Hoeveel mense wat hierdie artikel lees, het ’n idee van hoe algemeen seksuele teistering oor die Internet is, selfs onder kinders? Oorweeg die volgende: Die BBC het op 10 Junie 2021 ’n skokkende feit uit ’n staatskoolinspeksieverslag beklemtoon wat sê dat “sommige meisies deur tot 10 of 11 verskillende seuns per nag gekontak kan word wat vir naak- of halfnaakfoto’s vra” (“Girls asked for nudes by up to 11 boys a night, Ofsted finds”). Die inspekteurs het tot die gevolgtrekking gekom dat seksuele teistering en aanlyn seksuele misbruik onder skoolgaande kinders “algemeen” geraak het.

Ouers oral oor behoort bekommerd te raak dat hierdie soort gedrag in ons skole gerapporteer word, en moet erken dat hulle die primêre verantwoordelikheid het om hulle kinders te leer hoe om gepas op te tree teenoor lede van die teenoorgestelde geslag, nie die skoolstelsel nie. Die kwessie begin by die huis en word skool toe geneem, die oplossing moet sekerlik ook by die huis begin. God se Woord spreek hom baie sterk uit oor die belangrikheid daarvan om ons kinders te beskerm teen alle mishandeling, wat vandag aanlyn mishandeling insluit.

 

Meer kwesbaar as ooit

Die World Wide Web Foundation het ’n verslag gepubliseer wat die bevindinge van die Verenigde Koninkryk se skoolinspeksie ondersteun, wat toon dat hierdie wydverspreide mishandeling ’n internasionale kwessie is deur te sê: “52% van jong vroue en meisies wat ons ondervra het, het gesê dat hulle aanlyn mishandeling ervaar het, met inbegrip van dreigende boodskappe, seksuele teistering en die deel van privaat foto’s sonder toestemming” (“There is a pandemic of online violence against women and girls,” WebFoundation.org, 14 Julie 2020).

Die COVID-pandemie oor die afgelope 18 maande het net gedien as ’n katalisator vir die probleem, met jongmense wat baie meer tyd op Internet spandeer. Aanlyn, waar die meeste mense tot ’n mate van die werklikheid verwyder voel, is waar baie van hierdie seksuele teistering plaasvind. In 2017 het ’n Britse opname deur die liefdadigheidsorganisasie Plan International bevind dat 50 persent van meisies onder 18 en 40 persent van seuns aanlyn afknouery ervaar het. In baie gevalle het dit verband gehou met die foto’s wat hulle van hulself aanlyn gedeel het, sommige van ’n eksplisiete aard. Sodra dit gedeel is, is alle beheer oor hierdie foto’s verlore, en hulle kan vir afpersing gebruik word.

Sosiale media-toepassings soos Snapchat en Whisper, wat toenemend gebruik word om foto’s onder skoolgaande kinders te deel, bied ’n valse hoop om groter blootstelling te beheer deur die tyd wat foto’s geplaas bly, te beperk. CommonSenseMedia.org sê: “Die oënskynlik risikovrye boodskappe kan gebruikers aanmoedig om foto’s te deel wat seksueel van aard is” (“18 Social Media Apps and Sites Kids Are Using Right Now,” 6 Junie 2019).

Fundamenteel behoort die dieper vraag te wees: Waarom is hierdie kinders bereid om onvanpaste foto’s van hulleself te deel? Indien kinders nie hierdie materiaal aanlyn plaas nie, gaan ’n deel van hierdie deurdringende probleem verdwyn. Foto’s kan maklik gekopieer en elders geplaas word – dalk nog erger, in pornografiese materiaal geredigeer word – en selfmoord het tragies bewys dat dit ’n toenemende gevolg van die gevolglike lewensverpletterende verleentheid is.

 

Beskerm die onskuldiges teen aanlyn rowers

Die uitdaging vir vandag se ouers is dat soveel van hulle kinders se kommunikasie met vriende, sowel as met vreemdelinge, aanlyn plaasvind, eerder as persoonlik. Vreemdelinge kan vriendelik voorkom of hulle soos ander kinders voordoen terwyl hulle probeer om ’n manipulerende verhouding te bou, ’n proses wat grooming genoem word. Ongelukkig het baie ouers geen idee wat aanlyn aangaan en hoe verraderlik dit kan wees nie. Die Internet het ’n hulpmiddel geword vir vinnige kommunikasie en die vrye uitruiling van foto’s en video’s. Duidelike bewyse toon dat hierdie metodes uitgebuit word deur veragtelike individue – ouers behoort bewus gemaak te word van wat aan die gebeur is.

Wanneer dit by die gedrag van ons kinders kom, moet ons die onvermydelike vraag stel: Wie is op die ou end verantwoordelik om hulle te leer hoe om teenoor ander op te tree? Dit is sekerlik die rol van hulle ouers en gesinslede wat hulle liefhet om godvrugtige waardes in te skerp en hulle die behoefte te leer om vriendelikheid en respek te betoon – om die Bybelse fokus op die behandeling van ander persone te prioritiseer soos ons behandel wil word en om niemand te verkleineer tot ’n blote fokus vir eiegewin nie.

Ons kinders moet van kleins af geleer word dat die Internet, net soos die “regte wêreld”, ’n potensieel skadelike omgewing is. Indien ons kinders onvanpaste, suggestiewe boodskappe ontvang of onvanpaste foto’s sien, moet hulle hul ouers of voogde daarvan vertel. Om met betroubare geliefdes oor hierdie dinge te praat, verg moed. Dit verg oop kommunikasielyne en tyd saam met ouers en grootouers om te bespreek wat hulle by die skool of aanlyn ervaar. Wanneer hulle reageer op gebeure van seksuele teistering of aanlyn misbruik, moet ouers en voogde baie versigtig wees om nie hulle kind, wat die slagoffer is, te blameer nie; die verantwoordelikheid lê regverdiglik en met reg by die oortreders, of hulle nou ookal ander studente by die skool of aanlyn “vriende” en kontakte is.

Praktiese stappe kan geneem word. Ouers wil dalk toegang tot die Internet slegs op gesinsrekenaars in gemeenskaplike ruimtes by die huis toelaat, en slimfoongebruik met geskikte sagteware-nutsmiddels beperk. “Privaat” eerder as “Publieke” toepassings kan dalk diegene beperk wat u kan volg of direk aan u ’n boodskap op sosiale media kan stuur, maar sal nie noodwendig verhoed dat u profiel in soekresultate verskyn nie. Die beperking van kontakte tot vriende en familie – diegene wat jy regtig vertrou – is die beste raad, maar dit is dalk nie altyd moontlik nie, afhangende van die sosiale media-platform. Die deel van openbare foto’s van minderjariges – selfs ons klein en pragtige kinders of kleinkinders – in verskeie toestande van ontkleding is beslis hoogs twyfelagtige aanlyngedrag.

 

God se standaard van sorg

Jesus Christus waardeer kinders baie en waarsku – in geen onsekere terme nie – oor hoe ons vir hulle moet sorg. “[M]aar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ’n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see” (Matthéüs 18:6).

Spreuke 31 teken die woorde van koning Lemuel (Salomo) aan wat sy moeder aan hom geleer het. Hy beklemtoon ’n sleutelaspek van hoe iemand met goddelike gesag – soos ’n ouer – geregtigheid namens kinders onder hulle sorg moet laat geld: “Praat jy vir dié wat self nie hulle sê mag sê nie, kom op vir die reg van dié wat te gronde gaan” (Spreuke 31:8 NV). In God se oë het ons ’n kollektiewe verantwoordelikheid om alle kinders te beskerm teen gevaaar. Dit word heel eerste vermag in die huis met ouers wat hulle kinders opvoed in die weg wat hulle moet gaan (Spreuke 22:6).

Ons moet ons seuns en dogters ’n gepaste, respekvolle en selfbeheersde benadering tot ander leer, sowel as die gepaste reaksies op ander in verskeie situasies. Almagtige God bepaal wat reg en verkeerd is in die gebruik van ons liggame en verstand, selfs wanneer dit in die jeug gedryf word deur die hormone wat Hy geskep het. Ons moet leer om Hom te eer deur te vlug van seksuele onsedelikheid en alles wat dit behels (1 Korinthiërs 6:18-20).

Ongelukkig is wat ons sien gebeur in die VK en in soveel ander nasies ’n direkte gevolg van wat Bybelse profesieë lankal gewaarsku het sal gebeur as Israelitiese nasies hulle van God distansieër; “[O]mdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet” (Hosea 4:6). Gelukkig sal Jesus Christus binnekort weer kom om die Regering van God op hierdie aarde te vestig (Openbaring 11:15). Die kennis van God en Sy lewenswyse sal na elke uithoek van die samelewing versprei – regdeur nasies, gesinne en ons onderwysstelsels (Jesaja 11:9). Die misleide aanhitsers van skade aan ander kinders in skole en aanlyn sal nie toegelaat word om hulle opstandige gedrag voort te sit nie. Mag God daardie dag bespoedig!