Daar sal ’n dag aanbreek wanneer geweld tussen bure, stamme, nasies en rasse tot ’n einde sál kom en pandemies iets van die verlede sal wees. Ek begryp dat dit moeilik is om te glo, veral wanneer die mensdom se geskiedenis in ag geneem word, maar besef u dat dit die boodskap van die Bybelse profete en van Jesus Christus Self is? Hoe kan dit wees?

Jesus het gesê dat toestande op die aarde so skrikwekkend sal raak dat, tensy Hy terugkeer, geen mens sal oorleef nie. “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Matthéüs 24:21-22). Hierdie gedeelte is baie betekenisvol. Ons leer dat daar ’n baie moeilike tyd sál aanbreek wat erger sal wees as wat die mensdom nog ooit regdeur sy geskiedenis beleef het of ooit weer sal beleef. Daar is egter goeie nuus. Iéts, of in hierdie geval Iémand, sal die mensdom se blindelingse geploeter in die vergetelheid laat verdwyn. Daardie Iémand is Jesus Self en Hy verduidelik waarom die mensdom se waansin kortgeknip sal word – “ter wille van die uitverkorenes”.

Wié is dus die uitverkorenes? Die meeste mense vind hierdie vraag vreemd, omdat hulle verkeerdelik aanvaar dat alle mense ’n geleentheid het om gedurende hulle leeftyd gered te word. Nie u Bybel of gesonde logika ondersteun hierdie idee nie. Dink aan die miljarde wat bestaan het vóór, tydens en ná Christus se eerste koms sonder dat hulle ooit Sy naam gehoor het; tog word daar aan ons vertel dat daar geen ander naam is waardeur ons gered kan word nie (Handelinge 4:12). Jesus Self verklaar: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Johannes 6:44). Hierdie stelling word in vers 65 herhaal – verstaan u die omvang daarvan?

Met Christus gekruisig

Die Bybel bevat ook baie waarskuwings oor valse Christenskap (vergelyk Matthéüs 24:4-5; 2 Korinthiërs 11:4, 13-15; Openbaring 6:1-2; 12:9). Die uitverkorenes waarvan Jesus praat, is inderdaad min indien dit vergelyk word met die geskatte twee-en-’n-half miljard “Christene” van alle denominasies in die wêreld vandag. Wie die uitverkorenes ook al is, is hulle nie in die meerderheid van belydende Christene nie; tog is daar van hulle in ons wêreld en dit is ter wille van húlle dat Christus sal ingryp. Jesus het egter nie vrede tydens Sy eerste koms gebring nie – wat sal dus anders wees met Sy Wederkoms? Hoe sal Hy eensgesindheid bring na ons twisgierige planeet?

Sowat 2,600 jaar gelede het die profeet Daniël twee tegnologiese ontwikkelings beskryf wat die eindtyd sal aandui naamlik, vervoer op ’n ongekende skaal en ’n massiewe uitbreiding van kennis (Daniël 12:4). In die boek, Lukas, is Jesus se uitsprake oor die sedelike euwels aangeteken wat Sy Wederkoms sal voorafgaan – geweld en seksuele onsedelikheid (Lukas 17:26-30; vergelyk Génesis 6:5, 11). Die profeet Sagaría verduidelik wat die vonk is wat die finale krisis sal laat vlam vat – probleme rondom die stad Jerusalem (vergelyk Sagaría 12).

Geagte Leser, u moet asseblief nie mý woord vir enigiets hiervan aanvaar nie. Ek haal baie skrifte aan en ek verstaan dat die Bybel ’n groot Boek is waarmee die meeste mense nie baie vertroud is nie. Dit lyk aanvanklik dalk moeilik om hierdie verse op te soek, maar dit is nodig dat u hierdie dinge vir uself bewys en u kán dit doen met net ’n bietjie moeite. Gebruik die inhoudsopgawe voor in die Bybel indien u dit nodig vind. Om u eie ontwil, wees asseblief soos die Bereane wat deur Paulus beskryf is: “En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (Handelinge 17:11). Hierdie onderwerp is eenvoudig té belangrik om dit nie aan uself te bewys nie.

Weereens: Wie is dus die uitverkorenes? Wyle dr. Roderick C. Meredith se gunsteling definisie van ’n ware Christen word in Galásiërs 2:20 gevind: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” Die apostel Paulus verduidelik hoe ons saam met Christus gekruisig is:

“Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ’n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie” (Romeine 6:3-6).

Ja, ons moet die ou self laat sterf en ’n nuwe mens word. Ons moet aanvaar dat ons goedheid ons nie sal red nie – dat ons die Een nodig het wat groter as ons is om Sy lewe vir ons te verruil. Dit is wat die doop uitbeeld: Ons aanvaarding van Christus as ons Verlosser en ons afstanddoening van sonde word uitgedruk in hierdie eenvoudige, maar nodige seremonie. Geen kind kan hierdie verbintenis verstaan nie en daarom is die doop slegs vir volwassenes. Johannes beskryf ’n ware Christen as iemand wat spesiaal deur God geroep word en gekies is as gevolg van die antwoord op daardie roeping en bereid is om getrou te bly tot die einde toe (Openbaring 17:14; vergelyk Matthéüs 24:13).

’n Heeltemal verskillende gees

Die vraag bly egter: Hoe sal Christus ons wêreld van geweld en onsedelikheid na vrede en harmonie verander? Dit is verseker so dat laasgenoemde nie deel van die mensdom se geskiedenis is nie. Vrede kan slegs bereik word deur ’n verandering van die menslike hart en net God kan dit bewerkstellig. Hy moet en sal egter eerstens van die huidige god van hierdie wêreld ontslae raak, die “owerste van die mag van die lug” (Efésiërs 2:2) wat negatiewe buie en gesindhede in die gedagtes van mense laat posvat – gesindhede van jaloesie, wellus, hebsug en wraakgierigheid. Nadat Satan se invloed uitgeskakel is, sal Christus die luggolwe vul met ’n heel ander Gees (Openbaring 20:1-3), wat die vyandigheid sal verdryf wat in die harte van mense bestaan (Romeine 8:7) en daardie vyandigheid vervang met ’n liefde vir God se Wette.

Dit is waaroor die Nuwe Verbond handel! Die Wet van God sal oor die hele wêreld in die verstand en harte van alle mense wees (Hebreërs 8:10-11). Daardie Wet is natuurlik die Tien Gebooie, wat Jakobus tereg beskryf as “die wet van vryheid” (Jakobus 1:25; 2:12).

Stel u voor hoe dit sal wees wanneer die mensdom die Wet respekteer wat sê: “Jy mag nie dood slaan nie.” Wanneer die gees en bedoeling van die Wet verstaan en toegepas word, sal stede soos Chicago, Pretoria en Tijuana heeltemal verander word (Matthéüs 5:21, 26). Die nakoming van daardie enkele Wet sal ’n einde maak aan oorlog. Hoe sal die wêreld wees wanneer daar ook nie meer owerspel, geen valse godsdiens en geen oneerbiedigheid meer van kinders teenoor ouers is nie?

Jesus Christus sal nie hierdie keer terugkeer “as ’n lam wat na die slagplek gelei word nie” (Jesaja 53:7) maar as ’n oorwinnende Koning (Sagaría 14:9). Hy sal alle nasies beveel om verteenwoordigers te stuur om Sy Heilige Dae in Jerusalem te onderhou. Hoe opwindend sal dit nie wees wanneer die mensdom die plan van God asook die groot potensiaal wat Hy bied, leer ken nie – ’n potensiaal wat baie groter is as om “in die hemel rond te sweef” of om in ’n soort van ewige toestand van bedwelming te wees terwyl hulle na die aangesig van God staar.

Die uitverkorenes waarvan ons vroeër melding gemaak het – diegene wie se lewens werklik verander is deur te dink soos Christus dink en op te tree soos Hy opgetree het toe Hy die eerste keer hier was – sal in geestelike wesens verander word en Christus bystaan om hierdie groot verandering teweeg te bring, soos baie Skrifgedeeltes aandui.

Is dit té ongelooflik om te glo? U beter hoop dit is nié te ongelooflik nie, want die alternatief is nie baie bemoedigend nie. Die mensdom het vir byna 6,000 jaar probeer om vrede te bewerkstellig en elke geslag het misluk. Tensy die groot opstoker, Satan die duiwel, uit die weg geruim word en tensy Jesus Christus terugkeer en die menslike hart verander, is selfvernietiging die mensdom se voorland. Die boodskap van die Wêreld van Môre is dat ingryping van bó, dit sál voorkom. Daar is hoop en daardie hoop is verseker!