Daar is slegs een soort brood wat nooit opraak nie

Dit wil voorkom dat die woorde “winterstorm waarskuwing” – of enige sneeu of ys wat voorspel word – ’n dringende behoefte aan brood laat ontstaan. Ek is seker u het dit al gesien. Binne enkele minute ná ’n winter weervoorspelling gemaak is, raak supermarkte en gerieflikheidswinkels se rakke leeg. Grappies word daaroor gemaak en daar is ’n spottery met diegene wat op hierdie manier reageer op gereelde nuus vir die seisoen. Dit toon die onsekerheid wat mense beleef wanneer ’n bedreiging nader kom. Indien ons huisgebonde gaan wees as gevolg van gure weer, is dit belangrik dat daar genoeg kos beskikbaar is en brood word bykans wêreldwyd as ’n noodsaaklikheid beskou.

In sommige kulture is toegang tot brood ’n saak van erns. Sedert die Franse Rewolusie in 1799, is daar van Franse bakkerye verwag om voortdurend oop te bly – behalwe op nasionale vakansiedae. Selfs dán sluit hulle om die beurt volgens ’n vasgestelde rotasiebeginsel, om te verseker dat daar altyd ’n voorraad brood vir die mense beskikbaar is. Brood is in die harte en gedagtes van baie mense net so belangrik. Moontlik is dit omdat mense meer dikwels aan brood dink, selfs meer as wat hulle self besef, gebruik God dit in die Bybel om aan die mensdom lesse te leer wat hulle dalk nie op enige ander manier sou kon leer nie.

Lesse met betrekking tot brood

Nadat die Israeliete, ná eeue van slawerny in Egipte, bevry is, het hulle hul in ’n dorre wildernis bevind. Omdat hulle gekla het oor die gebrek aan voedsel, het God “brood uit die hemel” in die vorm van manna (letterlik, “wat is dit”) voorsien wat hulle daagliks moes insamel. God het hierdie “brood” gebruik om hulle te leer dat die sewende dag heilig is en dat die manna nie op daardie dag ingesamel moes word nie (Exodus 16:1-4, 22-30).

Na aanleiding van die analogie van brood en menslike gedrag beskryf die boek Spreuke dit ook só: “Kom nie op die pad van die goddelose en betree die weg van die slegtes nie. Vermy dit, gaan nie daarop nie, wyk daarvan af en gaan verby; want hulle kan nie slaap as hulle geen kwaad doen nie; en hulle slaap is weg as hulle nie tot ’n val bring nie. Want hulle eet brood van goddeloosheid en drink wyn van gewelddadigheid” (Spreuke 4:14-17). Wanneer hy die deugsame vrou prys, sê Salomo in Spreuke 31:27: “Opmerksaam gaan sy die werksaamhede van haar huis na, en die brood van luiheid eet sy nie.”

Die ongesuurde brood wat die Israeliete geëet het toe hulle Egipte vinnig verlaat het, word die “brood van ellende” genoem (Deuteronómium 16:3), wat onderdanigheid uitbeeld. Hierdie brood word jaarliks tydens die Dae van Ongesuurde Brode ná die Pasga geëet en dien as ’n herinnering daaraan om sonde uit ons lewens uit te roei en ’n nederige gesindheid te hê.

Jesus het Sy dissipels geleer hoe om te bid en hulle opdrag gegee om te vra: “... gee ons vandag ons daaglikse brood” (Matthéüs 6:11). Later, toe Jesus Sy dissipels vir Sy vertrek voorberei het, het Hy vir hulle gesê: “Ek is die brood van die lewe. Julle vaders het die manna in die woestyn geëet en het gesterwe. Dit is die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee” (Johannes 6:48-51).

Die apostel Paulus sê, wanneer hy die eenheid van die Kerk wat die liggaam van gelowiges is, beskryf: “Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood” (1 Korinthiërs 10:17).

’n Rak wat nooit leeg is nie

Die Bybel gebruik die wêreldwye behoefte aan fisiese voedsel wat deur brood uitgebeeld word, om die daaglikse behoefte aan geestelike voedsel te illustreer wat slegs God, deur Jesus Christus, kan voorsien. U mag dalk die rakke by u winkel in tye van nood leeg vind, maar die “brood uit die hemel” is altyd volop in die bladsye van die Bybel. U kan dit net elke dag insamel.