Wat leer God se persoonlike karakter ons van goeie besigheidspraktyke?


“Hebsug is goed”! Hierdie beroemde woorde, wat uitgespreek was deur die filmkarakter Gordon Gekko in die 1987 rolprent Wall Street, wat met die “Academy”-toekenning bekroon is, verpersoonlik ’n era toe ooglopende verbruik gesien was as ’n deug. Hoewel regisseur Oliver Stone se bedoeling met Gekko was om hom uit te beeld as ’n lafaard, het baie mense sy woorde ter harte geneem as ’n positiewe stelling van hul waardes en prioriteite.

Vandag, ’n kwarteeu later, het dinge verander. Die Gordon Gekkos in die werklike lewe het chaos in die wêreld se finansiële markte veroorsaak en ekonomiese skokgolwe deur die Verenigde State van Amerika en regoor die wêreld gestuur. “Wall Street hebsug [of gierigheid]” het ’n spreekwoord geword in die media en het selfs ’n politieke beweging tot gevolg gehad: “Beset Wall Street”.

Gekko se beroemde sinsnede was eintlik in die konteks van ’n groter toespraak gebesig. Hy het gesê: “Die punt is, dames en here, dat hebsug, by gebrek aan ’n beter woord, goed is. Hebsug is reg, hebsug werk. Hebsug verduidelik, sny deur, en vang die kern van die evolusionêre gees vas. Hebsug, in al sy vorms; gierigheid vir die lewe, geld, liefde en kennis, het die opwaartse oplewing van die mensdom gekenmerk”.

Dit omskryf sekerlik die wêreld se ingesteldheid op “neem” eerder as “gee”. Deur die jare heen het baie mense hul lewens gelei volgens spreekwoorde soos dié van Gekko. Tog is hierdie sienswyse in skrille kontras met ’n uitgangspunt van die God van Abraham, Isak en Jakob, soos gestel in die Skrif. Eenvoudig gestel, “God is liefde” (1 Johannes 4:16). Sy liefde is toegespits op gee.

Die Bybel bevat baie beginsels wat ons ekonomiese gedrag ten goede kan verander. Begrip van daardie beginsels kan ons lewens – individueel en nasionaal – verbeter. Die apostel Paulus het gesê: “Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Gordon Gekko sou oorbluf gewees het deur Jesus se verklaring, maar dit hou die sleutel tot die begrip van God se werklike aard en karakter – asook wat Hy beoog vir Sy skepping.

Die Wall Street versmelting

Die fisiese “Wall Street” is ’n agt-blok-lange straat in die Laer Manhattan deel van New York City. Omdat die New York Aandelebeurs en sommige groot finansiële instellings daar gesetel is, het dit gebeur dat die term “Wall Street” gebruik word om die finansiële sektor van die Amerikaanse ekonomie te versinnebeeld, selfs al is die meeste van die institusionele Wall Street nie fisies in daardie rylaan van New York City gesetel nie.

Hoe het Wall Street-maatskappye hulself in soveel probleme laat beland? Dink aan Lehman Brothers, vir dekades een van Amerika se grootste en mees gerespekteerde beleggingsbank en finansiële-dienste firmas. Saam met sy kern-besighede, het een afdeling van Lehman Brothers ’n manier gevind om groot winste te verdien deur van lae-koers lenings by ander banke gebruik te maak om daarmee hoë-opbrengs subprima verbande te koop. Aanvanklik het Lehman die hoogste moontlike kredietgradering (“AAA”), gehou, wat die firma laat baat het uit die verspreiding tussen hul lae koste lenings en die hoë opbrengste uit subprima verbande. Namate die huismark egter verswak het, het subprima verbande riskant geword en was meer blootgestel aan wanbetaling. Dit het veroorsaak dat Lehman se kredietgradering gedaal en sy krediteure aangedring het op terugbetaling van hul lenings. Namate verliese opgehoop het, het die firma begin om van die winsgewende beleggingsbank en finansiële-dienste afdelings te verkoop om die verliese te dek, maar dit was nie genoeg om die finansiële implikasies te stuit nie, en die firma moes aansoek doen om bankrotskap ingevolge Hoofstuk 11.

Die skokgolwe van Lehman se ondergang – en soortgelyke groot inploffings by ander firmas, soos die American International Group (AIG) – het deur die ekonomie weerklink. Die Regering se “reddingspakkette” het AIG en verskeie ander maatskappye van bankrotskap gered, maar hul aandeelpryse het gedaal en hul finansies was verwoes.

Wall Street-firmas bedryf nog winsgewende beleggingsbankaktiwiteite wat ’n belangrike rol speel in die VSA en die wêreldekonomieë. Hulle oorskotte en dramatiese daling in rykdom het “Wall Street hebsug” ’n prominente begrip gemaak in die publiek se gedagtes en dit sal waarskynlik ’n belangrike kwessie wees in die komende Amerikaanse presidensiële verkiesing.

’n Baie anderse sienswyse

Wall Street het opkoms en ondergang beleef as gevolg van ekonomiese beginsels. Wat egter van die breër morele beginsels wat die samelewing lei? Toe God die antieke volk van Israel tot stand gebring het, het Hy aan Sy volk alles gegee wat hulle nodig gehad het, insluitende wyse insettinge en verordeninge wat gebaseer was op die Tien Gebooie.Unger’s Bible Dictionary beskryf die Tien Gebooie as volg: “Die grondslag en bron van die morele wet is God se karakter. ‘Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het’ is die manier waarop die Tien Gebooie ingelei word. Die Hebreeuse naam wat hier gebruik word (Ewigdurende Ewige Almagtige) gee te kenne dat die beginsels van die wet hul oorsprong het in die karakter van God. ‘Ek is ... jy mag’. Dit is die verband. Dit is wat die morele wet so [ongelooflik] in sy onveranderlike verhewendheid maak. Dit is wet omdat God is. Dit kan nie verander word sonder om [God se] karakter te verander nie ... Geregtigheid is wat dit is, want God is wat Hy is, en daarom is dit so onveranderlik soos God” (bl. 1256, “Ten Commandments”).

Liefdadigheid is die teenoorgestelde van hebsug, die God van Israel is ’n God van liefde en uitgaande besorgdheid vir ander. Hier is ’n voorbeeld van ’n instelling in antieke Israel wat nie net ontwerp was om nie net die armes te help nie, maar ook die welvarendes: “As jy jou oes op jou land insamel en ’n gerf op die land vergeet, mag jy nie omdraai om dit te gaan haal nie; vir die vreemdeling, die wees en die weduwee moet dit wees, dat die Here jou God jou kan seën in al die werk van jou hande. As jy jou olywe afslaan, moet jy nie agter jou in die takke rond soek nie; vir die vreemdeling, die wees en die weduwee moet dit wees. As jy jou wingerd oes, moet jy agter jou nie skoon afoes nie; vir die vreemdeling, die wees en die weduwee moet dit wees” (Deuteronomium 24:19-21).

Uit ’n ekonomiese oogpunt, is die funksionering van hierdie instelling veral interessant. ’n Grondeienaar wat sy eie land stroop, moet teruggaan nadat dit geoes is en baie bestee aan arbeid in ’n poging om elke laaste druiwekorrel, olyf en graanhalm te kry. Tog sal die koste verbonde aan die arbeid om hierdie taak deeglik te verrig, uiteindelik meer beloop as die winsgewendheid om elke deeltjie van die oes in te samel. Die grondlose armes het egter baie tyd tot hul beskikking. Dit maak dus vir hulle ekonomies sin om tyd aan te wend vir oes en om sodoende voedsel wat hulle nodig het te verkry.

Dit is duidelik om te sien hoe hierdie wet die armes gehelp het. Deur van hulle te vereis om te werk om die oorskot van die oes te verkry, gee dit nie net aan hulle voedsel nie, maar hulle behou ook hul waardigheid. Hoe bevoordeel hierdie wet dan die grondeienaars? Dit het verhoed dat hulle so ingestel was op wins dat hulle elke laaste krieseltjie van die oes uit hul lande en wingerde wou uitwring, om sodoende ander te ontneem wat die meeste daarby baat kon vind. God se wet het die grondeienaars weerhou van gierigheid, aangesien dit van hulle verwag is om “iets op die tafel te laat” vir ander mense.

In vandag se besigheidswêreld, het mense dikwels ’n beleid van “moet niks op die tafel laat nie, nie eens die vernis nie”! Hulle laat ons dink aan hierdie woorde uit Jesaja: “En die honde is gulsig, hulle ken geen versadiging nie; en herders is hulle wat nie weet om op te merk nie; almal loop hulle eie pad, elkeen na sy onregverdige wins, almal saam” (Jesaja 56:11). Hierdie soort aggressiewe sakelui dink dat hulle nie geslaag het tensy die ander party gely het nie. Hul benadering is om in elke situasie so veel as moontlik van ander mense te neem. Gelukkig was hierdie benadering ontmoedig – so ook die hebsugtige karakter wat dit kon ontwikkel – deur die regstelsel wat God vir antieke Israel ingestel het. Regverdigheid en eerlikheid – nie hebsug nie – was ingebou in die wet wat God aan die Israeliete gegee het.

’n Eerlike efa?

Die Agtste Gebod sê: “Jy mag nie steel nie” (Eksodus 20:15). Bykomend tot die gebod wat diefstal verbied, erken hierdie gebod dat mense privaat eiendom kan besit. Die Skrif staan respek vir ander mense se eiendom voor en wys die verkeerde motiewe uit wat diefstal, hebsug en gierigheid kan meebring. Die apostel Jakobus skryf: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring” (Jakobus 4:1-3).

Om die verkeerde impulse van die menslike natuur teen te werk, het God eerlikheid en integriteit in Sy insettinge ingebou. Hier is ’n goeie voorbeeld: “Julle mag geen onreg doen in die gereg, in lengtemaat, gewig of inhoudsmaat nie. Julle moet ’n regte weegskaal hê, regte weegstene, ’n regte efa en ’n regte hin. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het” (Levitikus 19:35-36).

In antieke Israel was ’n efa ’n droë maat van omtrent ’n maatemmer, dikwels gebruik om graan af te meet. ’n Hin was ’n vloeistof maat van sowat nege liter. Toepassing van hierdie beginsels sal vandag verder strek as om net hoeveelhede kruideniersware of brandstof af te meet. Een moderne toepassing van die regverdige of onregverdige efa kan betrekking hê op hoe ons ons arbeid uitmeet. As ons agt ure lank by die werk is, gee ons aan ons werkgewers die agt ure se werk waarvoor hulle ons betaal – nie net ses ure se waarde nie? God se manier leer ons om aan mense die volle waarde te gee wat ons aan hulle belowe het. Dit is goddelike en goeie besigheid!

God verbied duidelik die persoonlike korrupsie wat gierigheid sal bevorder. Hy het dit gedoen omrede gierigheid ongehoord is aan Sy karakter. Hy het egter nie Sy volk verbied om te onderhandel vir ’n billike prys of om ’n wins te maak nie. Daar is geen Bybelse vermaning teen werk vir gewin of om besig te wees met ’n produktiewe onderneming om welvaart te skep nie. Trouens, daar is dosyne Bybelse vermanings – in beide die Ou Testament en die Nuwe Testament – oor hoe om rykdom te bekom en handelsbetrekkinge te handhaaf op maniere wat mense help om beter werknemers en sakemanne te word. Onthou, God se seën is noodsaaklik vir enige onderneming. “Maar dink aan die Here jou God, dat dit Hy is wat jou krag gee om rykdom te verwerwe” (Deuteronomium 8:18).

Baie mense dink verkeerdelik die Bybel noem geld “die wortel van alle kwaad” – maar dit staan nie in die Bybel nie. Inteendeel, dit is die liefde vir geld wat die probleem is. Dink aan die spesifieke Skrifgedeelte wat die apostel Paulus aan die evangelis Timótheüs geskryf het: “Want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels” (1 Timótheüs 6:10). God wil hê dat ons voorspoedig moet wees en die lewe op die regte manier moet geniet. Die apostel Johannes het sy gemeentes goeie dinge toegewens: “Geliefde, ek wens dat dit met jou in alles goed mag gaan en dat jy gesond is, soos dit met jou siel goed gaan” (3 Johannes 2).

Ongelukkig bring die najaag van rykdom vir baie mense eerder kwaad as goed, asook spanning eerder as plesier. Gierigheid is onversadigbaar – daar is altyd ’n honger na nog meer – dit maak die gierigaards slawe van hulle rykdom, eerder as meesters. “Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie rykdom liefhet, nie van inkomste nie; ook dit is dan tevergeefs” (Prediker 5:9).

In teenstelling hiermee kan diegene wat hard werk en voorspoedig is in hul arbeid op ’n regte en gebalanseerde wyse, geseënd wees as hulle dit doen. “Ook vir elke mens aan wie God rykdom en skatte gegee het, en wat Hy in staat stel om daarvan te eet en sy deel te neem en hom te verheug by sy moeitevolle arbeid, is dit ’n gawe van God” (Prediker 5:18). As ’n goeie Vader wil God seëninge vir sy kinders hê en daardie seëninge sluit nie welvaart uit nie.

Gee vs. neem

Die HAT definieer hebsug as ’n “sterk begeerte om dinge te besit; gierigheid, inhaligheid”. Hebsug is ’n buitensporige begeerte om iets te verkry, gemotiveer deur begeerlikheid – ’n oortreding van die Tiende Gebod – dus is dit sonde. Die apostel Paulus skryf dat geen gierigaard die Koninkryk van God sal beërwe nie (1 Korinthiërs 6:10). Die rede hiervoor is dat ’n gierigaard gefokus is op die eie-ek en “om te neem”, terwyl God liefde is en uitgaande besorgdheid vir andere het. “Gee” is inherent aan God se karakter, en so sal dit wees met God se kinders in Sy Koninkryk.

Jesus waarsku ons teen hebsug. “En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie” (Lukas 12:15). Net so het die apostel Paulus verkondig dat hebsug – gierigheid – nie gevind moet word in ’n Christen nie. “Maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam” (Efesiërs 5:3). Hy het verduidelik dat ’n hebsugtige, gierige persoon nie in die Koninkryk van God sal wees nie (vers 5). Gierigheid behoort nie gevind te word in diegene wat verorden is tot Christelike diens nie; Paulus skryf aan Timótheüs dat ouderlinge en diakens “geen geldgierige” moet wees nie (1 Timótheüs 3:3, 8).

Ons sien deesdae die verskynsel van baie ryk mense wat reëlings tref “om iets terug te gee”. Biljoenêrs soos Microsoft se Bill en Melinda Gates en Warren Buffet van Berkshire Hathaway, Inc. het hulle verbind tot honderde miljoene dollars vir liefdadigheidsdoeleindes. Dit lyk of mense se gevoel van eiewaarde op die ou end bepaal word deur wat hulle in die lewe gegee het, nie deur wat hulle ontvang het nie. Die mensdom se manier is om te neem. God se manier is om te gee. “Gee” is beter!

’n Antwoord aan Gordon Gekko

In die fliek Wall Street, het Gordon Gekko in die tronk beland omdat hebsug sy begeerte aangevuur het om oormatige risiko’s te neem en uiteindelik die wet te oortree. Alhoewel Gekko ’n fiktiewe karakter was, was hy geskoei op ’n werklike finansier, Ivan Boesky, met ’n soortgelyke geskiedenis. Boesky is in 1986 skuldig bevind aan binnekring handel – sommige daarvan skaamteloos en blatant, soos die aankoop van groot blokke aandele in ’n maatskappy slegs dae voor sy korporatiewe oorname aangekondig is. Hy was beboet met $100 miljoen en is na die federale tronk gestuur.

Slegs enkele maande voordat hy erken het dat sy gierigheid hom aangespoor het tot wandade, het Boesky ’n aanvangstoespraak vir MBA-studente aan die Universiteit van Kalifornië, Berkeley, gelewer. Hy het aan hulle gesê: “So tussen hakies, hebsug is in orde. Ek wil hê dat julle dit moet weet. Ek dink gierigheid is gesond. ’n Mens kan gierig wees en nog steeds goed voel oor jouself”.

Die tronke is vol van baie hebsugtige, gierige mense en die magtiges het dikwels geval as gevolg van hulle gierigheid. Op ’n positiewe noot, daar is berig dat Boesky, ná sy tronkstraf uitgedien is, die godsdiens van sy opvoeding aanvaar het en hom toegespits het om ’n meer sedelike lewe te leef as voorheen.

Alhoewel daar baie mense is wat nie die les geleer het nie, erken suksesvolle sakemanne dat hebsug nie “goed” of “gesond” is nie en dat dit nie maak dat mens “goed voel oor jouself” nie. Gierigheid maak mens eerder onbekwaam! ’n Oormatige begeerte na wins veroorsaak dat ’n persoon onredelike risiko’s neem vir die beskikbare belonings. As gevolg hiervan is hebsugtige persone dikwels ongebalanseerd in besigheid en is hulle geneig om slegte besluite te neem, gemotiveer deur ’n begeerte om vinnig ryk te word, sonder inspanning vir die poging wat nodig is vir eerlike wins. “Die begeerte van die luiaard sal hom doodmaak, want sy hande weier om te werk; die hele dag deur word daar dringend begeer, maar die regverdige gee en hou nie terug nie” (Spreuke 21:25-26).

Waarom hierdie tydskrif gratis is

Die Bybel sê: “Koop waarheid en verkoop dit nie” (Spreuke 23:23). In navolging van hierdie goeie raad, word die Tomorrow’s World en Wêreld van Môre-tydskrifte, dieTomorrowsWorld.org en die wvm.co.za webtuistes, ons beeldsendings en ons leesstof alles gratis aan die publiek verskaf – dit word nie verkoop nie. U sal nooit gevra word om vir enigiets te betaal nie. Dit word alles moontlik gemaak deur die tiendes en die offergawes van diegene wat vrywillig gekies het om skenkers en medewerkers te wees om aan al die nasies Christus se ware Evangelie van die toekomstige Koninkryk van God te verkondig.

“God is liefde” en om te gee is eie aan Sy karakter. Sy Kerk is dus ook daarop gefokus om te gee, nie om te ontvang nie. Om meer te leer aangaande daardie Kerk, lees gerus ons insiggewende boekies, Waar is God se ware Kerk vandag? en Hervestig die CHRISTENSKAP van die APOSTELS. U kan dit aanlyn lees of gratis gedrukte kopieë bestel bywvm.co.za, of stuur u skriftelike aanvraag aan die streekskantoor die naaste aan u (soos gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif). Wat u leer kan u lewe vir ewig verander!