Baie mense het onlangs Karel Marx se geboorte sowel as sy radikale idees herdenk. Was sy rewolusie egter dít wat die wêreld regtig nodig het?

Twee eeue gelede, op 5 Mei 1818, is Karl Marx in Trier, Duitsland, in ’n Joodse gesin gebore wat na Protestantisme bekeer het. Hy het self later ’n ateïs geword en sy aanspraak op roem is Marxisme, die revolusionêre filosofie wat na hom vernoem is en meestal met Kommunisme en sy stalmaat, Sosialisme, geassosieer word.

In 1848 het Marx saam met sy jarelange vriend en medewerker Friedrich Engels, The Communist Manifesto geskryf waarin hy die siektes van die samelewing saamgevat het as die teenstrydighede tussen mense van twee verskillende klasse: Diegene wat oor die samelewing heers en die instrumente van produksie besit (die bourgeoisie of burgerlikes), teenoor diegene wat al die werk gedoen het (die proletariërs of werkersklas).

Volgens Marx was die gewelddadige omverwerping van die regerende klasse die enigste oplossing wat vrede en blywende tevredenheid kon meebring. Marx het sy manifes afgesluit met ’n opruiende oproep tot wapens: “Laat die regerende klasse sidder voor ’n kommunistiese rewolusie. Die werkersklas het niks om te verloor nie, behalwe hulle kettings. Hulle het ’n wêreld om te wen. Werkende mense van alle lande, Verenig!”

Die Kommunistiese manifes

Marx was ’n briljante en vêrsiende man, goed opgevoed, wyd belese, geleerd, passievol, hoogs geskoold en ’n meedoënlose redenaar. In sy latere lewe het hy in Londen gewoon tydens die eerste era van globalisering, wat gebaseer was op groeiende industrialisasie waar stoom en later elektrisiteit die spil was waarom alles gedraai het. Hy het geglo dat hy vooruit kon sien waarheen dit sou lei.

Baie werkers het rede gehad om vanweë lae lone en swak werksomstandighede uitgebuit te voel en hulle moes toekyk hoe hulle werkgewers en leiers skatryk word. Marx het die geskiedkundige werkersklas gesien as net ’n ander kommoditeit wat deur kapitaliste uitgebuit en misbruik is, ’n blote aanhangsel en loonslaaf van die nuwe masjientydperk. Hy het hom daarin verheug om die vure van konflik en geweld aan te blaas. Wat hy gesien het as ’n ewige burgeroorlog van teenstand tussen die werkersklas en die bourgeoisie of burgerklas, wou hy verander in ’n letterlike revolusie deur geweld. Dan sou die werkersklas die wêreld oorheers – maar op watter grondslag?

Tien “onvermydelike” maatreëls

Dit is wel bekend dat Marx die metodes waardeur hy die burgerklas sou vernietig, in tien bondige manifesto-stellings uiteengesit het.

1.      Afskaffing van grondeiendom en aanwending van alle huurgeld vir openbare doeleindes.

2.      ’n Swaar progressiewe of trapsgewys stygende inkomstebelasting.

3.      Afskaffing van alle regte op erfenis.

4.      Beslaglegging op die eiendom van alle emigrante en rebelle.

5.      Sentralisering van krediet in die hande van die staat, deur middel van ’n nasionale bank met staatskapitaal en ’n eksklusiewe monopolie.

6.      Sentralisering van die wyse waarop kommunikasie en vervoer in die hande van die staat gedoen word.

7.      Uitbreiding van fabrieke en produksiemiddele wat deur die staat besit word; die verbouing van onbewerkte grond en die verbetering van grond in die algemeen, in ooreenstemming met ’n gemeenskaplike plan.

8.      Gelyke verantwoordelikheid vir almal om te werk. Vestiging van groot getalle industriële werkers, veral vir landbou.

9.      Kombinering van landbou met vervaardigingsbedrywe deur middel van die geleidelike verwydering van die onderskeid tussen dorp en platteland deur middel van ’n regverdiger verspreiding van die bevolking oor die land.

10.    Gratis onderwys vir alle kinders in openbare skole. Afskaffing van die huidige vorm van kinder-arbeid in fabrieke. Kombinering van onderwys met industriële produksie, ensovoorts, ensovoorts.

(Uit Engels se eie Engelse vertaling, Manifesto of the Communist Party, gepubliseer in 1906 in Chicago deur Charles H. Kerr & Company.)

Marx het beplan om die rol van vakbonde uit te brei om die werkersklas te beskerm. Selfs die burgerlike gesinsinstelling moes afgeskaf word om wat hy beskou het as die uitbuiting van kinders, te voorkom. Hy sou ook die uitbuiting van vroue beëindig wat hy in die burgerklas as plekgebonde beskou het. Hy het selfs verwag dat sy revolusionêre idees in die era van globalisering tot die afskaffing van lande en nasionaliteite sou lei.

Terugkeer van Marxisme?

Daar word gesê dat daar in die 19de en 20ste eeue niemand polities méér invloedryk as Karl Marx, met sy revolusionêre idees was nie. Kommunisme het Rusland in 1918 met geweld oorweldig en in die 1930’s na China en ander nasies versprei. Die Marxistiese invloed het in verskillende vermommings wyd na ’n verskeidenheid ander lande versprei, met inbegrip van Kuba, Joego-Slawië en lande in Afrika en Oos-Europa. Vir veertig jaar het die Koue Oorlog tussen die Verenigde State, kampvegter vir kapitalisme en die Sowjet-Unie, kampvegter vir kommunisme, gewoed en kapitalisme het uiteindelik geseëvier.

Die meeste mense het toe besluit dat dit die einde van Kommunisme was. Kapitalisme met sy eie variasies, onstabiliteite en tekorte, was nou alleen op die speelveld. Na die rampspoedige kredietkrisis in 2008 en die besparingsmaatreëls wat daarop gevolg het, is Marxistiese idees, wat mense op ’n stadium gedink het dood is, weer aan die toeneem. Dit is veral die geval onder die onbetrokke, dikwels werklose, jonger geslag. In die V.K. huiwer ’n Marxistiese Arbeidersparty op die randjie van mag – kwylend by die vooruitsig om Brittanje te beheer op ’n tydstip wat die land op sy kwesbaarste is, terwyl die EU-Brexit onderhandelings gekompliseerd ontvou.

Nadat Marxistiese denke laat vaar en verwerp is – wat op sy beste uit halwe waarhede bestaan en nie in die praktyk uitvoerbaar is nie – gaan ons dieselfde foute herhaal? Hierdie keer is dit outomatisasie en kunsmatige intelligensie in die digitale era van die Internet wat opdoem as ontwrigtende tegnologieë. Sal dit tot meer Marxisties- geïnspireerde revolusies en chaos lei? Is daar ’n ander manier om ons ongemak te hanteer?

’n Persoonlike “rewolusie”

Ons wil graag ’n baie beter “rewolusie” aanbeveel. Dit word in u Bybel gevind en word die Evangelie van die Koninkryk van God genoem (Markus 1:14-15).

Wanneer alle ander filosofieë misluk het en dit sal, sal God Sy Seun, Jesus Christus, na die aarde terugstuur om God se eie rewolusionêre filosofie te vestig (Handelinge 3:19-21) – ’n radikaal meer positiewe manier van dink. Met Sy Wederkoms sal Hy God se Koninkryk oor die hele aarde vestig en oor al die nasies regeer (Openbaring 11:15). Diegene wat deur God geroep word om deel van hierdie Koninkryk te wees, moet nou hulle eie persoonlike “rewolusie” veg (Handelinge 2:38-39). Dit is ’n rewolusie wat nie polities is nie, maar dit is geestelik en innerlik – dié van die hart en verstand. Dit het sy eie manifes wat uit tien basiese beginsels bestaan wat ons verhouding met God en ons medemens beheer??lei (Exodus 20:1-17).

Wat in menslike verhoudings ontbreek, is liefde vanuit ’n rein hart vir almal (1 Petrus 1:22). Stel u ’n samelewing voor waar die euwels van die menslike natuur geleidelik ophou bestaan. Marxisme kan nooit so ’n moreel goeie samelewing tot stand bring deur afguns, haat, verdeeldheid, geweld, vernietiging en dood te ontketen nie. God kan egter die middele loslaat om die menslike natuur te transformeer om soos Sy natuur te word (Romeine 12:1-2).

God se “rewolusie” sal op ’n nuwe persoonlike verhouding met Hom gebou word (Hebreërs 10:19-22), wat die menslike natuur sal verander en dit met God se goddelike natuur vervang (2 Petrus 1:2-4). Dit is mos nou revolusionêr. Die uitwerking daarvan sal buitengewoon wees! Kan God u dalk uitnooi om deel te wees van so ’n “rewolusie”? Ons nooi u uit om alles hieroor na te lees in ons boekie, U uiteindelike Lotsbestemming, wat gratis beskikbaar is op u versoek.