niks meer as ’n opinie en filosofie nie – tans die kurrikulum van onderwys op alle vlakke.

Thomas Paine het tussen 1794 en 1807, The Age of Reason in drie dele, gepubliseer. Paine, ’n deïs [’n persoon wat God aanvaar as Skepper op grond van sekere redes maar Hom nie aanvaar as onderhouer van Sy skepping nie], het in ’n hoër mag geglo, maar het geopenbaarde kennis verwerp soos gevind in die belangrikste godsdienste en godsdienstige geskrifte, met inbegrip van die Bybel. Paine het menslike rede aangemoedig as ’n plaasvervanger vir Goddelike openbaring.

Is dit nie tyd om tot stilstand te kom en te vra of die rigting wat die mensdom gekies het om in te slaan, regtig werk nie? Wat is die feite? Daar kan boeke vol oor die onderwerp geskryf word, maar vir die beperkte spasie wat in hierdie artikel beskikbaar is, laat ons net na drie aspekte van ons “nuwe moraliteit” kyk.

 

1: Dit is nie goed vir huwelike nie

Die mense redeneer dat dit goed is om iemand voor die huwelik uit te toets – amper soos ’n mens ’n motor sal toetsbestuur voordat u dit koop – om te bepaal of hy of sy versoenbaar is met u. Dit is die meerderheid mense se siening. Volgens ’n 2016-artikel van National Health Statistics Reports: “In 2011-2013 het 60% van vrouens en 67% van die mans saamgestem: ‘Om saam te woon voor die huwelik kan help om egskeiding te voorkom’” (“Trends in Attitudes About Marriage, Childbearing, and Sexual Behavior: United States, 2002, 2006-2010, and 2011-2013,” 17 Maart 2016).

Dít is die mening van baie mense, maar menslike redenasie en algemene denkwyse stem nie altyd ooreen met die feite nie. Reeds so vroeg as in 2002 het David Popenoe van die Rutgers Universiteit en mededirekteur van die National Marriage Project, bevestig dat wanneer dit by saamwoon kom, skiet menslike redenasie ver tekort:

In baie studies is bevind dat diegene wat voor die huwelik saamwoon, minder bevredigende huwelike het en ’n aansienlik groter kans het om uiteindelik uitmekaar te gaan. Een rede is dat mense wat saamwoon, dalk meer sku is om ’n verbintenis aan te gaan en meer geneig is om tou op te gooi wanneer probleme opduik. Daarbenewens kan saamwoon dalk lei tot gesindhede wat gelukkige huwelike moeiliker maak (“The Top Ten Myths of Marriage,” National Marriage Project).

Jay Teachman van die Western Washington Universiteit het dit soos volg verduidelik in ’n studie met die titel “Premarital Sex, Premarital Cohabitation, and the Risk of Subsequent Marital Dissolution Among Women”:

Een van die heel sterkste punte wat voorspel word vir egskeiding wat in die literatuur verskyn het, is voorhuwelikse saamwoon. In verslae wat begin is deur Booth en Johnson (1988) en Bennett, Blanc en Bloom (1988), het feitlik alle studies rakende die verhouding tussen voorhuwelikse saamwoon en egskeiding ’n duidelike verband gevind (Journal of Marriage and Family, Mei 2003).

Teachman het dié punt verder beklemtoon en het vyf verdere studies aangehaal: “Een van die duidelikste omskrewe verwante gevolge van saamwoon, is ’n verhoogde risiko vir ontbinding van ’n huwelik. Huwelike wat deur ’n tydperk van saamwoon voorafgegaan is, is soveel as 50% meer geneig om op enige tydstip  in egskeiding te eindig, as huwelike wat nie deur saamwoon voorafgegaan is nie”.

Dit is betekenisvol dat hulle hierdie bevindings nie verwag het nie – wat die gevolgtrekkings van Teachman en sy span selfs meer geloofwaardig maak. “Vroeë navorsers het hulle verbasing uitgespreek oor hierdie uitslag omdat daar soms bespiegel was dat voorhuwelikse saamwoon as ’n siftingsproses sou dien wat paartjies in staat kon stel om ’n maat te kies met wie hulle ’n suksesvolle huwelik kan aangaan”.

 

2: Dit is nie goed vir kinders nie

Onbeplande swangerskappe is algemeen binne die huwelik. Hoeveel van ons was dalk self ’n “ongelukkie”? Binne ’n huwelik is ’n ma én ’n pa beskikbaar om ’n kind lief te hê en te versorg, selfs wanneer dit ’n onbeplande swangerskap was. ’n Kind wat buíte ’n stabiele ouerverhouding in die wêreld kom, is egter in ’n heel ander situasie.

Volgens die tydskrif Time, in ’n artikel deur Amy Sullivan met die titel “Behind the Boom in Adult Single Motherhood,” is die hoogste koers van onbeplande swangerskappe onder enkellopende vroue in hulle twintigs en nie tieners, soos baie mense sou dink nie. Sewe uit elke tien swangerskappe onder hierdie vroue bo twintig was onbeplan – wat ’n probleem skep. Baie vroue kies om hulle probleem te aborteer, maar aborsie is nie altyd so eenvoudig soos wat mense dink nie. Vir baie vroue, skep aborsie langdurige, onverwagte sielkundige probleme. Daar is ook diegene wat die keuse maak om wel geboorte te gee. Dit is prysenswaardig indien die omstandighede en beperkte keuses in ag geneem word. Wat, indien enige, is egter die gevolge vir die ma en ook die kind? Sullivan beweer: “Een studie na die ander het getoon dat babas wat vir ongetroude moeders gebore word, ’n groter risiko loop om in armoede te eindig en dat die moeders self opvoedkundige en ekonomiese verknorsing in die gesig staar”.

Wat van die drie-uit-tien enkellopende ongetroude vroue in hulle twintigs wat inderwaarheid beplan om ’n kind te hê buite die huwelik? Baie verskonings word gegee oor waarom so baie vroue verkies om babas te hê voor die huwelik. Een verskoning is dat vandag se mans dikwels nie finansieel gereed is om ’n gesin te onderhou nie. Is hierdie redenasie geldig? Die adviesrubriekskrywer Emily Yoffe, wat onder die naam “Prudence” vir die aanlyn-tydskrif, Slate skryf, het die volgende in reaksie op hierdie argument te sê gehad:

“Die geleerde Kay Hymowitz … draai die argument om en sê dit is nie omdat strawwe ekonomiese toestande daartoe lei dat vroue, buite ’n huwelik, kinders in die afwesigheid van ’n vader kry nie, maar dat die besluit om kinders buite die huwelik, sonder vaders te hê, lei tot strawwe en voortdurende ekonomiese toestande. Sy verduidelik dat die oortuiging dat ’n standvastige huwelik sentraal in ’n mens se lewe is – dat dit die begin van ’n gesin voorafgaan en vroue en mans aanmoedig om belangrike keuses te maak wat gebaseer is op selfdissipline en deeglike oorweging. Hierdie is ’n formule wat noodsaaklik is vir finansiële groei – kwaliteite wat des te meer belangrik is om kennis te dra van ’n moeilike nuwe ekonomiese situasie” (“... And Baby Makes Two,Slate.com, 20 Maart 2008).

Me Yoffe se artikel beskryf die situasie van enkelouerskap in Amerika as “’n nasionale ramp”. Hoewel sy die belangrikheid van die huwelik en gesin ondersteun, het lesers met ’n verskeidenheid verskonings gereageer: “Om ’n kind te hê, is spanningsvol en lewensveranderend genoeg. Ouers behoort volgens hulle tydskedule aan hulle verhouding te werk”. “Ek voel ’n baba is op sigself ’n seën. Kry daardie seën voordat u trou”. “Hoe durf u te kenne gee dat ’n onverwagte swangerskap tot ’n huwelik behoort te lei?”

Let daarop dat al hierdie reaksies op emosies gebaseer is – nie op feite nie. Me Yoffe is daarvan beskuldig dat sy “eenvoudig uit voeling is met die moderne kultuur”. Sy antwoord toe:

“Dit mag wees. Dit beteken egter ook dat die moderne kultuur uit voeling is met die behoeftes van kinders. Sommige navorsers identifiseer buite-egtelike geboortes as die hoofoorsaak vir die toenemende sosiale klassifisering en ongelykheid van die Amerikaanse lewe – die eerste stap wat kinders in ’n steeds meer rigiede maatskaplike groep plaas. Studies het bevind dat kinders wat vir enkelmoeders gebore word, baie meer geneig is om arm te wees, gedrags- en sielkundige probleme te hê, om uit te sak op hoërskool en om dan self ook buite-egtelike kinders te hê”.

Die probleem met menslike redenasie is dat emosies en agendas in die pad van rasionele denke staan. Selfs wanneer emosies en agendas nie teenwoordig is nie, is rasionele menslike redenasie nie altyd die beste oplossing nie (Spreuke 14:12; 16:25). Ongelukkig word kinders soms vir al die verkeerde redes verwek. Die gevolge  is nie goed vir kinders nie. Om me Sullivan weer aan te haal: “Vroue is ook kwesbaar wat betref die wanopvatting dat ’n swangerskap – selfs onbeplan – ’n verhouding kan versterk en ’n paartjie nader aan mekaar kan bring. Trouens, al die statistieke wys dat babas spanning in verhoudings meebring; meer paartjies se paadjies loop uiteindelik uiteen … in plaas daarvan dat hulle trou”.

In vandag se post-moderne wêreld maak feite blykbaar nie saak nie. Ons leef nou in ’n tyd waarin die magte van emosie, persoonlike mening en selfuitdrukking die oorhand kry. Die waarheid is egter nie veranderbaar nie. Iets is waar en kan deur feite gerugsteun word óf dit is onwaar en kan nie gerugsteun word nie.

’n Studie, Fragile Families and Child Wellbeing aan die Princeton Universiteit volg reeds 10 jaar lank gesinne van 5,000 kinders, waarvan driekwart van hulle gebore is uit verhoudings tussen ongetroude ouers. Volgens die navorsing het die meeste van hierdie ouers, vroue en mans, gesê hulle wil trou en wel met mekaar. Hulle voel egter op een of ander manier dat hulle nie die vermoë het om hierdie gesamentlike besluit te neem nie. Deur nie so ’n besluit te neem nie, begin die kragte van traagheid hulle uitmekaar dryf. Vyf jaar na die geboorte van hulle kinders het slegs 16 persent van die paartjies getrou en 60 persent is uitmekaar (“... And Baby Makes Two”).

Morele keuses maak wél saak. Dit het ’n invloed op huwelike en kinders – geskiedskrywers en maatskaplike werkers wéét dat die opbreek van gesinne ’n rampspoedige uitwerking op die struktuur van nasies het.

 

3: Dit is nie goed vir ’n mens se gesondheid nie

Al klink die jaar 2008 vir baie mense na antieke geskiedenis, het min verander sedert hiérdie skokkende opskrif in koerante regoor Amerika verskyn het: “CDC [Centers for Disease Control]: At Least 1 in 4 Teenage Girls Has Sexually Transmitted Disease” (Associated Press, 11 Maart 2008). Daar word verder in die artikel verduidelik: “Ten minste een uit elke vier tienermeisies [3 miljoen] landswyd het ’n seksueel oordraagbare siekte. Hierdie was die eerste studie van sy soort wat hierdie ouderdomsgroep betrek het. ’n Virus wat servikale kanker veroorsaak, is verreweg die mees algemene seksueel oordraagbare infeksie by tienermeisies tussen die ouderdomme van 14 tot 19 ... Onder meisies wat erken het dat hulle al seks gehad het, was die koers 40 persent”.

Sake het nie verbeter sedert daardie verslag nie. ’n Persverklaring van die Center for Community Practice van 2016 het berig: “Seksueel oordraagbare siektes neem vir die derde jaar regoor die land toe”. In plaas daarvan om jong vroue aan te moedig om hierdie siektes heeltemal te vermy, gee die befaamde CDC die volgende raad: “Alle seksueel aktiewe vroue jonger as 25 jaar behoort elke jaar vir gonorree en chlamydia getoets te word. Vroue van 25 jaar en ouer, met risikofaktore soos nuwe of veelvuldige seksmaats of ’n seksmaat wat ’n seksueel oordraagbare siekte [SOS] het, behoort ook elke jaar vir gonorree en chlamydia getoets te word” (“Which STD Tests Should I Get?,” CDC.gov, 22 Julie 2021).

Seksueel oordraagbare siektes is nie onskadelike infeksies nie. Dit kan steriliteit, chroniese pyn, servikale kanker en lewensgevaarlike buis-swangerskappe veroorsaak. Dit kan die noodsaaklikheid vir lewenslange behandelings met siekmakende mengeldrankies as medikasie noodsaak en selfs tot die dood lei. Hoe spanningsvol om in die posisie te wees dat dit nodig is om vir die persoon saam met wie u die res van u lewe wil deurbring te vertel dat u aan ’n ongeneeslike seksueel oordraagbare siekte ly.

Die CDC noem wel opsies om seksueel oordraagbare siektes te vermy, maar dit is slegs dit wat dit is: Ópsies, met inbegrip van onthouding, vermindering van die aantal seksmaats, monogame verhoudings [’n verhouding tussen net één man en één vrou], inenting, latex voorbehoeding – geen aanmoediging om die “opsies” te kies wat deur ons Skepper beveel word nie. Slegs wedersydse onthouding gevolg deur ’n monogame huwelik waarborg beskerming teen hierdie gevaarlike siektes.

Wat ontbreek, is die onsigbare Wette wat ons mees intieme verhoudings beheer. Die seksuele revolusie – die nie-so-nuwe “nuwe moraliteit” – het in die 1960’s begin. Nee, dit is nie dat niémand voor hierdie tyd soos straatkatte opgetree het nie. Inteendeel! Die 1960’s het ’n dramatiese verandering in Westerse gesindhede beleef. Wendy Shalit haal Edward M. Brecher aan wat in 1969 aanspraak gemaak het op die volgende: “Ek dink hier is ’n taak vir seksnavorsing: ’n Objektiewe ondersoek na die kort- en langtermyn-effekte op mans, vroue en kinders vir die bevryding van seksuele onderdrukking van gevoelens van seksuele skaamte en skuld” (A Return to Modesty, 1999, bl. 26).

Me Shalit reageer: “Baie welkom, mnr Brecher, in die wêreld van postmoderne seksuele moraliteit. In sommige opsigte het dit afgrysliker uitgedraai as wat selfs die ‘teruggetrokkenes’ hulle kon indink ... Die vraag dink ek, word dan: Is ons rondslaap-gewoontes [vandag se verhoudingsgebruike] so goed soos die reëls van ouds?” (bll. 26-27).

Wat is hierdie “ouer reëls”? Thomas Paine was nie die eerste persoon wat menslike redenasie hoër as onthulling opgehemel het nie, maar wanneer ’n mens eerlik na die feite van die “nuwe” moraliteit kyk, is dit duidelik dat ons keuse van menslike redenasie bo onthulling tot mislukking gelei het. Ons verhoudingskultuur sonder grense is nie goed vir die huwelik, vir kinders of vir ons gesondheid nie.

Lank voor Thomas Paine het ons Skepper Sy instruksies aan die eerste man en die eerste vrou gegee. Die Een wat ons ontwerp het, het alles geweet van chemie, biologie, anatomie en emosies. Hy het Wette gegee wat goeie resultate lewer wanneer ons dit gehoorsaam, maar om dit te verbreek bring pyn, hartseer en dood. God het aan ons eerste ouers ’n keuse gegee. Hulle kon geopenbaarde kennis aanvaar wat hulle sou voorsien van inligting rakende hierdie onsigbare Wette of hulle kon op hulleself vertrou om te bepaal wat reg en verkeerd is. Soos Bybelgeleerdes weet, het hulle ’n betreurenswaardige keuse gemaak. Hulle het hul vyf sintuie en hulle vermoë om vir hulleself te redeneer gekies en hulle nageslag doen sedertdien dieselfde. Die bewyse is egter duidelik: Gebroke harte, gebroke gesinne, gebroke en verwarde kinders en gebroke liggame is die gevolg van die ignorering van die Wette van ons Skepper.

Die God van die Bybel skroom nie om te praat wanneer dit by intieme verhoudings kom nie. Die heel eerste hoofstuk van Sy Openbaring aan die mensdom toon dat ons ontwerp is vir intimiteit. “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Génesis 1:28-29).

Nadat God die man en vrou geskape het, het Hy die verbintenis geskep wat ons die huwelik noem. “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees” (Génesis 2:24). Die volgende vers vertel ons dat hulle naak was en nie skaam was nie, maar dit was op die punt om te verander. Dit was nadat hulle na die teëstander geluister het dat skaamte ingetree het en hulle hulle vir God verberg het (Génesis 3:9-10). Waar het hulle skaamte vandaan gekom? Die antwoord word gevind in die vraag wat God aan hulle gestel het: “Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is? Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie?” (Génesis 3:11).

Sedertdien werk die teëstander van wie ons praat as Satan of die duiwel, om die mees intieme verhouding tussen die man en die vrou te ondermyn. Wie is dit egter wat deur die mensdom geblameer word? Die Skepper van daardie intimiteit.

Intimiteit binne die huwelik tussen ’n biologiese man en sy biologiese vrou, is regverdig en gesond. Die huwelik behoort eerbiedig te word; geen seksuele aktiwiteit buite daardie verhouding nie. “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Hebreërs 13:4). Die grondslag van die Bybelse Wet is liefde soos uitgedruk deur die Tien Gebooie, waarvan een is: “Jy mag nie egbreek nie” (Exodus 20:14; Deuteronómium 5:18).

Vandag beskou min mense dit as belangrik om intimiteit vir die huwelik te bewaar. Mense knoop verhoudings aan en beëindig dit na goeddunke. Die huwelik het ’n nagedagte geword, ’n eendaggeleentheid om “ja te sê vir die rok”. [Ter inligting: Na aanleiding van ’n Engelse TV-program: “Say yes to the dress”] Tog het God die Skriftuurlike vermaning geïnspireer om alle seksuele gedrag buite die Goddelike huwelik te vermy en raai ons aan om te vlug wanneer ons voor ’n versoeking te staan kom. “Vlug vir die hoerery. Enige sonde wat ’n mens doen, is buite die liggaam; maar wie hoerery bedryf, sondig teen sy eie liggaam” (1 Korinthiërs 6:18).

Nee, God is nie teen intimiteit nie; Hy is heeltemal ten gunste daarvan in die regte konteks. Wanneer ons egter al in sirkels om daardie konteks redeneer en in seks voor die huwelik, buite die huwelik of met iemand van dieselfde geslag betrokke raak, is die resultate pyn, hartseer en lyding. Is dit nie tyd om ons oë oop te maak en na die feite te kyk nie?