’n Goeie vriend, wat nou reeds oorlede is, het my eendag vertel dat ’n paar van sy vriende van die noorde hom gedurig gespot het oor sy Noord Carolina aksent. “Ek verstaan dit nie”, het hy met sy plattelandse wysheid gesê. “Almal kom tog van een of ander plek af”.

Hoe reg was hy nie! Ons kom almal van êrens af – van die een of ander kultuur en van twee ouers – waarvan ons nie een kon kies nie.

My pa was in die weermag en gevolglik het ons gesin baie verhuis. Daar was nadele daaraan verbonde om vriende en skole gereeld agter te laat, maar daar was ook baie geleenthede om vir die nadele te vergoed en een daarvan was die geleentheid om in verskillende dele van die land en die wêreld te woon. Ek was bevoorreg om Alaska my tuiste te noem voordat dit ’n Amerikaanse staat geword het. Ek het twee jaar in Engeland deurgebring en het mettertyd vir verskillende tydperke in Kalifornië, Utah, Texas, Colorado en Suid-Dakota gewoon. Daarbenewens het ek as volwassene met my verantwoordelikhede in hierdie Werk, die voorreg gehad om in ander lande en state te woon en te werk. Ek was vir bykans 14 jaar in Kanada en een jaar in Engeland.

Onlangs het ek my vrou en haar suster op 'n toer na dele van die Verenigde State geneem wat ek nog van my jeug af onthou, maar waar húlle nog nooit was nie. Natuurlik het daar intussen amper ses dekades verbygegaan en baie dinge het verander. Daar was dus min dinge wat ek kon herken, behalwe die groot skoonheid van die westelike “Mountain States”. Ons kon nouliks ’n beter tyd vir hierdie reis gekies het. Dit was ’n baie nat winter en lente vir Colorado en Wyoming, alles was welig en groen. Sneeu het die berge verfraai en reënwolke het perfekte toestande van lig geskep wat asemrowende landskappe voor ons oë geskilder het.

Iemand het gesê daar is meer bokke in Wyoming as mense. Of dit nou waar is of nie, ek sou beslis nie die feit bevraagteken nie. Ons het ook die takbokke, Amerikaanse elande, groot-horing-skape en bisons in nog groter getalle teëgekom namate ons Jackson Hole en Yellowstone Nasionale Park genader het. Wat ’n geseënde land is Amerika nie! Wanneer ek Amerika sê, bedoel ek meer as die Verenigde State. Ek sluit die tweede grootste land ter wêreld, Kanada in, aangesien ons ook Brits-Columbië besoek het en deur die skouspelagtige Kanadese Rockies gereis het.

Ons het egter ook negatiewe ervarings op ons reis gehad. Ons het na Denver gevlieg en om geld op motorhuur te spaar, het ek ’n motor in die middestad gaan kry. Ek het drie jaar van my kinderjare in die “Mile High City” deurgebring en sulke aangename herinneringe daarvan gehad – maar dit was nie meer die stad wat ek onthou het nie. Soos soveel groot Amerikaanse stede, het Denver ook ’n “tuiste” vir baie haweloses geword. Reklameborde wat dagga vir ontspanning adverteer, kan die probleem net vererger en boonop het Colorado daardie jaar ’n wet goedgekeur wat “magiese sampioene” wettig. Dit wil voorkom asof die staat besluit het om sy reputasie van “Mile High” in ’n dwase rigting te stuur. Kanada het ook dagga (cannabis) gewettig. Watter maatskaplike voordeel sulke besluite kan inhou is moeilik om te begryp, maar ek is daarvan oortuig dat daar diegene is wat maar te gretig is om ten gunste daarvan te redeneer. Dit herinner my aan ’n T-hemp wat ek tydens die reis gesien het: “Ek stry nie, ek verduidelik net waarom ek REG is”.

 

Die Bron van hierdie seëninge wat verontagsaam is

God het seëninge van groot nasionale rykdom, oorvloed en militêre mag beloof aan die nasate van ’n man met die naam Josef, die broer van Juda. Aangesien hierdie nasionale seëninge aan Josef gegee is en nie aan Juda nie, verwys die beskrywing van wat in die laaste dae van Josef se nageslag sou word (Génesis 49:1), nie na die Jode (die nasate van Juda) nie, maar na ’n ander volk.

 

“Josef is ’n jong vrugteboom, ’n jong vrugteboom by ’n fontein; sy takke klim oor die muur. Die boogskutters het hom wel geprikkel en hom beskiet en hom bestry, maar sy boog het sterk gebly, en die arms van sy hande was buigsaam, deur die hande van die Magtige van Jakob – daarvandaan waar die Herder, die Steen van Israel, is, van die God van jou vader, wat jou help, en met die hulp van die Almagtige wat jou seën met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die watervloed wat daaronder lê, met seëninge van borste en moederskoot. Die seëninge wat jou vader ontvang het, oortref die seëninge van die ewige berge, die kostelike gawes van die ewige heuwels. Dit sal wees op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die uitverkorene onder sy broers” (Génesis 49:22-26).

 

Die beskrywing van Josef se eindtydse nasate bevat egter baie meer.

 

“En van Josef het hy gesê: Geseënd deur die HERE is sy land met die kostelikste gawe van die hemel, met dou en met die wêreldvloed wat onder lê, en met die kostelikste voortbrengsels van die son en met die kostelikste gewasse van die mane en met die vernaamste voortbrengsel van die berge van die voortyd en met die kostelikste gawe van die ewige heuwels en met die kostelikste gawe van die aarde en van sy volheid, en die welbehae van Hom wat in die doringbos gewoon het – laat dit kom op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die vors onder sy broers” (Deuteronómium 33:13-16).

 

Hierdie is nie die beskrywings van die klein staat wat vandag Israel genoem word nie en dit is nie profesieë oor Juda (die Jode) nie, maar van een van sy broers. Of ons glo dat hierdie profesieë op die Britse en Amerikaanse volke van toepassing is of nie, ons kan nie ontken dat ons volke geseënd is met die keurigste plekke op die aarde nie. Dit is nie dat daar nie ander geseënde plekke op aarde is nie – daar is verseker ander plekke ook. Die rykdom aan minerale bronne en landbou, die militêre mag en strategiese liggings wat aan die bevolking van Amerika en die volke van Britse afkoms behoort, is ongeëwenaard. Nou is hierdie lang en voorspoedige rit van wêreldwye prominensie en mag byna verby.

Dit is tragies vir diegene van ons wat deel van dié nasies uitmaak, dat baie mense in die aangesig van die God spuug wat aan ons hierdie seëninge gegee het. Al hoe meer mense verwerp Sy bestaan en verwerp die Wette wat Hy gegee het vir ons beswil en die beswil van ons kinders. Soos wyle Robert Bork geskryf het: Ons is “besig om af te daal na Gomorra”, ’n stad wat God vernietig het as gevolg van walglike onsedelikheid.

Die profeet Daniël praat van die eindtyd as ’n tydperk waarin “kennis sal vermeerder” (Daniël 12:4). Vandag neem kennis teen ’n tempo toe wat vorige geslagte hulle nooit sou kon voorstel nie. Tog sê die profeet Hoséa vir ons: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet” (Hoséa 4:6). Soos Jeremia dit stel: “Want my volk is dwaas; My ken hulle nie; dwase kinders is hulle, en hulle is onverstandig; slim is hulle om kwaad te doen, maar om goed te doen, weet hulle nie” (Jeremia 4:22).

Vir baie langer as wat ons dit verdien, het die Britse afstammelinge en Amerikaanse volke die aansien van die wêreld geniet as gevolg van die seëninge wat die Ewige God aan Abraham beloof het. Dit is egter besig om tot ’n einde te kom. Die een weerverwante ramp volg op die ander. Die Engelse is ’n doring in die vlees van die Europese Unie, selfs al erken die EU die belangrikheid daarvan om hulle aan boord te hê. Daar word neergesien op Amerika deur sy bondgenote asook van sy vyande. Die nasionale skuld van die Verenigde State beloop nou $22 biljoen en neem steeds toe. Hoe hartseer is dit vir diegene van ons wat deel van hierdie nasies is, dat ons God se seëninge en genade verkwis en oor onsself ’n naderende dag van afrekening bring.

Indien u meer wil weet oor die toekoms van die nasies van Amerikaanse en Britse afkoms en wat dit vir u beteken, maak nie saak waar u woon nie, is u welkom om een van ons streekkantore te kontak. Die lys verskyn op bladsy 2. Vra vir ons gratis publikasie Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? of lees dit aanlyn by wvm.co.za.