Kan die toekoms werklik voorspel word? Ontdek die groot aantal profesieë wat regdeur die Bybel vervul is.

Die meeste mense wat hulleself Christene noem, weet so in die algemeen dat die eerste Christene slegs die Skrifte, wat vandag as die Ou Testament bekend staan, gehad het. Hulle weet dat mense in die tyd van Jesus van Násaret daardie Skrifte gelees het en daaruit verstaan het dat Hy die geprofeteerde Messías was.

Nie so baie mense weet egter van die baie wonderlike profesieë wat in u Bybel voorkom nie. Afhangende van hoe dit bereken word, is tussen ’n kwart en ’n derde van u Bybel, profesie. Volgens J. Barton Payne se Encyclopedia of Biblical Prophecy bevat u Bybel 1,817 voorspellings oor die toekoms. Hierdie profesieë voorspel nie net die koms van Jesus Christus nie; dit verduidelik heelwat oor die opkoms en ondergang van nasies en die eindtydse rampe en plae wat tot die einde van menslike lewe sou lei as dit nie geprofeteer was dat Jesus Christus sal terugkeer en die Koninkryk van God op hierdie aarde sal vestig nie.

In hierdie kort artikel sal ons net enkele merkwaardige voorbeelde bespreek asook wat dit vir u geloof en u toekoms beteken.

 

Die Messías is voorspel

Een van die merkwaardigste voorbeelde van vervulde Bybelse profesie is die omvangryke aantal spesifieke vermeldings van die geprofeteerde Messías. Die Ou Testament bevat meer as 300 verwysings na Sy koms. Wat is die kans dat die 300 profesieë almal vervul sou kon word? In sy boek, Science Speaks, het die ontslape wiskundige, Peter Stoner (1888-1980), die waarskynlikheid ondersoek dat een persoon selfs net 48 van hierdie profesieë sou kon vervul. Die kans dat dit kan gebeur, sou een wees in 10157. Om dit in perspektief te plaas, sou wees soos om met die eerste poging een spesifieke elektron uit al die elektrone in die hele bekende heelal te vind en dít is net 48 van die 300 profesieë.

Sommige skeptici probeer om al rondom die punt te redeneer met idees wat die inspirasie van die Bybel probeer afmaak of om die eerste Christene as dwase te beskou. Indien u nie alreeds waardering het vir die verstommende konsekwentheid en geskiedkundige geloofwaardigheid van die Skrif nie, lees ons insiggewende boekie, Die Bybel: Feit of Fiksie? U sal bemoedig word deur dit wat u leer.

Kom ons kyk baie spesifiek na enkele van die bekendste Messiaanse profesieë en die vervulling daarvan. Halley se Bybelhandboek bevat ’n nuttige lys:

Dat Hy uit ’n maagd gebore sou word (Matthéüs 1:23; Jesaja 7:14).

Dat Hy in Betlehem gebore sou word (Matthéüs 2:6; Johannes 7:42; Miga 5:1).

Dat Hy tydelik in Egipte sou bly (Matthéüs 2:15; Hoséa 11:1).

Dat Hy tydelik in Galiléa sou woon (Matthéüs 4:15; Jesaja 9:1, 2) ...

Dat Sy koms deur ’n boodskapper, soortgelyk aan Elia, aangekondig sou word (Matthéüs 3:3; 11:10-14; Markus 1:2-3; Lukas 3:4-6; 7:27; Johannes 1:23; Jesaja 40:3-5; Maleági 3:1; 4:5) ...

Dat Sy bediening een van genesing sou wees (Matthéüs 8:17; Jesaja 53: 4) ...

Dat hy verraai sou word deur ’n vriend vir 30 silwerstukke (Matthéüs 27:9-10; Johannes 13:18; Sagaría 11:12-13; Psalm 41:10) ...

Dat Sy sy deurboor sou word (Johannes 19:37; Sagaría 12:10; Psalm 22:17).

Dit is maar enkele van die vele profesieë aangaande die Messías wat vervul is. ’n Ander baie belangrike profesie behels die tydsberekening van Sy koms. Die Jode van Jesus se tyd was bewus van die belangrike profesie van die profeet Daniël wat die verskyning van die Messías voorspel het: “Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf” (Daniël 9:24).

Let op dat hierdie geprofeteerde figuur, versoening vir ongeregtigheid sou maak! Baie tekste toon dat die Messías vir die sondes van die wêreld sou sterf sodat ons vergewe en met God versoen kan word. Johannes die Doper het getuig en so na Jesus verwys: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Johannes 1:29). Wat Christus betref, lees ons ook: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Efésiërs 1:7).

Daniël se profesie herinner ons daaraan dat een van die belangrikste redes vir die koms van die Messías was om versoening vir ongeregtigheid te bewerkstellig. Elkeen van ons kan vir ons sondes vergewe word deur die bloed van Christus indien ons doen wat Jesus beveel: “... bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:15). Later preek die apostel Petrus op Pinksterdag vir ’n skare: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38). Het u u al bekeer? Glo u in die ware Evangelie van die Koninkryk van God?

Daar is egter veel meer aan Daniël se profesie verbonde. In profetiese terminologie simboliseer ’n “dag” dikwels ’n jaar in die vervulling daarvan. Daniël se profesie sê dat daar 69 weke voor die koms van die Messías sou wees, wat elk uit sewe dae bestaan – 483 profetiese jare. “Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ’n Gesalfde, ’n Vors, is sewe sewetalle; en twee-en-sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word ...” (Daniël 9:25).

Indien ons dus weet wanneer die profesie ’n aanvang neem kan ons weet wanneer Christus met Sy versoeningswerk sou begin! Dit is interessant dat baie geleerdes na die dekreet van Artaxerxes verwys as die beginpunt wat deur geskiedskrywers op 457 v.C. gestel word. Watter jaar is 483 jaar later? Aangesien daar nie ’n jaar 0 is nie, sien ons dat die bediening van die Messías volgens Daniël se profesie in 27 n.C. sou begin!

Ja sekerlik dui die Evangelie van Lukas beslis aan dat nét nadat Johannes vir Jesus in die Jordaanrivier gedoop het, “... Jesus, ... omtrent dertig jaar oud [was] toe Hy begin leer het” (Lukas 3:23). Wanneer is Jesus dus gebore? Wanneer ons 30 jaar van 27 n.C. aftrek, kom ons by 4 v.C. uit – dit is die tyd wat geleerdes hoofsaaklik glo dat Jesus gebore is! Ja, Jesus Christus het Daniël se profesie tot op die presiese jaar vervul en het met Sy bediening van versoening vir ongeregtigheid in 27 n.C. begin!

Natuurlik is daar ander aspekte van Daniël se profesie wat deur Christus vervul sal word wanneer Hy weer kom. Daniël beskryf nog drie missies vir die toekoms. Wanneer Hy weer kom, sal die Messías die profesieë vervul “om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf” (Daniël 9:24).

Let daarop dat “hoogheilig”, hier verwys na die Tempel in Jerusalem wat gedurende die komende Millennium opgerig en in gebruik sal wees (vgl. Eségiël 40-43), soos u kan sien in die Nuwe Afrikaanse vertaling wat “die tempel” lees.

 

Die val van ’n Koninkryk was voorspel

Ons behoort nie verbaas te wees dat die Almagtige God, profesieë eeue en selfs millennia voor die vervulling daarvan aan ons kan gee nie. Deur die profeet Jesaja verklaar Hy: “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46: 9-10).

Een interessante, maar minder bekende voorbeeld van die vervulling van profesie, het betrekking op die val van antieke Babilon. Terwyl God hierdie profesie geopenbaar het, was Babilon die grootste ryk ter wêreld. Menslike logika sou nie die ondergang daarvan kon voorspel nie. Tog het die profesieë in die Bybel voorspel dat hierdie groot moondheid ander nasies sou straf as ’n instrument van God se oordeel en dan self vir hulle sondes geoordeel sou word.

Stel u voor dat iemand tydens die Eerste Wêreldoorlog verklaar het dat Boris Johnson die Eerste Minister van die Verenigde Koninkryk sou word. Onmoontlik? Wel, meer as honderd jaar voor die omverwerping van die groot Babiloniese ryk, het die profeet Jesaja die man se naam genoem wat verantwoordelik sou wees vir die val van Babilon. God sê van Kores: “Hy is my herder, en hy sal alles volbring wat My behaag deurdat hy van Jerusalem sê: Dit moet gebou word, en die tempel moet gegrond word” (Jesaja 44:28). Kores was koning oor die Perse vanaf ongeveer 558 v.C. tot 529 v.C. Jesaja het dus in die agtste eeu v.C. geprofeteer oor ’n koning wat eers in die sesde eeu v.C. gebore sou word!

Jesaja het nie net Kores se naam voorspel nie; hy het ook voorspel hoe Kores Babilon sou binnegaan om dit te verower. Kores was instrumenteel daarin om die Jode toe te laat om na Jerusalem terug te keer en die tweede tempel te bou. God het eeue vroeër aangekondig dat Hy Kores op ’n spesiale manier sou gebruik: “So sê die Here aan sy gesalfde, aan Kores, wie se regterhand Ek gevat het om nasies voor hom neer te werp, terwyl Ek die lendene van konings losgord; om voor hom deure oop te maak, en poorte sal nie gesluit bly nie: Ek self sal voor jou uit gaan en hoogtes gelykmaak; koperdeure sal Ek verbreek en ystergrendels stukkend slaan. En Ek sal jou die skatte gee wat in die donkerheid is en die verborge rykdomme, sodat jy kan weet dat Ek die Here is wat jou by jou naam roep, die God van Israel” (Jesaja 45:1-3).

Die verwysing na die “dubbele deure” [OV: net “deure”] toon aan hoe God die weg oopgemaak het vir Kores se leër om die stad in te neem. Dit het gelyk asof die stad Babilon, met sy massiewe mure en verdediging, nie ingeval sou kon word nie. Die stad het boonop voorrade gehad om ’n beleg van twintig jaar te kon oorleef – die Babiloniërs het Kores se leër dus net uitgelag toe hulle die stad aanval.

Die Eufraatrivier het deur die middel van Babilon gevloei, onderdeur die massiewe hekke in die muur. Kores het ’n vernuftige metode gebruik om hierdie hindernis te oorkom; sommige van sy manne het kanale stroomop gegrawe om die stroom van die rivier af weg te lei.

Meer as 100 jaar voor Kores se geboorte het u Bybel geprofeteer en selfs sy naam genoem, dat Kores die Grote die groot vesting van Babilon sou oorwin. Die wêreldse Griekse geskiedskrywer, Herodotus, het ook van hierdie gebeurtenis geskryf. Kores en sy nie-vegtende troepe ...

... het die diepte van die water in die werklike rivierbedding tot so ’n mate verminder dat deurgang moontlik geword het en die Persiese leër, wat vir dié doel by Babilon agtergelaat is, het die rivier, wat nou net so diep soos die hoogte van die middel van ’n man se dy was, binnegegaan, daarlangs geloop en hulle kon so in die stad ingaan ... Die Babiloniërs sê self dat as gevolg van die grootte van die stad, die buitewyke ingeneem is sonder dat die mense in die middel van die stad iets daarvan geweet het; daar was ’n fees aan die gang en hulle het aangehou dans en hulleself vermaak totdat hulle die nuus op die harde manier geleer het. Dit is dan ook die verhaal van die eerste inname van Babilon (The Histories, in Engels vertaal deur Aubrey de Sélincourt, boek 1, hoofstukke 191-192).

Verstommend! Die wêreldse geskiedskrywer Herodotus bevestig, net soos ander bronne, byvoorbeeld Xenophon se Cyropaedia, dat Bybelprofesieë dramaties en akkuraat vervul is! Die profeet Daniël was in die stad Babilon daardie nag toe die Persiese leër van Kores dit verower het. Deur hierdie profeet het God ook aan koning Bélsasar bekendgemaak wat met hom en die ryk sou gebeur. Dit is die bekende verhaal van God se skrif aan die muur. Koning Bélsasar het ’n fees vir duisende van sy edelmanne voorberei. Hulle het wyn gedrink uit die geplunderde goue houers uit die tempel in Jerusalem. “Op dieselfde oomblik het daar vingers van ’n mens se hand te voorskyn gekom en teenoor die kandelaar op die kalk van die muur van die koninklike paleis geskrywe, en die koning het die deel van die hand gesien wat geskrywe het. Toe het die gelaatskleur van die koning verander, en sy gedagtes het hom verskrik, en die gewrigte van sy heupe het losgeraak, en sy knieë het teen mekaar geslaan” (Daniël 5:5-6).

Daniël is gevra om hierdie inskripsie uit te lê. “En dit is die skrif wat geskrywe is: Mené, mené, tekél ufarsín” (Daniël 5:25). Daniël sê toe vir koning Bélsasar: “Dit is die uitleg van die woord: Mené – God het u koningskap getel en daar ’n einde aan gemaak; tekél – u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind; perés – u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee” (verse 26-28). “In dieselfde nag is Bélsasar, die koning van die Chaldeërs, gedood. En Daríus, die Meder, was twee-en-sestig jaar oud toe hy die koningskap ontvang het” (Daniël 5:30; 6:1). Die koninkryk van die Meders en die Perse het die koninkryk van Babilon vervang, net soos God voorspel het.

 

Die hand van God in wêreldsake

Selfs in moderne tye gryp God in om nasies en volke te lei. Hou in gedagte, die Britse Ryk was nie altyd die oorheersende mag wat dit was voor sy onlangse agteruitgang nie. In sy insiggewende boekie, Vervulde Profesie: God se Hand in Wêreldsake, het wyle dr. Roderick Meredith (1930-2017) beskryf hoe God vantevore die Engelse vlootmagte gered het deur die kragte van die weer te gebruik:

“In 1586-87 is Katolieke oorheersing van die Engelse troon in die wiele gery deur die teregstelling van Mary, koningin van die Skotte. Die volgende jaar het Spanje se Koning Felipe II sy ‘onoorwinlike’ Armada van 124 skepe teen Engeland losgelaat in ’n poging om weer Katolieke beheer te vestig. Hoewel die Engelse vlootmagte baie hard geveg het, het hul buskruit uiteindelik opgeraak! Op daardie kritieke tydstip het ’n ongekende stormsterk wind opgekom en baie van die goed bewapende, lompe Spaanse galjoene na hulle ondergang gestuur. Die erg beskadigde skepe wat mank na Spanje teruggevaar het, was só deur die storm beskadig dat baie van hulle nooit weer gebruik kon word nie”.

Ja, God gryp in die weer in om Sy planne te vervul! Dr. Meredith het gesê:

“Hy gebruik hierdie mag ook soms om in mense se sake in te gryp: ‘Deur die oostewind verbreek U die skepe van Tarsis’ (Psalm 48:8) ... Koningin Elizabeth het ter herdenking aan die Spaanse nederlaag ’n silwermedalje uitgereik waarop gegraveer is: ‘God het geblaas en hulle is verstrooi’. Sy het geweet wie beheer oor daardie winde uitgeoefen het op daardie kritieke tydstip in die geskiedenis van haar mense”!


U wonderlike toekoms

Ons het gesien dat u Bybel die eerste koms van Jesus Christus akkuraat voorspel het en dat God ook die val van ’n groot ryk, akkuraat voorspel het. Alhoewel Hy tans die sondige mensdom toelaat om homself te regeer sodat hulle sélf die pynlike lesse kan leer wat die gevolg is van die opstand teen God se weg, gryp Hy steeds in om dit wat Hy geprofeteer het te verwesenlik. Hy het báie meer profesieë as wat ons in hierdie artikel kan bespreek. Bybelprofesieë voorspel selfs die opkoms en ondergang van die Verenigde State en die Britse Ryk, sodra ’n mens begryp wie die voorouers van daardie nasies is. Om meer hieroor te wete te kom, lees ons boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? en sien self nóg ’n kragtige voorbeeld van God se wonderlike profesieë wat vervul is – in hierdie geval, duisende jare nadat Hy daardie profesieë geïnspireer het!

Ter afsluiting, laat ons kyk na die wonderlike profesie met betrekking tot Christus se Wederkoms om Sy Koninkryk te kom vestig:

“Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen” (Jesaja 9:5-6).

Ja, aan die “vermeerdering van Sy heerskappy en vrede sal daar geen einde wees nie”. Ons het die vervulling gesien van die vele profesieë wat Christus se eerste koms voorspel het, wat aan ons die sekerheid gee dat Sy Wederkoms binnekort sal plaasvind net soos dit voorspel is, om die Koninkryk van God onder Sy ferm en welwillende heerskappy in te lui. Lees ons kragtige boekie, Die Wêreld van Môre: Hoe sal dit daar uitsien? om baie meer te leer oor hierdie wonderlike tyd wat in die profesieë in u Bybel voorspel word.

Geagte lesers, ons is in die profetiese tyd van die einde, in afwagting op Jesus Christus se terugkeer om Sy ewige regering te vestig. Hy sal die mensdom van totale uitwissing red. Hy sal blywende vrede vir al die nasies van die aarde bring. Dit is nodig om ons voor te berei vir Sy komende Koninkryk deur Sy opdragte te volg en te bid: “... laat U koninkryk kom” (Matthéüs 6:10).

Ons kan in geloof voorberei. God se Woord – die Bybel – toon dat dit nie net waar is met betrekking tot vervulling van profesie nie, maar ook ten opsigte van die lewenswyse wat dit verkondig. Mag God u seën terwyl u die allerbeste leiding in u lewe toepas, soos deur ons Verlosser gegee: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33).