Het u al die slagspreuk: “Geen grense” gesien? “Geen grense” is ’n popkultuur-slagspreuk van wat onbeskaamd klink en groot probleme skep. Selfs al sou dit hoe trotserend klink, weerspreek dit eintlik ’n Bybelse beginsel wat ’n grondbeginsel vir sukses in die lewe is. ’n Behoorlike begrip van “grense” is een van die mees kritieke lesse wat ’n jong mens kan leer.

Grense by die skepping

In die eerste bladsye van die Bybel, waar ons van God se herskepping van die aarde lees, word ons aan die konsep van “grense” bekendgestel. Ons lees: “En God het gesê: Laat daar ’n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters en waters. God het toe die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel is, geskei van die waters wat bo die uitspansel is” (Génesis 1:6-7). Die Hebreeuse woord wat in hierdie vers as “uitspansel” vertaal is, verwys eenvoudig na die atmosferiese strook waarin ons leef. Hierdie atmosfeer skei die vloeibare water van mere, strome, riviere en oseane van die waterdamp wat as wolke in die lug versamel. God het ’n “grens” geskep.

In Génesis 2 het die Skepper ’n baie spesiale tydgrens vasgestel. “En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak” (Génesis 2:2-3). Soos wat die son agter die horison verdwyn en die grens tussen die sesde en sewende dag oorgesteek het, was die mensdom aan die Sabbat bekendgestel. Aan die een kant van daardie grens het God gewerk en die aarde herskep. Aan die ander kant het Hy gerus en Sy Sabbatdag geheilig.

Daar was egter nog ’n grens om vas te stel nadat God met Adam en Eva begin werk het.

God het ’n tuin “in Eden, in die Ooste” geplant (Génesis 2:8). Hy het die mens in die tuin geplaas om die oorvloed van die plante en bome te geniet. Hy het egter ook dáár ’n grens gestel. “En die Here God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Génesis 2:16-17). God het Adam en Eva aan die konsep bekendgestel dat Hý as Skepper, die gesag het om ’n grens te stel tussen wat geëet kan word en wat nie. Hulle gehoorsaamheid aan Sy gesag was deurslaggewend vir hulle sukses en geluk. Ons lees natuurlik in die volgende hoofstuk dat hulle daardie grens geïgnoreer het en van die vrugte van die boom van die kennis van goed en kwaad geneem en geëet het. As gevolg daarvan het God gevolge ingestel. Hy het hulle uit die tuin verdryf en ’n geografiese grenslyn geskep wat deur ’n magtige engel bewaak is.

Grense in geskiedenis

Wanneer ons vlugtig deur die bladsye van die Bybel kyk, sien ons dat God grense vir individue sowel as vir Israel ingestel het.

In Exodus 3 waar Moses persoonlik aan God bekendgestel is, was die eerste ding wat God gedoen het, om ’n grens in te stel. Hy het gesê: “Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond” (Exodus 3:5). Met ander woorde, God het gesê: “Jy kan jou sandale enige ander plek dra, maar wanneer jy op hierdie plek in My teenwoordigheid staan, is jy op heilige grond”.

Herken die grens. Tree anders op. Trek jou skoene uit.

Nadat hulle Egipte verlaat het en die kinders van Israel by die berg Sinai aangekom het, het God hulle voorberei om Sy Wet in ontvangs te neem. As deel van Sy opleiding aan die mense, het Hy ’n grenslyn aangewys waar hulle kon staan en waar hulle nie op die berg toegelaat was nie. “Ook moet jy vir die volk ’n grens rondom aanwys en sê: Pas op dat julle nie op die berg klim of sy voet aanraak nie. Elkeen wat die berg aanraak, moet sekerlik gedood word” (Exodus 19:12). Die mense moes die feit verstaan dat God gesag oor hulle het. Hy sou nie oortreding duld op die gebied wat Hy as ontoeganklik verklaar het nie.

In Exodus 20 lees ons dan ’n beskrywing van God se fundamentele lewenswette. Hierdie Wette beskryf grense van hoe ons teenoor God en ons naaste moet optree. Die eerste gebod leer ons om nie ’n menigte gode te skep en te aanbid nie. In die tweede plek mag ons God nie met fisiese beelde aanbid nie. Derdens, mag ons God se naam nie ydellik gebruik nie. Hierdie drie gebooie skep ’n “raamwerk” van hoe ons God behoort te sien, te aanbid en Sy naam te gebruik. U mag dalk sê dat dit soos ’n “boei-tou” is wat die grenslyn van ’n “veilige swemplek” in ’n meer aandui. Daardie “veilige swemplek” word verder deur Sy vierde Gebod beklemtoon – dat ons die sewendedag Sabbat heilig moet hou. Indien ons nie daarin slaag om hierdie opdrag of soortgelyke opdragte soos dit te gehoorsaam nie, steek ons die grens in onveilige waters oor.

Die laaste ses Gebooie vestig meer punte om na te verwys in ons beweegruimte (grense) tussen sukses en mislukking in die lewe.

Indien ons nie ons ouers eer nie, moord pleeg, steel, leuens vertel, egbreuk pleeg of begeer, oortree ons die grens wat God tussen goeie en korrekte gedrag teenoor ons naaste gestel het en vernietigende en sondige dade wat smart en hartseer bring. God wil hê dat ons ’n diepe ontsag en selfs gepaste vrees vir Sy afkeuring moet hê ten einde ons in veilige waters te hou. Hy het dit in soveel woorde aan die Israeliete in Exodus 20:20 gesê. “Toe antwoord Moses die volk: Wees nie bevrees nie, want God het gekom om julle te beproef en dat sy vrees voor julle oë mag wees, sodat julle nie sondig nie.”

Grense en u

Wat van my en uself? Is dit nodig dat ons die grense wat God vasgestel het verstaan en respekteer? Natuurlik!

Indien ons nadink oor die beginsels wat ons reeds hersien het, is dit maklik om te sien dat hierdie grense op ons van toepassing is, selfs al leef ons duisende jare nadat die Tien Gebooie gegee is.

Ons het ook die Nuwe-Testamentiese geskrifte wat ons meer van God se denke in terme van grense leer. Mans word byvoorbeeld riglyne gegee oor die opinie wat hulle oor vroue behoort te hê. Christus het gesê: “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (Matthéüs 5:28). Indien ons aan die veilige kant van daardie grenslyn bly, sal ons nie pornografie kyk of na meisies op ’n wellustige manier kyk nie. Paulus herinner Timótheüs in 1 Timótheüs 5:2, dat hy jonger vroue soos susters moet behandel: “... in alle reinheid.” Diegene wat voor die huwelik in seks en seksuele voorspel betrokke raak word in 1 Korinthiërs 6:9 beskryf as dat hulle geen aandeel in die Koninkryk van God sal hê nie. Met hierdie bakens wat ’n toepaslike grenslyn vorm, word ons grense vir “uitgaan” met iemand van die teenoorgestelde geslag deur God vasgestel. Om daardie grenslyn in die gevaarsone oor te steek mag vir die oomblik aanloklik lyk, maar die uiteindelike vrugte sal bitter wees.

Ons God van liefde het grense vasgestel om ons te beskerm, ons lief te hê en om in ons ’n weerspieëling te skep van die grense wat Hom definieer: “En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom” (1 Johannes 4:16).

Geen grense nie ...? Nee – gesonde grense!