Hierdie woorde is moontlik geuiter deur baie mense wat graag hulle lewens wil verander maar help dit regtig en weet u regtig wat dit bedoel?

Dit was 50 jaar gelede algemeen om in telefoonhokkies goedkoop traktaatjies te vind wat u uitnooi om die “Sondaar se Gebed” op te sê. (Ja, daar was regtig klein hokkies met betaaltelefone daarin!) Soms het ’n mens een van hierdie traktaatjies tussen jou voordeur en die deurkosyn gekry. U kon ook hoor hoe evangeliste oor die radio u uitdaag om u hande op die radio te plaas en die gebed agter hom aan te herhaal. Hierdie gebed is steeds gewild en selfs nou nog kan ’n mens dalk ’n kort advertensie van ’n televisie-evangelis sien wat die kykers aanmoedig om dit op te sê.

Wat presies is hierdie gebed? Is dit die weg tot redding? Wéét u? Het u dit al ooit gebid? Indien wel, is u nou gered? Baie mense dink hulle is, maar steek daar meer in Christelikheid as om ’n eenvoudige gebed te herhaal – selfs met groot opregtheid? Is redding so maklik? Is dit alles reeds vir u gedoen of vereis God iets meer van u?

Alhoewel daar variasies is, klink die gebed soos gewoonlik bewoord, so:

Liewe Here Jesus, ek weet dat ek ’n sondaar is en ek vra U vir vergifnis. Ek glo dat U vir my sondes gesterf het en uit die dood opgestaan het. Ek draai my rug op my sondes en nooi U om in my hart en lewe in te kom. Ek wil U vertrou en volg as my Heer en Verlosser.

Voordat iemand dit nou verkeerd verstaan: Daar is tot ’n mate niks verkeerd met hierdie woorde nie indien dit reg verstaan word. Dit is egter die probleem: Verstaan die gemiddelde persoon wat na die radio luister, ’n kort advertensie op televisie sien, ’n goedkoop traktaatjie wat in ’n kruidenierswinkel uitgestal word of ’n herlewingsbyeenkoms besoek, werklik wat hierdie woorde beteken? Verstaan ú? Moenie te seker wees nie!

Dit is een ding om te sê: “Ek is ’n sondaar”, maar ’n ander ding om die diepte te begryp wat dit beteken. Ek het eenmaal ’n ouer dame geken wat, toe sy graag gedoop wou word, verklaar het dat sy ’n sondaar is, maar sy kon regtig nie aan een enkele sonde dink wat sy ooit gepleeg het nie (dit is nie dat sy haar sondes aan enige mens moes bely nie). Sy het regtig geglo dat sy nog nooit gejok het nie, iemand gehaat het nie, nooit enigiets gesteel het wat aan ’n ander behoort nie, nie geskinder of ’n slegte gedagte gehad het nie. Sy het volgehou dat sy ’n sondaar sonder sonde is!

O, dat elkeen van ons so volmaak kon wees, – maar helaas, almal het gesondig (Romeine 3:23).

Kan die persoon wat hom aan drank vergryp of die persoon wat af en toe owerspel pleeg en na ’n maklike oplossing gryp vir sy of haar probleem, maar net die “Sondaarsgebed” opsê na ’n skuldbelaaide episode – met ander woorde maar net ’n paar woorde sê – en alles is weer reg?

Die Bybel het die antwoorde. Om mee te begin, wat is sonde? Wat word bedoel met, “Ek keer my rug op my sondes”?

Die dryfsand van moraliteit

Baie mense dink dat hulle instinktief weet wat sonde is, aangesien sekere aksies tot skuldgevoelens lei. Bepaal die skuldgevoel egter sonde? Dit is waar, om in stryd met ’n mens se gewete op te tree, is sonde (Romeine 14:23), maar die gewete sélf definieer nie sonde nie. Op stuk van sake, nie almal se gewetes is dieselfde nie. Om sonde te definieer as teenstrydig met ’n mens se gewete, is om te sê dat dit aan die wispelturige gesindhede van die mensdom oorgelaat word om sonde te definieer! Kyk maar net na die tragiese geskiedenis van die mensdom en die wye verskeidenheid van gedrag wat as “aanvaarbaar” beskou word en u sal die probleem wat daarmee gepaard gaan insien.

Selfs gedurende my leeftyd het sekere gedragspatrone wat voorheen afgekeur was, moreel aanvaarbaar geraak vir die meeste Amerikaners. Volgens ’n verslag van Barna Navorsing van Junie 2016 is “saamwoon nou die nuwe norm. Die verskuiwing van geslagsrolle en verwagtings, die uitstel van die huwelik en ’n toenemend wêreldse kultuur lei daartoe dat meer Amerikaanse volwassenes glo dat dit ’n goeie idee is om saam te bly voordat hulle die knoop deurhaak”. Die verslag verduidelik verder:

Die meerderheid van Amerikaanse volwassenes glo dat saamwoon oor die algemeen ’n goeie idee is. Tweederdes van die volwassenes (65%) glo tot ’n mindere of meerdere mate dat dit ’n goeie idee is om met ’n mens se besondere maat saam te woon voordat hulle trou, in vergeleke met eenderde (35%) wat net min of meer nie saamstem nie (“Majority of Americans Now Believe in Cohabitation,” 24 Junie 2016).

Hierdie neiging om saam te woon voor die huwelik neem toe in baie geïndustrialiseerde lande. Sienswyses wissel aansienlik, maar volgens Population Europe:

Die aantal paartjies wat saamwoon sonder om te trou neem toe ... Oekraïne, Litaue en Rusland toon die laagste voorkoms van saamwoon onder paartjies tussen ouderdomme 15 en 44 jaar, waar minder as 20% van hulle in 2010 saamgewoon het. Aan die ander kant is saamwoon meer algemeen in Swede en Estland, waar meer as die helfte van die paartjies onder die ouderdom van 44 jaar saamgewoon het (“Living Together Without Getting Married”, Population-Europe.eu, geraadpleeg op 24 Augustus 2020).

Sonder ’n konkrete definisie van sonde, hoe kan enigiemand bely dat “ek op U wil vertrou en U volg as my Here en Verlosser”? Wat presies is die pad wat ’n mens behoort te volg? Is dit vir elkeen om self te besluit? Het die sondaar selfs oor hierdie belangrike vraag besin of volg hy sy eie instinkte soos dit deur populêre maar foutiewe konsepte beïnvloed word? Om te vra, “Wat sou Jesus doen”? is een ding. Om te weet wat Jesus sou doen, is ’n ander saak.

Die woord Here word rondgeslinger deur diegene wat Christus as hulle Verlosser bely, maar wat beteken hierdie woord? In die Nuwe Testament is Here (Lord) byna altyd uit die Griekse woord kurios vertaal en dit beteken “Meester” of “Iemand wat die hoogste gesag het”. Verstaan die sondaar dat hy in sy aanhef, “Liewe Here Jesus”, sê dat dit nie meer hy self is nie, maar daardie Hoër Gesag is wat reg en verkeerd bepaal? Dit mag dalk eenvoudig genoeg klink, maar is dit? Soos ons reeds gesien het, handhaaf die meeste mense in die geïndustrialiseerde wêreld ’n standaard van moraliteit wat verskil van dié van die Een wat baie mense Here noem (1 Korinthiërs 6:9). Wie besluit dus wat sonde is – die gewete van elke individu wat gelei word deur die samelewing rondom hom of die Een wat hy as Here bely?

Die gemiddelde mens dink waarskynlik aan sonde as moord, dronkenskap, owerspel, verlustiging aan pornografie en steel. Al hierdie dinge is sonde, maar selfs pornografie word nie meer algemeen in ons post-moderne wêreld veroordeel waar “u waarheid miskien nie my waarheid is nie”. Dit sal goed wees indien die man wat hom dronk drink of die vrou wat ontrou aan haar man is, ’n opregte gebed bid, om ware vergifnis te vra en op te hou met daardie gedrag, maar daar is veel meer aan hierdie onderwerp verbonde as wat ’n mens mag dink. Dit is uiters belangrik dat ons nie ons persoonlike opvattings ten opsigte van sonde vertrou nie. Ons moet verstaan waarom Jesus “vir my sondes gesterf het” – wat beteken dat ons die Bybel se definisie van sonde moet verstaan.

Die bepaling van sonde

Die Bybelse definisie van sonde word in 1 Johannes 3:4 gevind: “Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid. van God. Sonde is immers die oortreding van die wet van God” (Nuwe Vertaling). The New Bible Commentary: Revised lewer ’n treffende opmerking oor hierdie belangrike vers:

Dit lyk asof die valse leraars van mening is dat kennis die belangrikste is en dat gedrag nie saak maak nie. Johannes benadruk dat sonde ’n bewys van ’n verkeerde verhouding met God is. Hy sê dus aan ons dat sonde wetteloosheid is. Die Griekse woordbou impliseer dat die twee [sonde en die oortreding van die wet] uitruilbaar is. Die betrokke wet is natuurlik die Wet van God. Die kern van sonde is dus miskenning van God se Wet (red. Donald Guthrie, et al., 1970, bl. 1265).

Daardie definisie klink reëlreg op die man af – ja, dit is. Wat is egter die implikasies daarvan? Hoeveel mense wat die “Sondaarsgebed” opsê, weet in detail wat die Wet van God sê? Hoeveel mense het die Tien Gebooie gememoriseer, selfs die verkorte weergawe daarvan? Hoeveel van die Tien Gebooie kan u persoonlik opnoem? Weet u waar dit in die Skrif voorkom? Kan ’n mens homself regtig “distansieer” van sy sondes – met ander woorde van die oortreding van God se Wet – indien hy nie eers weet wat daardie Wet sê nie?

Gestel nou maar u kan vyf van die Tien Gebooie opnoem of miskien selfs nege van die tien. Dit is redelik goed – of is dit? Jakobus sê vir ons: “Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ’n oortreder van die wet geword.” Gee ook aandag aan die volgende vers wat net so belangrik is: “Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word” (Jakobus 2:10-12). Ja, God gaan ons volgens die standaard van die Tien Gebooie oordeel, wat Hy deur Jakobus, “die wet van vryheid”, noem. Is onderhouding van nege van die Tien Gebooie dus goed genoeg?

Onderhouding van die Gebooie, ontken of weerspreek geensins die genade nie. Dink daaroor: Waarom het ons genade nodig? Is dit nie omdat ons almal tekort geskiet het nie (Romeine 3:23)? Ons het almal gesondig en soos ons reeds gesien het, is sonde die oortreding van die Wet. Die straf vir die oortreding van die Wet is die dood (Romeine 6:23) en Christus het gesterf om daardie boete vir ons te betaal. Beteken dit egter dat God se genade ons nou vrystel om die Wet te oortree (Romeine 6:14-16)? Indien wel, watter van die Gebooie mag ons verbreek? Sal ons ’n ander god voor die ware God hê of sal ons doodslaan, egbreuk pleeg, steel of valse getuienis lewer? Indien ons bloot nét die “Sondaarsgebed” opsê, is dit dan in orde om hierdie Gebooie te oortree? Het Christus beplan dat ons kan voortgaan en die dinge doen waarvoor Hy moes sterf?

Sommige mense beweer dat dit swaar is om die Wet te onderhou. U het dalk al gehoor dat iemand dit sê. Wat sê die Skrif? “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3).

Wanneer ’n mens na die Tien Gebooie kyk, lyk dit redelik eenvoudig. Dit is wat die kinders van Israel gedink het toe hulle uit Egipte getrek het. Net soos die sondaar wat die “Sondaarsgebed” herhaal, beweer dat hy alles sal doen wat God beveel sonder om alles te verstaan wat van hom verwag word, was die kinders van Israel gretig om te bely dat hulle alles sou doen wat God hulle beveel. “Toe antwoord die hele volk eenparig en sê: Alles wat die Here gespreek het, sal ons doen” (Exodus 19:8). Het hulle dit egter gedoen? Die antwoord is ’n uitdruklike Nee!

Twee Gebooie saamgevoeg

Vier van die Tien Gebooie word in tien of minder woorde gegee: “Jy mag nie doodslaan nie” en “Jy mag nie egbreek nie” en “Jy mag nie steel nie” en “Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie” (Exodus 20:13-16). Twee ander Gebooie is opvallend omdat daar op hulle uitgebrei is en baie meer woorde bevat ter verduideliking.

Die eerste Gebod begin met hierdie identifikasie: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.” Dit word gevolg deur die direkte opdrag wat baie Sondagskoolkinders kan herhaal: “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie” (verse 2-3).

Byna almal stem saam dat dit die eerste Gebod is, maar nie almal is dit eens oor watter Gebod die tweede een is nie. Dit mag sommige van u verbaas om te verneem dat die grootste “Christelike” denominasie in die wêreld die volgende drie verse as deel van die eerste Gebod saamvat. Die meeste Protestantse denominasies verskil tereg daaroor en beskou daardie verse as die tweede Gebod:

“Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is ’n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou” (Exodus 20:4-6).

Waarom kombineer sommige denominasies hierdie woorde met “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.” Op die oog af lyk dit asof dit dieselfde sê, maar hulle sê nié dieselfde nie. Die tweede opdrag is om aan ons te sê dat ons selfs in die aanbidding van die ware God nie ikone of beelde mag gebruik wat veronderstel is om Hom voor te stel nie.

Aangesien min mense vertroud is met die volledige weergawe van die Gebooie, vind hulle dit maklik om die verkorte vorm van die eerste Gebod op te noem en na die derde Gebod oor te gaan. Hierdie samevoeging van die eerste twee Gebooie verwerp dan effektiewelik die tweede een. Is dit nie vreemd dat kerkgenootskappe wat die eerste en die tweede Gebod kombineer, voor standbeelde bid wat lyk soos wat hulle dink Jesus moes gelyk het nie of beelde en prente wat veronderstel is om Sy moeder en verskillende “heiliges” voor te stel nie?

Hoe weet ons dat dit nie alles één Gebod is nie? Indien dit so was, sou ons net nege gebooie hê, nie tien nie – God maak dit duidelik dat daar tien is (Exodus 34:28; Deuteronómium 4:13; 10:4). Om by tien Gebooie uit te kom, moet diegene wat die eerste twee Gebooie saamvoeg, die tiende Gebod kunsmatig in twee verdeel: “Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie” (Exodus 20:17). Die enigste ander plek in die Skrif waarin al tien Gebooie saamgevat is, plaas die bepalings oor “huis” en “vrou” in omgekeerde volgorde (Deuteronómium 5:21). God het dit so geïnspireer dat die laaste Gebod op twee verskillende maniere neergeskryf word, want die tiende Gebod verbied die begeerte na “iets wat van jou naaste is nie” (Exodus 20:17; Deuteronómium 5:21). Die apostel Paulus het verstaan dat ’n enkele Gebod ons verbied om te begeer (Romeine 7:7).

Die mees verwerpte Gebod

Die tweede Gebod, die een wat afgodediens verbied, is die eerste een waarop noemenswaardig uitgebrei word. ’n Ander Gebod wat op dieselfde manier behandel word, is die vierde Gebod:

“Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die sabbatdag geseën en dit geheilig” (Exodus 20:8-11).

Die tweede en die vierde Gebod, wat die gebruik van beelde verbied en die onderhouding van die sewende-dag Sabbat beveel, is langer as die ander agt saam. Waarom?

Die antwoord kan gevind word in die geskiedenis van Israel en van die hoofstroom Christendom. Die profeet Eségiël het ’n weergawe van Israel se verlede gegee en vertel hoe die volk telkens teen God in opstand gekom het – die twee Gebooie wat hulle die meeste oortree het, was die verbod teen afgodediens en die oortreding van die Sabbat (Eségiël 20). Binne die hoofstroom Christendom word daar min debat gevoer of dit sonde is om moord of egbreuk te pleeg of te steel; maar daar word baie gedebatteer oor die twee Gebooie wat die volledigste deur God verduidelik is. Wanneer Hy hulle beveel het om nie voor afgode te buig nie, het Hy gesorg dat daar geen skuiwergate is nie. Protestante wat neersien op Katolieke en ander denominasies vanweë hulle gebruik van beelde, het u dalk ’n prent van ’n valse Christus in u huis (2 Korinthiërs 11:4)?

Wanneer God gesê het dat ons die sewende-dag Sabbat moet onthou en dit heilig hou, het Hy gesorg dat daar ook géén skuiwergate is nie. Dit beteken nie dat daar geen “kalf in die put”-situasies is nie of dat ons die verregaande en onbybelse benadering tot die Sabbat moet volg soos wat die Fariseërs gedoen het nie – Christus het dit duidelik gemaak (Lukas 13:10-16). Hy het egter nooit met die Sabbat weggedoen of die dag van die sewende na ’n ander dag van die week verander nie. Dit was deur die Romeinse keiser Konstantyn in die vierde eeu n.C. gedoen en sy onbybelse verandering word tot vandag toe deur die oorgrote meerderheid van die belydende Christendom gevolg. Jesus het nooit gesê dat Hy die Here van die Sondag is nie, maar die Skrif meld drie keer dat Hy gesê het dat Hy die Here van die Sabbat is (Matthéüs 12:8; Markus 2:27-28; Lukas 6:5). Lees gerus ons Julie-Augustus 2021 artikel, “Wie het die Sabbat na Sondag verander?” vir meer inligting oor die ware en die valse Sabbat.

Afgodediens beperk en verdraai ’n mens se persepsie van wie en wat God is. Dit verlaag die Groot en Almagtige Skepper van alle dinge tot iets wat van verf, hout, klip, metaal of selfs goedkoop plastiek gemaak is – hoe kosbaar die materiaal ook al is, dit is waardeloos. “Maar dit herinner my net aan God”! Tog is dit presies wat God verbied, omdat dit ’n mens aan ’n valse god herinner. Die groot God van die skepping kan nie verstaan word deur iets wat deur die mens se nietige menslike hande gemaak is nie. God sê nie net dat ons geen ander gode voor Sy aangesig mag hê nie – deur die tweede Gebod sê Hy aan ons dat wanneer ons God aanbid, ons nie nietige voorstellings van Hom sal gebruik nie! Wanneer mense begin om God te beperk, verloor hulle uit die oog oor wie Hy werklik is.

Die Sabbatsgebod herinner ons aan God as die Skepper en verwys na ’n toekomstige duisendjarige Sabbatsrus. God het geweet dat dit vir die mensdom nodig is om een dag van die sewe dae af te sonder om op hulle verhouding met hulle Skepper te fokus. Om verwarring uit te skakel, het Hy die voorbeeld gestel deur op die sewende dag te rus en beveel ons om dieselfde te doen – nie sommer op enige dag nie, maar op dieselfde sewende dag.

Die dronkaard of egbreker mag sy of haar behoefte erken om ’n “Sondaarsgebed” op te , maar besef enigeen van hulle dat om om te draai en ’n ander rigting in te slaan, ook beteken om weg te draai van ’n valse Christendom wat die Wette van God probeer verander het (Daniël 7:25) en wat die “genade” effektief verander het in ’n verskoning om God se Wet te oortree (Judas: 4)?

Die prys van dissipelskap

Die ware Christendom hou veel meer in as wat die meeste mense besef. Let op hierdie woorde van Jesus: “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie” (Matthéüs 10:37). Christus maak dit duidelik dat sulke individue nie Sy dissipels kan wees nie (Lukas 14:26). Sy dissipels moet Hom eerste stel in hulle harte en lewens.

Dit is altyd goed om te erken dat Jesus die Here is, dat ons sondaars is, dat ons sondes vergewe kan word en dat Hy Sy lewe gegee het om vir ons sondes te betaal. Dit verg egter meer as ’n eenvoudige gebed, indien ons regtig wil regstel waar ons tekort skiet. Ons moet weet wat hierdie frases beteken en ons moet Christus waarlik volg as ons Meester – ’n taak wat slegs ten volle met die hulp van die Heilige Gees uitgevoer kan word, wat God gee “aan die wat Hom gehoorsaam is” (Handelinge 5:32). Dit behels ’n radikale verandering van lewenswyse, asook ’n verandering in hoe ons Hom aanbid. Soos Jesus die mense van Sy tyd bestraf het: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46), so moet ons die mense van ons tyd teregwys wat Jesus as hulle Here, Verlosser en Meester bely, maar Hom nie gehoorsaam nie.