Miljoene Amerikaners het verlede jaar gejuig toe die Amerikaanse Kongres, verhoogde werkloosheidsvoordele goedgekeur het om behoeftige werkers te help om COVID-19-verwante werkverliese te oorleef. Vir baie mense het ekstra voordele van die regering hulle gesinne teen haweloosheid en hongersnood beskerm terwyl hulle potensieel gevaarlike siektes kon vermy, aangesien hulle land ongekende stappe geneem het om die verspreiding van ’n onbekende virus te vertraag.

Namate die COVID-bedreiging afgeneem het en die ekonomie van die land begin herstel het, het ondernemings ’n opvallende verskynsel opgemerk: In baie werksektore was daar ’n baie groter aantal beskikbare poste as die aantal werkers wat werk gesoek het en die poste wou vul. Op 8 Junie het die Amerikaanse Buro vir Arbeidstatistiek ’n verslag bekend gemaak wat getoon het dat daar in April 2021 ’n rekord van 9,3 miljoen poste regoor die land vakant was. Daarbenewens het ’n rekord getal van vier miljoen Amerikaners gedurende daardie maand vrywillig hulle werk bedank.

Wat gaan aan? ’n Deel van die antwoord is dat met werkloosheidsvoordele wat tot ongekende vlakke verhoog is, baie werkers in staat was om beter na hulle gesinne om te sien deur werkloosheidstjeks te ontvang in plaas daarvan om werk te aanvaar wat minder betaal. Dit is egter nie die hele storie nie.

Al hoe meer berigte het verskyn oor werkers wat ’n moeilike jaar beleef het sonder werk of van die huis af gewerk het en ’n nuwe perspektief op werkverrigting gekry het wat hulle teësinnig of selfs onwillig gemaak het om terug te keer na voorheen aanvaarbare kantoorwerk. Namate werksgeleenthede in kantore beskikbaar geraak het, het werkers daardie werk bedank! Waarom gebeur dit en wat kan ons daaruit leer met betrekking tot die werk sélf?

 

’n Baie kort geskiedenis van werk

Die boek Génesis vertel aan ons dat God gewerk het om ons wêreld te skep. Génesis dui ses keer aan dat God na die werk van Sy hande gekyk het en dit “goed” gevind het! Aan die einde van die week, nadat Sy werk afgehandel is, “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed” (Génesis 1:31).

God was nie gespanne oor Sy werk nie; Hy het dit geniet! God wou egter nie die skeppingsproses op Sy eie geniet nie; Hy wou Sy wêreld en die ontwikkeling daarvan met andere deel. Een belangrike rede waarom Hy die mensdom geskep het, was om die vreugde van Sy werk te deel. “Ook het die Here God ’n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daaraan die mens wat Hy geformeer het, ’n plek gegee ... Toe het die Here God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak” (Génesis 2:8, 15).

God wou hê dat Adam, Eva en hulle nageslag die aangename en opwindende uitdaging moes hê om die tuin van Eden te versorg en om uiteindelik die hele aarde te verfraai! Hulle het God se Waarheid, Sy soewereiniteit oor hulle en Sy lewenswyse verwerp. Wat was die resultaat?

“En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie – vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (Génesis 3:17-19). Werk, wat bedoel was om ’n seën te wees vir diegene wat aan God gehoorsaam is, het ’n vloek geword vir ongehoorsaamheid.

Adam en Eva het ’n ideale werk opgegee – ’n wonderlike omgewing met uitstekende werksomstandighede en onverbeterlike voordele! Hulle het gekies om teen God se opdrag te rebelleer en is uit hierdie herbergsame en ondersteunende omgewing verdryf. Miljarde mense het sedertdien gesukkel om ’n bestaan te maak.

Vandag is werk nie soos wat God dit bedoel het nie! Sedert ons voorvaders die tuin van Eden verlaat het, was die werkservaring vir die meeste mense nie aangenaam of selfs maklik nie. Selfs vandag is werk vir die grootste deel van die aarde se bevolking ’n “noodsaaklike euwel” in ’n stryd om te oorleef! Wanneer ’n regering aan mense die geleentheid bied om te oorleef sonder om te werk, behoort ons nie verbaas te wees wanneer mense bedank of weier om werk te aanvaar wat hulle as nie-winsgewend of onaangenaam beskou nie.

 

Regulasies by die werksplek ... en die Skrif?

Goeie reëls by die werksplek kan veiligheid en gesondheid bevorder en selfs lewens red! In die V.S. administreer die Beroepsveiligheids- en Gesondheidsadministrasie (Occupational Safety and Health Administration) (OSHA) regulasies wat na raming meer as 60 persent van werksverwante sterfgevalle verminder het (All About OSHA, 2020). Nietemin, lánk voordat OSHA bestaan het, het God regulasies ingestel om voorsiening te maak vir ’n veilige en gesonde omgewing.

Hier is ’n voorbeeld: “En as iemand ’n put oopmaak, of as iemand ’n put grawe en dit nie toemaak nie, en ’n bees of esel val daarin, moet die eienaar van die put vergoeding gee: hy moet aan die eienaar van die dier geld gee, maar die dooie dier moet syne wees” (Exodus 21:33-34). ’n Ander wet bepaal ’n goeie konstruksiepraktyk: Die noodsaaklikheid om relings op plat dakke [balkonne] te bou om ongelukke te voorkom. “As jy ’n nuwe huis bou, moet jy ’n leuning aan jou dak maak, sodat jy geen bloedskuld op jou huis bring as iemand daarvan afval nie” (Deuteronómium 22:8).

Ja, God openbaar Sélf dat daar standaarde en riglyne is wat help om ’n veilige omgewing te skep. Wanneer die profeet Eségiël die lewe onder God se Regering beskryf, doen hy dit op ’n merkwaardige manier: “En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee ... En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen” (Eségiël 36:26-27).

God se insettings is bedoel vir gesondheid en vreugde. In die komende Millennium, sal die aarde ’n lewendige, gesonde ekonomie ervaar onder die heerskappy van Jesus Christus wat nie deur menslike hebsug of dwaasheid bestuur sal word nie, maar deur God se eie Wet. Voldoende voorrade en doeltreffende dienste sal die resultaat wees van mense wat besig is met hulle werk en dit geniet! Aangesien mense God se beginsels van liefde en diens elke dag in die praktyk sal toepas deur die krag van Sy Gees, sal hulle in hul werk ’n vrede en vervulling ervaar wat onbeskryflik is!

Daardie toekomstige tyd sal opwindend en wonderlik wees. Wil u vandag ’n sterker gevoel van doel en opwinding in u werk en lewe ervaar? U kan!

 

Leer om beter te werk

Een manier om ’n beter werkservaring te hê, is deur ’n beter werker te word! Dertig jaar gelede het James Patterson en Peter Kim bevind dat Amerikaanse werkers erken het dat hulle tot 20 persent van hulle werkstyd lyf wegsteek. Byna die helfte het erken dat hulle siekverlof geneem het toe hulle gesond was, een uit elke ses werkers het gereeld gedrink of dwelms by die werk gebruik en slegs een uit elke vier het gesê dat hulle hul beste poging aangewend het (The Day America Told the Truth, 1991) en dit is waarskynlik dat statistieke vandag nie beter lyk nie! Wat van u? Is u toegewy daaraan om ’n eerlike dag se werk te doen?

Vind u dit moeilik om met ander mense oor die weg te kom – u kollegas, u werknemers of u werkgewer? Sê nou u het ’n besonder moeilike werkgewer? God wys hoe om sulke situasies te hanteer: “Diensknegte wees julle here onderdanig met alle vrees, nie alleen aan die wat goed en vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is. Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly. Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly – dit is genade by God” (1 Petrus 2:18-20).

Daar kom beslis ’n tyd dat u nie langer die slegte behandeling van ’n onbillike werkgewer sal verduur en van werk verander nie. Voordat u egter ’n onaangename werkplek verlaat, maak seker dat u alles in u vermoë doen om dit te verbeter. Doen moeite om u werkgewer te help om sy of haar doelwitte te bereik. Streef na samewerking eerder as konfrontasie. “’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom” (Spreuke 15:1). Indien u konstruktiewe maniere aanleer om deur konflik te werk, verminder u spanningsvlakke, verbeter u gevoel van welsyn en lei tot ’n beter werkservaring in die geheel.

Het u probleme om oor die weg te kom met mense oor wie u toesig hou? Neem tyd om u werknemers behoorlik aan te moedig en te motiveer – selfs die “moeilike” werknemers! Die Skrif sê vir werkgewers om aan werkers te gee wat “reg en billik” is (Kolossense 4:1) en “om die dreigemente te laat staan” (Efésiërs 6:9). Regverdigheid, geduld en ’n eerlike poging om die doelwitte en behoeftes van u werknemers te verstaan, help baie om die gesindhede in die werkplek op te bou. God let op hoe werkgewers ander behandel, omdat Hy hulle bestuurder is (vers 9).

 

Soek doel en vreugde in u werk

Om ware sukses in die werk en in die lewe te behaal, is dit nodig dat mense geniet wat hulle doen. Die bofbalpromotor Mike Veeck het gesê: “Mense het ’n groot behoefte om gelukkig te wees en dit is ’n moeilike taak as dit nie eg is nie” (Fun Is Good, 2005).

Die meeste van ons ken iemand wat ’n aansteeklik opgeruimde persoonlikheid het en ons het al gesien hoe ’n opgewekte woord of spontane gelag die ys van spanning of stres op die regte oomblik kan verbreek. Salomo is lank gelede geïnspireer om te skryf: “’n Vrolike hart maak die aangesig bly maar by verdriet van die hart is die gees neerslagtig” (Spreuke 15:13).

Vir ’n ware Christen kan selfs die moeilikste werk wat sonder vooruitsigte is, gevul wees met doel en betekenis indien ons onthou vir wie ons regtig werk. Paulus het opdrag gegee: “Diensknegte, wees gehoorsaam aan julle here na die vlees, met vrees en bewing, in opregtheid van julle hart, soos aan Christus; nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen” (Efésiërs 6:5-6).

U werk kan vir uself van groter belang wees indien u besef dat u nie net vir mense werk nie, maar om God te behaag. Wanneer ons ons werk met toewyding en ywer doen, ongeag wat se werk dit ookal is, verhoog dit ons motivering, dryfkrag en genot van die taak. Om te verstaan dat ons God met ons werk kan behaag, is dalk die grootste motivering van alles.

 

Berei u voor om vir God te werk!

Jesus Christus het positief oor werk gepraat. Kyk na die gelykenis van die talente:

“Want dit is soos ’n man wat op reis wou gaan en sy diensknegte roep en aan hulle sy besittings toevertrou ... En ná ’n lang tyd het die heer van daardie diensknegte gekom en met hulle afgereken. En die een wat die vyf talente ontvang het, kom en bring vyf ander talente en sê: Meneer, vyf talente het u aan my toevertrou; hier het ek vyf ander talente daarby verdien. En sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer” (Matthéüs 25:14; 19-21).

Hierdie gelykenis wys ook op ’n wonderlike waarheid – God lei die hedendaagse Christene op om saam met Hom in Sy Koninkryk te regeer. Die voorvereiste om saam met Christus in Sy Koninkryk te werk, is nie dat ons rykdom en status in hierdie lewe bereik nie; ons moet eerder karakter en gehoorsaamheid aan God leer, liefde vir ons medemens en totale geloof in Sy Seun, in watter omstandighede God ookal wil of toelaat.

Om meer te leer oor die toekomstige Koninkryk van God en die toekomstige verandering van alle werk van ’n vloek na ’n seën, lees Die Wêreld van Môre: Hoe sal dit daar uitsien? U kan dit aanlyn lees by wvm.co.za of u eie gedrukte eksemplaar aanvra by die naaste streekkantoor soos aangedui op bladsy 2 in hierdie tydskrif.

Ongeag u omstandighede, maak gebruik van elke werksgeleentheid wat u het – met ywer, vasberadenheid, vreugde en liefde. Moenie die geleentheid verkwis om u huidige werk toe te laat om voor te berei om vir God in Sy Koninkryk te werk nie (Matthéüs 25:24-28)!