Vraag: My vriend se pastoor sê die aartsengel Migael is dieselfde geestelike persoonlikheid as Jesus Christus. Wat sê die Bybel werklik oor die identiteit van Migael en Christus?

Antwoord: Sommige denominasies beweer verkeerdelik dat Judas 1:9 na Jesus Christus verwys wanneer hy praat van “die aartsengel” bekend as Migael. Hulle opvatting berus daarop dat die term wat afgelei is van die Griekse archaggelos vir “hoofengel”, enkelvoudig is en dus moet verwys na die bestaan van een hoogste aartsengel. Hulle verbind dan hierdie vers met 1 Thessalonicense 4:16 – die enigste ander Nuwe-Testamentiese gebruik van archaggelos – wat sê: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met die geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan”.

Hulle maak dus die verkeerde aanname dat die terugkerende Christus dieselfde geestelike persoonlikheid as die aartsengel Migael is.

Om ’n aartsengel te beskryf as een wat neerdaal “met die stem van ’n aartsengel”, maak omtrent net soveel sin as om ’n man wat sing te beskryf as iemand wat “sing met die stem van ’n man”. Indien daardie sanger se stem, daarenteen, baie kragtiger sou wees as enige bekende stem ver bo menslike begrip, sou dit natuurlik wees om sy krag te vergelyk met die kragtigste stem wat bekend is. Dit is hoe ons Paulus se woorde in 1 Thessalonicense 4:16 ten beste kan verstaan.

Sy engele?

Nog ’n foutiewe argument wat aanvaar word is dat aangesien Openbaring 12:7 beskryf dat Migael en ’n leër van “sy engele” teen Satan (die draak) veg, moet Migael  die unieke hoof van daardie weermag wees en is hy dan dieselfde persoonlikheid as Jesus Christus, wat elders deur die Skrif beskryf word as die bevelvoerder van kragtige engele.

Die volgende is ook ’n foutiewe aanname. Elke weermag het range en afdelings, sodat ’n sersant en ’n generaal albei ’n groep soldate “my manne” kan noem. Omdat Migael “sy engele” het, sluit dit nie vir Migael uit om ook een van die engele onder Jesus Christus te wees nie! Dink ook aan die konteks van Migael se oorlog. Die Skrif beskryf Migael wat teen die draak en sy engele veg! Ja, Satan het “sy engele” maar hy is nie Jesus Christus nie! Dit geld ook vir Migael! Satan was eens ’n vors van die engele – eens volkome in sy weë (Esegiël 28:14-16)! Sy bestaan as die ligbringer Lucifer, die môrester (ster is nog ’n term vir engel en boodskapper in Hebreeus), het hom in dieselfde posisie geplaas as ’n magtige aartsengel of “gérub wat beskut”.

Die Skrif maak dit duidelik dat geen engel meer as ’n dienskneg is nie. Engele behoort nie aanbid te word nie (Kolossense 2:18; Openbaring 22:8-9) en is beperk in hulle pligte. Indien Migael en Christus dieselfde wese was, sou ons nie die uiters verskillende maniere kon waarneem van hoe hulle teenoor Satan opgetree het nie. Let op in Judas 1:9 dat Migael geweier het om Satan te bestraf – ’n skrille kontras met Christus se skerp teregwysing wat in Lukas 4:8 gegee word!

Let ook daarop dat Judas in Judas 1:1 en 17 Jesus Christus pertinent noem. Op geen manier verbind hy sy verwysing na Migael in vers 9 met enige verwysing na Jesus Christus nie. Hy behandel hulle as twee afsonderlike wesens – wat hulle wel is!

Daardie rots was Christus!

Waar was Jesus Christus dan voordat Hy na die aarde gekom het? Die Skrif verduidelik dat die Woord – die Logos – God was en dat Hy van ewigheid af saam met God die Vader was (Johannes 1:1). Die Woord was nie ’n geskape engel nie. Inteendeel, dit was die Woord – nie God die Vader nie – met wie die antieke Israeliete ’n verbintenis gehad het (1 Korinthiërs 10:4). Jesus Christus het dit baie duidelik aan die Israeliete gemaak dat hulle God die Vader nooit geken het nie – slegs Christus het Hom geken – dit was ook Jesus Christus wat die Vader aan hulle sou bekend maak (Johannes 1:18, 17:25)!

Geen gewone engel kon ’n gepaste offer vir die sondes van die mensdom wees nie. Slegs die ewige goddelike Seun van God, wat ten volle vlees geword het, kon daardie rol vervul. Daardie Seun is Jesus Christus. Die Skrif toon duidelik dat Migael, die aartsengel, ’n geskape wese is wat onder Christus dien.