Het u al ooit die feit bevraagteken of die doop werklik belangrik is? Dankie tog, die Woord van God beantwoord die vraag duidelik.

Het u al ooit gewonder of die doop werklik belangrik is vir ware Christene? Het u dit al ooit bevraagteken of u op die regte wyse gedoop is? Ons kan dankbaar wees dat God hierdie vrae duidelik beantwoord in Sy geïnspireerde Woord, die Bybel.

Vir eeue lank is baie – dalk die meeste – belydende Christene met water besprinkel tydens die doop. Hoe het hierdie gebruik ontstaan? Is dit Bybels? Professor K.S. Latourette skryf in A History of Christianity, dat hoewel besprinkeling aanvanklik net gebruik was vir diegene wat te siek was vir onderdompeling, dit sedertdien alledaags geword het.

Die popularisering van die kinderdoop kan aan Augustinus of Hippo, toegeskryf word, wat tydens die laat vierde en vroeë vyfde eeu n.C. geskryf het. Hy het geglo dat kinders met “erfsonde” gebore word en daarom so gou as moontlik deur die doop gereinig moes word. Martin Luther het voortgebou op Augustinus se leerstelling deur te beweer dat die doop die baba deur geloof verander, reinig en vernuwe. Kinderdoop het uiteindelik gewild geraak as gevolg van die valse idee dat ’n baba wat gesterf het voordat hy gedoop is, veroordeel sou word. Om meer te wete te kom oor God se ware plan vir babas en ander mense wat sterf sonder dat hulle die geleentheid gehad het om die ware Evangelie te hoor en te aanvaar, bestel ons gratis publikasie, Is Hierdie die Enigste Dag van Redding? of lees dit aanlyn by wvm.co.za.

Die probleem met kinderdoop is dat dit geen bekering of toewyding vereis nie! Soos ons sal sien, moet die doop op ware bekering volg. Bekering vereis egter dat mense volwasse genoeg behoort te wees om hulle behoefte ten opsigte van hulle bekering te erken asook om te verstaan hoe om hulle te bekeer.

 

’n Volwasse keuse om te verander

Wat sê die Bybel oor die doop? Die apostel Petrus beveel: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38).

Hierdie woorde van Petrus leer ons twee dinge: Eerstens is die doop noodsaaklik vir alle Christene. Let daarop dat Petrus nie gesê het: “Bekeer julle as julle wil nie; dit sal lekker wees as sommige van julle besluit om gedoop te word”. Hy het hulle beveel: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word”. Tweedens is daar ’n proses rondom die doop – bekering en erkenning van Jesus Christus as Verlosser, gevolg deur die doop, waarna ’n ware ingeseënde dienaar van Jesus Christus die hande op die gedoopte persoon lê sodat God Sy Heilige Gees kan oordra.

Die woord “bekering” kom van die Griekse woord metanoeó, wat beteken “om ’n mens se denke of doel te verander” en om “die innerlike mens te verander” (“3340. metanoeó,” BibleHub.com). Bekering beteken letterlik om te verander en ’n ander lewenswyse te begin volg. Dit vereis die vermoë om ’n mens sélf krities in die lig van die Bybel te analiseer, ’n bewustelike besluit te neem om te verander en om met woord en daad te begin leef volgens God se opdragte. Die doop vereis die optrede van ’n volwassene – selfs die meeste tieners het nog nie die verstandelike vermoë of lewenservaring om hierdie diep geestelike toewyding te verstaan en te maak nie.

 

Besprinkeling of onderdompeling?

God het Johannes die Doper geïnspireer om te doop waar daar baie water was: “En Johannes was ook besig om te doop in Enon naby Salim, omdat daar baie water was” (Johannes 3:23). Bo en behalwe dit, “En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim” (Matthéüs 3:16).

Christus het duidelik in die rivier gestaan, nie op die rivieroewer nie. Indien die doop net genoeg water nodig gehad het om besprinkel te word, sou Christus nie in die water gestaan het nie en “baie water” sou nie nodig gewees het vir Sy doop nie – Johannes kon dan maklik ’n emmer of watersak gebruik het. Die Griekse woord wat doop in die Bybel aandui, is baptizo, wat beteken om ónder die water te wees. Let daarop dat God nie die gebruik van Griekse woorde geïnspireer het wat beteken om te besprinkel of uit te giet nie.

Die doop simboliseer die begrafnis van die ou sondige self in ’n watergraf. Om uit die water op te staan, verteenwoordig ’n mens se opstanding as ’n nuwe mens wat ’n nuwe lewe sal leef – ’n lewe waar sonde nie meer sal heers nie (Romeine 6:3-6). God verwys eintlik na berouvolle Christene as ’n “nuwe skepsel” in Christus (2 Korinthiërs 5:17). Paulus verwys na die doop as die “bad van die wedergeboorte” (Titus 3:5). ’n Christen se doop beeld Christus se dood en opstanding uit (Romeine 6:1-6). Die ou sondige mens “sterf” en word in die watergraf begrawe, sondes word weggewas en die gedoopte persoon kom verander en nuut daarna uit die watergraf. Die handeling en simboliek van die doop is vir God uiters belangrik.

 

Christus se opdrag en voorbeeld

God het die doop beveel en het die voorbeeld gestel deur dit te doen. Een van Christus se laaste opdragte aan Sy Apostels was: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees” (Matthéüs 28:19). Die ware Seun van God het Sy Apostels beveel om dissipels van al die nasies te maak en om hulle te doop. Ons het vroeër gelees van Petrus se opdrag aan die skare (Handelinge 2:38). Christus Sélf is gedoop volgens Sy Vader se wil, deur onderdompeling as ’n voorbeeld vir ons (Matthéüs 3:13-15).

Ons het die doop nodig omdat ons God se vergifnis nodig het. Ons lees: “... want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie” (1 Johannes 1:8). Ons almal sondig en “die loon van die sonde is die dood” (Romeine 6:23). Omdat ons sondig, het ons God se vergifnis en vrywaring van die doodstraf nodig. Wat is sonde? Sonde is wetteloosheid (1 Johannes 3:4). Voor die doop moet ons ’n diepe besef hê van ons behoefte om ons rug te keer op ons vorige verwerping van God se Wet in ons lewens.

Christus het Sy bloed gestort sodat ons vergewe kan word nadat ons ons van ons sondes bekeer het. Sonder fisiese doop kan ons sondes egter nie “afgewas” word nie. Petrus het nie gesê om net “u hart aan die Here te gee nie”. Hy het gesê dat hulle hul moet bekeer en gedoop word (Handelinge 2:38). Vandag is daar verwarring oor die konsep om ’n mens se lewe aan God te gee. Baie mense dink dat, sodra Christus as Verlosser erken is en ’n “liefde” vir Hom bely is, geen ander optrede nodig is om God se Koninkryk binne te gaan nie. Om ’n mens se “hart werklik aan die Here” te gee, behels egter volledige onderwerping van ’n persoon se eie wil aan God, gevolg deur ’n gewilligheid om ’n lewe volkome volgens God se riglyne te lei. Om ons sondes “af te was” vereis die optrede wat God beveel het – opregte berou van sonde en om die ou sondige self deur die waterdoop te begrawe, asook om Christus as ons persoonlike Verlosser te aanvaar en ons denke en wil, wérklik aan God oor te gee.

By die doop verbind ons ons ook aan God se lewenswyse. Ons kan nooit redding “verdien” nie, tog verwag God van ’n ware Christen om homself te verbind tot ’n lewe wat Jesus Christus se lewe weerspieël (Efésiërs 4:1). Lukas sê: “Dra dan vrugte wat by die bekering pas” (Lukas 3:8) en tree op volgens God se verwagting van ons. Die doop is ’n keerpunt vanwaar ons die toekoms tegemoet gaan as ’n nuwe mens. Die apostel Paulus skryf: “Ek ... jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus” (Filippense 3:14). Hy het ook sy toekomstige lewenswyse na die Koninkryk van God gedemonstreer. Hierdie doen en late het begin by Paulus se doop en het nie opgehou met sy dood nie. So ook is ons doop ’n beginpunt, ’n tydperk van waar ons ons ten volle verbind om God se lewenswyse uit te leef, ’n punt vanwaar ons ons geestelike vooruitgang meet.

Jesus Christus het duidelik beklemtoon wat Hy en die Vader van ons verwag: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matthéüs 7:21). Christus wíl hê dat ons Hom sal liefhê en aanvaar as ons Verlosser en Hy verwag ook van ons om God se Wet te gehoorsaam indien ons Hom werklik lief het (Johannes 14:15).

 

Begrawe om op te staan

Deur die doop begrawe ons simbolies ons ou self en kom op uit die water na ’n “nuwe lewe” (Romeine 6:1-6). Hierdie optrede demonstreer ons toewyding om God se lewenswyse fisies, verstandelik en geestelik uit te leef. Met bekering van ons sondes, belowe ons aan God dat ons ons van sonde sal “distansieer” en ons lewe volgens Sy wil sal leef. Hierdie voortdurende proses van bekering behels ons strewe – met God se hulp – om op te hou sondig. Ons sal nie meer doelbewus die Tien Gebooie oortree nie. Ons sal die sewende-dag Sabbat en die jaarlikse Heilige Dae van Levítikus 23 met vreugde onderhou en ons sal daarna streef om God in elke opsig te gehoorsaam. Hierdie optrede demonstreer ons verbintenis met God deur die doop.

Die Bybel laat geen twyfel dat, tensy ons gedoop word en die gawe van die Heilige Gees ontvang, ons nie die Koninkryk van God kan binnegaan nie. Jesus het gesê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie” (Johannes 3:5). Hy het ook gesê: “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word” (Markus 16:16). Om uiteindelik in God se Koninkryk in te gaan, moet ons eers glo, ons bekeer, gedoop word en God se Heilige Gees ontvang. Sonder hierdie aanvanklike stappe is dit onmoontlik om God se Koninkryk binne te gaan. Die Bybel is baie duidelik hieroor.

Selfs in die unieke en uitsonderlike geval van Cornelius wys God vir ons die noodsaaklikheid van die doop. Cornelius en sy huisgesin het die Heilige Gees voor die doop ontvang (Handelinge 10:44-46). Let egter op Petrus se woorde nadat die Heilige Gees op hierdie nie-Joodse bekeerlinge uitgestort is. “Niemand kan tog die water weer, dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, nie gedoop word nie? En hy het beveel dat hulle gedoop moet word in die Naam van die Here” (verse 47-48). Dit is hoe belangrik die doop is. Na aanleiding van Cornelius se voorbeeld het, diegene wat sê dat hulle die Heilige Gees het, maar die waterdoop verwerp, in werklikheid nie die Heilige Gees het nie!

 

Waarvoor is die doop?

Die opwindende waarheid is dat ons na bekering, doop en ontvangs van God se Heilige Gees, waarlik die pad van oorwinning kan begin stap wat uiteindelik na die Koninkryk van God lei. “Hy wat oorwin, sal alles beërwe, en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees” (Openbaring 21:7). Dié wat oorwin sal alles beërwe en God se kinders genoem word!

Wat het die apostel Johannes bedoel toe hy geskryf het Christene “sal alles beërwe”? Kyk net rond in hierdie natuurlike wêreld. Kyk na die sterre, die berge, die see, die bome en die riviere. Alles wat gemaak is behoort aan ons groot Skepper-God. Wanneer ons alle dinge as Sy kinders erf, sal dit alles ook ons s’n wees! Dit is die plan van ons groot en liefdevolle Vader in die hemel en Sy Seun, Jesus Christus. Om deel te hê in daardie plan, vereis God die doop van ware Christene! Vir meer inligting oor hierdie belangrike onderwerp, vra gerus ons gratis boekie aan: Behoort u Gedoop te word? of lees dit aanlyn by wvm.co.za.